• No results found

2.8 LEESMOTIVERING IN DIE PRAKTYK

2.8.3 Klaskameromgewing

Volgens Kidd en Czerniawski (2011a) is onderrig en leer twee sosiale elemente, omdat dit interaksie tussen onderwysers en leerders veronderstel. Daarom is dit vir die onderwyser van die uiterste belang om die regte klaskamerklimaat te skep vir die optimum motivering en toewyding van hulle leerders.

Die sosiaal-kognitiewe teorie met die klem op selfbevoegdheid, wat die teoretiese raamwerk van motivering in hierdie studie vorm, maak verskeie voorstelle wat in die klaskameromgewing toegepas kan word om leerders se motiveringsvlakke te verhoog. Hierdie voorstelle kan in enige werkomgewing, met enige taak en met leerders van verskillende demografiese agtergronde toegepas word. Die leerders se oortuigings van hulle selfbevoegdheid kan ontwikkel en verbeter word deur te fokus op die primêre bronne van selfbevoegdheid (Bandura, 1977:191-215). Deur gebruikmaking van werkverrigtingsuitkomste, plaasvervangende ervaringe, verbale aanmoediging en emosionele gewaarwordinge kan die leerders se inspanning, deursettingsvermoë, doelwitstelling en werkverrigting met ‟n bepaalde taak verbeter (vergelyk 2.5.2). Verbale aanmoediging kan aangewend word om ‟n goeie taak te komplimenteer of om positiewe terugvoer daaroor te gee. Verbale aanmoediging kan te enige tyd gebruik word en vereis geen inspanning nie.

Reid (2007:17) verduidelik dat die klaskameromgewing die potensiaal het om ‟n beduidende impak op leer uit te oefen, maar dat omgewingsvoorkeure ‟n individuele saak is en grootliks van die individu se leerstyl afhang. Terwyl dit belangrik is om die leerder te begelei om vir homself die beste leeromgewing te ontdek, is dit onmoontlik om elke omgewingsvoorkeur binne die klaskamer te akkommodeer.

Pitcher et al. (2007:378-396) beveel aan, in ooreenstemming met voorstelle deur Gambrell et al. (1996:518-533), dat onderwysers die verskeidenheid geletterdhede waaraan leerders buiteskoolverband blootgestel is, moet herken en maniere moet vind om dit binne hulle klasse te inkorporeer. Onderwysers moet aan hulle leerders modelleer dat hulleself lees geniet. Ondersteun leeskringe en boekklubs wat leerders moontlik wil stig en sluit ‟n verskeidenheid leesmateriaal van verskillende leesvlakke (moeilikheidsgraad) en onderwerpe in. Laat die leerders ‟n mate van keuse toe by leesprojekte.

Wat tydens die leesperiode in die klaskamer gebeur, kan motivering grootliks positief of negatief beïnvloed. Die take waaraan leerders hulle toewy, kan hulle begeerte om te lees, hulle deursettingsvermoë om moeilike take af te handel en hulle begrip van die doelwitte van die leesproses beïnvloed. Klaskameraktiwiteite kan in twee soorte gegroepeer word, naamlik oop aktiwiteite en geslote aktiwiteite. Geslote aktiwiteite beskik oor slegs een korrekte antwoord of een werksmetode. ‟n Onderwyser skryf gewoonlik geslote aktiwiteite voor en al die leerders volg dieselfde rigting en voer

dieselfde aktiwiteit uit. ‟n Voorbeeld van ‟n geslote aktiwiteit is dié waardeur die leerders ‟n werkopdrag met vrae oor ‟n bepaalde hoofstuk in ‟n boek ontvang. ‟n Oop aktiwiteit is dié waarvan die leerders egter in beheer is. Leerders stel self vir hulle doelwitte en besluit self hoe om dit te bereik. ‟n Onderwyser wat die leerders portefeuljes oor hulle voorgeskrewe werke laat saamstel, ondersteun oop aktiwiteite. Leerders het self die keuse ten opsigte van hoe hulle in hulle portefeuljes wil aandui wat hulle oor ‟n sekere onderwerp (tema of verhaalelement van die voorgeskrewe werk) geleer het. Oop aktiwiteite dra meer tot leerders se motivering by (Turner & Paris, 1995:662-673).

Ander elemente wat leerdermotivering binne die klaskameromgewing verhoog, is deur leerders ‟n keuse toe te laat rakende dít wat hulle wil lees en die onderwerpe waaroor hulle wil skryf. Uitdaging speel ook ‟n belangrike rol. Leerders verkies ‟n gemiddelde uitdaging. Wanneer ‟n taak te maklik is, raak hulle verveeld en wanneer die taak te moeilik is, raak hulle gefrustreerd. Leerderkontrole is nog ‟n element wat motivering kan beïnvloed. Leerders is meer gemotiveerd as hulle self kan kies met wie hulle in ‟n groep wil saamwerk. Samewerking binne die portuurgroep verhoog leerders se motivering. Wanneer leerders die waarde van ‟n taak of aktiwiteit besef, sal hulle meer gemotiveerd wees om dit te doen. Uiteindelik is selfevaluering baie belangrik, want as die leerder besef dat hy ‟n beter leser word, het dit ‟n meer blywende impak as enige eksterne beloning (Turner & Paris, 1995:662-673). Gambrell (1996:14-25) beskryf die klaskameromgewing waar ‟n liefde vir lees gekweek word as ‟n ruimte waarbinne die onderwyser ‟n rolmodel moet wees wat lees hoog ag en sy eie literêre ervaringe met die leerders deel. Hierdie klaskamer beskik oor genoegsame boeke oor ‟n verskeidenheid onderwerpe wat verskillende genres en moeilikheidsgrade dek. Daar sal genoeg geleentheid aan die leerders gegun word om met die ander leerders oor die boeke te gesels. Leerders sal toegelaat word om self hulle boeke te kies en maniere te vind om dit met ander te deel.

Die vestiging van ‟n klimaat vir motivering sluit meer as die keuse van sekere take of aktiwiteite (of die vermyding van ander) in. Pressley (2006) stel riglyne voor om motivering te vestig en te onderhou. Verseker leerders voortdurend van sukses, steierwerk leerders se leer (met ander woorde daar moet ‟n opbou van leer plaasvind) en verseker leerders dat sukses en mislukking aan ‟n mens se moeite met ‟n taak toegeskryf kan word en nie aan jou vermoë nie. Verder moet die leerders aangemoedig word deur aan hulle uit te wys dat intelligensie en vermoë verbeter en verhoog kan word, dat hulle mislukking as ‟n natuurlike deel van die leerproses moet beskou, maar nie moet toelaat dat mislukkings voortduur nie. Ontmoedig mededinging tussen leerders. Moedig koöperatiewe aktiwiteite aan. Punte moet nooit as ‟n aansporingsmiddel gebruik word nie.

Guthrie en Knowles (2001:173) stippel sewe riglyne uit om leesmotivering binne die klaskameromgewing te bevorder:

 die gebruik van denkbeeldige temas om nuuskierigheid te prikkel;

 aanmoediging om self leiding te neem;

 blootstelling aan ‟n wye verskeidenheid tekste;

 ondersteuning vir die gebruik van kognitiewe strategieë;

 sosiale samewerking; en

 die geleentheid vir die leerder om hom in woorde uit te druk.

Hierdie outeurs beklemtoon die verband tussen die affektiewe, sosiale en kognitiewe aspekte van lees en hulle navorsing beklemtoon hoe belangrik dit is om klaskamers te skep wat op leerdertoewyding as ‟n sleutelstrategie fokus. Adolessente moet ‟n positiewe geletterdheidsidentiteit binne die klaskamer- omgewing ontwikkel. Foley (1990) se navorsing het bewys dat leerders hulle voortdurend afvra of hulle foute in die klas mag begaan, of daar voorsiening vir stadiger leerders gemaak sal word en of tekste by leerders se behoeftes, hul belangstellings en hul leesvlakke aangepas sal word.

Combs (2012:186-196) stel bepaalde aktiwiteite voor wat die onderwyser binne die klaskameromgewing kan gebruik waarmee leesbegrip geassesseer kan word en waardeur dit uiteindelik verbeter kan word. Verbeterde leesbegrip verhoog leesmotivering. Die aktiwiteite is oorvertelling, vraagstelling, hardop-dink-strategie, cloze-tegniek, leesbegriponderrig, onderlinge onderrig en gebruik van tegnologie. Hierdie aktiwiteite sal volledig in Hoofstuk 6 as deel van die leesmotiveringsraamwerk vir Afrikaanssprekende adolessentelesers (graad 9-leerders) bespreek word (vergelyk 6.3.6).