• No results found

Die kognitiewe benadering

PASTORALE RELEVANSIE VAN VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1 VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1.1 Teorieë in verband met Volwassenheid

1.1.3. Die kognitiewe benadering

In die kognitiewe benadering tot menslike ontwikkeling word daar slegs op die kognisie gekonsentreer as spesialiteitsveld. In die kognitiewe benadering word daar ook gedifferensieer. Piaget (1976a:v) neem met goedkeuring kennis van die logiese verbreding van sy teorie in nuwere studies wat op sy oorspronklike teorie gebaseer is. Verder erken Piaget (1976b:11) dat "Piaget's Theory" nie afgehandel is nie en beskou hy homself as een van die hoof "revisionists of Piaget". So is daar diegene wat die ontwikkeling van kognisie verduidelik (Piaget en neo-Piagetiane), terwyl ander weer klem lê op die inligtingsverwerkingsaspek (hulle let byvoorbeeld op taal, geheue en intelligensie) (Meyer & Van Ede 1990:74). (Vgl. ook Birch 1997:147-122)

Vir die doel van hierdie navorsing word daar hoofsaaklik op Piaget gekonsentreer. In noue aansluiting by Piaget word Kohlberg, met sy morele ontwikkelingsteorie, ook nagegaan.

1.1.3.1 Jean Piaget

Piaget word beskou as die belangrikste verteenwoordiger op die gebied van die kognitiewe benadering. Hy werk nou saam met B. Inhelder (Miller 1983:35; Birch

1997:65-73).

Kennis kom vir Piaget (Inhelder 1976:1) nie voor in ‘n statiese vorm nie, maar is "a constructive process characterized by its origin and development" (vgl. Kallio & Pirttila- Backman 2003:135). Vir Piaget is die kognitiewe funksionering ‘n wyse van interaksie met die omgewing waardeur ‘n belangrike oorlewingsfunksie verrig word (Meyer & Van Ede 1998:76; Piaget 1976b:13).

Kognitiewe ontwikkeling geskied en word voortgesit aan die hand van die voortdurende interaksie tussen die volgende ontwikkelingsfaktore (Van Rensburg 1973:16):

Aangebore begaafdheid tesame met rypwording van die senuweestelsel (Ryping); sosiale oordrag aan die hand van onderrig deur middel van die taal (Sosiale oordrag); rykheid van omgewingservaringe (Ondervinding); ‘n toestand van ewewig (Ekwilibrium) wat deur die kind se eie transformasie van objekte in sy omgewing bereik word (Ekwilibrasie).

Ekwilibrasie is die belangrikste determinant.

Kognitiewe gedrag word, volgens Piaget (1976c:50; Meyer & Van Ede 1998:74), ontlok wanneer ‘n wanbalans of disekwilibrium ontstaan en daar ‘n gerigtheid op die herstelling van die ekwilibrium is.

Intelligensie se basiese funksies is daarop gerig om aanpassings in probleemsituasies te maak. Die beginsels wat alle funksionering van menslike gedrag begrond, is dié van organisasie en adaptasie, terwyl laasgenoemde weer bestaan uit assimilasie en akkommodasie. (Kyk verder Meyer & Van Ede 1998:73-83; Bee & Boyd 2003:41-41, 222-223; Green & Piel 2002: 281 e.v.).

Volgens Kallio & Pirttila-Backman (2003) is daar, veral in Europa, nuwere uitbreidings op Piaget se model wat voorsiening maak vir ‘n “postformal” ontwikkelingstadium. (Vgl. ook Johnson 1996).

Evaluering van Piaget se teorie:

Piaget se teorie is reeds vir meer as 50 jaar die hoofstimulus vir navorsing ten opsigte van die rol wat kognisie in die menslike ontwikkeling speel (Ripple et al 1982:64). Piaget

dien nie sy teorie aan as ‘n allesomvattende ontwikkelingsbeskrywing van die mens nie.

t Oor die algemeen, lê die waarde van Piaget se teorie daarin dat die waarde van kognisie in die ontwikkeling uitgelig word, sy waarde as ‘n integrerende en ontdekkende teorie, die verrassende ontbloting van kinderdenke en die wye dekking van die hele lewensloop (Miller 1983:86).

t Soos enige teorie is hierdie teorie ook nie sonder tekortkominge nie. Kortliks kan die volgende genoem word (Miller 1983:92): ‘n tekort aan formele afgerondheid, ‘n behoefte aan ‘n samevattende teorie in verband met die praktiese omskrywing van die omvorming van strukture in gedrag en te min aandag wat aan sosiale en emosionele ontwikkeling gewy word.

t Geplaas binne die raamwerk van die onderhawige studieveld, het Foster en Moran (1985:97) reeds daarop gewys dat daar ‘n merkwaardige ooreenkoms bestaan tussen Piaget se kernbegrippe, naamlik assimilasie, akkommodasie disekwilibrium, en Jesus se onderrigmetodes in sy gebruik van gelykenisse. Die doel van hulle ondersoek vind sy kulminasiepunt daarin "to develop a teaching technique in which theorists can put their confidence, as Christians, psychologists, and educators" (Foster & Moran 1985:102). In Piaget vind Foster en Moran hierdie moontlikheid om ‘n onderrigmetode te skep en sodoende ‘n integrasie te bewerkstellig tussen ‘n psigologiese en teologiese metode.

t Die kognitiewe gedragsterapie, waarin daar sterk uitgegaan word van die kognitiewe benadering van die mens, het ook begin veld wen onder Christenterapeute (Tan 1987:103).

t Dit is duidelik dat die kognitiewe benadering van menslike ontwikkeling ‘n beduidende komplementerende rol in die volwassewording van die lidmaat kan speel.

1.1.3.2 Lawrence Kohlberg

Geïnspireer deur en in aansluiting by Piaget se navorsing, het Kohlberg sy morele ontwikkelingsteorie opgestel (Meyer & Van Ede 1990:359; vgl. ook Birch 1997:158-163).

Na sy ondersoek van 75 seuns in die ouderdomsgroep 10-16 jaar (Kohlberg 1979:31), het hy tot die gevolgtrekking gekom dat daar sisteem is in die ontwikkeling van die

mens. Verder kom hy tot die gevolgtrekking dat daar, in die breë, ‘n korrelasie bestaan tussen die vlak van morele ontwikkeling en die kognitiewe ontwikkeling van die kind (Kohlberg 1966:398, 405). Hy sien verder dat intellektuele ontwikkeling ‘n belangrike voorvereiste is vir morele denke.

Hoewel daar baie ooreenkomste tussen Piaget en Kohlberg se teorieë is, lê die basiese verskil daarin dat Kohlberg die morele ontwikkeling van die mens nie by die middelkinderjare laat ophou nie (soos by Piaget), maar dit laat deurgaan na die volwasse stadium (Meyer & Van Ede 1998:359).

Kohlberg (1979:132) formuleer die morele ontwikkeling van die mens in drie vlakke: die pre-konvensionele, die konvensionele en die post-konvensionele vlak. (Sien verder Kohlberg 1966, 1969; Meyer & Van Ede 1998:465-471; Green & Piel 2002: 323 e.v.; vgl. ook Johnson 1996:84, 85)

Die volgende opmerkings is relevant:

t Weer eens is dit net een van die aspekte van die menslike ontwikkeling wat hier onder die vergrootglas kom. Kohlberg se studie inisieer egter vele ander studies (Ripple et al 1982:364).

– Kurtines en Greif (Ripple et al 1982:365), en 'n aantal ander outeurs lewer kritiek op verskeie formele en informele aspekte van Kohlberg se teorie. Hierdie kritiek kan as volg saamgevat word:

– Van die nege dilemma-sketse waarmee Kohlberg sy toetse afgeneem het, het hy net ‘n gemiddeld van ses sketse gebruik. Gevolglik is sy proefpersone nie met die volle toets geëvalueer nie (Ripple et al 1982:365).

– Kurtines & Greif (Ripple et al 1982:365) bevraagteken verder Kohlberg se samestelling van die dilemmasketse wat hoofsaaklik op seuns gerig was. Dit bring mee dat dogters laer morele ontwikkelingstellings kry as seuns. Terwyl Gilligan (Meyer & Van Ede 1998:470) dieselfde beswaar het, grond sy dit op die feit dat haar eie navorsing daarop wys dat seuns en dogters verskillende opvattings in verband met moraliteit het.

Daarom sal die dogters laer toets as die seuns wanneer met ‘n seunsgeoriënteerde maatstaf getoets word.

– Hoewel daar bewys is dat daar ‘n positiewe verband is tussen morele en kognitiewe ontwikkeling, blyk dit dat Kohlberg moontlik te veel klem lê op die kognitiewe faktore, en te min rekening hou met emosioneel beïnvloedende faktore. Opvoeding het ook ‘n beduidende invloed (Meyer & Van Ede 1998:471).

– Die moontlikheid dat die proefpersone teoreties op die toetse antwoord, maar dit nie in die praktyk toepas nie, skep ook ‘n probleem (Meyer & Van Ede 1998:470). Dit bring mee dat Kohlberg se teorie net gegrond is op teoretiese aannames wat dalk nie in die praktyk geldig is nie.

t In die lig van Kohlberg se psigologies-wetenskaplike navorsing, blyk dit dat elke mens wel ‘n moraliteitsdenke het (of hierdie denke in elke mens die volle pad van "doen" loop, is ‘n ope vraag [Ward 1983:10]). In sy navorsing omskryf hy dus op ‘n nie- teologiese wyse ‘n karaktertrek van die mens waardeur, in algemene terme, gewoonlik ‘n "gewete" of "super-ego" (Kohlberg 1969:362) toegeken word. Joy (1983:39, 40) wys daarop dat Kohlberg sy eie siening as "naturalisties" beskryf. Die inhoud van en die maatstaf waarvolgens hierdie waardestelsel bepaal word, sal vanuit ‘n Gerefomeerd- teologiese epistemologie sy eie interpretasie bied.

Stadium 6 van die post-konvensionele vlak van Kohlberg se ontwikkelingsteorie waarin die oriëntasie volgens universeel-etiese beginsels plaasvind (ook genoem gewetens- en beginseloriëntering), is hier by uitstek relevant vir hierdie studie. Kohlberg se waarneming van die ontwikkeling van hierdie inherente moraliteitsdenke by die groeiende mens volgens ‘n eie gewete en selfverkose geïnternaliseerde abstrakte etiese beginsels, word vanuit Gerefomeerd-teologiese gesigspunt beskryf as die inwerking van die algemene openbaring van God Drie-enig (Bavinck, 1909:35). Deur middel van hierdie “natuurlike instink...het God self by alle mense ‘n bepaalde begrip van Sy Goddelike mag ingeskerp” (Calvyn 1984, 1:121). Hierdie “kiem van (die) godsdiens” - semen religionis - bring mee dat die groeiende mens sy gedrag moreel en sedelik kan instel en is hy van huis uit ‘n godsdienstige wese (Calvyn 1984, 1:121; Bavinck

1909:35; Heyns 1988:10; Rom. 2:14,15). Berkouwer (1957:47) se standpunt word ondersteun, naamlik dat die natuurlike teologie in hierdie verband nie onderskryf kan word nie.

Heyns (1988:9) wys tereg daarop dat die funksionering van hierdie gewete nie verwar moet word met die Goddelike inspraak deur die Heilige Gees in die gelowige mens as gevolg van die besondere openbaring nie. Daar is norme en wette in die lewe wat die ongelowige mens intuïtief en rasioneel erken, aanvaar en gehoorsaam.

t Hierdie raakpunt tussen psigologie en teologie (in die beskrywing van dieselfde karaktertrek van die mens) wys nie net op die integreringsmoontlikheid tussen psigologie en teologie nie, maar maak die gebruik van Kohlberg se teorie (in die breë) toeganklik vir hierdie studie. (Hiermee kompromitteer navorser homself nie ten opsgte van Kohlberg se teorie nie).

t Joy (1983:49-53) beskryf ‘n vyftal raakpunte met Kohlberg en met die strukturele ontwikkeling in die algemeen: – Hy vind die volgende in Kohlberg se teorie: "Justice is complex and comprehensive"; "Justice is the core of morality"; "Justice, hence morality, is a function of perception"; "Humans are held in positive regard"; "Humans are morally accountable."

Sonder om verder daarop in te gaan, is die positiewe gebruik van Kohlberg se teorie in die tipering van volwassenheid baie duidelik.