• No results found

H. Prostaatkanker

2.1.11 Fokus-areas vir die pastoraat (pastoraal-terapeutiese uitdaging)

2.1.11.1 Dit bring die teodisee-vraag na vore

Omdat kanker in elke taal ‘n lewensbedreigende siekte is (Crafford 2004: 573) en binne die algemene persepsie as ‘n doodsvonnis beskou word, sal een van die geestelike response daarop sekerlik wees ”Waarom Here?’‘ of:”Hoekom laat die Here hierdie siekte in ons lewens toe?” Die hantering van die teodisee-vraag sal dus moeilik vermy kan word en sal op die een of ander wyse as deel van die tera-peutiese pad gesien moet word. Volgens Louw (1998:22) is pastoraat binne ‘n hermeneutiese paradigma (narratiewe benadering) egter minder by die verklaring van probleme betrokke en meer gemoeid met die verstaan daarvan.

Daar sal dus versigtig met vrae van hierdie aard omgegaan moet word en deurentyd teen twee gevare gewaak moet word. Enersyds sal sorg gedra moet word om te keer dat die pastorale proses ontaard in die daarstel van verklaringsmoontlikhede en andersyds sal daarteen gewaak moet word om teodisee-gerigte vrae te ignoreer ten einde aan die hermeneutiese benadering getrou te wees. Aangesien hierdie saak weer aan die orde kom in die basis-teoretiese besinning rondom die kanker-geaffekteerde egpaar, word met enkele voorlopige opmerkings daaroor volstaan.

Die vermoede bestaan dat die teodisee-vraag reeds vroeg in die siekteproses aan die orde sal kom. Uit die ervaring in gemeentebediening is dit opmerklik dat individue kort na diagnose geneig is om reguit te vra hoe die Here so iets in hulle lewens kan toelaat. Waar die vraag nie direk geverbaliseer word nie, word dit indirek gedoen deur byvoorbeeld hipotetiese vrae te vra oor God en lyding.

Die teodisee-vraag blyk egter in beginsel een van die moeiliker teologiese vrae te wees. Indien dit letterlik verstaan word, kom dit neer op ‘n poging om God en sy handelinge te regverdig. Berkouwer (1950:277 e.v.) se standpunt hieroor is dat dit heiligskennis is om God te probeer regverdig. Ook Heyns (1988:163) redeneer op dieselfde lyn:

”Gods alwyse en algoeie regering is aan geen enkele menslike beoordeling onderworpe nie , en nooit kan die mens - die sondige mens - vanuit ‘n deur die sonde gebroke werklikheid opklim tot ‘n regverdiging van Gods handelinge nie. Alleen in die lig van die openbaring van God kan die werklikheid - en Gods regering daaroor en daardeur - na sy wese geken en verstaan word.”

Dit is in hierdie lig te verstane dat Stanley Hauerwas (1990:ix) populêre pogings soos Harold Kushner se When Bad Things Happen to Good People ‘n “theological mistake” noem.

Die pastor wat in antwoord op die siek persoon se hoekom-vrae as apologeet vir God se handelinge wil optree, loop nie net op gevaarlike (heilige) grond nie, maar loop ook die gevaar om in sirkelredenasies te verval wat meer vrae kan laat ontstaan as wat dit antwoorde gee.

Om die kerkhistoriese bydraes van byvoorbeeld Augustinus en Calvyn net so op die sieke se situasie te projekteer, is ook nie wenslik nie, aangesien dit ook mense wat met die teodisee-vraag worstel, se vrae onbeantwoord laat (König 2002:62).

Die pastor wat met die teodisee-vraag gekonfronteer word, sal dus goed doen om nie finale antwoorde te probeer gee nie, maar sal veiliger wees binne die volgende merkers:

Hauerwas (1990:x) wys daarop dat die behoefte om “hoekom” en “waarom” in die lig van lyding te vra as ‘n “primitive need” van die mens beskou kan word. Ook in lig van die Skrif (Ps 13, Ps 73) sien ons duidelik dat mense in moeilike omstandighede vrymoedig hierdie vraag gevra het.

Hierdie wete kan die ruimte by die noodlydende skep om ook onbevange hulle vrae te verbaliseer. Hierdie sanksie is veral nodig by ouer mense wat twyfelvrae as geloofsverraad beskou.

• Die teodisee-vraag noodsaak ‘n verruimde beskouing van siekte.

Die teodisee-vraag raak gevaarlik vir die mens se geloof wanneer ‘n moralistiese siening op siekte nagehou word. Dit beteken dat siekte altyd as die gevolg van immorele optrede beskou word. Hierdie siening beteken dat die sieke iewers ‘n skuldlas wil lê om die siekte te verklaar. Wanneer siekte as deel van die gebroke werklikheid aanvaar word, bestaan daar minder druk om te verklaar waar dit vandaan kom.

• Die teodisee-vraag noodsaak ‘n verruimde Godsbeskouing.

Louw (1994:12-13) lê ‘n duidelike verband tussen die volwassenheid van mense se geloof en hulle Godsbeskouing. Hierdie verband moet egter ook wyer te verstaan word.

Hoe die persoon wat deur ‘n ernstige siekte geraak word, vir hom/haarself die teodisee-vraag uitmaak, sal ook veel te make hê met die beeld van God wat dominant in hulle geloof funksioneer. Iemand wat God oorwegend as regter sien, sal lyding vermoedelik as God se (regverdige) oordeel ervaar en aanvaar. Dit is belangrik om vas te stel watter Godsbeeld dominant in iemand se lewe is en dat daardie beeld in lyn met die Skrif verruim sal word om uiteindelik God se rol in lyding duideliker te probeer maak. Om God as Verbondsgod te verstaan, dien as voorbeeld van so ‘n ruimer siening. Dit maak Hom meer as ‘n regter of die beskikker van ons deel en lot. Hy is as Verbondsgod ook die Here wat in tye van nood met die mens op weg gaan (Janse van Rensburg 1996:154).

• Daar is nie altyd ‘n antwoord op die “hoekom en waarom vrae” nie.

Wanneer die Bybelse locus classicus van die teodisee-vraagstuk (Weiser 1986: 507), Psalm 73, ontleed word, is een saak duidelik. Asaf kry nie ‘n antwoord op die vraag waarom die goddelose floreer het en hy lyding ervaar het nie. Hy kry bloot die geloofsoortuiging dat God met Hom op weg is en dat die troue Bondsgod hom deur hierdie worsteling aan die hand gehou het (Ps 73:23). Dit is belangrik om daarop te let dat God in hierdie Psalm as die handelende party geteken word.

Die troos in tye van ernstige siekte is dus nie soseer in antwoorde op die vrae geleë nie, maar in God se bondstrou wat ons deur die krisis dra. Louw (1994) illustreer hierdie beginsel mooi met Tolstoi se verhaaltjie oor die terminaal sieke, Ivan Ilyich. Die dokter het sy lyding probeer versag met woordespel om die ware toedrag van sake te verdoesel. Tog het Ivan Ilyich geweet hy is sterwend - en was sy ware hunkering na die simpatie en troos van sy medemens.

‘n Goeie antwoord doen nie veel om die werklikheid te verander nie, maar die getrouheid van die Here en die empatie, simpatie en meelewing van ons naaste wel. Wanneer die sieke gelei kan word om in te sien dat ‘n finale verklaring vir alles nie moontlik is nie, bestaan daar minder druk om êrens ‘n “skuldlas” vir die omstandighede te lê.

“Dit beteken dat die geskiedenis nie net die uitvoering is van ‘n plan wat God vooraf opgestel het nie, maar eerder ‘n oop proses waarin daar voortdurend nuwe situasies voorkom: teleurstellings, skokke, onge-rymdhede, verassings, wendings ten goede of ten kwade” (König 2000:170).

Al slaag selfs die teologiese teodisee-konstruk nie daarin om die verskynsel van siekte en nood beveredigend te verklaar nie, bly die waarheid van God se

bondstrou staan.

Dit wil dus voorkom of die teodisee-vraag in die konteks van die kankerpasiënt eerder op ‘n hermeneutiese wyse gehoor moet word as wyse waarop hy/sy die nuwe situasie probeer verstaan. Dit is in hierdie opsig dat die narratiewe benadering tot die pastoraat ‘n sinvolle invalshoek kan wees, aangesien dit op ‘n hermeneuties-induktiewe verstaansmodel berus. Dit beweeg weg van die de-duktiewe dogmatiese verklaringsmodel wat die indruk kan wek van finale antwoorde op mense se geloofsvrae.

Die pastor sal egter baie sensitief moet wees vir die feit dat dit vir die gelowige kankerpasiënt belangrik sal wees om te weet waar God in hierdie situasie staan en dat hy/sy daarmee erns sal moet maak om hierdie behoefte by die pasiënt en sy/haar naasbestaandes te erken en daaroor te praat.