• No results found

METODE VAN ONDERSOEK

5.5 ETIESE OORWEGINGS TEN OPSIGTE VAN DIE NAVORSINGSPROJEK

5.6.1. Biografiese vraelys

Die biografiese vraelys is deur die navorser self opgestel. Die rasionaal van die vraelys is om demografiese inligting oor die proefpersone in te win. Die demografiese inligting wat

147

van belang was vir die huidige studie naamlik geslag, ouderdom en ras, is deur middel van invulvrae bekom. (‘n Voorbeeld van die vraelys word ingesluit in Bylaag B).

5.6.2 Die Gedrags– en Emosionele Beoordelingskaal Tweede Uitgawe (BERS-2); (Behavioral and Emotional Rating Scale: Epstein & Sharma, 1998)

5.6.2.1 Rasionaal vir gebruik

Die Gedrags- en Emosionele Beoordelingskaal verskaf ‘n meting van kinders se sterktes op emosionele– en gedragsvlak. Daar word ook spesifiek in die handleiding aangedui dat die BERS-2 met sukses gebruik kan word om positiewe of negatiewe uitkomste van kinders, wat aan ‘n spesifieke intervensie of diens blootgestel word, te monitor of te evalueer (Epstein, 1998).

5.6.2.2 Beskrywing

Die Gedrags– en Emosionele Beoordelingskaal, Tweede Uitgawe (BERS-2) is ontwikkel deur Epstein en Sharma (1998) en bestaan uit 52 selfrapporteringsitems wat die identifisering van gedrags- en emosionele sterktes van kinders vergemaklik. Die BERS-2 is ontwerp om gebruik te word vir kinders tussen die ouderdomme van 5 en 18 jaar. Die BERS-2 is ‘n battery van drie beoordelingskale – die Onderwyser Beoordelingskaal, die Ouerbeoordelingskaal en die Jeugbeoordelingskaal. Vir die doeleindes van die huidige studie is daar slegs van die Jeugbeoordelingskaal gebruik gemaak vir selfbeoordeling van die kinders. Die Jeugbeoordelingskaal bestaan ook uit 52 items en is van toepassing op kinders tussen die ouderdomme van 11 en 18 jaar. Items wat deel vorm van die BERS-2 word beoordeel deur gebruik te maak van ‘n vier punt Likert-skaal wat van 0 tot 3 strek. Elke nommer verskaf ‘n aanduiding van die mate waartoe die gedrag wel aanwesig of afwesig is vir die betrokke kind. By al die subskale is die minimumtelling wat behaal kan word 0 en die maksimumtelling is 45. Die volgende vyf subskale of dimensies word onderskei:

148 1. Interpersoonlike sterkte (IS)

Hierdie subskaal bestaan uit 15 items en meet ‘n kind se vermoë om sy/haar gedrag of emosies in sosiale situasies te beheer. ‘n Voorbeeld van ‘n item van hierdie subskaal is:

“Ek kan my woede op die regte manier uitdruk”.

“As ek iemand seermaak of ontstel, sê ek vir hulle dat ek jammer is.”

Hierdie subskaal se gemiddeld word aangedui as 10 met ‘n standaardafwyking van 2.

2. Intrapersoonlike sterkte (IaS)

Gee ‘n aanduiding van die kind se uitkyk met betrekking tot sy/haar eie bevoegdheid of prestasies. ‘n Totaal van 11 items word ingesluit in die subskaal. Voorbeelde van items is:

“Ek glo in myself.”

“Ek vra my vriende vir hulp.”

Die intrapersoonlike sterkte subskaal se gemiddeld is 11 met ‘n standaardafwyking van 2.

3. Affektiewe sterkte (AS)

Affektiewe sterkte het te make met ‘n kind se vermoë om toenadering van ander te aanvaar en om gevoelens teenoor ander te demonstreer. Die subskaal bestaan uit 7 items en het ‘n gemiddelde telling van 10 met ‘n standaardafwyking van 2. Voorbeelde van die items is:

“Dit is aanvaarbaar as mense my ‘n drukkie gee.” “Ek laat iemand weet as my gevoelens seergemaak is.”

4. Gesinsbetrokkenheid (GB)

Die betrokke subskaal bestaan uit 10 items en verskaf ‘n aanduiding van ‘n kind se deelname aan verhoudings met sy/haar gesin. Voorbeelde van items sluit in:

“Ek voel dat my gesin vir my omgee.”

149

Gesinsbetrokkenheid se gemiddeld word aangetoon as 11 met ‘n standaardafwyking van 2.

5. Skoolfunksionering (SF)

Die skoolfunksioneringsubskaal fokus op die kind se bevoegdheid binne die skoolkonteks en klaskameraktiwiteite en sluit 9 items in. Voorbeelde van die items in hierdie subskaal sluit in:

“Ek voltooi my huiswerk.” “Ek gee aandag in die klas.”

Skoolfunksionering as subskaal se gemiddeld word aangedui as 12 met ‘n standaardafwyking van 2.

Volgens Epstein (1998) dui lae tellings op enige van die subskale van die BERS op ‘n afwyking van die norm. ‘n Lae telling op ‘n betrokke subskaal sal dus aandui dat die individu swakker as die normgroep gevaar het ten opsigte van die bepaalde veranderlike wat gemeet word.

Die gerapporteerde alfa-koëffisiënte vir die Amerikaanse populasie 11 en 12 jarige kinders is volgens Epstein (p. 50, 1998) soos volg:

• Interpersoonlike sterkte (IS) 0, 97 (11 en 12-jariges)

• Gesinsbetrokkenheid (FI) 0, 92 (11 jaar) en 0, 93 (12 jaar) • Intrapersoonlike sterkte (IaS) 0, 93 (11 jaar) en 0, 92 (12 jaar) • Skoolfunksionering (SF) 0, 92 (11 jaar) en 0, 94 (12 jaar) • Affektiewe sterkte (AS) 0, 86 (11 jaar) en 0, 89 (12 jaar)

Hiervolgens is dit duidelik dat die BERS oor ‘n hoë mate van interne konsekwentheid beskik en dus met vertroue gebruik kan word (Epstein, 1998). Alfa-koëffisiënte vir die huidige ondersoekgroep word in Tabel 7 gerapporteer.

150

Wanneer die inhoud van hoofstukke 2 en 3 in gedagte gehou word, is dit duidelik dat die BERS-2 uiters geskik is om ‘n aanduiding te verskaf van die emosionele- en gedragssterktes van kinders. Hierdie inligting kan help om belangrike hulpbronne binne ‘n terapeutiese opset te identifiseer. Die instrument se geskiktheid is verder daarin geleë dat die subvelde ‘n waardevolle aanduiding verskaf vir potensiële veranderinge wat voortspruit uit die intervensieprogram.

5.6.3 Stresweerbaarheidskaal vir Kinders en Adolessente (RSCA), (Resiliency Scales for Children & Adolescents; Prince-Embury, 2006).

5.6.3.1 Rasionaal vir gebruik

Die Stresweerbaarheidskaal vir kinders en adolessente is ontwikkel om op ‘n sistematiese wyse die persoonlike kwaliteite, wat met stresweerstandigheid in kinders geassosieer word, te identifiseer en te kwantifiseer (Prince-Embury, 2006).

5.6.3.2 Beskrywing

Die Stresweerbaarheidskaal vir kinders en adolessente (RSCA, Prince-Embury, 2006) bestaan uit 64 items wat deur die proefpersoon self voltooi word. Die Stresweerbaarheidskaal bestaan uit drie kort, selfrapporteringskale wat so ontwikkel is dat dit areas van waargenome sterktes of kwesbaarhede identifiseer. Die instrument kan toegepas word op kinders en adolessente tussen die ouderdomme van 9 en 18 jaar. Elkeen van die drie subskale is ontwikkel om een van die sleutelareas van stresweerbaarheid te reflekteer.

Die drie subskale is soos volg:

151

‘n Gevoel van bemeestering in kinders bied aan hulle die geleentheid om “oorsaak- en gevolg” verhoudings in die omgewing te beleef.

Hierdie subskaal bestaan uit 20 items. Response word aangedui op ‘n vyf punt Likertskaal wat strek van 0 tot 4.

Die ontwerp van hierdie skaal onderskei tussen drie persoonlike eienskappe wat gesamentlik lei tot ‘n gevoel van bemeestering – optimisme, self-effektiwiteit en aanpasbaarheid. Tellings wat in die gemiddelde en bo-gemiddelde kategorie val, dui daarop dat hierdie subskaal ‘n belangrike hulpbron vir die individu is en dat die individu op ‘n gereelde basis ‘n gevoel van bemeestering in sy/haar verhoudings ervaar. Die nie-kliniese streekproef (sonder gediagnoseerde toestande) se tellings het gewissel van gemiddeld tot hoog op hierdie betrokke subskaal. Sien Tabel 6 vir die gemiddelde tellings.

2. Sin van Verwantskap Subskaal (REL)

Die ontwikkeling van hierdie skaal is gebaseer op die aanname dat die kapasiteit om verhoudings te vorm ‘n basiese funksie van die mens as ‘n sosiale organisme is. Tydens die ontwikkeling van die skaal is daar vier komponente aangedui wat bydra tot ‘n gevoel van verwantskap – ‘n gevoel van vertroue, waargenome toegang tot ondersteuning, sowel as gemaklikheid met ander en toleransie vir verskille. Dit bestaan uit 24 items. Response word aangedui op ‘n vyf punt Likertskaal. Gemiddelde tot hoë tellings dui aan dat hierdie individue ‘n sterk gehegtheid beleef met ander individue in ‘n sosiale konteks en in hierdie verband dien dit as ‘n belangrike hulpbron vir die kind.

3. Emosionele Reaktiwiteit Subskaal (REA)

Emosionele reaktiwiteit kan beskou word as ‘n vooraf bestaande kwesbaarheid alvorens enige teenspoed of negatiewe omstandighede plaasgevind/voorgekom het. Die Emosionele reaktiwiteitskaal stel sensitiwiteit voor as een aspek van

152

emosionaliteit, terwyl twee ander konstrukte, naamlik herstel en inperking, die uitkoms van die reguleringsproses voorstel. Die Emosionele Reaktiwiteitsubskaal bestaan uit 20 items. Response word aangedui op ‘n vyf punt Likertskaal. In teenstelling met die ander twee subskale dui laer tellings op hierdie subskaal op stresweerbaarheid, terwyl hoër tellings geassosieer word met kwesbaarheid vir ‘n verskeidenheid van risikofaktore.

Die bogenoemde drie subskale se gemiddeldes en standaardafwykings vir die nie-kliniese ondersoekgroep van Prince-Embury (2006) word in Tabel 6 uiteengesit.

.

TABEL 6: Gemiddeldes en standaardafwykings van die normgroep van die Stresweerbaarheidskaal (Prince-Embury, 2006)

Subskaal Geslag Ouderdom Gemiddeld Standaardafwyking

Gevoel van bemeestering Seuns 9-11 jaar 48,4 10,6

12-14 jaar 49,0 9,8

Dogters 9-11 jaar 52,4 8,9

12-14 jaar 50,8 10,1

Gevoel van verwantskap Seuns 9-11 jaar 48,2 10,3

12-14 jaar 48,5 9,5

Dogters 9-11 jaar 51,8 9,3

12-14 jaar 51,6 10,2

Emosionele Reaktiwiteit Seuns 9-11 jaar 50,2 10,4

12-14 jaar 50,4 10,0

Dogters 9-11 jaar 49,8 9,8

12-14 jaar 49,6 10,1

Die minimum telling wat op elke subskaal behaal kan word, is 0 en die maksimum telling is 80.

5.6.3.3 Motivering vir insluiting

Aangesien die skale op die leesvlak van ‘n Graad 3-leerling ontwikkel is, kan hierdie instrument vir ‘n wye reeks doeleindes gebruik word, onder andere die meting van ‘n kind se aanpassing. Aangesien die skale deur die proefpersoon self voltooi word, stem dit

153

ooreen met die siening dat stresweerbaarheid beїnvloed word deur die taksering of subjektiewe belewenis van die individu en dus op dieselfde wyse gemeet moet word. ‘n Belangrike eienskap van die stresweerbaarheidskaal is dat dit sinvol aangewend kan word vir die evaluering van intervensies (Prince-Embury, 2006).

5.6.4 Fortaliteitsvraelys (FORQ), (Fortitude Questionnaire; Pretorius, 1998)

5.6.4.1 Rasionaal vir gebruik

Fortaliteit word beskou as ‘n belangrike komponent van stresweerbaarheid. Fortaliteit word ook geassosieer met coping en positiewe sielkundige welstand (Muller, 1999; Heyns, Venter, Esterhuyse, Bam & Odendal, 2003; Roothman, Kirsten & Wissing, 2003). Die fortaliteitsvraelys is ontwikkel met die doel om die mate van fortaliteit waaroor die individu beskik, te kwantifiseer (Pretorius, 1998).

5.6.4.2 Beskrywing

Die Fortaliteitsvraelys bestaan uit 20 items waar response op ‘n vier-punt Likertskaal aangetoon word, wat strek van (1) = nie van toepassing tot (4) = sterk van toepassing. Slegs item 20 se puntetelling word omgekeer weens die negatiewe formulering van die vraag. ‘n Totaaltelling word verkry deur die verskillende itemtellings te sommeer. Die strekwydte van die totaaltellings strek van 20 (‘n lae vlak van fortaliteit) tot 80 (‘n hoë vlak van fortaliteit). Lae vlakke van sielkundige sterkte word aangedui deur ‘n totaaltelling van 58 en laer, waar ‘n totaaltelling van 65 en meer weer ‘n hoë vlak van sielkundige sterkte aandui. ‘n Gemiddelde telling van 57,79 met ‘n standaardafwyking van 9,43 word deur Pretorius (1998, p. 212) gerapporteer. Die instrument bestaan uit drie subskale wat verband hou met fortaliteit, naamlik self-taksering, gesinstaksering, sowel as taksering van ondersteuning.

154 5.6.4.3 Motivering vir insluiting

Aangesien die Fortaliteitsvraelys ‘n relatiewe kort Suid-Afrikaanse vraelys is, en ook oor goeie psigometriese eienskappe beskik, is dit ‘n sinvolle keuse om ‘n meting van fortaliteit te verskaf. Die Fortaliteitsvraelys van Pretorius (1998) het alfa-koëffisiënte van 0,85 vir die totaaltelling en tussen 0,74 tot 0,82 vir die onderskeie subskale verkry. Aangesien die vraelys ontwikkel is vir gebruik met Suid-Afrikaanse populasies, kan dit as ‘n basis van vergelyking dien vir die huidige studie.

Vervolgens word die alfa-koëffisiënte wat vir die proefpersone van die huidige studie bereken is, bespreek.