• No results found

DIE VERBAND TUSSEN DIE ONAFHANKLIKE VERANDERLIKE (LEESMOTIVERING)

AKADEMIESE PRESTASIE)

Uit die voorafgaande bespreking blyk dit dat die verbande tussen leesmotivering, leeshoeveelheid, leesbegrip en akademiese prestasie met uiteenlopende resultate nagevors is (vergelyk 3.6).

Wigfield en Guthrie (1997:420-432) het bevind dat daar ‟n verband bestaan tussen leerders wat

intrinsiek gemotiveerd is, hulle weetgierigheid oor leesonderwerpe en hulle leeshoeveelheid.

Guthrie et al. (1999:231-256) het bevind dat leesmotivering ‟n belangrike bepaler van ‟n leerder se leeshoeveelheid is. Guthrie et al. (2012:2-11) het later bevind dat ‟n leerder wat die belangrikheid van lees (taak- of leeswaarde) besef, se leeshoeveelheid verbeter.

Volgens Guthrie et al. (1999:231-256), Guthrie en Wigfield (2000:403-422) en Wigfield en Guthrie (2010:463-477) sal gemotiveerde leerders se leeshoeveelheid verbeter, hulle sal meer bevoeg voel

en gevolglik sal hulle leesbegrip verbeter. Anderson et al. (1988:285-303) asook Cipielewski en

Stanovich (1992:74-89) het ‟n verband tussen leeshoeveelheid en leesbegrip waargeneem. Wang

en Guthrie (2004:162-186) het egter, nadat hulle motiveringsveranderlikes gekontroleer het, bevind

dat leeshoeveelheid nie leesbegrip bepaal nie. Laasgenoemde navorsing dui daarop dat die

verbande tussen hierdie veranderlikes steeds onseker is. Guthrie et al. (2006:232-245) en Wang en Guthrie (2004:162-186) het in studies met Amerikaanse leerders en Law (2009:77-95) en Wang en Guthrie (2004:162-186) in soortgelyke studies met Chinese leerders bevind dat ‟n verband bestaan

tussen leerders se leesmotivering en leesbegrip. Guthrie et al. (1999:231-256) het hierdie selfde

verband waargeneem tydens die toetsing van graad 10-leerders, maar nie met die toetsing van graad 3- tot graad 5-leerders nie. Baker en Wigfield (1999:452-477) het bevind dat slegs sekere leesmotiveringsdimensies, naamlik uitdaging om te lees, leesvermyding en leesbetrokkenheid met

leesbegrip korreleer. Ander leesmotiveringsdimensies, naamlik sosiale redes vir lees,

belangrikheid van lees (lees- of taakwaarde) en kompetisie tydens lees korreleer nie met

leesbegrip nie. Barr et al. (2007) noem enkele sosiale redes vir lees (soos die klaskameromgewing,

die onderwyser-leerder-verhouding en die interaksie tussen die leerders) wat ‟n impak op leerders se

leesbegrip het. Die Rand Reading Study Group (2004:720-754) en Sweet en Snow (1998:17-53)

noem ander sosiale redes vir lees (soos die sosio-ekonomiese status van die gesin, die sosiale groep of portuurgroep asook die kulturele oortuiging van die leerder) wat ‟n verband met ‟n leerder se

leesbegrip toon. Volgens Fisher et al. (2009) sal te komplekse en abstrakte leesmateriaal vir leerders

‟n te groot uitdaging wees om te lees; gevolglik sal hierdie leerders die leesaktiwiteit vermy wat swak leesbegrip tot gevolg sal hê. Uit voorafgaande bespreking is dit duidelik dat daar nie ‟n

konsekwente verband tussen leesmotivering en leesbegrip in die literatuur gerapporteer is nie.

Fisher (2008:36-37) en Guthrie et al. (2012:6-7) toon aan dat ‟n leerder se leeshoeveelheid ‟n

verband met sy akademiese prestasie toon. Volgens ‟n studie van Bohlman en Pretorius (2002:196-

206) sal ‟n leerder se leesvermoë (leesbevoegdheid) en goeie leesbegrip met sy akademiese prestasie korreleer. Duckworth en Seligman (2006:198-208) is van mening dat meisies se hoër akademiese prestasie aan hulle selfdissipline toegeskryf kan word, terwyl Eccles et al. (1993:830-

847), Marsh (1998:417-430) en Wigfield et al. (1997:451-469) meisies se hoër akademiese prestasie

aan hulle leesbevoegdheid en hulle besef dat lees waarde (lees- of taakwaarde) vir hulle inhou, toeskryf. Laasgenoemde outeurs meen dat seuns se kompetisie-ingesteldheid hulle leeshoeveelheid sal verhoog.

Durik et al. (2006:382-393) verduidelik dat leerders wat oor hoë leesbevoegdheidsvlakke beskik en die belangrikheid van lees (lees- of taakwaarde) besef, meer gemotiveerd is om te lees.

3.8 SAMEVATTING

Die beperkte inligting wat in die literatuur oor leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessentelesers beskikbaar is, is in hierdie hoofstuk belig. Elk van die veranderlikes van hierdie studie (leesmotivering, leeshoeveelheid, leesbegrip en akademiese prestasie van adolessentelesers – vergelyk 1.6.3.4 en 4.4.4) is breedvoerig bespreek en die elf leesmotiveringsdimensies van die Motivation for Reading Questionnaire (MRQ) is elk afsonderlik verduidelik en bespreek. Uit die daaropvolgende bespreking oor die verbande tussen die onafhanklike veranderlike en die afhanklike veranderlikes, asook die onderlinge verbande tussen die afhanklike veranderlikes, het dit geblyk dat die aard van hierdie verbande steeds onseker is en verdere navorsing vereis. Een van die

navorsingsdoelwitte van hierdie studie is juis om te bepaal wat die presiese verbande tussen genoemde veranderlikes is, maar spesifiek met die fokus op Afrikaanssprekende adolessentelesers (graad 9-leerders) in ‟n Afrikaans Huistaal-omgewing (vergelyk 1.4), want daar is bitter min bekend oor die leesmotivering, leeshoeveelheid, leesbegrip en akademiese prestasie van die Afrikaanssprekende adolessenteleser.

In Hoofstuk 4 word die navorsingsontwerp en -metodologie wat gevolg is om die onderlinge verbande tussen Afrikaanssprekende adolessentelesers (graad 9-leerders) se leesmotivering, leeshoeveelheid, leesbegrip en akademiese prestasie te kon vasstel met die doel om ‟n leesmotiveringsprofiel van hulle te kon saamstel, breedvoerig beskryf.

HOOFSTUK 4

NAVORSINGSONTWERP EN -METODOLOGIE 4.1 INLEIDING

Volgens Adler en Clark (2011:6-7) is die navorsingsontwerp en -metodologie van kardinale belang vir enige studie, aangesien dit struktuur aan die inhoud verleen, maar ook die spesifieke navorsingsparadigma van die studie ondersteun. Die doel met hierdie hoofstuk is om ‟n breedvoerige uiteensetting te verskaf van die navorsingsontwerp en -metodologie wat gevolg is om ‟n leesmotiveringsprofiel van Afrikaanssprekende adolessentelesers (graad 9-leerders) te kon saamstel, asook om die onderlinge verbande tussen hierdie Afrikaanssprekende adolessentelesers se verskillende leesmotiveringsdimensies en hulle leeshoeveelheid, leesbegrip en akademiese prestasie empiries te bepaal, te analiseer en te interpreteer.

Om bogenoemde doelwit te bereik word eerstens kortliks verwys na verskillende navorsingsparadigmas binne die Sosiale Wetenskappe en die spesifieke navorsingsparadigma vir hierdie studie, naamlik die post-positivisme, word omskryf. Hierna word die literatuurstudie wat uitgevoer is, asook die metodologie van die empiriese ondersoek wat binne die post-positivistiese navorsingsparadigma en met behulp van ‟n nie-eksperimentele kwantitatiewe navorsingsbenadering gedoen is, verduidelik. Die navorsingsmetodes word kortliks verduidelik en daarna volg ‟n breedvoerige beskrywing van die drie data-insamelingsmetodes (vraelys, twee leesbegripstoetse en die verkryging van data oor die akademiese prestasie van die respondente), asook die wyse waarop die studiepopulasie en steekproef saamgestel is. Die loodsondersoek, die data-insamelingsprosedure en die wyse waarop die data-analise gedoen is, word deeglik bespreek. Daarna word die hoofstuk met die volledige uiteensetting van die etiese aspekte rakende die navorsing afgesluit.

4.2 DIE LITERATUURSTUDIE

Die belangrikste doelwitte van ‟n literatuuroorsig is om ‟n gaping in kennis te identifiseer wat waardevol is om verder te ondersoek, om huidige idees uit te daag of om ‟n aanvaarbare teorie in ‟n nuwe veld toe te pas. Die belangrikste kenmerk van ‟n navorsingsprojek is dat dit die navorser in staat stel om kritiese bewustheid van die betrokke studieveld te demonstreer en dit kan alleenlik na ‟n deeglike literatuurstudie geskied (Gray, 2009:98-99).

Shulman (1999:159-165) verduidelik dat ‟n deeglike literatuuroorsig die navorser uiteindelik in staat stel om op die vakkundigheid van ander voort te bou en om dit te toets. Om dit moontlik te maak stel Creswell (2002) drie soorte bronne vir ‟n deeglike literatuuroorsig voor. In orde van belangrikheid is dit eerstens portuurgeëvalueerde vaktydskrifartikels, daarna vakgerigte boeke en laastens

konferensiereferate. Vir hierdie studie was dit noodsaaklik om ‟n soektog oor die wye spektrum van hierdie drie soorte bronne te loods om sodoende die kernbronne te kon identifiseer wat nodig was vir die diepgaande literatuurstudie.

Ten einde resente en relevante bronne vir die literatuurstudie te kon vind, is ‟n EBSCOHost Academic- soektog met bepaalde Afrikaanse en Engelse sleutelterme geloods. Daarna is ‟n EBSCHOHost Academic-soektog uitgevoer om meer resente en relevante inligting van proefskrifte, tydskrifte en ander primêre en sekondêre inligtingsbronne met dieselfde sleutelterme op te spoor. Die soektog is met behulp van Google Scholar uitgebrei. Die navorser het die bronnelyste van sleutelbronne deursoek om al die resente navorsingsbronne oor die navorsingsonderwerp op te spoor. Die navorser het inligting uit die literatuur oor die Motivation for Reading Questionnaire, motivering en -teorieë, die ontwikkelingpsigologie en leesbehoeftes van adolessentelesers, sosiale rolspelers in die motivering van adolessente en wêreldwye leesstrategieë ingewin in ‟n poging om leesmotivering van Afrikaanssprekende adolessentelesers, wat ‟n kognitief-psigologiese konstruk is, op ʼn logiese en kritiese wyse te verifieer en te analiseer.

Uit die literatuurstudie het dit duidelik geblyk dat navorsing reeds oor die verbande tussen leesmotivering, leeshoeveelheid en leesbegrip in ‟n Amerikaanse en Chinese konteks met graad 3- tot graad 8-leerders, asook met graad 10-leerders, gedoen is. Verder toon die literatuurstudie dat die verbande tussen leesmotivering en akademiese prestasie nog nie volledig ondersoek is nie. In hierdie studie is by voorafgaande navorsingsonderwerpe, wat betref leesmotivering, leeshoeveelheid en leesbegrip, aangesluit. Daar is egter verder op hierdie navorsingsonderwerpe gebou, aangesien in hierdie studie ook op die Afrikaanssprekende adolessenteleser se leesmotivering en akademiese prestasie gefokus is.

4.3 NAVORSINGSPARADIGMA

‟n Navorsingsparadigma is ‟n perspektief wat gebaseer is op die veronderstellings, konsepte en waardes van ‟n gemeenskap van navorsers (Johnson & Christensen, 2004:30-35). Volgens Guba en Lincoln (1994:105-117) rig hierdie bepaalde perspektief die hele studie. Onwuegbuzie et al. (2009:30- 37) beskryf drie paradigmas wat binne die Sosiale Wetenskappe gebruik kan word, naamlik die interpretivisme, die kritiese teorie en die positivisme.

Die interpretivisme is in ‟n hermeneutiese agtergrond gesetel en verwys na die teorie en metode van die subjektiewe interpretering van menslike optrede en gedrag. Interpretivisme lê die kwalitatiewe navorsingsbenadering ten grondslag waar byvoorbeeld gevallestudies, fokusgroepbesprekings, onderhoude en waarnemings geïnterpreteer en begryp word (Creswell, 2009:145-171; Maree & Pietersen, 2008:145-153; McMillan, 2012:11-19).

Die kritiese teorie fokus op kritiese evaluering van sosiale ongeregtighede, byvoorbeeld geslag, ras, klas, onderdrukking en ongelykhede en is gerig op sosiale verandering. Kennis word deur middel van die kritiese argumentering en beredenering van die geldigheid en waarheid daarvan ingewin (Creswell, 2009:145-171; Henning et al., 2004:30-31; Maree & Pietersen, 2008:145-153; McMillan, 2012:11-19; Mouton, 2002:143-180).

Die positivisme staan bekend as die “klassieke” benadering waar kennis afkomstig van en gegrondves is in ‟n objektiewe en wetenskaplik verklaarbare bron. Die positivisme maak nie voorsiening vir faktore wat die insameling van kennis kan beïnvloed nie (Maree & Pietersen, 2008:145-153). Verskeie leemtes in die positivisme het aanleiding gegee tot die post-positivistiese navorsingsparadigma.

Sedertdien het uit die voorafgaande drie paradigmas verskeie verwante en hieruit voortspruitende epistemologiese paradigmas soos die pragmatisme (en dan ook die transendentale pragmatisme), semiotiek, strukturalisme, anti-fundamentalisme, post-positivisme (as verdere mutasie van die

logiese empirisme wat aanvanklik tot positivisme aanleiding gegee het), fenomenologie, hermeneutiek, radikale twyfel, rasionele keuse, kritiese rasionalisme, kognitiewe konstruktivisme, transendentale realisme, sosiale konstruktivisme, sosiologiese realisme, feminisme (Delanty & Strydom, 2010:207-467), postmodernisme, nihilisme en Afrika-filosofie (Higgs & Smith, 2012:82-131) op die gebied van navorsingsontwerp en -metodologie verskyn.

Hierdie studie is op die post-positivistiese navorsingsparadigma geskoei. Die post-positivisme

vervang die positivisme nie volkome nie, maar is tans ‟n meer resente navorsingsparadima in samehang met kwantitatiewe navorsing. Die post-positivistiese benadering word soms getipeer as die logiese empirisme óf word gebruik as ‟n sinoniem vir post-empirisme (Creswell, 2009:145-171; Maree & Pietersen, 2008:145-153; McMillan, 2012:11-19).

Creswell (2009:6-171) en McMillan (2012:11-19) verduidelik dat die post-positivistiese navorsingsparadigma voorsiening maak vir die bepaling van die realiteit en sekerheid van die kennis wat ingewin is; dit word deur middel van statistiese analises getoets. Maree en Pietersen (2008:145- 153) verduidelik dat faktore soos kultuur, politiek, sosiale konteks, godsdiens en waardesisteme die sienswyse van individue waaruit die kennis afkomstig is, kan beïnvloed. Kennis word gestaaf deur geldige en betroubare bewyse waarvolgens sekere voorspellings, afleidings, en waar moontlik veralgemenings, gemaak kan word. Uitgangspunte en kennis wat verkry is, kan aan die hand van feite wat tydens die navorsing bekom is, bewys word.

In hierdie studie word die werklikheid, met ander woorde die sosiale konteks waarbinne die Afrikaanssprekende adolessenteleser hom bevind, in ag geneem met die uitsluitlike doel om ’n leesmotiveringsprofiel van Afrikaanssprekende adolessentelesers (graad 9-leerders) te probeer saamstel met behulp van die data wat kwantitatief ingesamel en statisties verreken is. In hierdie

studie word nie-eksperimentele kwantitatiewe data gebruik om die verbande tussen veranderlikes te ondersoek. In hierdie kwantitatiewe data-insamelingsmetodes was die navorser objektief, aangesien sy nie die respondente beïnvloed het om op sekere wyses te reageer nie.