• No results found

4.4 ONDERSTEUNING VANUIT ‘N EKOLOGIESE PERSPEKTIEF

4.4.3.3 Maatskaplikewerk en –welsyndienste

Volgens die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (2006) word Maatskaplike welsyn gedefinieer as die voorsiening van „n reeks dienste en programme wat direk gerig is op kapasiteitsuitbouing van mense, om die oorsake en gevolge van armoede en kwesbaarheid aan te spreek. Maatskaplike werk fokus op sosiale verandering, probleemoplossing in menslike verhoudinge en die bemagtiging van mense om hul totale welstand te verbeter (Department of

Social Development, 2006: 19). Die volgende internasionale definisie van maatskaplike werk gee „n duidelike verklaring van die eienskappe en hoofkenmerke van die status en posisie van maatskaplike werk in Suid-Afrika:

“The social work profession promotes social change, problem-solving in human relationships, and the empowerment and liberation of people to enhance well-being. Utilizing theories of human behavior and social systems, social work intervenes at the points where interact with their environments. Principles of human rights and social justice are fundamental to social work.” (Hare, 2004:409)

Na aanleiding van die bostaande definisie kan die gevolgtrekking gemaak word dat die beroep van die maatskaplike werkers vereis dat individue, groepe en gemeenskappe bemagtig word deur

gebruik te maak van verskillende teoretiese benaderings, maatskaplikewerkbeginsels en -tegnieke om diensverbruikers met die nodige hanteringsmeganismes en hulpbronne toe te rus.

Suid-Afrikaanse maatskaplike werkers implementeer die Social Service Professions Act no.110

of 1978 (Department of Social Development, 2006) wat fokus op professionele dienslewering

deur „n maatskaplike werker ten einde diensverbruikers se sosiale funksionering te bevorder. Volgens die Intergrated Service Delivery Model (ISDM) (Department of Social Development, 2006: 22) beteken sosiale funksionering die vervulling van „n individu se rol in geheel en in interaksie met ander individue, families, groepe, gemeenskappe en situasies in sy/haar omgewing. Maatskaplikewerkdienste strek oor „n verskeidenheid kliëntsisteme en metodes van maatskaplikewerkdienste, naamlik gevalle-, groep, en gemeenskapswerk/-ontwikkeling. Terselfdertyd maak maatskaplikewerk- en –welsyndienste gebruik van maatskaplike hulpwerkers, kinder-, gesins- en jeugsorgwerkers en ander paraprofessionele persone (Department of Social Development, 2006:23). Die organisasies verwys ook kliënte na sielkundiges, gesondheidsorgdienste en wetlike en sosiale dienste.

Met inagneming van die internasionale maatskaplikewerkdefinisie (Hare, 2004:409) en die

Social Service Professions Act no.110 of 1978 (Department of Social Development, 2006) is dit

duidelik dat maatskaplikewerk- en –welsyndienste poog om die totale funksionering van kwesbare persone, soos vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, te verbeter. Die spesifieke definisie en wetgewing verduidelik die vereistes van „n maatskaplike werker in die beroep, die

primêre en sekondêre metodes van dienslewering en die doel van maatskaplike werk. Maatskaplikewerk- en –welsyndienste maak gebruik van „n multi-dissiplinêre spanbenadering, asook „n holistiese benadering ten einde kliënte toe te rus om optimaal te funksioneer namate hulle interaksie met hul omgewing bewerkstellig (Department of Social Development, 2006:23). Om die sosiale funksionering van kwesbare persone te verbeter, is dit belangrik om maatskaplike dienste op verskillende vlakke van intervensie te lewer (Department of Social Development, 2006:28). Volgens die ISDM (Department of Social Development, 2006:28) kan „n kliënt se behoeftes op meer as een intervensievlak aangespreek word en oorvleuel hierdie vlakke in die praktyk. Intervensievlakke behels voorkoming en bevordering, vroeë intervensie, statutêre intervensie en „n reeks van nasorg-, ontwikkelings- en bemagtigingsdienste. Vir die doeleindes van hierdie studie word daar gefokus op drie vlakke van intervensie, wat ondersteuning aan vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, bied. Dit word vervolgens bespreek.

(a) Gemeenskapsbewustheid, voorkoming- en bevorderingsdienste

Op hierdie vlak van intervensie is daar die moontlikheid dat die kliënt op „n later stadium van haar lewe meer blootgestel gaan wees aan intiemepaargeweld, aangesien die man se mishandelde gedrag aan die begin van die verhouding nog minimaal is, maar mettertyd kan toeneem. Dit is dus belangrik om te voorkom dat intiemepaargeweld-gedrag vererger. Deur die kapasiteit en self-afhanklikheid van die kliënt te versterk deur middele en hulpbronne te voorsien, kan die kliënt gehelp word om beheer te neem van faktore wat „n negatiewe invloed op haar welwees het (Department of Social Development, 2006:29, 31). Voorkomingsdienste sluit die individuele, omgewings- en samelewingsfaktore in. Om daardie rede kan maatskaplike werkers poog om voorvalle van intiemepaargeweld te verminder, deur stres wat veroorsaak word deur die samelewing, soos armoede en ongelykheid, aan te spreek (Slabbert, 2010:38). Vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, kan ook aansluit by ondersteuningsnetwerkgroepe in die gemeenskap ten einde sosiale isolasie te verminder.

Die aard van maatskaplikewerk- en –welsyndienste op „n voorkomings- en gemeenskapsbewustheidvlak behels die voorkoming van geslagsgebaseerde geweld, programme vir dogters, vroue-bemagtigings- en ontwikkelingsdienste, opvoeding en opleiding, en ontspanningsprogramme. Ander gemeenskapsontwikkelingsdienste sluit sosio-ekonomiese

programme vir vroue en die bevordering van geslagskwessies in. Die bevorderingsdienste fokus op die “victim empowerment programmes” (VEPs), dienste aan die oortreders van intiemepaargeweld en beradingsdienste vir beide die slagoffer en die oortreder (Department of Social Development, 2006:39, 45).

(b) Beskermings- en statutêre intervensiedienste

Intiemepaargeweld word nie slegs as „n samelewingsprobleem beskou nie, maar as „n menseregteprobleem (Visser, 2007:239). Daarom het die regering verskeie wetgewings aangeneem en aangepas om die beskerming van vroue en kinders te bevorder. Beskermings- en statutêre intervensiedienste word binne die konteks van „n beleids- en wetgewingsraamwerk voorsien. Hierdie raamwerk vereis van maatskaplike werkers en organisasies om aksie te neem om die integriteit en welwees van vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, te beskerm, asook om „n veilige omgewing te skep waar hul menseregte verseker en gerespekteer word. Voorbeelde van hierdie dienste behels ondersteuningsentrums vir slagoffers, wat aandag aan beide fisiese en geestesgesondheidsdienste gee, asook behuisingsdienste voorsien (Department of Social Development, 2006:32, 39).

(c) Rehabilitering en nasorgdienste

Op hierdie vlak van intervensie word die kliënt deur die hof of die maatskaplike werker aangeraai om haar woning te verlaat en „n ander tydelike woning te vind. Die doel van hierdie dienste is om die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, te herintegreer in die gemeenskap en ondersteuning te bied ten einde self-afhanklikheid en optimale sosiale funksionering te verseker. Nasorgdienste verwys na deurlopende sorgdienste waartoe die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, toegang het wanneer sy dit nodig het (Department of Social Development, 2006:29, 31). Voortvloeiend hieruit kan vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, bemagtig word deur maatskaplike werkers om beheer te neem van hul eie lewens en minder magteloos te wees.

In vorige besprekings is daar verwys na vroue se afhanklikheid van die intiemepaarverhouding en die onwaarskynlikheid dat die vrou die gewelddadige verhouding gaan verlaat. Om daardie rede moet vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, bemagtig word en toegerus word met die nodige hanteringsvaardighede om die voorvalle van intiemepaargeweld te verminder, asook die

gepaardgaande stres. Browne en Herbert (1997:110) beklemtoon dat maatskaplike werkers moet help om die stilswye en kringloop van intiemepaargeweld te verbreek. Daar word ook beklemtoon dat professionele intervensie, deur onder andere die voorsiening van skuilings en veiligheidshuise, die vrou teen onmiddellike dreigemente van geweld kan beskerm en die vrou kan help om die gewelddadige verhouding te verlaat. Vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is en „n gebrek het aan die ondersteuning van famlie en vriende, ontvang ondersteuning by skuilings. Dit bied ook ondersteuning van ander vroue wat deur dieselfde traumatiese gebeurtenisse gaan en gemeenskaplike behoeftes het. Skuilings is „n een-stop-sentrum waar mishandelde vroue toegang het tot die polisie, mediese, regs-, sosiale en sielkundige dienste (Visser, 2007:239).

Met die verwysing na die eksosisteem is dit duidelik dat vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is, „n behoefte het aan ondersteuning van verskeie professionele dienste wat kan help om intiemepaargeweld tot „n einde te bring. Op die eksosisteemvlak is daar „n aantal professionele dienste wat poog om die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, te help, naamlik die kerk en geestesgebaseerde dienste, gesondheidsorgdienste en maatskaplikewerk- en –welsyndienste. Hierdie dienste voorsien „n reeks programme wat op voorkoming, beskerming, en beleid fokus. Ook is hulle betrokke by die ontwikkeling en implementering van wetgewing ten einde op „n makrosisteemvlak ondersteuning te bied aan vroue wat by intiemepaargeweld betrokke is.

4.4.4 Makrosisteem

Op die makrovlak is daar wederkerige interaksie tussen die ekonomiese, politieke en sosio- kulturele sisteme van die samelewing en daarom kan gemeenskapstressors soos armoede en werkloosheid „n stremming plaas op die funksionering van die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is. Die vernaamste makrosisteem wat „n invloed het op die funksionering van die vrou wat by intiemepaargeweld betrokke is, is die regering. Die regering is verantwoordelik vir die ontwikkeling en implementering van Suid-Afrika se beleid en wetgewing. Met die toename in statistiek oor intiemepaargeweld, feministiese bewegings en bewusmakingsgroepe word die regering verplig om intiemepaargeweld as „n menseregte-kwessie aan te spreek (Visser, 2007:239). Ondersteuning van die kant van die regering kan poog om hierdie

gemeenskapstressors te verminder. Beleid en wetgewing vanuit „n makrosisteemvlak gaan vervolgens bespreek word.