• No results found

ONTWIKKELlNGPSIGOPATOLOGIE-RAAMWERK EN STRES EN COPING

2.3 KRITIEK TEEN DIE ONTWIKKELINGPSIGOPATOLOGIE-RAAMWERK

2.4.1 LAZARUS EN FOLKMAN (1984) SE KOGNITIEWE TRANSAKSIONELE MODEL

2.4.1.3 Sekondêre taksering

Sekondêre taksering daarteenoor verwys na die evaluering van beskikbare copingsopsies met ander woorde na die individu se taksering van wat hy/sy aan die situasie kan doen. Verskeie copingopsies word geëvalueer, soos om die situasie te verander, die situasie te aanvaar, die soeke na meer inligting, die beheer oor impulsiewe optrede, ensovoorts. Sekondêre taksering fokus op die vraag "Wat kan ek doen?" en is veral belangrik wanneer die primêre taksering dui op moontlike skade, verlies, bedreiging of uitdaging (Folkman, 1984; 1991, Folkman & Moskowitz, 2004).

49

Tydens sekondêre taksering word copinghulpbronne wat fisiese, sosiale, sielkundige en materiële bates insluit, geëvalueer in die lig van die eise van die situasie. Fisiese hulpbronne verwys na 'n individu se gesondheid, energie en stamina. Sosiale hulpbronne verteenwoordig die individu se sosiale netwerk en ondersteuningsisteme. Sielkundige bronne sluit oortuigings in wat gebruik kan word om hoop, probleemoplossingsvaardighede, selfbeeld en moraal te verbeter. Materiële bronne dui op tasbare items insluitend geld, gereedskap en toerusting (Folkman, 1984; Schaefer, Coyne & Lazarus, 1982).

Situasionele takserings van bemeestering maak deel uit van sekondêre takserings. Dit verwys na die individu se oordeel of oortuiging ten opsigte van die moontlikheid van beheer in 'n spesifieke situasie. Dit is die produk van die individu se evaluering van die eise van die situasie enersyds, en sy/haar copinghulpbronne, opsies en vermoë om die copingstrategieë te implementeer, andersyds. Takserings van beheer kan verander namate 'n stresvolle situasie ontvou. Dit is immers wat die woord "proses" impliseer. Veranderinge in takserings van beheer kan plaasvind as die resultaat van nuwe inligting vanuit die omgewing, en/of as 'n resultaat van copingpogings (Cassidy, 1999; Folkman, 1984).

Primêre en sekondêre takserings konvergeer om te bepaal of die persoon-omgewing transaksie as belangrik vir welstand beskou word en indien wel, of dit primêr bedreigend (sluit die moontlikheid van skade of verlies in) of 'n uitdaging is (sluit die potensiaal vir bemeestering of voordeel in) (Folkman, 1984; Lazarus & Folkman, 1984; Lazarus, Kanner & Folkman, 1980; Lazarus & Launier, 1978).

Folkman (1984) se studie oor persoonlike beheer en die stres- en copingproses het aangetoon dat die verband tussen beheer en stres nie so eenvoudig is as wat aanvanklik aangeneem is nie. Die siening dat 'n situasie beheerbaar is, lei nie altyd tot 'n afname in stres nie en 'n siening dat 'n situasie onbeheerbaar is, lei ook nie noodwendig tot 'n toename in stres nie.

50

2.4.1.4 Coping

Volgens Endler en Parker (1990) speel copingstrategieë- of style 'n belangrike rol in 'n individu se fisiese en sielkundige welstand wanneer hy/sy gekonfronteer word met negatiewe of stresvolle gebeure. Coping word gedefinieer as 'n individu se konstant

veranderende kognitiewe en gedragspogings om spesifieke eksterne en/of interne eise wat hoë eise aan die individu se hulpbronne stel of dit oorskry, te hanteer

(Endler & Parker, 1990; Lazarus & Folkman, 1984; Lazarus & Launier, 1978). Daar is drie sleutelkwessies saamgevat in hierdie definisie. Eerstens is dit prosesgeoriënteerd wat beteken dat dit fokus op wat die individu in der waarheid dink en doen in 'n stresvolle situasie en hoe dit verander namate die situasie ontvou. Tweedens word coping as kontekstueel gesien - dit word beïnvloed deur die persoon se taksering van die werklike eise in die situasie en die hulpbronne om dit te hanteer. Die klem op konteks dui daarop dat die bepaalde individu en die situasie se veranderlikes gesamentlik die copingpogings bepaal. Derdens word geen aannames gemaak ten opsigte van wat goeie of swak coping behels nie. Coping word slegs gedefinieer as die individu se pogings om eise te hanteer, ongeag of die pogings suksesvol is of nie (Folkman, 1984; 1991; Folkman, Lazarus, Dunkel-Schetter, DeLongis & Gruen, 1986; Lazarus, Kanner & Folkman, 1980).

Coping het twee hooffunksies: om stresvolle emosies te reguleer (emosie-gefokusde

coping) en om die problematiese individu-omgewingsverhouding wat die stres

veroorsaak, te verander (probleemgefokusde coping). Daar bestaan bewyse dat beide soorte coping in stresvolle situasies gebruik word. Die relatiewe proporsie van elkeen word bepaal deur die taksering van die situasie. Coping word dus as 'n kritiese faktor in die verhouding tussen stresvolle gebeure en aanpassingsuitkomste, soos depressie, sielkundige simptome en somatiese klagtes beskou (Folkman, 1984; 1991; Folkman, Lazarus, Dunkel-Schetter, DeLongis & Gruen, 1986).

Lazarus en Folkman (1984) se probleem- en emosiegefokusde formulering van coping is wyd bekend en nagevors. Hiervolgens verwys probleemgefokusde coping na pogings wat

51

daarop gemik is om die probleem, wat die stres veroorsaak, te beheer of te verander. Emosiegefokusde coping daarenteen dui op die regulering van die emosies wat met die stres gepaardgaan. Dit kan dus die betekenis van 'n situasie verander en gevolglik die individu se mate van beheer oor die situasie affekteer (Folkman, 1984; Folkman & Lazarus, 1985; Stanton, Danoff-Burg, Cameron, Bishop & Collins, 2000).

Probleemgefokusde coping word gebruik om die problematiese individu- omgewingsverhouding deur middel van probleemoplossing, besluitneming en/of direkte aksie, te beheer. Hierdie probleemgefokusde strategieë kan op die omgewing sowel as die individu, toegespits word. Teoreties gesproke word die sukses van probleemgefokusde strategieë grootliks bepaal deur die sukses van die emosiegefokusde strategieë. Andersins sal verhoogde emosionele toestande inmeng met die kognitiewe aktiwiteite wat nodig is vir probleemgefokusde coping. Die belangrikheid van beheer oor emosies tydens 'n stresvolle gebeurtenis is een rede waarom daar aangevoer word dat probleemgefokusde coping meestal gepaardgaan met emosiegefokusde coping. Dit wil voorkom of probleemgefokusde coping toeneem in situasies wat as veranderbaar getakseer word, aangesien dit die potensiaal vir verandering insluit, terwyl emosiegefokusde vorme van coping toeneem tydens onveranderlike situasies (Compas, Connor-Smith, Saltzman, Harding-Thompson & Wadsworth, 2001; Fields & Prinz, 1997; Folkman, 1984; Folkman & Moskowitz, 2004).

Copingstrategieë word nie as 'n eienskap van ‘n individu beskou nie, aangesien taksering deur beide die situasionele- en individuele veranderlikes beïnvloed word (Figuur 2, Paneel 4). Sekere aspekte van 'n situasie beïnvloed coping meer direk as ander. Wanneer die eise van die situasie dubbelsinnig is, is takserings minder betroubaar omdat die gevolge vir persoonlike welstand onduidelik is, en sodoende lei dit daartoe dat individuele faktore 'n groter rol in coping speel. Dubbelsinnigheid met betrekking tot 'n stresvolle situasie kan die gebruik van sekere copingstrategieë direk beïnvloed, bv. die toename in die soeke na inligting om die waargeneemde dubbelsinnigheid op te los (Lazarus & Launier, 1978; Lazarus & Folkman, 1984).

52

2.4.1.5 Aanpassingsuitkomste

Die onmiddellike uitkoms van 'n gebeurtenis verwys na die individu se beoordeling van die mate waartoe ‘n stresvolle situasie suksesvol opgelos is. Die oorkoepelende beoordeling word gebaseer op die individu se waardes en doelwitte, sowel as sy/haar verwagtinge rakende verskeie aspekte van die stresvolle gebeurtenis. Byvoorbeeld, selfs al is die probleem, wat aanleiding gegee het tot die stresvolle situasie, nie opgelos nie, kan 'n uitkoms as voordelig geëvalueer word indien die individu voel dat die eise van die situasie so suksesvol as moontlik hanteer is. Of indien die probleem, wat die stresvolle situasie veroorsaak het, wel suksesvol opgelos is, kan 'n uitkoms steeds as onsuksesvol geëvalueer word indien die oplossing nie in ooreenstemming met die ander waardes en doelwitte is nie, of minder suksesvol is as waartoe die persoon in staat is, of indien addisionele konflikte in die individu se sosiale konteks geskep is (Folkman, Lazarus, Dunkel-Schetter, DeLongis & Gruen, 1986).

Die risiko van swak uitkomste is groter wanneer die taksering van die situasie nie met die realiteit ooreenstem nie. Indien 'n situasie as onbeheerbaar getakseer word indien dit wel beheerbaar is, sal die individu geneig wees om nie van die noodsaaklike probleemgefokusde copingstrategieë gebruik te maak nie. Gevolglik sal die kans vir skade of verlies groter wees. 'n Ander vorm van swak passing tussen taksering en realiteit vind plaas wanneer 'n onbeheerbare situasie as beheerbaar getakseer word. In só ‘n situasie sal die individu geneig wees om probleemgefokusde coping te gebruik en indien dit onsuksesvol is, sal dit lei tot frustrasie en teleurstelling. Effektiewe coping is die vermoë om te weet wanneer 'n situasie onbeheerbaar is en gevolglik eerder die copingprosesse te wysig om sodoende van emosiegefokusde prosesse gebruik te maak om die situasie te hanteer of te aanvaar (Folkman, 1984; Lazarus & Folkman, 1984).

2.4.1.6 Bydrae van Lazarus en Folkman (1984) se Kognitiewe Transaksionele