• No results found

DIE STRES EN COPINGPROSES TYDENS DIE KINDERJARE

3.1.2 Stressors buite die kind

3.1.2.1 Die gesin as potensiële bron van stres

Met betrekking tot die kind se gesin sal daar klem gelê word op die dood van ‘n familielid of ouer, egskeiding, geestesongesteldheid van ‘n ouer en mishandeling binne die gesinsopset.

3.1.2.1.1 Siekte en dood van ‘n familielid of ouer

Die dood van ‘n ouer of familielid is ‘n oorweldigende en verwarrende trauma vir kinders. Die impak van die dood vernietig die kind se gevoel van sekuriteit en die oortuiging van die ouer se alomteenwoordigheid (Boekaerts & Röder, 1999, p. 319). Die sukses waarmee ‘n kind die ouer se dood hanteer en verwerk, word grootliks bepaal deur die verduidelikings wat die kind en die gesin gebruik om sin te maak van wat gebeur het en hoe die sosiale omgewing georden kan word om die situasie te oorkom. Kinders wat ouers aan die dood

72

afstaan, rapporteer meer gevoelens van hulpeloosheid en skuld, wat gevolglik aanleiding kan gee tot ‘n swakker selfbeeld (Zambelli & DeRosa, 1992).

‘n Belangrike faktor met betrekking tot kinders se aanpassing na die afloop van die verlies, is die oorblywende ouer se geestestoestand. Indien daar onvoldoende sorg, dissipline en verwaarlosing is as gevolg van die oorlewende ouer se onvermoë om die eggenoot se dood te verwerk, verhoog dit die risiko vir sielkundige probleme vir die kinders. ‘n Goeie ouer-kindverhouding (met die oorlewende ouer) en gevestigde gesinsroetine, bevorder kinders se suksesvolle aanpassing na die dood van ‘n ouer (Lin, Sandler, Ayers, Wolchik & Luecken, 2004). Kinders wat ‘n ouer aan die dood afstaan, ervaar ‘n groter risiko vir sielkundige probleme indien hul ervaar dat hul minder beheer oor negatiewe gebeure het. ‘n Gebrek aan begrip met betrekking tot waarom die gebeure plaasvind, is veral ‘n sterk voorspeller van daaropvolgende sielkundige probleme (Kim, Sandler & Tein, 1997).

Met betrekking tot siektes soos MIV, is die omvang daarvan in Suid-Afrika kommerwekkend. Binne die Suid-Afrikaanse konteks hou die hoë voorkoms van siektes soos MIV ook bepaalde implikasies vir gesinne in (Richter, 2003; 2004). UNAIDS het aangedui dat bykans 15% of meer van die kinders teen 2001 in die geaffekteerde lande weeskinders was (UNAIDS, 2002). Dit gee aanleiding tot huishoudings waar kinders aan die hoof van die huis staan of waar gesinsbande verbreek word en kinders onder die familie verdeel word. In Suid-Afrika is daar bevind dat tussen 1 en 2% van kinders tussen die ouderdomme van 12 en 18 jaar die hoof van hul huishoudings is (Richter, 2004). In die lig van statistieke wat aandui dat bykans 20% van die totale Suid-Afrikaanse populasie met MIV geïnfekteer is en bykans 300 000 volwassenes elke jaar sterf aan vigs, beteken dit dat daar ongeveer 500 kinders per dag wees gelaat word (Andrews, Skinner & Zuma, 2006; UNICEF, 2005). Die omvang van MIV-verwante verliese van gesinslede is dus ‘n potensiële probleem vir ‘n groot aantal kinders.

73

Egskeiding en huweliksonstabiliteit word deur kinders as een van die mees stresvolle lewensgebeure getakseer. Huweliksverbrokkeling hou hoë risiko’s vir wanaanpassing van kinders in (Boekaerts & Röder, 1999; Brooks, 2006; Davies & Cummings, 1994; Hetherington, Cox & Cox, 1985; Masten, 1992). Alhoewel die proses van huweliksverbrokkeling stresvol is vir kinders, is daar ‘n betekenisvolle variasie in hoe hul aanpas na die egskeiding. Kinders presenteer gewoonlik met intense angs tydens die vroeë stadiums van huweliksverbrokkeling. Hartseer, angs, afkeer, verwarring, skuld, vrese rakende hul toekoms, lojaliteitskonflikte, somatiese klagtes en rou vir afwesige ouers is ook algemene reaksies (Pedro-Carroll, 2001, p. 994). In teenstelling met Pedro-Carroll (2001) se bevindinge het ander studies gevind dat die meeste kinders van geskeide ouers nie betekenisvolle aanpassingsprobleme oor die langtermyn ontwikkel nie.

Die aangeduide egskeidingskoers in Suid-Afrika is tans omtrent 550 per 100 000 van die populasie. Dit is egter ontstellend dat 40 000 Suid-Afrikaanse kinders jaarliks by hul ouers se egskeidings betrek word (StatsSA, 2005). Volgens Louw en Louw (2007) toon die meeste kinders gedragsprobleme alreeds voor die egskeiding. ‘n Belangrike bepalende faktor met betrekking tot kinders se post-egskeiding aanpassing het te make met die beskikbaarheid van ondersteuning binne en buite die kind se familie. In gevalle waar die kinders ondersteuning van familielede en vriende ontvang het, is laer vlakke van angs en bekommernis gerapporteer (Cowen, Pedro-Carroll & Alpert-Gillis, 1990; Jansen van Rensburg, 2004). Dit wil egter voorkom asof die meeste kinders van geskeide ouers nie betekenisvolle aanpassingsprobleme oor die langtermyn ontwikkel nie. Die meerderheid van navorsing op kinders van geskeide ouers toon dat hierdie kinders meestal goed funksioneer (Emery, 1999; Laumann-Billings & Emery, 2000; Pedro-Carroll, 2001).

3.1.2.1.3 Geestesongesteldheid van die ouer

Die teenwoordigheid van psigopatologie by ‘n ouer word geassosieer met hoë vlakke van stres onder kinders, juis as gevolg van die swak huishoudelike en fisiese versorging van kinders, onderbreking van ouertoesig en swak kwaliteit moederskap (Brooks, 2006; Bonanno, 2004; Hinshaw, 2002; Pollard & Hawkins, 1999).

74

Volgens Jaffee (2006) ervaar kinders van alkoholiste ‘n groter risiko vir verwaarlosing, soos bewys deur navorsing wat aandui dat hierdie kinders meer dikwels slagoffers is van beserings en vergiftigings as kinders in die algemene populasie. Substansmisbruik, sowel as affektiewe of antisosiale persoonlikheidsversteurings by ouers, verhoog ook die risiko vir kindermishandeling. Kinders wat mishandel word of groot word by ‘n ouer wat ‘n geskiedenis van psigopatologie het, het ‘n verhoogde risiko vir ‘n verskeidenheid van negatiewe uitkomste in adolessensie en volwassenheid. Daar is egter ook van hierdie kinders wat ten spyte van hul omstandighede stresweerstandig is (Ciccheti & Garmezy, 1993; Jaffee, 2006).

3.1.2.1.4. Mishandeling

Kindermishandeling en gesinsgeweld is ‘n deurlopende probleem in alle samelewings (Houshyar & Kaufman, 2006; Masten & Coatsworth, 1998). Dit verwys na fisiese, sielkundige, en seksuele mishandeling sowel as verwaarlosing (Jaffee, 2006). Beskikbare syfers van 2002 toon dat daar in Amerika 896 000 gevalle van kindermishandeling– en verwaarlosing gerapporteer is (U.S. Department of Health and Human Sciences, 2004). Volgens Dawes (2006) is daar nog geen studies rakende die voorkomssyfer van kindermishandeling in Suid-Afrikaanse gemeenskappe gedoen nie. Syfers ten opsigte van fisiese mishandeling toon aan dat ongeveer 25% van alle onnatuurlike sterftes van kinders jonger as 18 jaar, aan moord toegeskryf kan word (Richter & Higson-Smith, 2004). Wat veral kommerwekkend is, is die aantal kinders wat per jaar in Suid-Afrika verkrag word soos gereflekteer in die meer as 15% van alle verkragtingsake waarby kinders onder die ouderdom van 11 jaar as slagoffers betrokke is (International Society for Prevention of Child Abuse and Neglect, 2004).

In vergelyking met kinders wat nie mishandel word nie, ervaar mishandelde kinders meer probleme met die bemeestering van ontwikkelingstake tydens die kinderjare. Kinders wat mishandeling of verwaarlosing ervaar, het ‘n groter risiko om self in die toekoms probleme te ervaar met hul gesinslewe (Bonanno, 2004; Hinshaw, 2002; O’Dougherty-Wright &

75

Masten, 2006; Pollard & Hawkins, 1999). Kinders se oorgeërfde kwesbaarheid vir die ontwikkeling van versteurings kan vererger word deur blootstelling aan gesinsgeweld. Dus sal kinders wat blootgestel word aan gesinsgeweld ‘n hoër risiko toon vir verskeie negatiewe uitkomste in die kinderjare en adolessensie (Jaffee, 2006). Houshyar en Kaufman (2006) merk egter tereg op dat die negatiewe effekte, wat met vroeë kindermishandeling geassosieer word, nie onvermydelik is nie en tot ‘n groot mate gemodereer word deur intrinksieke en ekstrinsieke faktore. Byvoorbeeld, die kwaliteit van die daaropvolgende versorging speel veral ‘n deurslaggewende rol om uiteindelik die langtermyneffek van vroeë mishandeling te bepaal.

3.1.2.1.5 Samevatting

In die voorafgaande gedeelte is daar aandag gegee aan algemene definisies van stres en teenspoed. Beide hierdie begrippe verwys na faktore of gebeure wat inmeng met die bemeestering van ontwikkelingstake en dus moontlik kan lei tot probleme met aanpassing. Risikofaktore hou verband met stres en teenspoed, aangesien dit die waarskynlikheid verhoog dat ‘n kind ‘n negatiewe uitkoms kan hê. Risikofaktore is kumulatief en kom selde in isolasie voor. Dit is juis die kombinasie van risikofaktore wat die grootste uitdaging aan ‘n kind stel. Met betrekking tot stressors word daar onderskei tussen stressors wat binne die kind gesetel is en stressors wat in die omgewing geleë is.

Stressors binne die kind verwys onder andere na probleme tydens die swangerskap, chroniese siektes, ‘n moeilike temperament, lae intelligensie en probleme met selfbeheer. Al die voorgenoemde stressors is uniek en dus wissel die impak van die bepaalde stressor. Met betrekking tot stressors buite die kind bestaan daar ‘n groot aantal stressors. Vir die doeleindes van die hierdie studie is daar gefokus op die kind se gesin en die stressors wat daarmee verband hou. Voorbeelde sluit in die dood van ‘n ouer of nabye familielid, egskeiding, ouer patologie, MIV (veral relevant binne die Suid-Afrikaanse konteks) sowel as mishandeling. Al die voorgenoemde stressors het ‘n potensieël verwoestende effek op ‘n kind, juis omdat die gesin tradisioneel ‘n kind se primêre bron van ondersteuning vorm. Dit is duidelik vanuit die literatuur dat stressors binne die gesin

76

die moontlikheid van versteuring tydens adolessensie en volwassenheid verhoog. Daar moet egter in gedagte gehou word dat nie alle kinders probleme met aanpassing ervaar na afloop van blootstelling aan ‘n stressor nie.

Buiten die gesin speel die kind se onmiddellike en breër omgewing ook ‘n belangrike rol met betrekking tot die blootstelling aan of beskerming teen stres.