• No results found

Die ekologiese perspektief help maatskaplike werkers om die doel van die professie te bereik, naamlik om mense te help asook omgewings wat menslike groei, gesondheid en tevredenheid in sosiale funksionering ondersteun, te bevorder. Derhalwe help hulle individue om hulpbronne wat hul help om stresvolle situasies te hanteer en te oorleef, te vind. Die ekologiese perspektief bied aan maatskaplike werkers „n meganisme om individue se probleme holisties te benader en nie as aparte dele van die geheel nie. Vanuit „n holisitese analise kan mense en hul fisiese en sosiale omgewings slegs verstaan word in terme van die interaksie en verhoudings met mekaar (Germain & Gitterman, 1996:5, 6).

Tydens die benutting van die ekologiese perspektief skep dit die geleentheid om beide formele en informele netwerke te integreer ten einde insig te bevorder rakende die persoon se behoeftes en probleme. Terselfdertyd sluit dit die verhoudings met individue, groepe, die familie, die gemeenskap en die samelewing as „n geheel in. Dit is „n perspektief wat gesamentlik deur maatskaplike werkers en kliënte gebruik kan word om begrip te verkry van die komplekse netwerke van verhoudings en sisteme wat die kliënt se funksionering beïnvloed (O‟Donoghue & Maidment, 2005:43).

3.4.1 Ekokaart as „n assesseringshulpmiddel

Die ekokaart is „n visuele assesseringshulpmiddel wat maatskaplike werkers help om inligting aangaande die persoon-omgewing-passing te verkry. Die ekokaart, wat deur Hartman (1978) ontwikkel is, identifiseer en organiseer omgewingsfaktore buite die individu- of familiekonteks ten einde die passing tussen hierdie sisteme te bepaal. Omdat dit die intieme paar se kontak met groter sisteme (suprasisteme) assesseer, is die fokus op die intieme paar se interaksie met die makro-omgewing (Goldenberg & Goldenberg, 2002:54). Die ekokaart identifiseer die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, se spanningsvolle en ondersteunende kontakte in die omgewing. Dit onthul ook patrone van sosiale isolasie, konflikte of onbetrokke sosiale sisteme. Hier word byvoorbeeld ook gekyk na die rigting waarin die bronne vloei, byvoorbeeld as die kliënt gee, maar niks van sosiale sisteme ontvang nie (Hepworth et al., 2010:232).

Die maatskaplike werker en kliënt kan gesamentlik die ekokaart voltooi. Die ekokaart is „n illustrasie van waar die kliënt haarself in verhouding met die omliggende sisteme vestig. Deur van verskillende simbole gebruik te maak, kan die aard van die verhouding tussen die persoon en die omgewing bepaal word (O‟Donoghue & Maidment, 2005:41). Die aard van die positiewe en negatiewe interaksies of die nodige hulpbronne kan geïllustreer word deur van gekleurde of verskillende tipe lyne gebruik te maak. Die lyne verbind die individu met belangrike sisteme ten einde die verhouding en die vloei van bronne aan te dui (Hepworth et al., 2010:232).

Deur „n vrou wat in landelike gebiede woon en betrokke by intiemepaargeweld is, as „n voorbeeld te gebruik, sal die ekokaart „n goeie assesseringshulpmiddel wees ten einde die spanningsvolle en ondersteunende netwerke te bepaal. Die maatskaplike werker en die vrou kan gesamentlik sien watter bronne versterk moet word en watter bronne „n stremming op die vrou se funksionering plaas. Hierdie hulpbronne kan gebruik word om die vrou se verwantskap, bekwaamhede, selfbeeld en selfbeskikking te versterk. In figuur 3.3 word die pre-intervensie- ekokaart van „n vrou wat in landelike gebiede woon en aan intiemepaargeweld blootgestel is, grafies voorgestel.

--- - ---

Figuur 3.3 Ekokaart van „n vrou in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is. Aangepas vanuit Hartman (1994:158) en Hepworth et al. (2010:340).

Vanuit die voorafgaande studies is dit duidelik dat „n vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, beperk is in haar toegang tot bronne weens die man se mag en beheer wat hy oor haar uitoefen. In figuur 3.3 word die vrou se verhoudings met haar sosiale en omgewingsisteme geïllustreer. Die vrou het „n gespanne verhouding met die man as gevolg van sy gewelddadige en mishandelende gedrag. Omdat die man haar van werk, familie en sosiale en maatskaplike dienste isoleer, veroorsaak dit dat sy „n swak verhouding met hierdie sisteme het, wat tot „n toename in stresvlakke kan lei (Gelles & Straus, 1989:91). Dit blyk dat vrouens nie die geweld sal rapporteer nie as gevolg van selfblamering, stigma, swak samewerking van die polisie en die vroue se afhanklikheid van die intiemepaarverhouding (Bollen et al., 1999:4; Brailey, 1985:35; Gelles & Straus, 1989:143). Positiewe sisteme kan moontlik wees as die vrou se verbintenis met haar kinders, vriende wat hulle ondersteuning bied en die kerk se weeklikse bywoning deur die man toegelaat word. VROU Kerk Werk Man Vriend e Familie en uitgebreide familie Kinders Sleutelbegrippe: --- Swak verhouding/bron - - - Spanningsvolle verhouding/bron Sterk verhouding/bron Wedersydse verhouding/bron Eensydige verhouding/bron Polisie, gesondheidsdiens -te, vervoer en maatskaplike dienste

Soos blyk uit die bostaande skrywe, is die ekokaart „n suksesvolle assesseringshulpmiddel vir maatskaplike werkers en kliënte om die passing tussen die persoon en die omgewing te ondersoek.

3.5 SAMEVATTING

Hierdie hoofstuk het „n oorsig gegee van die algemene sisteemteorie deur ondersoek in te stel na die intieme paar se struktuur en die funksionering van hul verhouding. Die subsisteem, naamlik die man en die vrou, is in „n interaktiewe proses met die omgewing. Tydens „n lewensveranderende situasie word terugvoering ontvang ten einde beheer en homeostase te handhaaf. Daarna word „n verduideliking van die ekologiese perspektief gegee. Die studies van Lewin (1952), Bronfenbrenner (1979) en Germain en Gitterman (1996) wat op die beginsels van hierdie perspektief gebaseer is, word kortliks bespreek. Die ekologiese perspektief beskou die persoon en die sosiale omgewing as interafhanklik, dus bestaan daar wedersydse interaksie tussen die persoon en die omgewing. Laastens is die maatskaplike werker as „n sosiale sisteem bespreek, met spesifieke verwysing na die ekokaart wat as „n effektiewe assesseringshulpmiddel tydens die assessering van die persoon se passing met die omgewing, kan dien.

Dit is duidelik dat die ekologiese perspektief „n belangrike bydrae lewer ten einde die verhoudings en interaksies tussen die vrou in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is en die omgewing te bepaal. Die rol van die maatskaplike werker is om hierdie passing tussen die persoon en die omgewing te verbeter. Deur lewenstressors te verminder en persoonlike en maatskaplike bronne te vermeerder, kan die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, „n ondersteunende sosiale netwerk binne haar gemeenskap hê. Om daardie rede kan die ekologiese perspektief benut word om die behoefte aan ondersteuning van vroue in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is, te ondersoek, ten einde optimale funksionering te verseker.

In die volgende hoofstuk gaan die ondersteuning wat die vroue in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is, nodig het, in terme van die verskillende vlakke van die ekologiese perspektief beskryf word. Sodoende kan bepaal word watter ondersteunende sosiale netwerke gevorm en watter bronne geïdentifiseer moet word om hierdie vrouens te help.

HOOFSTUK 4

ONDERSTEUNING BENODIG DEUR VROUE IN LANDELIKE GEBIEDE WAT BY INTIEMEPAARGEWELD BETROKKE IS

4.1 INLEIDING

Volgens Bronfenbrenner (1979:3) is die persoon en die omgewing in „n wederkerige interaksie met mekaar en beïnvloed die een die ander. Wanneer die beskikbare ondersteuning dus vir „n vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, bepaal word, is dit belangrik om haar omgewing as „n holistiese geheel te assesseer ten einde te verseker dat sy al die nodige ondersteuning op „n mikro-, meso-, ekso-, en makrosisteemvlak ontvang.

Intiemepaargeweld is „n komplekse sosiale probleem wat vererger word wanneer vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, nie die noodsaaklike hulpbronne en middele het om te oorleef nie. Maatskaplike werkers is verantwoordelik om seker te maak dat vroue in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is, die ondersteuning ontvang waaraan hul „n behoefte het sodat hulle in staat kan wees om ernstige voorvalle van fisiese, sielkundige/emosionele, en ekonomiese mishandeling te hanteer.

Ondersteuning verwys na die hulp, bystand, en begrip van familie, vriende, kollegas en formele instellings. Hierdie ondersteuning kan beide informeel en formeel wees. Informele ondersteuning word verkry van die intieme lewensmaat, familie, vriende en kollegas, terwyl formele ondersteuning verwys na buite-instellings soos, sosiale dienste en –programme wat byvoorbeeld deur welsyninstansies aangebied word (Hepworth et al., 2010:424; Visser, 2007:118). Informele en formele ondersteuning voorsien in die materiële, sielkundige en emosionele behoeftes van die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is en dra daartoe by dat beter hanteringsvaardighede bemeester word en lewenstressors verminder.

Die doel van hierdie hoofstuk is om die ondersteuning wat nodig is vir vroue in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is, te omskryf.

Hierdie hoofstuk begin met „n oorsig van die profiel van „n mishandelde vrou deur beskikbare en relevante literatuur te integreer. Daarna volg „n bespreking van die lewensiklus van „n mishandelde vrou deur die nodige ondersteuning wat die vrou benodig om lewensontwikkelingstake te kan uitvoer, te identifiseer. Laastens sal vanuit „n ekologiese perspektief „n beskrywing gegee word van die sosiale en ekonomiese ondersteuning wat die vrou in landelike gebiede wat by intiemepaargeweld betrokke is, nodig het.