• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

3.2.2 Hulpbronne gesetel buite die kind

Vir die bespreking oor hulpbronne buite die kind sal daar spesifiek aandag geskenk word aan die gesin, die breër omgewing of gemeenskap, insluitend verhoudings met volwassenes buite die gesin, skole, en die portuurgroep as potensiële bronne van ondersteuning.

3.2.2.1 Die gesin

‘n Belangrike hulpbron buite die kind verwys na die gesinsdomein (Masten & Coatsworth, 1998; Winslow, Sandler & Wolchik, 2006). Van al die omgewings waarmee die kind in kontak kom, is die gesin die mees onmiddellike omgewing en het dit ook die belangrikste impak op die ontwikkeling van kinders se stresweerstandigheid (Brooks, 2006). Ouers beïnvloed die wyse waarop hulle kinders reageer teenoor stresvolle situasies aangesien hul die kind se taksering van die situasie beїnvloed. Ouers tree in hierdie verband as

89

belangrike rolmodelle vir kinders op en is ook ‘n belangrike bron van terugvoer. Die aard van die ouerlike invloed wissel egter met die ontwikkelingstadium van die kind. Ouers sal ‘n groter mate van beheer hê oor jonger kinders teenoor kinders in adolessensie (Power, 2004, p. 289). Die gesin bepaal ook tot ‘n groot mate die omgewing waarmee die kind in interaksie tree en dus het dit ‘n betekenisvolle invloed op die ontwikkeling van kinders se copingstrategieë (Boekaerts & Röder, 1999). Alex Haley het in sy boek “Roots” die volgende gedeelte aangehaal oor die gesin:

“The family is our refuge and our springboard; nourished on it we can advance to new horizons. In every conceivable manner, the family is link to our past, bridge to our future.” (Aangehaal uit Curran,1983, p. 199).

Gehegtheidsverhoudings, soos dié tussen ouers en kinders, is belangrik omdat dit juis hierdie verhoudings is wat geaktiveer word tydens stresvolle omstandighede (Werner & Johnson, 1999). Die belangrikste hulpbron tot ‘n kind se beskikking ten tyde van stresvolle omstandighede, is die teenwoordigheid van ten minste een versorgende volwassene (Masten & Coatsworth, 1998; Sheridan, Eagle & Dowd, 2006). Navorsing toon dat die kwaliteit van die verhouding met ‘n versorgende volwassene inderdaad suksesvolle aanpassing sowel as sukses in latere ontwikkelingstake voorspel. Dit geld vir kinders in normale omstandighede, sowel as diegene wat aan hoë vlakke van stres blootgestel word (Carlson & Stroufe, 1995; Masten, 1994; Masten & Coatsworth, 1998, p. 206).

3.2.2.1.1 Verhoudings buite die gesin

Verhoudings met positiewe volwassenes en sosiale ondersteuning buite die gesin word aangedui as ‘n goeie voorspeller van stresweerbaarheid (Benard, 1993; Hobfoll, 1989; Masten, 2001; Masten & Coatsworth, 1998; Neill & Dias, 2001). Toegang tot en sosiale ondersteuning van volwassenes buite die gesin byvoorbeeld ‘n grootouer of onderwyser, kan ‘n bufferende funksie vervul tydens moeilike omstandighede, aangesien die waargenome teenwoordigheid van ‘n ondersteunende sosiale netwerk ‘n kind se kapasiteit, om die lewe se uitdagings te hanteer, verbeter. Soos kinders aanvaar en

90

waardeer word, ontwikkel hul ook ‘n meer aanvaardende houding teenoor hulself (Pedro- Carroll, 2001; Rogers, 1980; Statham, 2004). Ondersteunende verhoudings met besorgde volwassenes is onontbeerlik vir kinders se ontwikkeling, aangesien dit ‘n belangrike bron van beskerming verskaf. Hierdie volwassenes kan as rolmodelle optree en sodoende kompenseer vir afwesige ouers of ouers wat ‘n swak voorbeeld stel (Laursen & Birmingham, 2003).

3.2.2.2 Die breër omgewing/gemeenskap

Die omgewing waaraan die kind blootgestel word, kan ‘n beskermende funksie vervul en sodoende die waarskynlikheid van positiewe uitkomste verhoog. Die omgewing bied toegang tot geleenthede vir die bevordering van eksterne ondersteuningsisteme wat selfvertroue en bevoegdheid bevorder (Brooks, 2006; Cowen, 2000; Roberts & Masten, 2004; Werner & Johnson, 1999). Gemeenskapshulpbronne behels toegang tot hoë kwaliteit-skole, pro-sosiale omgewings en geleenthede vir betrokkenheid by formele of informele sisteme, wat ondersteuning verskaf of beskerm teen die voorkoms van negatiewe lewensgebeure (Masten, 2004; O’Dougherty-Wright & Masten, 2006; Winslow, Sandler & Wolchik, 2006).

Die Verenigde State-Konvensie, met betrekking tot die regte van kinders, het in 1989 aangedui dat die staat die primêre beskermer van kinders behoort te wees (United Nations, 1992, p. 119). Met die demokratiese verkiesing van ‘n nuwe Suid-Afrikaanse regering in 1994 was Suid-Afrikaanse kinders bevoorreg om die ondersteuning van ‘n regering onder leiding van Nelson Mandela te kon hê. Die nuwe politieke toewyding aan kinders word gedemonstreer deur die implementering van ‘n reeks beleidskrifte gedurende die afgelope paar jaar. Hierdie beleide verwys onder andere na gratis mediese sorg vir swanger vroue en kinders tot die ouderdom van ses jaar, die totstandkoming van ‘n nasionale jeugkommissie, die Nelson Mandela-Kinderfonds, ensovoorts (Lockhat & Van Niekerk, 2000, p. 296). Alhoewel die motief agter die wette positief is, wil dit voorkom of die uitvoering daarvan problematies is. ‘n Rede wat hiervoor aangevoer word, is dat daar ‘n gebrek aan ondersteuning vir kinderregte in sekere kringe bestaan. Alhoewel daar

91

alreeds vordering op hierdie gebied gemaak is, is daar dus steeds baie uitdagings en struikelblokke (Louw & Louw, 2007).

3.2.2.2.1 Skole as potensiële bron van ondersteuning

Een van die belangrikste sosiale kontekste vir kinderontwikkeling is die skoolomgewing. Kinders wat effektiewe skole bywoon en suksesvol is by die skool, sal meer geneig wees om aan te pas by sosiale norme en om vriende te maak met ‘n opbouende portuurgroep. Betrokkenheid by buitemuurse aktiwiteite kan individuele talente bevorder en sodoende bydra tot ‘n kind se mate van bevoegdheid, effektiwiteit, selfbeeld en welstand (Masten, 1994; 2001; Masten & Coatsworth, 1998). Verskeie navorsers het die belangrikheid van onderwysers in die ondersteuning en positiewe verhoudings met kinders beklemtoon (Brooks, 2006). Die erkenning van kinders se talente, en die beloning van kinders vir hul prestasies, verskaf ook ondersteuning (Henderson & Milstein, 1996). Hoë maar tog realistiese verwagtinge wat deur onderwysers sowel as ouers gekoester word, kan bydra tot akademiese prestasies en verbeterde gedrag onder kinders (Brooks, 2006).

Effektiewe skole met gekwalifiseerde en opgeleide onderwysers wat goeie betaling ontvang, na-skoolse programme, asook geleenthede vir buitemuurse aktiwiteite, word gesien as stabiele omgewings vir kinders se optimale ontwikkeling (O’Dougherty-Wright & Masten, 2006). ‘n Behoefte aan skole wat kinders erkenning gee en die geleenthede verskaf om die vaardighede te ontwikkel wat met stresweerstandigheid geassosieer word, soos outonomie, probleemoplossingsvaardighede, positiewe siening van die toekoms, effektiewe kommunikasie en verhoudingsvaardighede, word beklemtoon (Johnson, Howard & Oswald, 1999).

3.2.2.2.2 Portuurgroep

Die portuurgroep speel ‘n belangrike rol aangesien dit ondersteuning verskaf en gehegtheidsbehoeftes bevredig (Johnson, Howard & Oswald, 1999). Sosiale bevoegdheid met betrekking tot die portuurgroep word geassosieer met beter akademiese uitkomste, laer reaktiwiteit in stresvolle omstandighede, en ‘n hoër mate van selfbeheer. ‘n Beter

92

selfbeeld tesame met die geneigdheid om meer positiewe emosies te ervaar word geassosieer met beter geestesgesondheid onder kinders (Masten & Coatsworth, 1995; 1998; Rothbart & Bates, 1998). Die portuurgroep kan dus ‘n bufferende funksie vervul, deur byvoorbeeld ‘n kind te help om aan te pas by ‘n nuwe skool. Om vriende te hê, word geassosieer met positiewe houdings teenoor die skool en portuurgroepe. Portuurgroepe verskaf belangrike emosionele ondersteuning, sowel as akademiese ondersteuning (Masten & Coatsworth, 1995).

3.2.2.3 Samevatting

Met betrekking tot die voorafgaande gedeelte is dit duidelik dat die belangrikste hulpbron buite die kind, die teenwoordigheid van ‘n stabiele, ondersteunende gesin is. Veral ouers het ‘n betekenisvolle impak op die ontwikkeling van kinders se hanteringstrategieë en die wyse waarop hul gebeure takseer. Daar word dikwels aangevoer dat ouers die impak van stres op hul kinders modereer en sodoende selfs kanse op suksesvolle aanpassing in die toekoms verhoog. Buite die gesin funksioneer die kind ook as deel van die breër omgewing. Indien die omgewing geleenthede vir ontwikkeling en ondersteuning bied, kan dit ‘n belangrike buffer vir kinders bied. Daar bestaan verskeie ander potensiële bronne van ondersteuning in die omgewing. Verhoudings met pro-sosiale volwassenes, en die bywoning van goeie skole, bied kinders die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel binne ‘n ondersteunende omgewing. Skole wat gekenmerk word deur ‘n goed georganiseerde struktuur vervul ‘n belangrike bufferende funksie. Namate kinders ouer word, raak die portuurgroep toenemend ‘n belangrike bron van akademiese, sowel as emosionele, ondersteuning. Die portuurgroep vorm ‘n belangrike konteks waarbinne die kind sy/haar vaardighede kan uitbou en kan oefen.

Die interaksie tussen die aard en omvang van die stressors waaraan kinders blootgestel word en die hulpbronne tot hul beskikking, beïnvloed watter strategie of strategieë effektief sal wees. Vervolgens verskuif die fokus na die copingproses by kinders.