• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

3.1.2 Stressors buite die kind

3.1.2.1 Die breër sosiale omgewing

Die omgewing kan bydra tot ‘n kind se risiko vir ‘n verskeidenheid van probleme (Brooks, 2006). Omgewingstoestande (kontekstuele effekte) wat risiko verhoog, kan plaasvind op ‘n indirekte (armoede, hoë vlakke van werkloosheid) of ‘n direkte (onvoldoende ouerskapspraktyke, groepsdruk) wyse (Smokowski, 1998). Hoë vlakke van disorganisasie in die gemeenskap, oorbewoning en armoede, word aangedui as verdere risikofaktore (Hinshaw; 2002; Pollard & Hawkins, 1999). Goldstein en Brooks (2006) merk tereg op dat geen kind immuun is teen druk in die huidige stresvolle omgewings waarin hul grootword nie. Selfs kinders wat nie aan intense trauma blootgestel word nie, beleef die eise en verwagtinge van hul omgewings en ervaar gepaardgaande stres.

3.1.2.2.1 Die Suid-Afrikaanse omgewing

Potensiële stressors in Suid-Afrika waarmee kinders in die verlede gekonfronteer is, sluit in: aanhouding sonder verhoor, marteling, politieke opstande en polities-gemotiveerde aanvalle op lede van die gemeenskap (Dawes, 1990). Tydens apartheid is die swart gesin ontneem van die geleentheid om gesinsverhoudings te bou. Werkende ouers kon dikwels hul gesinne slegs oor naweke sien of selfs minder. Bykomend was die feit dat die woonareas waar hierdie gesinne meestal gewoon het, oorbewoon en behoeftig met hoë vlakke van misdaad was. Dit het gevolglik gelei tot spanning binne die gesin wat geweld en kindermishandeling ontlok het (Lockhat & Van Niekerk, 2000). Dus het baie kinders grootgeword sonder hul ouers, onder toesig van dikwels onbevoegde voogde (Duncan & Rock, 1995).

77

Kinders in Suid-Afrika word beskou as die mees verwaarloosde sektor van die populasie. Alhoewel kinderregte die afgelope paar jaar baie meer aandag ontvang het in beleidsdokumente, word Suid-Afrikaanse kinders steeds as 'n hoë risikogroep geklassifiseer (Lockhat & Van Niekerk, 2000). Een van die redes hiervoor is die feit dat die land steeds vasgevang is in ‘n siklus van geweld, ongelykheid en armoede. Hiervolgens blyk dit nie asof die Suid-Afrikaanse kinders se lewensomstandighede noemenswaardig verbeter het sedert 1994 nie. Dit blyk veral die geval te wees onder swart kinders woonagtig in afgeleë, armoedige, landelike gebiede (Lockhat & Van Niekerk, 2000; National Institute for Economic Policy, 1996). Kinders wat groot word in sulke stresvolle omstandighede toon hoë vlakke van stresverwante simptome, ingeperkte kognitiewe ontwikkeling, lae vlakke van akademiese prestasie en hoë vlakke van gedrags– en antisosiale versteurings (Desjarlais, 1994; Dawes & Donald, 1994). Volgens Lockhat en Van Niekerk (2000) word die Suid-Afrikaanse situasie vererger deur die ernstige gebrek aan psigiatriese-, maatskaplike– en spesiale opvoedkundige dienste vir kinders, sowel as ‘n tekort aan algemene gesondheid– en geestesgesondheidsdienste.

3.1.2.2.2 Hoë vlakke van geweld

Volgens Dawes (1990) sal volgehoue blootstelling aan gewelddadige rolmodelle tot gevolg hê dat hierdie geweld nageboots, aanvaar en uiteindelik veralgemeen word na nie- politieke situasies. Blootstelling aan geweld word as ‘n ernstige vorm van teenspoed of trauma beskou. Volgens Dawes (1990) word duisende Suid-Afrikaanse kinders sedert apartheid blootgestel aan geweld, terwyl sommige selfs deelgeneem het aan gewelddadige praktyke (Dawes, 1990). Alhoewel dit vir volwassenes moeilik is om aan geweld blootgestel te word, word kinders dikwels die ergste geaffekteer. Verskeie outeurs beskou Suid-Afrika as die mees gewelddadige samelewing ter wêreld (Buchart, Nell & Seedat, 1996). Die statistieke ten opsigte van moord dui aan dat ongeveer 67 per 100 000 mense per jaar vermoor word. Dit is een van die hoogste moordsyfers in die wêreld en word beskryf as agt keer hoër as die wêreld se gemiddeld (Van As & Ramanjam, 2008).

78

Gedurende die tydperk van 1 April 2004 tot 31 Maart 2005 is daar, 1 128 kinders in Suid- Afrika vermoor, 24 189 was slagoffers van aanranding en 22 486 is verkrag (Van As & Ramanjam, 2008). Verskeie studies toon aan dat kinders en adolessente, wat aan geweld blootgestel word, ‘n hoër risiko toon om ‘n verskeidenheid van psigiatriese versteurings soos depressie, angs, posttraumatiese stres en probleme met gehegtheid te ontwikkel. ‘n Toename in aggressiewe en gewelddadige gedrag word ook by hierdie kinders gerapporteer (Barbarin, Richter & De Wet, 2001; Walker & Louw, 2007). Een van die mees ontstellende aspekte met betrekking tot die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika is die feit dat geweld genormaliseer word as ‘n alledaagse gebeurtenis. Die gebruik van geweld om dispute op te los het algemene praktyk geword (Duncan & Rock, 1995; Lockhat & Van Niekerk, 2000).

3.1.2.2.3 Skoolverwante stressors

Hedendaagse skole word as stresvolle omgewings beskou as gevolg van al die eise, druk en verwagtinge wat op kinders geplaas word. Stressors binne die skoolomgewing kan verskeie vorme aanneem (Carson & Bittner, 2001). Akademiese prestasie word dikwels gebruik om ‘n kind se persoonlike waarde aan te dui. Onderwysers en ouers plaas somtyds onnodige druk op kinders om te presteer, perfeksie na te streef of om volwasse op te tree – hierdie faktore dra by tot ‘n kind se kwesbaarheid. Akademiese mislukking en ‘n gebrek aan toewyding aan die skool kan die risiko vir probleemgedrag soos misdadige gedrag en substansmisbruik verhoog (Carson & Bittner, 2001; Pollard & Hawkins, 1999).

Volgens Kochenderfer-Ladd en Skinner (2002, p. 267) kan portuurgroep-viktimisasie onder skoolgaande kinders dikwels inmeng met gesonde ontwikkelingsuitkomste. Kinders wat slagoffers is van hul portuurgroep se aggressiewe gedrag (bv. om geboelie te word), het ‘n hoër risiko om ‘n verskeidenheid van aanpassingsprobleme te ontwikkel.

Met betrekking tot Suid-Afrikaanse skole bestaan daar noemenswaardige verskille tussen blanke en swart skole. Swart skole is dikwels oorvol met onvoldoende toerusting (geen

79

deure, vensters) en selfs geen badkamergeriewe nie. Daarmee saam beskik baie van die onderwysers nie oor voldoende kwalifikasies nie en daar is ‘n ernstige gebrek aan ondersteuningsdienste (Lockhat & Van Niekerk, 2000, p. 294). In Suid-Afrika is daar, soos in baie ander ontwikkelende lande, ‘n groot aantal kinders wat skool voortydig verlaat. Hierdie patroon geld vir beide laerskool- en hoërskoolleerlinge (Dawes & Donald, 1994).

3.1.2.2.4 Haweloosheid

Ten spyte van kulturele verskille wat voorkom in verskillende lande, is die voorkoms van haweloosheid ‘n wêreldwye fenomeen (Le Roux, 1996). Die beraamde aantal straatkinders in Suid-Afrika is tussen 10 000 en 20 000, waarvan die meerderheid tussen die ouderdomme van 7 en 18 jaar is (Richter, 1991; UNICEF, 2006). Die meeste van hierdie straatkinders blyk swart seuns te wees, terwyl min gevalle van Indiër of wit straatkinders aangemeld word. Daar word veral klem gelê op die rol wat apartheid gespeel het as oorsaak van hierdie verskynsel. Navorsing toon dat in ‘n ontwikkelende land, soos Suid-Afrika, kinders vir langer periodes op straat sal bly in vergelyking met ‘n eerstewêreld-land – primêr omdat daar geen alternatiewe akkommodasie, voldoende maatskaplike dienste, of ‘n stabiele gesinsopset bestaan om na terug te keer nie (Le Roux, 1996; UNICEF, 2006).

Kinders sonder ‘n heenkome het ‘n hoë risiko vir ‘n verskeidenheid van onderrig-, geestes- en fisieke gesondheidsprobleme. Alhoewel haweloosheid self ‘n risiko is, is die risiko hoër as die kinders op straat in skuilings of plekke van veiligheid begin woon. Die aantal probleme verhoog soos wat die vlak van risiko verhoog. Hoë vlakke van geweld in plakkerskampe en die onvermoë van die gemeenskap om kinders te beskerm, het veral gedurende die laaste dekade daartoe gelei dat kinders by alternatiewe “families” soos bendes, prostitusienetwerke en groepe hawelose kinders aansluit. Dit verhoog die potensiaal vir verdere probleme soos botsing met die gereg. Die syfers van hawelose kinders en kinders wat deur hul ouers haweloos gelaat word, neem daagliks toe (Lockhat & Van Niekerk, 2000).

80 3.1.2.2.5 Armoede

Verskeie studies oor armoede, en ander vorme van sosio-ekonomiese nadele, het die potensiële skadelike gevolge van hierdie toestande beklemtoon op die fisiese-, emosionele- en intellektuele ontwikkeling van kinders (Masten & Coatsworth, 1998). Alhoewel armoede as ‘n risikofaktor vir kinders beskou word, wissel die impak wat dit op kinders het (Goldstein & Brooks, 2006).

Die bevindinge van studies oor die impak van armoede word soos volg deur Schorr (1988, p. xxii) saamgevat:

“Poverty is the greatest risk factor of all. Family poverty is relentlessly correlated with school-aged childbearing, school failure, and violent crime

… Virtually all other risk factors that make rotten outcomes more likely are also found disproportionately among poor children.”

In Suid-Afrika leef bykans die helfte van die populasie se kinders in armoede. Siektes wat met armoede geassosieer word hou verband met ten minste 30% van die sterftes van kinders onder die ouderdom van 5 jaar (Children’s Institute, 2006). Volgens Lockhat en Van Niekerk (2000) kan kinders wat in armoedige omstandighede groot word, langtermyn gevolge oorhou. Arm kinders is meer geneig om sosiale en emosionele probleme te ontwikkel en dit is alreeds sigbaar vanaf ‘n vroeë ouderdom. Daarmee saam kom wanvoeding dikwels in armoedige gebiede voor. Daar word geskat dat bykans een derde van alle swart Suid-Afrikaanse kinders tot die ouderdom van 14 jaar aan wanvoeding ly, met die meerderheid van hierdie kinders wat in verarmde landelike gebiede woon. Wanvoeding word weer met verskeie negatiewe uitkomste ten opsigte van die kind se groei en neurologiese ontwikkeling geassosieer (Barbarin & Richter, 2003; Duncan & Rock, 1995).

81

Samevattend kan opgemerk word dat die omgewing waarbinne ‘n kind leef, inderdaad op ‘n direkte of indirekte wyse bydra tot sy/haar belewenis van stresvolle gebeure. Die unieke situasie in Suid-Afrika, gegewe die gevolge van die apartheid-era en politieke transformasie, bring mee dat kinders daagliks aan toenemende vlakke van geweld en wetteloosheid blootgestel word. Ten spyte van die ontwikkeling en implementering van wetgewing in hierdie verband, wil dit voorkom asof daar min noemenswaardige verbetering met betrekking tot Suid-Afrikaanse kinders se lewensomstandighede plaasgevind het. Selfs binne die skoolomgewing ervaar kinders meer druk as voorheen. ‘n Gebrek aan basiese fasiliteite en hulpbronne bring mee dat kinders se aandag afgelei word van die onderrigproses. ‘n Hartseer gevolg van onvoldoende sorg en beskerming binne gemeenskappe en gesinne is die hoeveelheid kinders wat indirek gedwing word om op straat te gaan woon. Dit is vanselfsprekend dat hawelose kinders ‘n hoër risiko het om ‘n verskeidenheid van probleme te ontwikkel. Uiteindelik wil dit voorkom of armoede een van die belangrikste stressors is wat ‘n negatiewe impak op kinders se welstand kan hê. Armoede hou dikwels ook baie van die probleme in die omgewing in stand en kan dit selfs vererger.

Blootstelling aan stressors alleen is egter nie voldoende om individuele verskille in kinders se stresweerstandigheid te verklaar nie. Die beskikbaarheid van hulpbronne speel ook ‘n belangrike rol. Vervolgens word hulpbronne tot die kind se beskikking bespreek.

3.2 HULPBRONNE

Hulpbronne stem baie ooreen met die begrip “beskermende faktore” wat dikwels in die stres– en coping literatuur gebruik word. Vir die doeleindes van hierdie studie word beide terme afwisselend gebruik. Dit is nie ‘n eenvoudige taak om beskermende faktore of hulpbronne te definieer nie – dit wissel afhangend van die kind en die impak wat dit kan hê. Die hulpbronne/beskermende faktore hou verband met die kind se copinggedrag en uiteindelik speel dit ‘n deurslaggewende rol in die uitkomste wat bereik word.

82

Hulpbronne word verdeel in individuele-, gesins– en gemeenskapsfaktore en fasiliteer positiewe uitkomste deur effektiewe aanpassingsprosesse te bevorder of die kind se blootstelling aan trauma te verminder (Sandler, 2001). Hulpbronne kan moontlik die voorkoms van positiewe uitkomste, en die vermyding van negatiewe uitkomste vir kinders in tye van teenspoed, bevorder (Wyman, Sandler, Wolchik & Nelson, 2000). Beskermende faktore is interaktief, en daarom sal faktore binne die kind in interaksie tree met faktore in die omgewing (O’Dougherty-Wright & Masten, 2006; Rutter, 1990).