• No results found

3.3 EKOLOGIESE PERSPEKTIEF

3.3.2 Bronfenbrenner se ekologiese perspektief van menslike ontwikkeling

Bronfenbrenner (1979) en Lewin (1952) se beginsels aangaande die ekologiese perspektief is in ooreenstemming met mekaar. Beide teoretici beklemtoon dat „n persoon se gedrag binne die konteks van sy/haar omgewing geassesseer moet word. Bronfenbrenner (1979) bou voort op Lewin (1952) se veldteorie deur „n model van menslike ontwikkeling binne veelvoudige sisteme voor te stel. Bronfenbrenner (1979) is bewus daarvan dat die meeste teorieë rakende menslike ontwikkeling „n persoon as „n individuele eenheid behandel sonder inagneming van die konteks waarin die individu ontwikkel (Scileppi et al., 2000:45). Dus argumenteer Bronfenbrenner (1994:37) dat „n maatskaplike werker die totale ekologiese sisteem waarin groei plaasvind, moet oorweeg, ten einde die mens se ontwikkeling te verstaan.

Menslike ontwikkeling vind deur komplekse wederkerige interaksie tussen „n individu, biosielkundige menslike organismes en simbole in die persoon se onmiddellike omgewing plaas (Bronfenbrenner, 1994:38). Met inagneming van al hierdie verwante sisteme, verwys menslike ontwikkeling na „n individu se opvatting van die omgewing, die verwantskap daarmee, asook die persoon se toenemende kapasiteit om te ontdek, te oorleef of aan die omgewing se eienskappe te verander (Bronfenbrenner, 1979:9). Om effektief te wees, moet die interaksie op „n gereelde basis oor „n periode van tyd plaasvind, soos tydens die lewensduur van die intieme paar se lewens. Bronfenbrenner verwys na hierdie vorms van interaksie in die onmiddellike omgewing as proksimale prosesse. Patrone van proksimale prosesse is teenwoordig waar „n intieme paar komplekse take deurvoer, nuwe vaardighede aanleer, intiemepaar-aktiwiteite uitvoer en deel is van sosialiseringsprosesse (Bronfenbrenner, 1994:38).

Volgens Bronfenbrenner (1979) bestaan die sosiale konteks uit vier sisteme wat van klein mikrosisteme tot die meer globale makrosisteme varieer (Scileppi et al., 2000:45). In Bronfenbrenner (1979) se ekologiese perspektief is daar interaksie tussen alle sisteme, naamlik

die mikro-, meso-, ekso- en makrosisteem. Gebaseer op Lewin (1952) se veldteorie, word hierdie sisteme beskou as „n ineengevlegte ooreenkoms van strukture waar elkeen binne die volgende sisteem ingesluit word (Bronfenbrenner, 1994:39; Melson, 1980:21; Scileppi et al., 2000:45). Beweging vind van die binneste sisteem na buite plaas. Hierdie sisteme word in die volgende afdeling gedefinieer. Figuur 3.2 illustreer die verskillende sisteme van die ekologie.

Figuur 3.2 Sisteme van die ekologie

Die werking van hierdie vier sisteme van die ekologiese perspektief gaan nou van toepassing gemaak word op die probleem, intiemepaargeweld. Die doel van die benadering is om insig te verkry in die wederkerige transaksies tussen die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is en haar omgewing.

3.3.2.1 Mikrosisteem

Die mikrosisteem is die kleinste en direkste sisteem wat die individu ervaar (O‟ Donoghue & Maidment, 2005:32; Scileppi et al., 2000:45; Visser, 2007:25). „n Mikrosisteem is „n patroon van aktiwiteite, rolle en interpersoonlike verwantskappe wat deur die ontwikkelende persoon in „n gegewe situasie met spesifieke fisiese en materiële eienskappe ervaar word (Bronfenbrenner,

Mikrosisteem

Mesosisteem

Eksosisteem

1979:22) Binne hierdie sisteem neem die individu deel aan aktiwiteite en verwantskappe, waar rolle vervul en daaglikse interaksie bewerkstellig word. Verhoudings binne die mikrosisteem behels interaksie met familie, vriende, die portuurgroep en ander eksterne faktore. Om daardie rede omvat die mikrosisteem die individu self asook die faktore vir die potensiële intiemepaargeweld wat die individu se biologiese, sielkundige en gedragseienskappe insluit. Faktore kan reeds tydens die individu se kinder- en adolessente jare ontstaan en kan deur die interaksie met die familie, vriende en ander sosiale en kulturele faktore beïnvloed word (Krug et

al., 2002:32). Die geestesversteuring van „n vrou wat aan intiemepaargeweld blootgestel word,

beïnvloed ook haar fisiese gesondheidsfunksionering. Beide hierdie sisteme word deur die kombinasie van biologiese, sielkundige en sosiale faktore beïnvloed (World Health Organization, 2001:8).

3.3.2.2 Mesosisteem

Die mesosisteem bestaan uit die verbintenis van twee of meer mikrosisteme. Hoe sterkter en meer divers die verbintenis tussen die mikrosisteme is, hoe groter is die positiewe invloed wat die mesosisteem op die ontwikkelende persoon het. Bronfenbrenner (in Visser, 2007:25) staaf dat die ontwikkeling van die individu bevorder word as die verskeie situasies waarby die ontwikkelende persoon betrokke is, groot ooreenkoms toon, byvoorbeeld as die waardes wat die intieme paar in hul vroeë kinderjare by die huis geleer het, ooreenstem met die waardes wat hul in die skool geleer het. As die man aan die ander kant in die skool effektiewe konflikhanteringsmeganismes geleer het en by die huis geweld as „n oplossing vir konflik geleer het, sal daar „n wanbalans in die funksionering van betrokke mikrosisteme ontstaan.

3.3.2.3 Eksosisteem

By die eksosisteem word gefokus op die interkonneksie tussen die mikro- en mesosisteme, asook ander sisteme wat geen direkte kontak met die individu het nie, maar sy/haar funksionering van hierdie twee sisteme kan affekteer (Scileppi et al., 2000:47; Visser, 2007:25). Hierdie sisteem verwys na die gemeenskap-omgewing waarin die intieme paar, families en organisasies woon en vorm as „n geheel „n eenheid. Visser (2007:5, 6) omskryf „n gemeenskap as „n groep mense in „n spesifieke geografiese area en tyd, „n sosiale sisteem of „n sosio-politiese organisasie. Om daardie rede is „n gemeenskap „n sosiale sisteem met interaktiewe patrone tussen verskeie

subsisteme binne die gemeenskap. Hierdie subsisteme is beide interaktief en interafhanklik van mekaar.

Die gemeenskap is „n sisteem van sisteme aangesien dit veelvoudige komponente bevat wat die mikro- en eksosisteme beïnvloed. Die eksosisteem en/of gemeenskap-omgewing waarin die intieme paar woon, bevat mediese, opvoedkundige en ontspanningsbronne (Chetkow-Yanoov, 1997:11; Visser, 2007:25). Die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, benodig toegang tot sosiale en ekonomiese ondersteuning soos klinieke, dokters, maatskaplikewerk- en polisiedienste asook ondersteuningsgroepe ten einde as „n individu optimaal binne haar gegewe situasie te funksioneer en oorleef.

3.3.2.4 Makrosisteem

Die makrosisteem ontstaan uit die oorbruggende patrone van die mikro-, meso- en eksosisteme. Die makrosisteem verteenwoordig nie slegs die strukturele eienskappe van die samelewing nie, maar gee simboliese betekenis en karaktereienskappe van lewe aan die mikro-, meso- en eksosisteme (Melson, 1980:21). Die makrosisteem bevat die algehele samelewingsfaktore en word ook gedefinieer as die breër sisteem waar die ideologie en die organisasies van die sosiale instellings, wat algemeen tot „n individu se spesifieke sosiale klas, ras of kultuur is, „n rol speel (Scileppi et al., 2000:47; Visser, 2007:25). Binne die gemeenskap van sosiale instellings, wat as die makrosisteem optree, is daar „n komplekse sisteem van interaksie tussen kulturele, sosiale, politiese/ekonomiese, sielkundige en ekologiese elemente wat „n invloed het op die funksionering van „n vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is.

Bronfenbrenner (1979) voorsien nie net die rasionaal vir „n meer holistiese begrip van die menslike gedrag en die basis vir diverse en effektiewe strategieë om die kwaliteit van die intieme paar te verhoog nie (Scileppi et al., 2000:50), maar hy verbind ook elke sisteem deur die wedersydse en wederkerige invloede wat dit op mekaar uitoefen. Hierdie beginsel is meer verstaanbaar as die vloei van die ekologiese perspektief van onder na bo verduidelik word. Vanuit die bostaande beskrywings is dit duidelik dat die samelewing se waardes, norms en kultuur (makrosisteem) „n invloed het op die organisering van die gemeenskap se bronne (eksosisteem) wat die individu en intiemepaarverhouding beïnvloed (mesosisteem) en „n uitwerking op die vrou as „n individu (mikrosisteem) het.