• No results found

Die aard van geloofsonvolwassenheid

PASTORALE RELEVANSIE VAN VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1 VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1.2 Psigiese volwassenheid

1.4.2 Die aard van geloofsonvolwassenheid

Uit die voorafgaande terminologiese omskrywing blyk dit duidelik dat geloofsonvolwassenheid nie enkelvoudig omskryf kan word nie en dat dit kompleks van aard kan wees.

Die Skrif maak ook melding van hierdie aspek van onvoldoende godsdiensbelewing. Paulus identifiseer hierdie toestand by die Korintiërs (1 Kor. 3:1-3) en spreek hulle as volg aan:

En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

Hierdie gelowiges het vasgesteek by die suigelingstadium, sonder om verder te vorder op die pad van geloofsvolwassewording tot by die vaste spyse-stadium. (Vgl. ook Jesus se teleurstelling by die onvrugbare vyebome en sy drastiese optrede in hierdie verband – Matt. 21:18-22; Luk. 13:6-9; Matt. 12:33-37) Paulus se kritiek teenoor hierdie gelowiges gaan nie oor die ”melkstadium” as sodanig nie (dit is immers die beginpunt van enige pasbekeerde gelowige), maar oor die feit van stagnering by hierdie stadium. Terwyl hulle reeds die Heilige Gees ontvang het, was hulle veronderstel om soos geestelike mense (mense wat deur die Heilige Gees gelei word na geloofsvolwassenheid) op te tree (Grosheide 1966:39). Daarmee het hulle “vleeslik” geword en klein kindertjies in Christus gebly. As teken van hierdie stagnering, kom daar nog vroeëre sondes na vore en leef hulle asof daar geen onderskeid is tussen hulle en die onbekeerde wêreld nie. Hulle word nog deur die sondige vlees beheers (1 Kor. 3:39).

In hierdie Skrifgedeelte onderskei Paulus dus tussen vleeslike Christenskap (‘n sondige, menslike wese) en geestelike Christenskap (gehoorsaam aan die lering van die Heilige Gees).

Oates (1970) gee ‘n breedvoerige beskrywing van die aard van “siek godsdiens” in sy studie When Religion gets Sick. Sy navorsing het hom daartoe gebring dat hy die aard van siek godsdiens onder meer saamvat in vyf stellings (1970:25-155):

Afgodery dui op ‘n siektetoestand. Afgodery tree vir Oates (1970:25) in wanneer relatiewe lewenswaardes ewige en fundamentele waardes vervang. Sò ‘n persoon “is on the way to becoming off-center, disturbed, unbalanced, and sick at the core of his religious life” (Oates 1970:25).

Een van die duidelikste Skrifgedeeltes wat hierdie stelling illustreer is die oproep van Jesus Christus in Matteus 7:33, naamlik: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”. Die Heidelbergse (Kategismus, APK-Kerkboek 1993:104) vat hierdie Skrifwaarhede saam met die volgende woorde: “Afgodery is, om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, of naas Hom, iets anders te versin of te hê, waarop die mens sy

vertroue stel”. Verkeerde Godsvoorstellinge speel dus ‘n rol (Louw 1997:292, 293).

Bygelowigheid en magie. Dit is wanneer ‘n persoon alle verantwoordelikheid van rampe en ellendes totaal en al aan God toeskryf en daarmee ook alle verantwoordelikheid op Hom laat rus vir die ten goede keer daarvan. Hierdeur word God die outeur van alle menslike teëspoed gemaak. Oates tas met hierdie stelling nie God se albestuur aan nie, maar wys op die mens se pion-houding – sonder geloof – ten opsigte van alle gebeure sonder sy eie verantwoordelikheid. Verder maak so ‘n persoon God die oorsprong van die kwaad wat Skriftuurlik onhoudbaar is.

Die individu word in isolasie godsdienstig siek (Oates 1970:82). Dit verwys

na die gebrek aan geestelike warmte en deelname deur die godsdiensgemeenskap tydens die persoon se belangrike oorgangskrisisse. Die gebrek aan, die totale afwesigheid van, of selfs die tydelike afsny van hierdie gemeenskaplike meelewing, lei tot die mislukking van sy godsdienstige funksionering.

• Die vraag na ‘n persoon se eie religieuse en fisiese staanplek in die lewe is

grondliggend aan die wese van geloof (Oates 1970:102). Wanneer die individu se

staanplek nie erken word, hy dit misgun word, dit gedeel word, of van hom weggeneem word, ontwikkel ‘n toestand wat algemeen bekend staan as ‘n emosionele versteuring. (Met hierdie stelling sluit Oates nou aan by die eksistensialistiese terapeute.)

Vergifnis en onvergewensgesindheid (Oates 1970:125). Godsdiens word siek

wanneer ‘n persoon onwillig is, of nie in staat is, om die vergiffenis van God en sy medemens te aanvaar nie; of onwillig is, of nie in staat is, om diegene wat van hom vervreemd is, te vergewe nie. Dit is asof hy ‘n muur van onvergewens-gesindheid rondom hom bou.

Godsdienspatologie word ook saamgevat as synde (Louw 1993:234):

◊ rigiede beskouings met ‘n moralistiese ondertoon;

◊ die misbruik van godsdiens deur, onder meer, die selfsugtige inspan van God vir persoonlike doeleindes, of die manipulering van God deur middel van godsdienstige praktyke;

◊ fanatieke optredes en gevolglike kontakverlies met die werklikheid;

◊ asketiese gedrag en lewensvreemdheid;

◊ kunsmatige bindinge en piëtistiese eksklusiwiteit.

Louw (1993:234) wys daarop dat die ‘n grondliggende probleem meestal ten grondslag lê van godsdienspatologie, naamlik “‘n voortdurende wisselwerking tussen ‘n neurotiese persoonlikheidstruktuur en ‘n valse of verkeerde Godsvoorstelling” (met die oog op die latere [1.5.4] wisselwerking tussen psigiese- en geloofsvolwassenheid is dit nodig om te let op die interaktiwiteit van die psigologiese en religieuse binne die mens as eenheidswese). Die pastorale bediening sal dus rekening moet hou met die belangrike faktor “dat mense se Godskonsepte ‘n integrale bestanddeel is van geloofsgedrag en mense se psigiese struktuur” (Louw 1993:234; van Jaarsveld & Janse van Rensburg 2002:179-197).

Geloofsonvolwassenheid kom dus neer op volharding in die werke van die vlees in plaas daarvan om deur die Gees te wandel (Gal. 5:16,19). Dit hang ook saam met die bedroewing van die Heilige Gees.

Die identifisering van die teenwoordigheid van geloofsvolwassenheid sou goedskiks ook dien as aspekte wat die groei na geloofsvolwassenheid steun.

1.5 Verhouding: psigiese volwassenheid en geloofsvolwassenheid