• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

4.8 ETIESE OORWEGINGS

Volgens Britz en Joubert (2003) hou die etiese vereistes van ‘n intervensieprogram verband met die veranderlikes wat deel uitmaak van ‘n terapeutiese proses. Daar bestaan bepaalde etiese vereistes waaraan ‘n intervensieprogram moet voldoen en hierdie vereistes word vervolgens toegelig.

4.8.1 Die veiligheid van die kind

Die navorser en/of sielkundige behoort alle moontlike stappe te neem om die veiligheid van ‘n navorsingsdeelnemer/s te verseker. Daar moet ook so deeglik moontlik gepoog

131

word om enige skade, insluitend viktimisasie, dwang of teistering te voorkom (Britz & Joubert, 2003).

Met intervensieprogramme is daar baie op die spel: indien sielkundiges poog om kinders se geestesongesteldheid te voorkom of aan te spreek, moet hul seker wees van hul programme se effektiwiteit en hulself deurentyd die vraag vra “hoe weet ek dat dit wat ek doen tot voordeel van die kinders is?” (Balk, 2005). Dit is belangrik dat die program so min as moontlik potensiële skade vir die deelnemers inhou (Winslow, Sandler & Wolchik, 2006). Voorkomingsintervensies kan op ‘n ongeselekteerde populasie toegepas word indien daar bewyse bestaan dat die program potensiële voordele en geen nadelige effekte vir deelnemers het nie (Coie et al., 1993).

4.8.2 Ingeligte toestemming

Omvattende toestemmingsbriewe moet ontwikkel en uitgestuur word, aangesien ingeligte toestemming een van die belangrikste oorwegings is met ‘n intervensieprogram (Daniel, 2005). Dit is belangrik dat die inligtingsdokumente in die ouers of deelnemers se eerste taal voorsien word om misverstande te verminder. Inligting wat ingesluit word in die toestemmingsbriewe sluit in die praktiese reëlings en organisasie van die program, die aard van die kind se deelname aan die studie (byvoorbeeld die versekering dat die kind nie aan nadelige effekte blootgestel sal word nie) en die versekering dat alle inligting van die kind as streng vertroulik hanteer sal word (Johnson & Wiechers, 2002; Rousseau, Drapeau, Lacroix, Bagilishya & Heusch, 2005).

Sommige navorsers voer aan dat die deelnemers self kan aandui of hul aan die studie wil deelneem of nie. Alhoewel dit ‘n logiese gevolgtrekking is, is dit steeds belangrik om te bepaal wie in staat is om ingeligte toestemming te verleen en onder watter omstandighede ingeligte toestemming verleen kan word. Sommige populasies is nie in staat om ware ingeligte toestemming te verleen nie as gevolg van kwessies, soos bevoegdheid of situasies van dwang. Kinders, en sekere psigiatriese of intellektueel ingeperkte volwassenes, sal moontlik nie in staat wees om ingeligte toestemming te verleen nie, juis

132

as gevolg van ‘n gebrek aan bevoegdheid (Rosenthal, 1995). Volgens die Kinderwet No. 38 van 2005 kan Suid-Afrikaanse kinders van 12 jaar en ouer self toestemming verleen.

4.8.3 Weerhouding van inligting

‘n Ander faktor wat dit moeilik maak om ingeligte toestemming te verkry, hou verband met swak opleiding van navorser/s of selfsugtige motiewe van navorser/s. In só ‘n geval sal navorsers die potensiële sukses van hul navorsing verdraai – dus word die deelnemers in der waarheid gevra om oningeligte toestemming te verleen, onbewus van die feit dat hulle nie oor al die inligting beskik nie (Rosenthal, 1994; 1995).

4.8.4 Kontrolegroepe

Gillham, Reivich, Jaycox en Seligman (1995) het in hul studie aangedui dat een van die tekortkominge van hul studie verband gehou het met die kontrolegroep wat geen intervensie ontvang het nie. Dit is dus belangrik om vir die kontrolegroep dieselfde voordeel van die intervensie te bied, selfs al is dit na afloop van die studie. Sandler, Ayers en Romer (2002) het tydens die ontwikkeling van hul intervensieprogram vir kinders, wat ‘n ouer aan die dood afgestaan het, die kontrolegroep voorsien van ouderdomstoepaslike boeke rakende die onderwerp. Sodoende het die kontrolegroep ook ‘n voordelige diens ontvang.

4.8.5 Respek vir kulturele diversiteit

Dit mag nodig wees om kulturele verskille te bespreek ten einde die proses van wedersydse respek en vertroue te beskerm (Kaplan, Turner, Norman & Stilson, 1996). Daar word ook in die HPCSA se etiese kode (1974) gespesifiseer dat alle kulture met dieselfde respek en sonder diskriminasie hanteer moet word.

133

Vernberg en Vogel (1993) het in hul studie aangedui dat die sielkundiges wat verantwoordelik was vir die intervensies met kinders, wat blootgestel is aan ‘n natuurramp, ‘n verpligte opleidingsprogram moes ondergaan ten einde te kwalifiseer. Dit sou belangrik wees dat die fasiliteerders opgelei word in die vaardighede wat nodig is om die program suksesvol aan te bied. Dit lê klem op die belangrikheid van professionele bevoegdheid soos vervat in die Etiese kode van die Health Professions Council van Suid-Afrika.

Sandler, Ayers en Romer (2002) het tydens hul program die fasiliteerders voorsien van deurlopende opleiding en supervisie om te verseker dat hul oor die nodige vaardighede beskik om die program suksesvol aan te bied.

4.8.7 Meetinstrumente

Dit is belangrik om gebruik te maak van ‘n meetinstrument wat deeglik geëvalueer is en wat geldig is vir die populasie waarop die studie fokus. Die meetinstrumente moet ook geldig en betroubaar wees om ‘n aanduiding te verskaf van die konstrukte wat aangespreek word deur die intervensieprogram (Pedro-Carroll, 2005). In Suid-Afrika is daar ‘n behoefte aan meetinstrumente wat vir die Suid-Afrikaanse populasie gestandaardiseer is. Die tekort aan gestandaardiseerde meetinstrumente bring mee dat daar dikwels van oorsese meetinstrumente gebruik gemaak word (wat nie gestandaardiseer is vir die Suid-Afrikaanse populasie nie) en dit beïnvloed gevolglik die veralgemeenbaarheid (eksterne geldigheid) van die resultate.

4.8.8 Konfidensialiteit

Konfidensialiteit is ‘n belangrike etiese kwessie met groepwerk in ‘n intervensieprogram. Veral in skole waar die deelnemers gereelde kontak met mekaar het, is konfidensialiteit moeilik om te handhaaf. Hiervolgens is dit belangrik dat groeplede voor die aanvang van die program ingelig word van die belangrikheid van konfidensialiteit en die beperkinge daarvan. Dit is ook raadsaam om die deelnemers deurlopend aan die belangrikheid van konfidensialiteit te herinner (Corey, 2004).

134

4.9 SAMEVATTING

Dit is duidelik dat intervensieprogramme ʼn waardevolle rol kan speel in die voorkoming van ‘n verskeidenheid probleme. Op grond van inligting rakende die effektiwiteit van intervensieprogramme, is daar nou selfs bepaalde eienskappe wat geïdentifiseer kan word en riglyne wat gevolg kan word om die moontlikheid van sukses te verhoog. Daar word ook onderskei tussen intervensieprogramme op grond van die fokus van die program, sowel as programme wat ontwikkel word vir spesifieke lewensfases. Die wetenskaplike evaluering van intervensieprogramme is van kritiese belang om uiteindelik enige gevolgtrekking rakende die effektiwiteit, of bydrae van die bepaalde intervensieprogram, te kan maak. Dit is belangrik dat daar deurentyd aandag gegee moet word aan enige etiese aspekte wat verband hou met die intervensieprogram.

In Hoofstuk 5 word die metode van ondersoek bespreek.

5. INLEIDING

Hierdie hoofstuk fokus op die navorsingsmetode. Aandag word geskenk aan die navorsingsontwerp, die wyse waarop die proefpersone bekom is, die samestelling van die stresweerbaarheidprogram, sowel as die gebruik van toepaslike meetinstrumente. Die

HOOFSTUK 5