• No results found

Volgens Gray (2009:240) is dit van die uiterste belang om tydens die data-insamelingsfase ‟n akkurate rekorderingsisteem in plek te hê ter wille van sekuriteit en kontrole.

Die data-insamelingsprosedure vir hierdie studie het soos volg verIoop:

Eerstens is daar skriftelike toestemming van die Uitvoerende Bestuurshoof van die Dr Kenneth Kaunda-distrik verkry om data by hoërskole in genoemde distrik te kon insamel (vergelyk Bylaag B). Al die hoërskole se skoolbesonderhede (kwintiele, skooladresse, skooltelefoonnommers, titels en name van skoolhoofde) is deur die Departement van Onderwys (Noordwes-Provinsie, Dr Kenneth Kaunda-distrik) aan die navorser verstrek.

Tweedens is die mees geskikte steekproefskole vir die navorsing geïdentifiseer (vergelyk 1.6.3.3 en 4.4.3). Daarna is aan die betrokke skoolhoofde van die sewe steekproefskole ‟n elektroniese pos met al die inligting van die navorsingsprojek asook al die nodige toestemmingsbriewe gestuur sodat hulle die aangeleentheid met hulle bestuur kon bespreek (vergelyk Bylaes A, B, C, D en E). ‟n Week later het die navorser telefonies met die skoolhoofde en departementshoofde of vakhoofde vir Tale in verbinding getree om geskikte tye asook die bespreking van prosedures vir die voltooiing van die meetinstrumente te reël. ‟n Aansporing tot deelname is vir die Afrikaansvakgroep gegee, naamlik dat die punte van die twee leesbegripstoetse vir twee taakpunte in graad 10 gebruik kon word en na die afhandeling van die studie sal ‟n verslag van die navorsingsresultate met ‟n leesmotiveringsraamwerk aan die Afrikaans-departementshoofde of -vakhoofde verskaf word wat hulle in die Afrikaans Huistaal- klaskamer kan toepas. Om die twee leesbegripstoetse egter vir graad 10-taakpunte te kon gebruik vereis die Departement van Onderwys dat alle take in ‟n leerder se portefeulje geliasseer moet word. Daar moet ook bewyse van nasienriglyne wees. Aangesien data volgens die Etiekkomitee van die Noordwes-Universiteit vir ‟n tydperk van sewe jaar na afloop van die studie bewaar moet word, het die navorser na die insleutelproses elektroniese bewyse van die data rakende die twee leesbegripstoetse saamgestel sodat die leesbegripvraestelle en die -antwoordstelle aan die hoërskole terugbesorg kon word om dit vir assesseringstake te kon gebruik. Die skakelpersone by die onderskeie hoërskole het ‟n vorm onderteken as bewys dat hulle die twee leesbegripstoetse se resultate (vraestelle en antwoordstelle) asook die nasienriglyne wat gebruik is, terugontvang het. Daar is duidelik op die vorm uitgestippel dat die Afrikaans-personeel self kan besluit of hulle die punte vir assesseringstake wil gebruik. Hierdie vorm sal saam met die ander data vir ‟n tydperk van sewe jaar bewaar word. Indien

nodig, kan die navorser die vraestelle en antwoordstelle van die twee leesbegripstoetse weer by die onderskeie skole kry.

Nadat al die nodige toestemming verkry is, het die navorser die meetinstrumente na die sewe deelnemende hoërskole geneem. Uitgesonder een hoërskool, het die Afrikaansonderwysers van ses hoërskole onderneem om die data-insameling self in die klas met die leerders (respondente) te hanteer. Die een hoërskool het ‟n tekort aan personeel en het die navorser die geleentheid gebied om die data self by die respondente in te samel. Die data is by al sewe hoërskole in die tydsbestek van een spesifieke en voorafgereëlde week ingesamel. Dit het twee weke voor die graad 9-leerders se eindeksamen plaasgevind. Die rede hiervoor was dat die spesifieke tyd vir skole die mees geskikte was en nie inbreuk op leerders se akademiese tyd gemaak het nie. Verder was dit vir die doel van die studie ‟n ideale tyd, aangesien dit die einde van ‟n betrokke fase (Senior fase) en aan die begin van ‟n nuwe fase (Voortgesette Onderwys- en Opleidingfase) was; dus kon makliker bepaal word of die leerders op hierdie betrokke tydstip gereed was vir die leesuitdagings wat die nuwe fase sou inhou. Op hierdie manier is stabiliteit van die meetinstrumente verseker (vergelyk 4.4.5.2).

Die instruksies vir die data-insamelingsprosedure is skriftelik aan elke betrokke onderwyser of departementshoof gegee en is ook mondeling deur die navorser aan hulle verduidelik om konsekwentheid by alle hoërskole te verseker.

Die instruksies was soos volg:

Vraelys: die respondente is ‟n halfuur gegun om die vraelys onder gekontroleerde omstandighede in

te vul. Die vraelys is onder toesig van die Afrikaansonderwyser, wat ingelig is oor die hele prosedure ter wille van konsekwentheid, ingevul. Die respondent moes sy naam, van, klasgroep en skool duidelik op die vraelys aanbring, aangesien dit later met sy vakpunte in verband gebring is. Die onderwyser moes die vraelyste aan die einde van die periode alfabeties inneem.

Leesbegripstoets 1: die respondente moes dit die volgende dag aflê. Hulle het ‟n halfuur ontvang

om dit onder gekontroleerde omstandighede te voltooi. Die respondent moes sy naam, van, klasgroep en skool duidelik op die antwoordstel aanbring, aangesien die leesbegripstoetspunt later met sy vakpunte in verband gebring is. Aan die einde van die skryfsessie is die vraestel en antwoordstel van elke respondent alfabeties ingeneem.

Leesbegripstoets 2: die respondente moes dit die derde dag aflê. Hulle het ‟n halfuur ontvang om dit

onder gekontroleerde omstandighede te voltooi. Die respondent moes sy naam, van, klasgroep en skool duidelik op die antwoordstel aanbring, aangesien die leesbegripstoetspunt later met sy vakpunte in verband gebring is. Aan die einde van die skryfsessie is die vraestel en antwoordstel van elke respondent alfabeties ingeneem.

Hierna is elke respondent se meetinstrumente (vraelys en twee leesbegripstoetse) aan hom terugbesorg. Elke respondent moes onder die toesig van die onderwyser ‟n pakkie van al sy meetinstrumente maak. Elke respondent moes verseker dat sy naam, van, klasgroep en skool op al

die dokumente verskyn. In die pakkie moes die vraelys, vraestel en antwoordstel van Leesbegripstoets 1 en vraestel en antwoordstel van Leesbegripstoets 2 wees. Die onderwyser het die pakkies alfabeties en in klasverband ingeneem, met ander woorde graad 9A en graad 9B afsonderlik. Die navorser het op ‟n afgespreekte tyd die meetinstrumente persoonlik by die skole gaan afhaal. Die pakkies is dus alfabeties in klas- en skoolverband ingeneem. Elke skoolhoof het toestemming verleen dat die halfjaarlikse graad 9-vakpunte aan die navorser beskikbaar gestel mag word (vergelyk 4.4.5.5).

Hierna het die navorser self die kodifisering (toekenning van kodenommers) van elke hoërskool en respondent hanteer. Elk van die sewe deelnemende hoërskole het ‟n kode ontvang, byvoorbeeld Skool 1, Skool 2 ensovoorts. Daar het 823 respondente aan die studie deelgeneem; hulle is van nommer 1 af tot nommer 823 gekodifiseer. Verskillende klasse van een betrokke steekproefskool het ‟n kleurkode ontvang, bv. Skool 1 se twee graad 9-klasse was oranje en pienk onderskeidelik, Skool 2 se twee graad 9-klasse was groen en geel onderskeidelik. Elke Afrikaansonderwyser wat vir ‟n betrokke klas Afrikaans Huistaal onderrig het, asook die nasieners (Nasiener A, B, C en D) van die twee leesbegripsoetse, is ook deur middel van ‟n kode by elke respondent aangetoon. Op hierdie wyse kon die navorser en die data-inleser die uitslae van die meetinstrumente presies met die vakpunte van ‟n respondent in verband bring sonder om die identiteit van die respondent en die betrokke hoërskool bekend te maak. Verder het die navorser ook presies geweet by watter onderwyser ‟n respondent Afrikaans Huistaal gehad het en ook presies watter nasiener die leesbegripstoetse nagesien het. Dit is moontlik dat die verskillende onderwysers en die verskillende skole ‟n rol by die leesmotivering van die leerders kan speel. Die uitslae van die twee leesbegripstoetse deur die verskillende nasieners kon ook met mekaar vergelyk word om die internasienerbetroubaarheid te bepaal (vergelyk 4.4.5.2).

Na die kodifiseringsproses kon met die nasien van die twee leesbegripstoetse begin word. Vir hierdie doel het die navorser met vier nasieners (Nasiener A, B, C en D) in aanraking gekom om met die nasienproses van hulp te wees. Twee van die nasieners was besonder ervare nasieners, wat lank betrokke was as hoofeksaminatore en nasieners van vraestelle vir die graad 12- Seniorsertifikaateksamen (Afrikaans Huistaal) in die Noordwes-Provinsie. Die ander twee nasieners was nie so ervare nie; daarom is besluit om met die vier nasieners ‟n gesamentlike opleidingsessie te hou. Die pakkies soos dit van die skole ontvang is, is eerstens gelykop, willekeurig en ewekansig tussen die vier nasieners verdeel, sodat elkeen presies dieselfde aantal antwoordstelle sou nasien en ook presies dieselfde aantal antwoordstelle van elke hoërskool. Sodoende is ‟n objektiewe nasienproses verseker en kon internasienerbetroubaarheid tussen die nasieners bereken word (vergelyk 4.4.5.2). Elke nasiener moes sy pakkie parafeer, sodat die navorser telkens die nasiener en die respondent met mekaar in verband kon bring. Die navorser het ‟n kontrolelys van al die nasienerbesonderhede (naam, van, telefoonnommer, handtekening en paraaf) gehad. Hierdie

kontrolelys sal saam met al die ander data vir ‟n tydperk van sewe jaar bewaar word. Daarna moes elke nasiener kontroleer of die respondente al die meetinstrumente (vraelys en twee leesbegripstoetse) afgehandel het. Daar is duidelik op die voorblad van die pakkie aangedui indien ‟n respondent nie al die meetinstrumente volledig afgehandel het nie. Later sou slegs die respondente wat al die meetinstrumente volledig afgehandel het se data vir data-analise gebruik word. Die rede waarom sommige respondente nie al die meetinstrumente volledig afgehandel het nie, was afwesighede op ‟n betrokke dag of omdat sommige van hulle skoolaktiwiteite (byvoorbeeld sport) moes bywoon. Na die kontrole van meetinstrumente, het elke nasiener die respondent se vraelys uit die pakkie verwyder en dit aan die navorser oorhandig. Die navorser het dit numeries gerangskik om later aan die Statistiese Konsultasiediens vir die data-analise te oorhandig.

Die bespreking van die twee leesbegripstoetse se nasienriglyne onder leiding van die navorser was ‟n belangrike fase, aangesien elke nasiener haar van die korrekte antwoorde moes vergewis. Ander moontlike antwoorde is oorweeg en by die nasienriglyne gevoeg indien daar eenstemmigheid daaroor onder die navorser en nasieners was. Uiteindelik is geen verdere veranderinge aan die nasienriglyne aangebring nie, ter wille van standaardisering en dat daar eenstemmigheid asook konsekwentheid met die nasienproses kon wees. Die navorser het vooraf vyf pakkies lukraak onttrek en die twee leesbegripstoetse vir elke nasiener gefotostateer. Elke nasiener het dus dieselfde tien leesbegripstoetse (Leesbegripstoets 1 en Leesbegripstoets 2) van vyf respondente as ‟n oefenlopie nagesien. Sodoende kon verskille in die nasienproses uitgeklaar en eenstemmigheid oor die nasienstyl verkry word. Om die latere data-analise van elke vraag te vergemaklik is van die nasieners verwag om vir elke regmerkie ook die punt in die regterkantlyn aan te bring. Elke teks (Teks 1, 2 en 3) van elke leesbegripstoets se puntetotaal moes op die voorblad verskyn, asook die groottotaal van elke leesbegripstoets. Dit sou verseker dat die verskillende tekste, maar ook die twee leesbegripstoetse in totaliteit later met mekaar vergelyk kon word.

Die twee ervare nasieners is toegelaat om by hulle huise na te sien. Die twee onervare nasieners het in die teenwoordigheid van die navorser nagesien, sodat hulle voortdurend vrae kon stel indien hulle onseker was. Die navorser het aan die begin tien pakkies (met ander woorde twintig leesbegripstoetse) van elke nasiener gemodereer. Mondelinge en skriftelike terugvoer is aan elke nasiener gegee. Die moderering het met groen ink geskied en daar is duidelik op elke pakkie aangedui indien dit gemodereer is. Daarna is elke tiende pakkie onttrek en gemodereer. ‟n Totaal van 10% van die leesbegripstoetse is uiteindelik deur die navorser gemodereer ter wille van internasienerbetroubaarheid (vergelyk 4.4.5.2).