• No results found

PRAKTYKTEORETIESE IMPLIKASIES MET DIE OOG OP GELOOFSVOLWASSEWORDING

2 PASTORALE ROLSPELERS

Die volgende rolspelers neem onder meer deel aan die pastorale konteks waarbinne die lidmaat gefasiliteer word tot geloofsvolwassenheid: die pastor, die lidmaat, die gemeente, en – oorkoepelend – die Heilige Gees.

2.1 Die pastor

2.1.1 Die pastor se roeping

oorlewing nie. Allereers is die sekerheid van ‘n persoonlike roeping deur God noodsaaklik. Voorbeelde uit die Skrif is onder meer: Op God se vraag oor wie Hy sal stuur, antwoord Jesaja: “Hier is ek, stuur my” (Jes. 6:8). Jesus se roeping van die dissipels was duidelik: “Kom hier agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hierop het die dissipels dadelik hulle nette verlaat. (Matt. 4:19,20). Saulus word Paulus op die Damaskuspad toe hy antwoord: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” (Hand. 9:6).

Geroepe wees word voorafgegaan deur ‘n persoonlike verhouding met die Lewende Verbondsgod (De Klerk 1989:134). ‘n Blinde kan tog nie ‘n ander blinde lei nie (Matt. 15:14).

Met die oog op die pastor se pastoraat in sy verbondsbediening is sy roeping nou verbind met Christus. Die pastor is ‘n werktuig in die hand van God “ten dienste de christologische bepaalde en pneumatologiesche gegarandeerde beweging van het heil van God na de mens toe” (Van Pelt 1999:298). Die mens in sy konkrete belewenis word dan die “landingstrook” van die soteriologies-geklaarde boodskap van die Woord. In die vertolking van die Skrifwoord word die Woord sowel as die pastor in diens van die Heilige Gees geneem tot instrument in Sy hand (Van Pelt 1999:302). Die Heilige Gees lê die woorde van vertolking in die mond van die pastor as instrument, maar pas dit tegelykertyd ook toe in die hart van die hoorder (Eseg. 36:26 ) en dra vrugte in die lidmaat se lewe (Gal. 5:22).

Die pastor is daarom instrumenteel in die hand van die Heilige Gees om die lidmaat, as beeld van God, optimaal te laat funksioneer te midde van sy verbondsomgang met God Drie-enig. Hierdie besef laat die pastor in ootmoed staan: coram Deo.

In die lig van bogenoemde word die pastor se eie verbondsomgang met God, en daarom sy eie vlak van geloofsvolwassenheid, onder die vergrootglas geplaas.

2.1.2 Die pastor se vlak van volwassenheid

Om pastor te wees beteken om met sy hele persoon in die roeping te staan. Geen deel daarvan staan buite sy verhouding met die lidmaat nie, maar funksioneer daarin mee. Alle fasette van die pastor se lewe word vanuit sy sentrale verbondsverhouding met God gerig. Daar is nie kompartemente van sy lewe waarin God nie ‘n sê het nie

(De Klerk 1989:124, 127). Sy psigiese- en geloofsvolwassenheid is daarom ‘n integrale deel van sy menswees. Die omskrywing van geloofs en psigiese volwassenheid, soos uiteengesit in hoofstuk 3:1.2–1.6, is ook op die pastor van toepassing.

In sy basiese roeping om lidmate tot geloofsvolwassenheid te lei (Ef. 4:11-13), is dit verder nodig dat die pastor reeds ver op die pad van geloofsvolwassewording moes gevorder het. Duidelike merktekens van die “volle grootte van Christus” sal die beeld van God, in Christus, in sy lewe afteken. Paulus se pastorale aansporing van die jong Timoteus tot geestelike groei in die genade van God en die oorgawe aan die Heilige Gees is ‘n sprekende voorbeeld (1 Tim. 1:18, 19; 1 Tim. 4:12-16; 2 Tim. 1:14).

Psigiese en geloofsonvolwassenheid by die pastor is die teelaarde vir allerlei probleme wat sy professionele ampsvervulling nadelig beïnvloed (Janse van Rensburg 2004:594).

De Klerk (1989:124) is oortuig daarvan dat pastorskap alleen tot sy reg kan kom in noue verbondenheid met die geloof en rypheid (psigiese gesondheid) van die pastor self. Louw (1997:304) stel dit nog indringender: “Dit is wie die pastor is, wat grootliks bepaal wat die uitwerking is van wat die pastor sê en hoe hy dit sê.”

Die pastor se vlak van volwassenheid kom in die besonder na vore in sy interpersoonlike kommunikasievaardighede in die pastorale gesprek (Du Toit 1989:36-58; de Klerk 1978:62-85). In die pastor se toegespitste gesprekvoering word sy eie volwassenheid/onvolwassenheid ook weerspieël ten opsigte van sy hantering van die interpersoonlike dinamiek, empatiese meelewing, skepping van ‘n warm gespreksruimte, en die besef van eie beperkings en vermoëns (De Klerk 1978:76- 85).

In die uitlewing van die pastor se eie volwassenheid stel hy ‘n praktiese voorbeeld aan die lidmaat vir navolging. Janse van Rensburg (2004:294, 295) se studie aangaande pastorale integriteit wys tereg op die noodlottige gevolge wat ‘n gebrek aan persoonlikheidsintegriteit op die pastorale verhouding het.

2.1.3 Die pastor se opleiding en toerusting

Die verkryging van teologiese en gedragswetenskaplike kennis lê hoofsaaklik in die pastor se opleiding. Elke denominasie het daarom sy eie vereistes vir die opleiding van sy teologiese studente. Kurrikula word saamgestel om die teologiese belydenis en doelwitte te ontmoet.

Die lidmaat soek die pastor op met die voorveronderstelling dat hy oor die nodige kennis beskik omtrent die hantering van die lidmaat se behoeftes (Janse van Rensburg 2004:589; Louw 1997:78-80). Verdere opleiding moet hierdie kennis in professionaliteit rugsteun. Die aanspraak van die postmoderne narratiewe terapie van die “not knowing” van die pastor word hiermee verwerp (Kyk Hfst. 5.).

Dit is onder meer die opleiding van die pastorale berader/terapeut wat hom onderskei van ‘n Christen-psigoterapeut (Brenner 1992:17, 24), want dit stel die pastor in ‘n posisie om vanuit ‘n unieke perspektief (die Woord van God binne die raamwerk van die Gereformeerde belydenis) lidmate en hul probleme te benader. Die begeleiding tot optimale geloofsvolwassenheid vanuit teologiese perspektief verleen ‘n unieke karakter aan die pastorale beraad/terapie.

Kennis van psigologiese aspekte (soos psigoterapeutiese tegnieke, gedragsmodi- fikasie en sisteemteoretiese modelle) verhoog die pastor se bekwaamheid en geskiktheid (Louw 1997:510).

Gesien vanuit die navorsing van hoofstukke 2 en 3 blyk dit dat die teologiese opleiding onder meer die volgende aspekte deeglik sal moet opvang in die vakkeuses met die oog op doeltreffende pastoraat deur die pastor:

• In die dogmatologiese vakke: In die besonder die antropologiese Skriftuurlike grondslae; die soteriologie; pneumatologie met spesiale verwysing na die werk van die Heilige Gees in die gelowige en geloofsvolwassenheid.

• In die diakoniologiese vakke: In die besonder die verbondsmatige basisteoretiese uitgangspunte vir die Gereformeerde pastoraat.; geloofsvolwassenheid as ‘n basiese doelstelling van die pastoraat; gespreksbenaderinge; ‘n oorsig oor gespesialiseerde pastorale situasies;

die praktiese opleiding in die hantering daarvan; asook die wisselwerking tussen geloofs- en psigiese volwassenheid (vgl. De Jongh v. Arkel 1988:8).

• In die psigologiese vakke: ‘n Basiese oriëntasie ten opsigte van die psigologie, persoonlikheidspsigologie en psigiese volwassenheid, psigoterapie en psigopatologie.

• Verder moet daar aandag gegee word aan die student se eie volwassewordingsproses. Dit kan goedskiks gedoen word aan die hand van Roux (1992) se doktorale proefskrif wat handel oor ‘n psigo- opleidingsmodel om teologiese studente tot volwassenheid te begelei. In die evaluering van die studente se persoonsamestelling kan van psigometriese toetse gebruik gemaak word. Die evaluering geld nie net vir die pastoraat nie, maar ook vir die student se gereedheid vir die bediening (vgl. Janse van Rensburg 2004:593, 594).

‘n Pastor wat in sy persoon ‘n hoë vlak van volwassenheid (psigiese en geloofsvolwassenheid) bereik het, is pastoraal die beste toegerus om sy roeping te volvoer, naamlik om deur ‘n Verbondsbediening die lidmaat te begelei tot die optimale vlak van geloofsvolwassenheid.

2.2 Die gemeente

‘n Verbondsbediening bestaan nie net uit ‘n bediening van individue nie, maar ook uit ‘n gemeente as ‘n eenheid. Die genadeverbond is met Abraham en sy nageslag gesluit. In Nuwe-Testamentiese lig behels dit ook die hele gemeente. In ‘n verbondsgemeenskap verbind die verbond in Christus die lidmaat met God en met sy medelidmaat. (Van Pelt 1999:104, 312).

Hendriks (1992:108) beskou die klem wat op die liggaamsmodel gelê word, asook die aanvullende koinonia-verbande en die belang van kleingroepe en diensgroepe as tekenend van hierdie onderlinge versorging in gemeentes.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis word bely dat die gemeente se skepping op Pinksterdag aan die Heilige Gees toegeskryf word (APK-Kerkboek 1993:141; Burger 1991:27). Die inwoning van die Heilige Gees in elke lidmaat bewerkstellig die verbondsomgang in die gemeente.

Uit die volgende Skrifgedeeltes word hierdie pastorale sorg vir mekaar duidelik: