• No results found

3.3 EKOLOGIESE PERSPEKTIEF

3.3.3 Germain en Gitterman se lewensmodel

3.3.3.2 Stres

Volgens Germain en Gitterman (in Payne, 2005:150) het elke mens sy eie unieke lewensontwikkeling waarin lewenstressors verandering veroorsaak wat versteuring tussen die passing van die persoon en die omgewing tot gevolg het. As gevolg van die individu se onvermoë om by sy omgewing aan te pas, kan die persoon die veranderings nie hanteer nie. Die persoon beweeg daarna deur twee fases van erkenning, naamlik primêre en sekondêre erkenning waar die skade of uitdaging wat die versteuring veroorsaak, bepaal word, en die persoonbronne moet identifiseer wat hom/haar sal help om by die veranderings aan te pas. Tydens hierdie aanpassingsfase sal die individu se sukses en pogings om te oorleef, duidelik word deur

terugvoering wat deur die omgewing en die fisiese en emosionele reaksies van die individu

verskaf word. „n Verduideliking van elkeen van hierdie terme volg:

(a) Lewenstressors en lewenstres

Lewenstressors en lewenstres is twee terme wat na die alledaagse oorsake van spanning,

frustrasies by die werk, huis of enige ander plek verwys (Germain & Gitterman, 1996:10). Lewenstressors is ekstern terwyl lewenstres intern is. Eksterne lewenstressors is kenmerkend van kritiese lewensprobleme, soos skade, verlies en/of bedreiging ten opsigte van die persoon se toekoms wat werksverlies, kroniese siektes, interpersoonlike konflik en gestremdhede insluit. Lewenstressors, gepaardgaande met uitdagings en die betekenis wat daaraan geheg word, verskil van persoon tot persoon (Germain & Gitterman, 1995:817). Uitdagings word beskou as „n geleentheid vir groei en gaan gepaard met gevoelens van afwagting en dinamiese struikelblokke. Sommige persone sal persoonlike, omgewings- en kulturele probleme as lewenstressors ervaar, terwyl ander dit as „n uitdaging sal beskou. Interne lewenstres is die interne reaksies wat deur „n lewenstressor met moontlike sielkundige en/of emosionele gevolge, veroorsaak word. Gepaardgaande negatiewe gevoelens wat die persoon ervaar, is angstigheid, skuld, woede, vrees, depressie, hulpeloosheid en „n lae selfwaarde (Germain, 1984:60; Germain & Gitterman, 1995:817).

Lewenstres wat deur lewensontwikkeling en traumatiese lewensgebeurtenisse veroorsaak word, gaan gepaard met die dimensies van die lewenstressors en die betekenis daarvan vir die persoon. Volgens Germain en Gitterman (1996:11) behels die dimensies die volgende:

i) Die kroniese of akute impak van die stressor in „n persoon se lewe, soos byvoorbeeld negatiewe gevoelens wat met werksverlies van „n intieme paar geassosieer word, kan lei tot kroniese of akute konflik in die verhouding wat in enige tipe van mishandeling kan ontaard. ii) Die persoon kan soms onseker voel oor die stressor en die oplossing daarvoor. „n Vrou wat byvoorbeeld by intiemepaargeweld betrokke is, kan gespanne wees oor haar man se werksverlies en onseker voel oor sy optredes wat tydens die kringloop van intiemepaargeweld, soos genoem in hoofstuk twee, uitgeoefen word. Haar onsekerheid kan verder gekompliseer word deur haar gebrek aan hantering van die stres.

iii) Die kritiese en onverwagse gebeurtenis kan die persoon se tydspan om by die verandering aan te pas, beïnvloed. As die intieme paar byvoorbeeld weens onverwagse werksverlies moet verhuis, kan die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, „n gebrek aan aanpassingsvaardighede hê wat die stres vererger. Omdat die oortreder van intiemepaargeweld ook nie weet hoe om die stres te hanteer nie, kan opgehoopte frustrasies en stres aanleiding gee tot gewelddadige gedrag teenoor die vrou.

iv) Die gebrek aan beheer oor die lewenstressor kan die persoon negatief beïnvloed. Die man se werksverlies verhoog byvoorbeeld die vrou en die man se angstigheid, wat hulle hulpeloos laat voel oor hul finansies. Daarbenewens kan die man minderwaardig voel omdat hy nie vir sy vrou kan sorg nie.

v) Die graad van stres wat „n persoon ervaar, hang baie af van wanneer „n situasie plaasvind. „n Vrou wat byvoorbeeld by intiemepaargeweld betrokke is en wie se man sy werk tydens haar swangerskap verloor, sal meer stres ervaar wat haar gesondheid in gevaar kan stel asook risiko‟s vir voortplanting kan inhou.

Na aanleiding van die bostaande blyk dit dat lewenstressors en lewenstres, die individu se funksionering negatief kan beïnvloed. Die vrou wat aan intiemepaargeweld blootgestel is, word geaffekteer deur beide die persoonlike en omgewingsfaktore, wat tot die ontwikkeling van stres lei. Indien enige lewensprobleme ervaar word, hanteer die persoon dit deur pogings om die passing tussen die persoon en die omgewing te verbeter deur primêre en sekondêre erkenning (Germain, 1984:60).

(b) Erkenning

Daar word tussen twee vorme van erkenning onderskei, naamlik primêre en sekondêre erkenning. Primêre erkenning is die persoon se bewustelike of onbewustelike vermoë om die probleem te beoordeel in terme van relevansie en of dit voordelig of „n stressor is (Germain & Gitterman, 1996:11). Indien die persoon besluit die probleem is „n stressor, vind verdere erkenning plaas. Die persoon kan besluit of die stressor „n bedreiging, of uitdaging is en die persoon se passing met die omgewing skaad (Payne, 2005:151). Volgens Mechanic (in Germain, 1984:60) sluit primêre erkenning die persoon se soektog na betekenis en sosiale erkenning in. Die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, moet na die ervaring van die gewelddadige

gedrag en die implikasies daarvan, betekenis daaraan heg of probeer om te verstaan. Slegs wanneer betekenis gevestig is, is hanteringstrategieë moontlik. Sosiale erkenning verwys na die persoon se verstaan van die situasie. Wanneer die gewelddadige gedrag voorkom, kan die vrou byvoorbeeld die eksterne faktore blameer om die “eintlike” probleem van mishandeling te ontken. Sekondêre erkenning verwys na die individu se vermoë om die situasie te hanteer ten einde bronne te fasiliteer wat kan help (Payne, 2005:12).

(c) Hanteringsmeganismes en Terugvoering

Hanteringsmeganismes wat kan help om die probleem aan te spreek, kan daarop gerig wees om

die persoon te verander, of die omgewing of die uitruilings tussen die persoon en omgewing aan te spreek. Die hantering van die probleem word in „n individu se persoon-omgewing-verhouding gereflekteer, aangesien persoonlike en omgewingshulpbronne „n noodsaaklikheid is. Volgens Germain en Gitterman (1996:13) behels persoonlike bronne motivering, probleemoplossing, verhoudingsvaardighede, optimale vlakke van selfwaarde en die vermoë om omgewingsbronne te fasiliteer. Omgewingsbronne sluit formele en informele ondersteuningsbronne in. Formele netwerkdienste verwys na publieke en private institusies terwyl familie, vriende, kollegas en bure informele ondersteuningsbronne is. Die maatskaplike werker en kliënt moet die reaksies en beskikbaarheid van beide die persoonlike en omgewingsbronne evalueer ten einde effektiewe terugvoering aangaande die persoon se vordering en groei te ontvang.

Germain en Gitterman (1996:14) definieer terugvoering as die interne en eksterne waarskuwings wat verkry kan word deur te let op die persoon se kognitiewe en sensoriese persepsies, asook waarskuwings vanuit die omgewing. Deur terugvoering aan die persoon te gee, kan die persoon bemagtig word om die stresvolle situasies effektief te hanteer, dus kan die wanbalans herstel en die sisteem in stand gehou word (Germain & Gitterman, 1996:14; Melson, 1980:17).