• No results found

Predestinerend bepaald

PASTORALE RELEVANSIE VAN VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1 VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1.2 Psigiese volwassenheid

1.3.2 Definiëring van geloofsvolwassenheid 1 Fowler

1.3.3.1 Predestinerend bepaald

1.3.3.1 (a) Goddelike verordening van uitverkiesing

God se beeldherstellingsprogram tot Skriftuurlike geloofsvolwassenheid begin vóór- tydlik in die ewigheid (DL. 1:7, APK-Kerkboek 1993:114) en wel deur middel van God se predestinerende raadsbesluite. Om op hierdie vlak van God se wese – sy alwetendheid en soewereiniteit – te beweeg, is om op heilige grond te staan en die misterie van God binne te dring. Dit maan tot nederige luister eerder as astrante bewyslewering (vgl. hfst. 5:3.3.1.1 (b)).

Nadat Paulus in Romeine 9 tot 11 hom onomwonde oor die predestinasie uitgespreek het, maak hy in sy slotsang die volgende konkluderende stelling: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in alle ewigheid” (Rom. 11:36). Hiermee vat Paulus God se selfopenbaring saam as dié Een wat die oorsprong van alles is (Op. 4:11) – ook die eindbestemming van die mens; dié Een wat alles in stand hou (Kol. 1:17) – Hy voorsien die heilswerk in die mens en voer dit uit; en as diè Een tot Wie se heerlikheid alles geskied. Paulus se doksologie in 1 Timoteüs 1:17 sluit by die voorgenoemde aan, naamlik: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid!”

Dit is duidelik dat God enig is en op sy eie vlak beweeg, terwyl die mens as skepsel, op ‘n ander vlak funksioneer sonder dat daar enige konflik is (Potgieter 1988:399).

Die raad van God (pactum salutis) is die ewige besluite van God aangaande alles wat “in die tijd sijn en geskieden zou” (Feenstra 1960:557). Die Skrif leer dat hierdie raad van God: ewig (Hand.15:18; Ef.1:14), vrymagtig (Ef. 1:9), wys en goed (Rom.11:33) en onafhanklik is (Rom. 11:34-36; Feenstra 1965:64,65; 1960:554). Die Raad van God gaan daarom aan alles vooraf en is die bron waaruit alles voortvloei (Janse van Rensburg 1996:153).

In die algemeen kan God se handelinge omskryf word as handelinge na binne (ad intra) – ontwerpend - en dié na buite (ad extra) – uitvoerend (Bavinck 1967, 2:303). “...in sy uitvoerende handeling na buite realiseer Hy wat Hy in sy ontwerpende handelinge na binne...besluit het”. (Heyns 1988:72,73)

In die raad van God word daar onderskei ten opsigte van sy algemene besluite (providentie) en besondere besluite (predestinatie) (Feenstra 1960:558; Bavinck 1967 II: 336). (Hierdie onderskeiding dui nie op ‘n dualisme in die raad van God nie)

Die providentie ontspring uit die heilsopenbaring in Jesus Christus. “God het hierdie wêreld om Christus ontwil, in genade aangesien, en om sý ontwil het Hy sy greep op en bemoeienis met die wêreld nie ná die sondeval gestaak nie, maar geduldig daarmee voortgegaan” (Heyns 1988:144: Calvyn 1988 III:1165). Hiermee word die Vader as voorsiener en onderhouer van alles bely (APK-kerkboek 1993:141 – Apostoliese Geloofsbelydenis).

Die predestinatie (uitverkiesing) is “God se besluite oor die eindtoestand van die skepping in die algemeen en in die besonder oor die ewige bestemming van die mens” (Heyns 1988:78). Hierdie ewige bestemming is tot die ewige heil (electio – uitverkiesing) of tot die ewige verdoemenis (rejectio – verwerping) van die mens (DL. I:7; Calvyn 1988 III:1169).

In die lig van hierdie navorsingsontwerp – dat dit nie in die eerste plek ‘n dogmatiese studie is nie, maar wel pastoraal gerig is – word verder slegs daardie aspekte van die uitverkiesingsleer aangeraak wat vir die pastorale benadering van die lidmaat relevant is. Daar word op die volgende gelet: die uitverkiesing as ‘n Goddelike besluit; die objek; die doel van die uitverkiesing; die grond vir die uitverkiesing; die verband van die

uitverkiesing met die verbond; die verantwoordelikheid van die mens en die uitverkiesing en geloofsvolwassenheid (sien verder Jonker 1988; Berkouwer 1955; Baker 1981; Boettner 1965; Pink 1974; Custance 1979; Bavinck 1967 II: 344 e.v.; Marais 1978).

Die gelowige lidmaat se belydenis van ‘n Skeppergod wat Homself openbaar onder meer in sy almag, soewereiniteit, alwetendheid en regverdigheid, verseker hom van die feit dat God die uitverkiesing van die begin tot die einde in Homself bewerk (Klooster 1977:31; Ef. 1:4, 5, 11, 13, 14; 1 Pet. 1:2). Hierdie uitverkiesende handeling geskied in die ewigheid (Calvyn 1988 III:1157) onveranderlik volgens sy vrye, soewereine wil (Ef.1:5; Klooster 1977:32-34) en voorkennis (1 Pet. 1:2) in Homself, en is op die individu gerig (maar nie individualisme nie – Klooster 1977:34). Hiermee word die Drie-enige God as Subjek van die uitverkiesing aangedui, tesame met God se vrymagtige en soewereine wil as die grond daarvan.

Oosthuysen (1991:76 ev.), op voetspoor van ander dogmatoloë, is van mening dat Calvyn God se beeld vertrek en aan ons voorstel as “‘n absolute ‘willekeurmag’… , as ‘n ‘verwerpingsmag’ wat ook die sonde in ‘n sekere sin moes wil, as ‘n ‘noodlotsmag’ wat van Christus geabstraheer word”. Hiermee trap Oosthuysen in die strik waarteen Calvyn uitdruklik en sterk waarsku, naamlik dat Paulus reeds geleer het “hoe bespotlik dit is om die werke van God aan hierdie wet te onderwerp: (naamlik) dat ons hulle durf afkeur sodra hulle nie met ons rede klop nie. Monsteragtig is die dwaasheid van mense wanneer hulle volgens hulle beperkte verstand probeer meet wat onmeetlik is” (Potgieter 1988:396, 397). Calvyn het besef, wat Oosthuysen en andere nie besef het nie, dat die menslike logika – wat eie is aan hierdie eindige bestel – “nie op die wesentlik verskillende orde van die oneindige en ewige God van toepassing is nie" (Potgieter 1988:396).

Op voetspoor van Calvyn kan die Skrifopenbaring alleen eerbiedig word en voor gebuig word. Die uitverkiesing is die besluit van – en word in die tyd uitgevoer – deur die Drie- enige God sonder dat een van die Persone uitgesluit word (1 Pet. 1:2; Ef.1:4,5,13). Die Vader is die Outeur van die besluit in en deur die versoenende werk van Jesus Christus, terwyl die Heilige Gees, as waarborg van die uitverkorene se ewige erfdeel, die heiligheid bewerk (kyk ook Heyns 1988:79). Hoewel Calvyn se Skrifondersoek hom

daartoe gebring het om die Vader en Seun se aandeel in die uitverkiesing baie sterk te beklemtoon, het hy die Trinitariese karakter daarvan tereg ook duidelik aangetoon (Klooster 1977:32).

Hierteenoor het Barth (1978:105) die uitverkiesing algeheel hersien en doen hy weg met “die idee van ‘n absolute dekreet van ‘n verborge God” (Oosthuysen [1991] in opsomming van Afdeling III) en laat dit opgaan in die Seun as die geopenbaarde, verkiesende God. In die Seun se twee nature – waarlik God en waarlik mens – sien hy die verkiesende God, asook die verkore en verworpe Mens in een.

Hoewel dit Skrifgetrou is dat die mens “in Christus” verkore is, is dit onskriftuurlik om die uitverkiesing slegs Christologies te verstaan. Maar hierdie siening sluit nou aan by Barth (1978: 105) se Christologiese teologie.

In die aanbidding van ‘n Drie-enige God - Skepper en Onderhouer - wat geen mens is nie (1 Sam. 15:29), Wie se weë nie die mens se weë is nie (Jes. 55:8), maar wat ook neerbuigend lief het (Joh. 3:16), vind die gelowige lidmaat sy troos en veilige toevlug as eiendom van die Ewige God (Jes. 49:16). Die lidmaat is nie alleen daarvan verseker dat sy saligheid onwankelbaar vas staan in die almagtige welbehae van God nie, maar ook dat hierdie “saligheid binne bereik van alle soorte mensekinders gebring word” (Marais 1978:48).

God se beeldherstellingsproses word in die lidmaat, as begenadigde uitverkorene in Christus, van voor die grondlegging van die wêreld, voortgesit en voleindig volgens die onveranderlike raad van God. Dan weet die lidmaat dat alles wat in die lewe ervaar word, ten goede meewerk om hierdie proses van beeldherstelling suksesvol tot voltooiing te bring.

1.3.3.1 (b) Predestinasie - tot heil, of tot verwerping

Calvyn (1988 III:1157) word ernstig verkwalik (kyk Oosthuysen 1991) vir sy sogenaamde standpunt van ‘n dubbele predestinasie. Calvyn word verstaan as sou God heil en verwerping absoluut parallel hanteer as Outeur van albei.

Wanneer op ‘n parallelle wyse, deur middel van ‘n logiese deduksie vanuit die verkiesing met die verwerping gehandel word, gee dit sekerlik aanleiding tot verskeie vrae. Vrae soos: Bestem God sommige mense tot ongeloof? Is God dan die outeur van die sonde? Is daar ‘n verwerping in Christus soos daar ‘n verkiesing in Christus is? Ten opsigte van hierdie soort denke maak Heyns (1988:89) tereg die opmerking: “Wie sò in die dubbelheid van logiese sy en keersy oor verkiesing en verwerping dink, maak hom skuldig aan die dwaling van konklusivisme en eindig in ‘n soort ewewigsteologie wat Bybels nooit verantwoord kan word nie”.

In Efesiërs 1:3-6 openbaar God Hom as die Een (Outeur) wat, volgens sy welbehae voor die grondlegging van die wêreld, mense in Christus (en nie in die mens self nie) voorbeskik om sy kinders te wees “In Christus” is dus die “sleutel” tot God se genadige uitverkiesing. Diegene wat buite die geloofsverhouding met Christus staan, het nie deel aan hierdie voorbeskikking nie. Hierin kom God se barmhartigheid na vore (Rom. 9:15).

Diegene wat nie onder die genadige besluit van God gedek is nie word verwerp. Hierdie verworpenheid is ook gegrond in God se raadsbesluite. Paulus toon hierdie openbaring van God se vrymag duidelik aan wanneer hy daarop wys dat Jakob en Esau, nog voordat hulle enige “goed of kwaad gedoen het”, bestem is tot: “Die oudste sal die jongste dien.… Jacob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat” (Rom. 9: 11-13).

God se regverdigheid kom weer in die verwerping tot openbaring. Die mens wat nie die geloof in Christus in sy lewe aktualiseer nie staan buite en word verwerp: “in die verwerping (word) die sonde van die ongelowige mens oorsaaklik opgeneem en verdiskonteer” (Heyns 1988:90; Calvyn 1988 III:1169-1171). Die mens val in sonde soos God se voorsienigheid dit verordineer, maar hy val as gevolg van sy eie skuld (Calvyn 1988 III:1169-1171; NGb. Art. XVI; Potgieter 1988:399). Esau word verwerp as gevolg van die verkoop van sy eersgeboortereg (Heb. 12:16, 17); Farao word gestraf omdat hy sy hart verhard het (Eks.7:13, 23; 8:15).

In die verwerping het ons dus nie ‘n spieëlbeeld van die uitverkiesing nie. In God se Raadsbesluite gaan dit om “die diepe wysheid van ‘n ondeurgrondelik genadige en regverdige God” (Heyns 1988:92).

Die mens wat op die Woord van God reageer – wat in die prediking, in eie Skrifondersoek, in die getuienis van ander gelowiges aangehoor word en in die pastoraat gerealiseer word – reageer met die geloof as genadegawe van God. Christus skenk hulle die ewige lewe en hulle sal nooit, tot in ewigheid, verlore gaan nie (Joh. 10:28). Hierdie versekering bring dankbaarheid in die hart van die gelowige, maar spoor ook aan tot die dankbaarheidslewe, ‘n beeldherstellende lewe, ‘n lewe in Christus. Uitverkorenheid realiseer dus in die gelowige lidmaat se lewe soos verwerplikheid in die ongelowige se lewe realiseer.

1.3.3.1 (c) Uitverkore: waartoe en waardeur?

Die uitverkiesingsleer mag nie verskraal word tot twee lyste name wat vir die ewigheid bestem (met twee bestemmings) is nie. Inteendeel, die uitverkiesing omvat die hele genadewerk waardeur God in Christus ons voor die grondlegging van die wêreld in die hemel reeds geseën het met alle geestelike seëninge (Ef. 1:3; Marais 1978:91, 92). Die gelowige lidmaat se heilsweg begin in die ewigheid, in die Raad van God. Dit vind sy voortgang in die werklikheid van die tyd en loop uit op die verheerliking van God in die saamloop van alle dinge in Christus Jesus. “Election envelops the whole redemptive process from the eternal decree to its final accomplishment in glory” (Klooster 1977:44).

In hierdie heilsweg word die onmiddellike en einddoel van die uitverkiesing in Christus geteken. Efesiërs 1:3-6,12 stel dit as volg: “uitverkies in Hom om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees… voorbeskik om ons as kinders aan te neem… tot lof van die heerlikheid van sy genade...sodat ons kan wees tot lof van sy heerlikheid.” (kyk ook: 2 Ts. 2:13, 14; Hand. 13:48; Rom. 8:29; Luk. 12:32.)

Die onmiddellike doel vir die gelowige lidmaat is sy heiligheid (Ef.1:4), sy kindskap (Ef.1:5), sy saligheid (2 Tess.2:13), sy ewige lewe (Hand. 13:48) – as hier-en-nou gegewe wat kulmineer in die ewigheid, gelykvormigheid aan die beeld van Christus (Rom. 8:29; Joh. 17:24). Hiermee word die lidmaat in sy totale menswees – asook die pastorale fasilitering van die lidmaat – geplaas binne die skopus van God se soewereine wilsbesluit en die volvoering daarvan in optimale geloofsvolwassenheid.

sien in laaste instansie nie op ‘n aardse Kanaän nie, maar op die “erfdeel van die heiliges” (Hand. 20:32), en spesifiek die hemelse saligheid (Klooster 1977:92). Die finale verheerliking van God vind dan ook plaas in die laaste trap in die heilsweg van die gelowige mens.

In Sy se beeldherstellingsprogram verskaf God ook die wyse waarop die totale doel van sy soewereine wilsbesluit bereik sal word, naamlik deur die roeping, regverdigmaking en verheerliking (Rom. 8:29, 30; Klooster 1977:43). Daarmee is die fondament gelê vir die natuurlike mens se herstelling tot die nuwe mens in Christus.

1.3.3.1 (d) Predestinasie en Skriftuurlike geloofsvolwassenheid

Die uitverkore gelowige se potensiële geloofsvolwassenheid (in engere sin) lê opgesluit in die vóór-tydlike raad van God en Sy uitverkiesende genade. Daardeur word die betrokke indiwidu deel gemaak van God se beeldherstellingsprogram. God se raadsplan sluit in: wanneer, waar en hoe hy\sy wedergebore sal word en tot bekering sal kom om daarmee die proses van beeldherstel in die tyd te begin en voort te sit totdat die fisiese dood intree (Ps.139; Hand.9:1-19). (Aangesien die wedergeboorte uitsluitlik die werk van die Heilige Gees is, is hier nie sprake van determinisme nie.)

Hier is dus geen sprake van ‘n kronologiese proses en ‘n noodwendigheid van ‘n stadium waarop geloofsvolwassenheid (in engere sin) moet begin nie (soos in die psigologie van religie se geloofsontwikkelingteorieë). Verder is daar ook nie sprake van ‘n aangebore en natuurlike groei tot saligmakende geloofsvolwassenheid nie. Kreatuurlik gesproke begin die uitverkore individu se geloofsvolwassewording (in engere sin) die dag van sy bekering (Op. 3:20) wat Godbepaald en -geïnspireerd is (Fil. 2:13).

God se predestinerende rol in die lidmaat se beeldherstellingsprogram sluit nie die mens se verantwoordelikheid uit nie (Potgieter 1988:399). God dra en eerbiedig die mens in alle opsigte, ook die mens as verantwoordelike wese en beelddraer van God. In die Dordtse Leerreëls (III & IV, 16) word die volgende bely (APK-Kerkboek 1993:130):

So ook werk hierdie God delike genade van die wedergeboorte in die mens nie asof hulle stompe en stamme is nie; dit vernietig die wil en sy eienskappe nie en dwing dit nie met geweld teen sy sin nie, maar

maak dit geestelik lewend, genees dit, verbeter dit en buig dit tegelyker tyd sagkens en kragtig, sodat...daar nou ‘n gewillige en opregte gehoorsaamheid aan die Gees die oorhand begin te kry.

Calvyn (Potgieter 1988:399) bevestig die mens se toegelate verantwoordelikheid in sy verklaring van Fil. 2:12, 13:

Met eerbied en ontsag moet julle voortwerk aan julle verlossing, want dit is God wat in julle werk. ” Hy sê: “Hy (Paulus) gee hulle wel die opdrag om te werk, sodat hulle nie in die traagheid van die ou natuur verval nie. Maar deur hulle te beveel om dit met eerbied en ontsag te doen, vermaan by hulle tot nederigheid. Hy wil hulle daaraan herinner dat juis dit wat hulle as opdrag kry om te doen, eintlik God se werk is.

1.3.3.1 (e) Predestinasie en verbond

Die verbondsopenbaring van God as Skepper word geïnisieer vanuit die voor-tydlike bestaan van God en daarom in die ewige raad van God (Wentsel (2) 1982:159, 169; Heyns 1988:72; Janse van Rensburg 1996:153). In die raad van God vertoon Hy Homself soewerein en vrymagtig (Ef. 1:3-14).

Die verbond is aan hierdie volmaakte en ewige Raad van God verbind (Janse van Rensburg 1996:153). Die verband tussen verbond en uitverkiesing kan as volg kort saamgevat word: Die uitverkiesing is die inwendige grond van die verbond en die verbond is die uitwendige gestalte van die uitverkiesing (Janse van Rensburg 1996:152) (kyk ook Janse van Rensburg 1996:152; Hfst. 4:3.1.1.2).