• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

3.2.1 Hulpbronne gesetel binne die kind

3.2.1.3 Disposisionele eienskappe

Met betrekking tot kinders se disposisionele eienskappe sal daar gefokus word op temperament, self-regulering, ‘n interne lokus van kontrole, ekstraversie, optimisme en koherensiesin.

3.2.1.3.1 Temperament

‘n Maklike temperament word aangedui as ‘n beskermende faktor teen stresvolle lewensgebeure. Die passing (“goodness of fit”) tussen ouerlike verwagtinge en die kind se temperament vervul ook ‘n bufferende funksie. Indien ‘n kind ‘n “maklike” temperament het, sal die kind byvoorbeeld makliker aan ouers se verwagtinge vir gehoorsame gedrag voldoen (Carson & Bittner, 2001; Garmezy & Masten, 1990). Temperament kan copinggedrag affekteer, aangesien dit die kind se potensiële respons kan beïnvloed en ook watter situasies die kind as stresvol beskou. Dit kan ook ander persone se persepsies en response teenoor die kind beїnvloed (Rutter, 1983). Indien ‘n kind ‘n “maklike” en aanpasbare temperament het (responsief, beminlik en gemoedelik), kan dit ‘n beskermende funksie vervul omdat dit positiewe response van ander persone ontlok (Brooks, 2006; Hetherington & Stanley-Hagan, 1999; Hinshaw, 2002; O’Dougherty- Wright & Masten, 2006; Rutter, 1990).

3.2.1.3.2 Self-regulering

Kinders verkry toenemend (soos hul ouer word) meer beheer oor hul aandag, emosies en gedrag. Hierdie stel vaardighede staan bekend as self-regulering en is belangrik vir die ontwikkeling van latere bevoegdheid, akademiese prestasie, en dien ‘n belangrike beskermende funksie ten tyde van stresvolle omstandighede. Op grond van die

85

voorgenoemde voordele wat met self-regulering geassosieer word, dra dit by tot hoër vlakke van welstand en stresweerstandigheid by die kind (Masten, 2001; Masten & Coatsworth, 1998; O’Dougherty-Wright & Masten, 2006).

3.2.1.3.3 Interne lokus van kontrole

Lokus van kontrole word gekonseptualiseer as die mate waartoe kinders hulself sien as verantwoordelik vir gebeure en hul siening van die mate van beheer wat hulle oor hulself en hul omgewing het. Hiermee saam impliseer dit ‘n kind se vermoë om sy/haar eie ervarings, omgewing of verhoudings te beïnvloed (Hartling, 2003). ‘n Interne lokus van kontrole word ook toenemend beskou as ‘n beskermende faktor wat stresweerbaarheid verhoog. Een van die redes wat hiervoor aangevoer word, is die feit dat kinders, met ‘n interne lokus van kontrole, oor meer aktiewe copingstrategieë beskik om die stresvolle situasie te wysig en gevolglik sal hulle minder geneig wees om sielkundige probleme te ervaar na afloop van ‘n traumatiese gebeurtenis. ‘n Rede hiervoor is dat hierdie kinders die verantwoordelikheid neem om die stresvolle situasie te wysig, en wend dus meer aktiewe pogings aan om probleme te hanteer (Agaibi & Wilson, 2005; Hetherington & Stanley-Hagan, 1999; Hobfoll, 1989; Jordan, 2006; Masten, 2001).

Kinders met ‘n interne lokus van kontrole reflekteer die siening dat gebeure beїnvloed word deur hul gedrag. ‘n Gevoel van verlies aan beheer oor gebeure kan angs of ‘n gevoel van hulpeloosheid ontlok. Dit kan aanpassing indirek beїnvloed aangesien dit inmeng met die keuse van gepaste copingstrategieë (Fogas et al., 1992). Thompson (2005) het egter aangedui dat die voordeel van ‘n interne lokus van kontrole ook situasie- spesifiek is. In situasies wat onveranderbaar is, kan ‘n valse persepsie van beheer lei tot verdere teleurstelling, aangesien enige pogings om die situasie te verander, onsuksesvol sal wees, bv. wanneer ‘n persoon ‘n liggaamsgebrek het (Heckenhausen & Schultz, 1995).

3.2.1.3.4 Ekstraversie

Ekstraversie hou verband met ‘n kind se temperament en korreleer ook met die kind se optimisme (Carver & Scheier, 2005). Ekstraversie en positiewe affek word dikwels saam

86

bestudeer. Ekstroverte rapporteer meer gevoelens van opgewektheid (positiewe affek), entoesiasme en energie as introverte, sowel as hoë vlakke van selfvertroue en waagmoed (Deater-Deckard, Ivy & Smith, 2006; Watson, 2005). Aangesien hierdie kinders oor die algemeen meer sosiaal aktief is, sal hul meer gemaklik wees om hulp van ander te bekom (Diener, Lucas & Oishi, 2005). Die voorgenoemde faktore wat geassosieer word met ekstraversie, hou verband met stresweerstandigheid en ‘n subjektiewe gevoel van welstand in verskeie kontekste.

3.2.1.3.5 Optimisme

Volgens Chang (1998) word optimisme geassosieer positiewe uitkomste. Optimistiese kinders is inderdaad sielkundig en fisies beter aangepas as hul pessimistiese eweknieë. Een van die redes wat hiervoor aangevoer word, is die feit dat optimiste dikwels poog om die toestande wat met die stresvolle situasie verband hou, te verander, byvoorbeeld deur van probleemoplossing gebruik te maak eerder as om die situasie te ignoreer of daarvan te onttrek (ontkenning van die probleem). Hierdie soort aktiewe coping verhoog die waarskynlikheid dat die stresvolle situasie effektief aangespreek of opgelos word. Studies het aangetoon dat daar ‘n direkte verband tussen coping en optimisme is. Aangesien optimistiese kinders vertroue het in hul vermoëns om teenspoed suksesvol te kan hanteer, is hulle ook meer geneig om stresweerbaar te wees (Carver & Scheier, 2005; Chang, 1998; Scheier, Carver & Bridges, 1994).

3.2.1.3.6 Koherensiesin

Antonovsky (1987) definieer sin van koherensie as ‘n globale oriëntasie wat die mate bepaal waartoe ‘n kind ‘n gevoel van selfvertroue het ten opsigte van:

1. Verstaanbaarheid – Die mate waartoe ‘n kind sin kan maak van teenspoed. 2. Beheerbaarheid – Die mate waartoe die kind hulpbronne as voldoende beleef

om die eise van die stimuli te hanteer.

3. Betekenisvolheid - Die mate waartoe die kind voel die eise is uitdagings, wat die verbintenis werd is.

87

Hiervolgens sal ‘n kind wat oor ‘n goeie koherensiesin beskik, beter in staat wees om positiewe uitkomste soos stresweerbaarheid te hê.

3.2.1.4 Geloof

Daar is bewys dat geloof ‘n belangrike rol in die stres– en copingproses speel. Dit beïnvloed die wyse waarop kinders gebeure takseer (Park & Cohen, 1993) sowel as die sielkundige en fisiese reaksie op hierdie gebeure op die langtermyn (Seybold & Hill, 2001). Kinders gebruik egter ook geloof spesifiek om hulle te help cope met die onmiddellike eise van die stresvolle situasie - om die nodige krag te vind om die situasie te deurstaan en doel en betekenis in die omstandighede te vind (Folkman & Moskowitz, 2004). Volgens Roberts, Brown, Johnson en Reinke (2005) is geloof ‘n aspek van positiewe sielkunde waaraan tot op hede nie genoeg aandag geskenk is nie. Volgens gesondheidsnavorsers word goeie gesondheid bevorder deur spirituele faktore en dit dra uiteindelik ook by tot ‘n mate van welstand wat gesondheid karakteriseer (Institute for the Future, 2000, p. 190).

Afgesien van disposisionele hulpbronne binne die kind, speel interpersoonlike vaardighede ook ‘n belangrike rol in die ontwikkeling en in standhouding van verhoudings wat moontlik ‘n belangrike bron van ondersteuning vir die kind kan verskaf.