• No results found

DIE ONTWIKKELINGPSIGOLOGIE EN LEESBEHOEFTES VAN DIE ADOLESSENT

Slegs wanneer die eienskappe en die ontwikkelingstake van die adolessent verstaan word, kan adolessente gemotiveer word om toegewyde lesers te word en te bly. Volgens Vos (2006:32) is daar bepaalde samelewingsinvloede asook etniese en kulturele verskille wat die hedendaagse adolessent as leser beïnvloed. Jeugliteratuur moet die individualiteit van adolessente in ag neem en hulle in staat stel om met die inhoud te kan identifiseer. Blootstelling aan die gepaste leesmateriaal sal nie alleen die adolessente se soeke na hulleself help verstaan nie, maar ook die breër samelewing, kultuur en die wêreld om hulle. Die geskikte leesmateriaal kan adolessente na ‟n ander wêreld verplaas, hulle help om ander mense te verstaan, hulle help om volwassenheid te bereik, en hulle ook help om ‟n estetiese sin en ‟n goeie taalvermoë te ontwikkel.

Volgens Louw et al. (1998:388-392) lok die term adolessensie soms teenstrydige standpunte uit. Enersyds word na adolessensie verwys as ‟n stormagtige periode wanneer jongmense in hierdie stadium emosioneel onstabiel en ongemotiveerd is en wanneer vaste waardestelsels nog nie gevestig is nie. Andersyds word na adolessente verwys as die ingeligte, eerliker, liefdevoller en intelligenter generasie. Die term is van die Latynse werkwoord adolescere afgelei wat beteken “om te groei tot volwassenheid”. Alhoewel daar groot problematiek rakende die ouderdomsgrensafbakening van adolessensie voorkom, word dit deur talle navorsers en teoretici as die ouderdom tussen 11 en 21 jaar beskou. Dit word in drie fases verdeel, naamlik vroeë adolessensie (ongeveer 11 tot 14 jaar), middeladolessensie (ongeveer 14 tot 18 jaar) en laatadolessensie (ongeveer 18 tot 21 jaar). Adolessensie neem egter ‟n aanvang wanneer geslagsrypheid plaasvind en eindig wanneer die individu ekonomies onafhanklik is, ‟n beroep begin beoefen, in die huwelik tree, ‟n eie identiteit ontwikkel het, emosioneel onafhanklik van die ouers is, ‟n persoonlike waardestelsel ontwikkel het, goeie interpersoonlike verhoudings kan aanknoop of wanneer die individu wetlik aanspreeklik gehou kan word.

Voorts beklemtoon Louw et al. (1998:388-392) dat adolessensie deur ingrypende liggaamlike, kognitiewe, persoonlikheids- en sosiale ontwikkeling gekenmerk word wat meebring dat hulle gemoedskommelinge ervaar. Stygende hormoonvlakke veroorsaak negatiewe emosies soos woede, depressie en buierigheid. Soms sal omstandighede veroorsaak dat adolessente vrolik tussen hulle vriende is, maar depressief in die klaskamer of by die ouerhuis.

Vervolgens word kortliks aandag geskenk aan die ontwikkelingstake wat gedurende adolessensie bemeester moet word, want dit is belangrik om ‟n geheelindruk van die adolessent te vorm alvorens sy motiveringsingesteldheid, veral ook ten opsigte van lees, verstaan kan word.

2.6.1 Liggaamlike ontwikkeling van die adolessent

Omvattende fisieke ontwikkeling vind tydens adolessensie plaas wat tot liggaamlike en seksuele volwassenheid lei. Die navorsing van Lefrançois (1993:374-447) toon dat adolessensie biologies die tydperk van geslagsrypheid af tot volwassewording is. Louw et al. (1998:393-401) bevestig dat die aanvangsouderdom vir die vinnige liggaamlike groei gedurende adolessensie tussen 10 en 11 jaar vir meisies en tussen 12 en 13 jaar vir seuns wissel. Die dramatiese groeiversnelling gee dikwels aanleiding tot lomp en ongekoördineerde bewegings. Liggaamsmassa en spierontwikkeling begin toeneem en seksuele rypwording begin met die afskeiding van manlike of vroulike geslagshormone. Die veranderde liggaamlike voorkoms is nie vir adolessente ewe maklik nie. Vanweë seuns se sterker voorkoms presteer hulle beter in sport en word as leiers aanvaar, maar andersyds kan die seuns se verdieping van hulle stemme tot verleentheid bydra. Meisies wat vinniger as hul tydgenote ontwikkel, word dikwels deur die portuurgroep verwerp. Uiteindelik kan hierdie verleenthede waardeur adolessente gekonfronteer word, volgens Lefrançois (1993:374-447), tot adolessente se ongelukkigheid, swakker akademiese prestasie en selfbeeld, eetsteurnisse, asook tot hulle ongemotiveerdheid bydra.

Vos (2006:36) beklemtoon dat dit daarom belangrik is om vir adolessente leesmateriaal te kies waarin die klem juis op liggaamlike ontwikkeling, liggaamlike veranderinge, die belangrikheid van die fisiese voorkoms en op die ontwaking van seksualiteit val. Hierdie liggaamlike ontwikkeling kan ‟n motief vir optrede vorm en dikwels die tema van leesmateriaal bepaal.

2.6.2 Kognitiewe ontwikkeling van die adolessent

Kognitiewe prosesse is faktore wat die leerder met sy bepaalde leesvaardighede, agtergrondervaringe en kennisbasis insluit. Oortuigings dui op leerdergesentreerde faktore soos sy emosionele agtergrond, siening en doel met lees, waardebeskouing met betrekking tot lees, lesersidentiteit, fisiese toestand en veranderinge, kognitiewe vermoëns, selfbeeld en spesifieke ouderdom (Pintrich & Schunk, 2002:60-90).

Die kognitiewe ontwikkelingstaak van die adolessent sluit die verandering van die konkrete denkvermoë na ‟n meer volwasse denkvlak in. Hierdie denkvermoë beteken om logies en analities oor konkrete en abstrakte begrippe te redeneer en word hoofsaaklik deur abstrakte denke, hipoteties- deduktiewe denke, wetenskaplike denke, induktiewe redenering, reflektiewe abstraksie en interproporsionele redenering gekenmerk (Louw et al., 1998:418-420, Nielsen, 1996:88-90).

Die formeel-operasionele denkvlakke word in Westerse kulture aangemoedig, maar dit is nie ‟n prioriteit in alle kulture nie. Verder blyk dit dat adolessente nie goeie wetenskaplike denkers is nie, aangesien hulle teoriegebonde wil bly. Dit het tot gevolg dat adolessente mans, vroue, bejaardes en sekere etniese groepe foutief stereotipeer. Omdat adolessente absolute denkers is, is daar volgens hulle nie uitsonderings op reëls nie en is ‟n saak dus net reg of verkeerd (Louw et al., 1998:418-423). Hierdie tipiese kenmerke van adolessente se kognitiewe denkvlakke kan moontlik ‟n beduidende rol by hulle leesmotivering en veral by hulle leesbegrip vervul. Hulle kan moontlik worstel om afleidings uit bepaalde leesmateriaal te maak en hulle kan moontlik vrae oor stereotipering verkeerd interpreteer. Louw et al. (1998:423-425) is van mening dat adolessente baie egosentries optree en hulle glo dat hulle nie kwetsbaar is nie. Volgens Lefrançois (1993:374-447) neem hierdie gevoel van onkwetsbaarheid drastiese afmetings aan in dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, gevaarlike stokperdjies en gewelddadige dood van adolessente.

Louw et al. (1998:425-427) onderskei drie geheuevlakke wat tydens die kognitiewe ontwikkeling van die adolessent vasgelê word, naamlik die werkgeheue (wat betrokke is by die tydelike manipulasie en onderhoud van inligting wanneer iets verstaan, geleer of beredeneer word), die semantiese geheue (wat gebruik word om woordbetekenisse, konsepte en reëls te verstaan en sluit algemene kennis oor ‟n bepaalde vakgebied in) en die episodiese geheue (wat help om persoonlike belewenisse van die verlede te herroep). Hieruit kan afgelei word dat hierdie drie geheuevlakke waarskynlik ‟n belangrike rol by die leesbegrip van die adolessent sal vervul.

Adolessente ontwikkel ‟n sterk behoefte aan outonomie en dit kan konflik met die ouers tot gevolg hê. Louw et al. (1998:427-428) benadruk die belangrikheid daarvan dat ouers bevredigende antwoorde aan adolessente moet verskaf indien daar kwessies is wat hulle bevraagteken. Hierdie behoefte aan outonomie moet in adolessente se leesmateriaal ondervang word en Sutherland et al. (1981:19-38) is van mening dat dit veral in avontuurverhale, beroepsverhale en biografieë, wat die suksesverhale van verskillende mans en vroue vertel, kan realiseer.

Die adolessent ontwikkel kritiese beoordelingsvaardighede wat hom in staat stel om sosiale, politieke en kritiese stelsels krities te beoordeel (Louw et al., 1998:428-429). Leesmateriaal en vrae wat hierdie kognitiewe denkvlakke (kritiese beoordeling) vereis, sal dus met vrug aan adolessentelesers verskaf

kan word. Volgens Wallis (2004:46-56) is onvolwasse breinfisiologie die oorsaak daarvan dat adolessente dikwels die emosies van ander verkeerd vertolk.

Vanweë die verskil in adolessente en volwassenes se kognitiewe ontwikkelingsvlakke, beklemtoon Steenberg (1981:21-23) die belangrikheid daarvan dat ‟n volwassene nie die hoofkarakter in ‟n jeugverhaal kan vertolk nie. ‟n Negatiewe karakter in ‟n jeugverhaal kan ook negatief op die adolessent se kognitiewe ontwikkeling inwerk. Hierdie navorser is van mening dat adolessente se kognitiewe denkvlakke in so ‟n mate ontwikkel is dat hulle tussen terugflitstegnieke, vooruitskouings en die oormekaarskuif van tye kan onderskei.

2.6.3 Persoonlikheidsontwikkeling van die adolessent

Een van die belangrikste persoonlikheidontwikkelingstake in die adolessente fase is die vorming van ‟n persoonlike identiteit. Louw et al. (1998:429-434) definieer identiteit as “die individu se bewustheid van hom- of haarself as onafhanklike, unieke persoon met ‟n bepaalde plek in die samelewing”. Vir positiewe identiteitsvorming moet die adolessent oor genoegsame vertroue, selfstandigheid, inisiatief en werkverrigting beskik. Hierdie drastiese ontwikkeling van die adolessent kan somtyds tot ‟n identiteitskrisis lei. Adolessente twyfel oor hulle eie vermoëns en bevraagteken hulle eie waardestelsel en lewensfilosofieë en begin daarom met alternatiewe identiteite eksperimenteer. Hierdie bevraagtekening en eksperimentering moet positief deur die samelewing hanteer word (psigososiale moratorium), aangesien adolessente aan moontlike beroepe begin dink en met rolmodelle identifiseer.

Verdere aspekte wat deel van adolessente se identiteit uitmaak, is die geslagsrolle, verhoudings, godsdiens, politiek, waardestelsels, onafhanklike funksionering van die ouers, sosiale verantwoordelikhede en beroepsrolle. Die verhouding met hulle ouers en die portuurgroep kan adolessente se identiteitsontwikkeling grootliks beïnvloed. Indien die adolessent oor abstrakte denkvaardighede beskik, kan identiteitskrisisse makliker hanteer word (Louw et al., 1998:434-435). Steenberg (1981:21) beveel in hierdie verband aan dat adolessente in hierdie ontwikkelingsfase boeke moet lees waarin ‟n adolessent die hoofkarakter is, aangesien die adolessent baie makliker met iemand van sy eie ouderdom, ook wat probleemoplossing en aanvaarding van ander mense en van homself betref, kan identifiseer.

Louw et al. (1998:436) beklemtoon dat sekere ouerskapstyle ‟n positiewe of negatiewe impak op die identiteitsontwikkeling van die adolessent kan hê. Hierdie ouerskapstyle en die invloed daarvan op adolessente sal later breedvoerig (vergelyk 2.7.1) bespreek word.

Kultuur-historiese aspekte dra volgens Louw et al. (1998:436-441) ook by tot die adolessent se identiteitsontwikkeling. Binne ‟n bepaalde kultuuragtergrond is die adolessente gouer bewus van hulle

identiteit en verander hulle sieninge omtrent hulleself makliker. Hulle fokus nie meer so baie op hulle fisieke eienskappe nie, maar meer op hulle psigiese eienskappe.

2.6.4 Sosiale ontwikkeling van die adolessent

‟n Adolessent se sosiale ontwikkeling word gekenmerk deur betekenisvolle veranderinge in die gesinsverhoudings, ‟n toenemende belangstelling in en interaksie met die vriende of portuurgroep en die ontwikkeling van ‟n waardesisteem. Die ouers en die vriende of portuurgroep word later breedvoerig as sosiale rolspelers ten opsigte van die adolessent se motivering bespreek (vergelyk 2.7.1 en 2.7.3).

Sutherland et al. (1981:19-38) beklemtoon dat die adolessent nie net aan ‟n gesin en portuurgroep wil behoort nie, maar is ook ‟n lid van ‟n skool, stad, land en die groter wêreldgroep waarmee die adolessent voel hy kan identifiseer. Jeugverhale beeld hierdie tendens uit, maar fokus nie net op die geluk nie, maar ook op probleemsituasies. Hierdie jeugverhale met kontensieuse onderwerpe wat aktuele probleemkwessies aanraak en waarin met empatie en respek teenoor hierdie kwessies opgetree word, bied aan die adolessentelesers oplossings vir hulle eie probleme. Brown en Stephens (1995:6-7) stel ‟n jeugdige protagonis in jeugverhale voor, want so ‟n protagonis kan ‟n rolmodel vir die adolessenteleser wees en iemand met wie hy graag sal wil identifiseer. Die adolessenteleser sal ‟n weersin in die negatiwiteit van die antagonis ervaar.

Adolessente ontwikkel ‟n persoonlike waardestelsel wat duidelike riglyne vir hulle optrede verskaf. Ouers, sowel as die portuurgroep, dra baie tot die vorming van ‟n waardestelsel by, aangesien die adolessent hierdie sosiale rolspelers fyn waarneem en naboots. Die gewete begin ‟n al groter rol speel en adolessente wat ‟n hoër morele waardesisteem huldig, is eerliker en meer prososiaal (Louw et al., 1998:464-474).

Sutherland et al. (1981:19-38) beskryf die vestiging van ‟n waardestelsel ook as die fase waarin die estetiese aspekte en orde vir adolessente belangrik word. Gepaste leesmateriaal kan hierdie behoefte aan esteties-bevredigende gewaarwordinge bevredig en tot die sosiale ontwikkeling van die adolessent bydra.