• No results found

H. Prostaatkanker

2.1.11 Fokus-areas vir die pastoraat (pastoraal-terapeutiese uitdaging)

2.1.11.2 Dit bring die lydingsvraagstuk na vore

Baie nou verweef met die teodisee-vraagstuk, is die kwessie van lyding. In die literatuur loop hierdie sake in só ‘n mate hand aan hand dat dit as twee kante van dieselfde munt beskou kan word.

Met wat reeds oor kanker geskryf is, word van die veronderstelling uitgegaan dat kanker in die teken van lyding staan. Al is dit nie terminaal nie, is die behandeling self ‘n vorm van lyding.

Lyding is ‘n universele verskynsel. Dit is ook nie vreemd aan die Woord nie. In sy aantekeninge oor die lewe van Job sê Van der Zee (1985:11):”De Bijbel kreunt daaronder.” Dit is ook nie vreemd aan die ander godsdienste van die wêreld nie (vergelyk Bowker 1990).

Voorbeelde van lyding in die Skrif (Christelike tradisie) kan van heel vroeg af aangehaal word. Was dit nie reeds lyding toe Kain vir Abel vermoor het nie, of toe onbekende getalle mense in die sondvloed gesterf het nie? Wat van die swaarkry en ontberings van die Israeliete onder die farao? Sou lyding nie ook voorgekom het tydens

die onderskeie ballingskappe waarin die Israeliete weggevoer was nie? Staan die hele verhaal van Jesus nie in die teken van lyding nie? Dan is daar ook nog die volgelinge van Jesus, soos Johannes die Doper, wie se kop op ‘n skinkbord tereg kom, en Stefanus, wat onder ‘n klippereën sterf. Die Skrif is inderdaad vol voorbeelde van lyding, sonder om die klassieke name in die lydingsgenre te noem, soos dié van Job en Asaf.

Dit kom dus voor of lyding as gegewe gesien kan word, selfs binne die raamwerk van die Skrif - en daarom ook in die lewe van God se kinders. Daarom sal verder gegaan moet word en gevra moet word wat lyding konstitueer.

Dell (1995:3) sien lyding in die algemene ongelukke en rampe wat alle mense tref. Dit kan uit ‘n krisis voortvloei en die lewenskwaliteit wegneem of die lewe self. Stone (1980:12-14) beweer dat krisisse oor ‘n bepaalde dinamika beskik waarvolgens bepaalde gebeure in ‘n krisis kan ontaard of nie kan ontaard nie. So sal ‘n bepaalde gebeurtenis plaasvind (slegte tyding, gevaarlike diagnose) waarop die individu reageer deur die gebeurtenis vanuit sy/ haar eie raamwerk of waardesisteem te beoordeel. Nou kom die persoon se hanterings-meganismes (coping methods) in werking. Hierdie meganismes kan iemand se innerlike krag insluit, sowel as die uiterlike ondersteuningsnetwerk van vriende, familie of ‘n geestelike leier. In die laaste instansie moet iemand innerlik op ‘n uiterlike gebeurtenis reageer. Dit is in hierdie opsig dat die persoonlike persepsie van die eksterne gebeurtenis so belangrik is, want na gelang van hoe positief of negatief daardie persepsie is, sal die omvang van die krisis vergroot of verklein.

Die relevansie van Stone se beskrywing van ‘n krisis is tweeledig. Eerstens is dit duidelik dat die belewing van ‘n krisis, en uiteindelik lyding, ‘n subjektiewe saak is. Dit is onderworpe aan die individu se innerlike samestelling en uiterlike ondersteuningstelsel.

Tweedens sal die omvang van die krisis ‘n woord meespreek in soverre die krisis in ‘n proses van lyding ontaard. “The after-effects of any crisis, especially grief, may continue for years” (Stone 1980:14). Lyding sou dus goedskiks as die langdurige nadraai van ‘n krisiservaring beskou kan word.

Louw (1982:1) beskou nie alleen fisiologiese pyn as lyding nie, maar ook daardie psigologiese aanvegtinge wat vir mense ‘n bestaanskrisis skep. Lyding sou dus al daardie dinge kon wees wat ‘n emosionele of fisiese ingreep in mense se lewens maak, of beide. Wanneer hierdie dinge ‘n gevoel van verlies en vrees by die mens skep en die normale gang van die bekende lewe verhinder, het ons heel moontlik met lyding te make.

Lyding is reeds op verskeie wyses deur mense verklaar (Heyns 1986:494, 495): • As illusie, veral deur die Hindoeïsme wat meen dat lyding die gevolg is van

verkeerde denke aangaande die werklikheid.

• As waarskuwing dat die organisme wat ly, agteruitgaan. ‘n Tydige ingrype kan die lyding miskien stop.

• As natuurlike verskynsel. Veral die Stoïsyne was van mening dat lyding en die kosmiese werklikheid hand aan hand loop. Dit is alleen maar God wat bó lyding verhef is. Die mens kan egter deur apatie homself bo lyding verhef. • As straf op verkeerde handelinge waaraan iemand hulle skuldig gemaak het. • As ewige verskynsel binne die Manicheïstiese verstaan van die wêreld, waar

die goeie en slegte voortdurend in konflik is en lyding ‘n onont-kombare werklikheid is wat bloot aanvaar moet word.

• As verdwynende verskynsel wat deur die vooruitgang van die wetenskap uiteindelik sy houvas op die mens sal verloor.

Hierdie verklarings beteken egter min of niks vir die lydende mens en binne pastorale konteks het dit omtrent net so min waarde as die sogenaamde geykte “valse troos” waarna Louw (1982:2) verwys. Hierdie valse troos sluit opmerkings in soos: “Die lyding van ander mense is groter as jou eie, na lyding kom weer vreugde, neem alles soos dit kom, tyd heel alle wonde.” Daar moet veel eerder gevra word hoe die Skrifbeginsels binne die situasie van lyding gekonkretiseer kan word.

Enkele van die Skrifbeginsels (Heyns 1986:495) met betrekking tot lyding is die volgende:

• Lyding het met die sondeval die wêreld binnegekom (Gen 3:17-19, Lev 26:14 e.v., Jes 3:16 e.v., Rom 5:12 e.v.). Aan hierdie nuwe gebroke werklikheid kan geen mens ontkom nie aangesien die hele skepping daaraan onderworpe is. • God staan in sy almag nie magteloos teenoor lyding of die gebroke werklikheid

nie, maar heers daaroor en gebruik dit selfs in sy diens (Amos 3:6 e.v., Jes 45:7, Matt 26:56).

• Die bose staan egter ook nie los van lyding nie. Hy kan dit gebruik om mense te versoek en hulle tot opstand teen God te bring (2 Kor 12:7, Job 1:12, 2:6). • Lyding sal eers weer die werklikheid verlaat wanneer die nuwe hemel en aarde

aanbreek (Op 21) en God se skepping terugkeer na hoe dit aan die begin van die skepping was.

Die Woord onderstreep dus die beginsel van lyding baie duidelik en stel dit as een van die onvermydelikhede in die deur sonde aangetaste wêreld. Die feit dat die mens egter binne die gebroke werklikheid ook leef binne die raamwerk van God se verbond, gee ‘n ander kwaliteit aan lyding. Dit open die moontlikheid van die waaromvraag, want daar is ‘n God aan Wie hierdie vraag gerig kan word.

In die Ou Testament is daar ‘n hele genre van hierdie tipe vraagstelling, naamlik die sogenaamde klaagpsalms of klaagliedere (Eybers 1978:27). Met die sing of resiteer hiervan kon die gelowiges in tye van lyding en nood hulle waaromvrae verbaliseer en ook die geloof uitspreek dat God hulle daardeur sou dra. Louw (1982:21) wys daarop dat hierdie manier van doen saam-gehang het met die destydse wêreldbeeld en Godsgeloof. God is as ‘n persoonlike God ervaar en die Israeliet se wêreldbeeld was teokraties geïntegreer. Die verbond het ‘n struktuur van geborgenheid daargestel waar- binne die God-mensverhouding prominent gefigureer het. Dit het die implikasie gehad dat die Ou-Testamentiese gelowige gou teen lyding geappelleer het, soos blyk uit Psalm 22:2 en Psalm 44:24. In ‘n sekere sin is God ook verantwoordelik gehou vir

nood, soos Jesaja 45:7 en Jeremia 18:11 reflekteer. Die belangrike is egter dat ook hierdie lyding, teen die agtergrond van die verbond verstaan moet word. “In die lyding wat God bewerk, sit die hart van God: Sy genade en Sy barmhartigheid” (Louw 1982:22). Daarom kan die noodlydende in tye van nood met God praat en deur die sekuriteit van God se verbondstrou gedra word.

Dit is voorts opvallend dat vir ‘n eietydse verstaan van lyding, die saak dikwels met die lyding van Christus gebring in verband gebring word (Hogan 1990:28, Feider 1988:7-14). Om egter direkte lyne tussen menslike lyding en die lyding van Christus te trek en dit as troos vir die lydende aan te bied, is myns insiens gevaarlik. Dit sou neerkom op ‘n relativering van die waarde van Christus se lyding.

Om die lyding van Christus as geestelike ideaal of as weg tot diepe vreugde na te streef, sou eweneens aan geestelike masochisme grens (vergelyk Klapwijk 1974). Tog is daar in die lyding van Christus waardevolle analogieë vir die pastorale verstaan van lyding te vinde. Heyns (1986:497) wys onder meer daarop dat Christus sy lyding nie probeer ontvlug het nie, maar aanvaar het, maar dan nie as blote lot nie - eerder as deel van sy unieke lewensroeping. Die implikasie vir die mens wat voor lyding staan, is dat lyding nie om blote aanvaarding of blote verset vra nie, maar na doel. Heyns (1986:498) sien die doel van lyding as geloof, aangesien die krag van die lydende Christus die mens deur geloof binnestroom en hierdie krag die gelowige in staat stel om die dienskonteks van lyding te ontdek. Hierdie geloof het egter ook die verdere funksie deurdat dit die mens met Jesus plaas, dit wil sê, bewus maak daarvan dat God ten tye van lyding nie teenoor sy kinders staan nie, maar by sy kinders.

Dit is hierdie verstaan van God se verbondstrou en die geloof in Christus wat ter wille van ons verlatenheid die woorde van Psalm 22:2 uitgeroep het, wat die volgende pastorale imperatiewe binne situasies van lyding na vore bring:

• Die lydende sal pastoraal begelei moet word om die Here deur geloof in die situasie van lyding te integreer.

• Hy/sy sal gehelp moet word om die lyding in gemeenskap met Christus deur te werk.

• Die lydende sal aangemoedig moet word om die lyding en die waaromvrae in die krag van die Heilige Gees te verwerk.

• Hy/sy sal onder leiding van die Woord en Gees die nuwe toekoms, soos moontlik gemaak deur Christus, moet ontdek - waarbinne niks tevergeefs is nie. • Die persoon sal aangemoedig moet word om so goed moontlik met die lyding

saam te lewe.

Vir die afgetrede egpaar sou dit ‘n “saam op weg gaan” beteken sodat nuwe sin gevind kan word te midde van ‘n lyding soos kanker. Maar dit sal‘n gekwalifiseerde “op weg wees”, naamlik in lig van God se verbondstrou. Inderdaad is daar dan binne die idioom van Prediker 4:9 en12 baie hoop:Twee vaar beter as een ... ‘n Driedubbele tou breek

nie maklik nie.