• No results found

2.8 LEESMOTIVERING IN DIE PRAKTYK

2.8.1 Skoolomgewing

Binne die sosiale konteks waarin die leerder hom bevind, ressorteer die sosio-ekonomiese en kulturele agtergrond van die skool, die invloed van die skoolbestuurspan, skoolgrootte, beskikbare bronne by die skool, instandhouding van ‟n skoolbiblioteek, die algemene skoolbeleid rakende lees, onderrigtyd, Nasionale Kurrikula en die leerder-onderwyser-verhouding (Pintrich & Schunk, 2002:60- 90).

Skoolgrootte, gepaardgaande met die nodige toerusting kan ‟n invloed op die effektiwiteit van ‟n skool hê. Effektiwiteit van ‟n skool sluit ‟n gunstige leer- en leesomgewing in (Postlethwaite & Ross, 1992). In ‟n Amerikaanse studie het Lee en Smith (1997:205-227) bevind dat daar ‟n definitiewe verhouding tussen hoërskoolgrootte en ‟n gunstige leer- en leesomgewing vir leerders is. Die studie het op lees en Wiskunde gefokus. Resultate het getoon dat die mees effektiewe hoërskole dié is met leerdergetalle tussen 600 en 900 leerders. In skole kleiner as dit leer en lees leerders minder en in baie groot hoërskole (veral met leerdergetalle 2 100 en meer) leer en lees leerders beduidend minder. Die skoolhoof in samewerking met die skoolbestuur en die beheerliggaam vorm die leierskap van ‟n skool. Die skoolhoof, as die sleutelfiguur, bepaal die organisasieklimaat van die skool. Hy moet die leerders en ouers motiveer (Westraad, 2011:20). Aansluitend hierby benadruk Hopkins (1996:30-50) die belangrikheid van skoolleierskap: swak leierskap en swak verhoudings tussen personeellede onderling kan nadelig wees vir ‟n positiewe onderrig- en leeromgewing. Om ‟n positiewe onderrig- en leerklimaat te skep moet ‟n skool ‟n gemotiveerde visie hê waar ‟n kultuur van professionaliteit, ondersteuning, probleemoplossing en voortdurende verbetering voorkeur geniet.

‟n Gebrek aan leerderondersteuningsmateriaal het ‟n direkte invloed op die onderrig- en leerklimaat binne ‟n skool. Om te kan leer word ‟n minimum bronne soos handboeke, leesboeke en skryfbehoeftes benodig. In gebiede waar diefstal en vandalisme algemeen voorkom, moet skole hulle beskikbare leerderondersteuningsmateriaal beveilig (Westraad, 2011:24-25). Die handboek en voorgeskrewe literêre werke is belangrike onderrig- en leermateriaal in die taalklas. Die handboek moet as primêre onderrig- en leermateriaal gebruik word, maar dit word moontlik net as aanvullende bronne in die klas aangewend. Onderwysers het tydens die TIMMS-verslag van 2003 gerapporteer dat die tekorte aan handboeke vir leerders een van die faktore is wat onderrig in die klaskamer belemmer. Suid-Afrikaanse onderwysers is deur C2005 (Nasionale Kurrikulum 2005) aangemoedig om ‟n verskeidenheid bronne te gebruik om leermateriaal vir onderrigleer en aktiwiteite in die klaskamer saam te stel. Dit kan moontlik verklaar waarom die handboek nie meer as primêre bron aangewend word nie (Reddy & HSRC Press, 2006:105). Volgens die nuwe Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (Suid-Afrika, 2011) moet leerders van graad 4 tot graad 12 vir elke vak sy eie handboek besit vir huiswerkdoeleindes en om daaruit te leer en lees.

Volgens die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (DBE, 2012:1-61) is die weeklikse onderrigtyd vir graad 4- tot graad 12- leerders 27,5 uur. Die tydstoekenning vir tale vir grade 4 tot 12 is soos volg:

Fase Graad Tyd vir Huistaal Addisionele Taal Tyd vir Eerste

Intermediêr Graad 4 tot 6 6 uur 5 uur

Senior Graad 7 tot 9 5 uur 4 uur

Voortgesette Onderwys

en Opleiding Graad 10 tot 12 4,5 uur 4,5 uur

Dit is belangrik om te bepaal hoeveel van die tyd wat aan tale toegeken word, werklik vir leesonderrig aangewend word en of dit wel met die riglyne in die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (Suid-Afrika, 2011) korreleer.

Volgens die Departement van Basiese Onderwys (DBE, 2013:6-7) word die Nasionale Leesstrategie (National Reading Strategy) nou in alle Suid-Afrikaanse skoolomgewings geïmplementeer. Hierdie Nasionale Leesstrategie is gebaseer op die veronderstelling dat ‟n leerder se sukses op skoolvlak en dwarsdeur sy lewe grootliks afhanklik is van die vermoë om te lees. Daarom is daar aan elke skoolhoof en onderwyser die uitdaging gestel om lees vir elke leerder ‟n realiteit te maak. Die Nasionale Leesstrategie het ‟n aksieplan (Action Plan to 2014: Towards the Realisation of Schooling 2025) om uiteindelik die leerders se lees-, skryf- en rekenvaardighede van grade 1 tot 9 op ‟n hoër peil te kry.

Vir baie adolessente is die hoërskoolmilieu nie altyd ‟n gunstige omgewing om lees-, skryf-, praat-, luister- en redeneervaardighede te ontwikkel nie. Die probleemareas wat by adolessentelesers geïdentifiseer is, is geletterdheid, motivering en toewyding. Baie adolessente ondervind probleme aangesien die voorgeskrewe kurrikula hulle vlakke van geletterdheidsontwikkeling oortref (Haycock, 2001:6-11; Joftus, 2002; Moore et al., 1999:97-112; Snow & Biancarosa, 2003). In Suid-Afrika dra die Nasionale Kurrikulum moontlik by tot leerders se leesprobleme en hulle swak leesmotivering. Baie leerders se leefwêreld is die afgesonderde platteland, terwyl die Nasionale Kurrikulum vroeër vanuit ‟n gesentraliseerde stad- en Westerse paradigma saamgestel is. Die inhoude het baie min weerspieël en selfs géén verbande met hierdie leerders se leefwêrelde getoon nie (Viljoen, 1999). Olën en Machet (1997:85-93) het bevind dat die Suid-Afrikaanse leesprogramme geheel en al te min tyd toelaat om slegs vir genot te lees en dit kulmineer in die apatiese leesgewoontes van vroeë adolessente. Die hersiene Suid-Afrikaanse Kurrikulumverklaring van 2002 het verklaar dat leerders aangemoedig en ondersteun moet word om ‟n verskeidenheid tekste te lees. Alhoewel die beleid ‟n verskeidenheid tekste en kritiese lees voorgestel het, is leerders steeds aan ‟n beperkte hoeveelheid voorgeskrewe tekste blootgestel waar daar net kontekstueel te werk gegaan is (Ivey & Broaddus, 2001:350-377). Skoolbestuurspanne en onderwysers sal die Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring/NKABV (Suid-Afrika, 2011), soos dit tans voorgeskryf is, deeglik in oënskou moet neem op soek na aspekte binne die Kurrikulum wat adolessentelesers se leesmotivering kan beïnvloed en sal binne die bepaalde raamwerk moet beplan hoe hulle dit kan verbeter.