• No results found

2.4 OORSPRONG VAN INTIEMEPAARGEWELD

2.4.1 Oorsaaklike faktore van intiemepaargeweld

2.4.1.2 Gemeenskapsfaktore (mesosisteem)

Die mesosisteem word gedefinieer as „n stel verbintenisse tussen mikrosisteme waarin „n persoon verkeer (Visser, 2007:25). Om daardie rede kan die sosio-strukturele omgewing wat faktore soos armoede, stres, sosiale en ekonomiese tekortkominge in die gemeenskap insluit, as risikofaktore vir intiemepaargeweld geïdentifiseer word.

(a) Armoede en stres

Alhoewel „n hoë sosio-ekonomiese status in die algemeen min beskerming teen intiemepaargeweld kan bied, bestaan geweld teen vroue en kinders binne die konteks van alle historiese bevolkingsgroepe in Suid-Afrika. Om daardie rede is intiemepaargeweld nie beperk tot vroue van hoë sosio-ekonomiese agtergrond nie (Kaldine, 2007:236; Krug et al., 2002:99). Verder staaf Krug et al. (2002:99) dat armoede wel „n risiko vir intiemepaargeweld is en dat dit moeilik is om hierdie stelling te verduidelik- moontlik weens die lae inkomste of faktore wat gepaard gaan met armoede soos oorbevolking en hulpeloosheid. Armoede dien as „n hindernis om toegang te kry tot tradisionele bronne soos welstand, status en respek en dit kan lei tot gevoelens van vernedering, skaamte en verlies aan selfrespek (Seedat et al., 2009:1015). Gelles en Straus (1989:112) assosieer intiemepaargeweld met werkloosheid en ekonomiese stres.

Sommige mans wat in armoede leef, ervaar stres en frustrasies. Hulle voel ook minderwaardig omdat hul daarin misluk om in hul intieme maat se ekonomiese en materiële behoeftes te voorsien en nie aan kulturele verwagtinge voldoen nie. Volgens Jewkes (2002:1424) word die verband tussen armoede en intiemepaargeweld vererger deur stres. Armoede is „n ingebore stresvolle situasie waar arm mans beperkte toegang het tot sosiale, ekonomiese en sielkundige ondersteuning wat kan help om stres te verlaag. Om daardie rede ervaar hul hoër vlakke van frustrasie en stres wat tot intiemepaargeweld kan bydra (Jewkes, 2002:1424; Van Zyl, 2008:30).

(b) Sosiaal-strukturele faktore

Yllö en Straus (in Hampton, Kim & Vandergriff-Avery, 1999:49) vind „n kromlynige verband tussen die status van vroue en intiemepaargeweld. Hoe hoër die strukturele ongelykheid, hoe hoër die syfer van intiemepaargeweld.

Volgens Carlson (1984:576) fokus die sosiaal-strukturele faktore op die groter instellings in die samelewing. Dit behels beide formele en informele instellings. Sosiaal-strukturele faktore wat bydra tot intiemepaargeweld, is lang ure by die werk, finansiële stres en spanning wat opbou as gevolg van die vereiste om balans te handhaaf tussen werk en die huisgesin (McKie, 2005:53). Daar is ekonomiese faktore in „n intieme paar se lewe wat bydra tot geweld soos werksberoep, verspreiding van dienste en gemeenskap-eienskappe. In terme van die ekonomiese faktore staaf Carlson (1984:576) dat sosiale bronne nie eweredig versprei is nie en dat strukturele ongelykhede die oorsaak is van tekortkominge en stres wat intiemepaargeweld in stand hou. Ekonomiese tekortkominge sowel as die status van die man of vader as „n voorsiener plaas „n stremming op die intieme paar se lewe. Wanneer die manlikheid van „n man bedreig word, beskou hy homself as magteloos en gebruik geweld as „n alternatiewe middel om outoriteit in die gesin te handhaaf (Kaldine, 2007:237).

Carlson (1984:577) argumenteer dat gemeenskappe op twee wyses tot geweld bydra: (1) deur wetgewing, norme en informele reëls en (2) deur die wyse waarop hul „n probleem ontken of ignoreer. In Suid-Afrika word „n patriargale kultuur aangetref, waar mans die meerderheid mag en beheer uitoefen. Intiemepaargeweld is tekenend van „n algemene kultuur van geweld in die Suid-Afrikaanse samelewing (Kaldine, 2007:236). „n Kultuur van geweld verwys na die aanvaarding van geweld as die norm eerder as die abnormale (Segel & Labe, 1990:255). Geweld

ontaard as die primêre middel van konflikhantering wat as aanvaarbaar beskou en genormaliseer word (Kaldine, 2007:236; Segel & Labe, 1990:255).

2.4.1.3 Samelewingsfaktore (makrosisteem)

Beide Carlson (1984:578) en Krug et al. (2002:100) beklemtoon die tradisionele geslagsrolle van mans en vrouens en die impak daarvan op intiemepaargeweld. Die makrosisteem word gedefinieer as die breë sisteem van ideologie en organisasies van sosiale instellings. Voortvloeiend hieruit is die houdings en waardes van mense en wetgewing wat mense se gedrag reguleer (Visser, 2007:25).

(a) Sosio-kulturele en tradisionele norme

Hierdie vlak van analise fokus op die samelewing se norme, kulturele waardes en geloofwaardige sisteme wat elke individu in die omgewing beïnvloed en die samelewing van ander onderskei (Carlson, 1984:578). Die materiële, wetlike, opvoedkundige en ekonomiese ongelykhede tussen mans en vroue word deur „n komplekse ideologiese raamwerk onderskei (Segel & Labe, 1990:255). Seksisme en geslagsrolstereotipe is in so mate in die kontemporêre samelewing gewortel, dat kulturele norme en waardes intiemepaargeweld aanmoedig deurdat dit „n hiërargiese en patriargale samelewing wat kenmerkend is van die Westerse wêreld, ondersteun (Carlson, 1984:578). Carlson (1984:578), Segel en Labe (1990:255) argumenteer dat kinders gesosialiseer word om te glo dat seuns onafhanklik, rasioneel en aggressief is, terwyl dogters afhanklik, passief en emosioneel is. Tradisionele stereotipering van vroulikheid dra by tot vrouens se gevoel van magteloosheid en kwesbaarheid. Dit is hierdie strukturele ongelykheid in die samelewing, die ideologiese konstruksie van vroulikheid en vroue se persepsie van „n gevoel van magteloosheid wat hulle teikens van intiemepaargeweld maak (Segel & Labe, 1990:255). Voortvloeiend hieruit is vroue meestal ekonomies afhanklik van hul mans, aangesien hulle beperkte toegang het tot die ekonomiese terrein en arbeidsmark en ook slagoffers is van ongelykheid ten opsigte van salarisse (Carlson, 1984:578; Krug et al., 2002:100; Segel & Labe, 1990:255).

Die patriargale kultuur dra baie by tot die voorkoms van geweld en die aanvaarbaarheid daarvan in die samelewing. Volgens Artz (2009:177) gebruik mans geweld om die status quo in stand te hou deur beheer te handhaaf. Kaldine (2007:235) verwys na patriargie as „n samelewingsisteem

waar die man mag en beheer beoefen, terwyl die vrou en kinders onderdanig is aan die man. Om daardie rede beperk patriargie „n vrou se besluitnemingsbevoegdheid en manifisteer dit in ekonomiese, kulturele, historiese en politiese omgewings wat tot ontmagtiging van vroue bydra (Artz, 2009:177; Van Zyl, 2008:31).

Deur die oorsaaklike faktore vanuit „n ekologiese perspektief te assesseer, kan die gevolgtrekking gemaak word dat die geïdentifiseerde oorsaaklike faktore baie kompleks is. Dit is ook duidelik dat die oortreder van intiemepaargeweld nie afgesonder kan word van die sisteme waarmee hy in interaksie is nie. Hierdie oorsaaklike faktore word nie gebruik om gewelddadige gedrag te regverdig nie, maar om die samelewing bewus te maak van aksies en geloofwaardighede wat intiemepaargeweld in stand hou. Terselfdertyd dra kulturele persepsies van en die publiek se houding teenoor intiemepaargeweld by tot die handhawing daarvan.