• No results found

Posisionering ten opsigte van Skrifbeskouing

GEREFORMEERDE PERSPEKTIEF

2.1 Posisionering ten opsigte van Skrifbeskouing

Die teologie het nie die postmoderne invloed ontsnap nie. Daarom is dit nodig om geposisioneer te word ten opsigte van die Bybel as Woord van God.

Die Bybel word uit verskillende kante bevraagteken. Uit Amerikaanse oord is daar sprake van “The battle of the Bible” (Oosthuizen 2004). Spangenberg (2004) se onderskeid tussen die “meesterverhaal” en die Bybelverhale in die Bybel trek ook die aandag. Die volgende vra ernstige besinning wanneer ‘n Skrifbeskouing vasgestel moet word: Die postmoderne ”die dood van die outeur”; daar is geen vaste struktuur in die teks nie en daarom ook geen vaste interpretasie daarvan nie; daar is ook geen absolute waarhede en vaste waardes nie; die teks is dinamies en het ‘n “open- ended” karakter wat ‘n finale analise onmoontlik maak; en die dood van God as subjek (Janse van Rensburg 2000a:5). (Vgl. hfst. 5:3.1.2 waarin hierdie aspekte van die postmodernisme volledig bespreek word.)

Weens die ondergeskikte plek wat die beredenering van die Skrifgesag in hierdie studie inneem, word daar volstaan met die Nederlandse Geloofsbelydenis (Art. 2-7) se belydenis aangaande die Woord van God.

Die volgende uitgangspunte is belangrik:

Die heilige Skrif is, naas die ander gestaltes van die Woord van God, die

geskrewe Woord van God (Potgieter 1990:15-17; Heyns 1992:80-82). Dit is die

alleenspreke van God tot die mens om uitdrukking aan sy wil te gee. "maak Hy Homself aan ons nog duideliker en meer volkome bekend deur sy heilige en Goddelike Woord" (N.Gb., art. 2, APK-Kerkboek 1993:52).

Ten opsigte van die inspirasie van die Bybel (teopneustie) bestaan daar verskeie teorieë, naamlik die meganiese, dualistiese, dinamiese of personele, aktualistiese, dialogiese en organiese inspirasieteorieë (Potgieter 1990:18-21).

Onder teopneustie word letterlik verstaan “inspirasie van God”; dit wil sê "daardie leiding van die Heilige Gees wat die Bybelskrywers in staat gestel het om ‘n betroubare skriftelike gestaltegewing aan Gods Woord vir die mens van alle tye te skenk." (Potgieter 1990:21-23; Heyns 1988:23; 2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21).

Voorkeur word aan die organiese inspirasieleer gegee. Hierin "bely (ons) dat hierdie Woord van God nie gestuur of voortgebring is deur die wil van ‘n mens nie, maar die heilige mense van God, deur die Heilige Gees gedrywe, het dit gespreek,....Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, sy knegte,...beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel;" (N.Gb. art. 3, APK- Kerkboek 1993:52,53).

Die volgende eienskappe van die Bybel word omskryf (Heyns 1988:29-35; kyk ook Peels 1996: 55-62):

Die Bybel het gesag omdat dit, en dit alleen, die boek is van God se spreke (N.Gb. art. 5, APK-Kerkboek 1993:53, 54). Die Bybel is outopistos (gesag lê in homself) (Hesselink 1997:57). Hierdie gesag is geestelik, universeel, allesoor- dekkend en eisend van aard.

Die Bybel is ook betroubaar (Joh. 17:17; 1 Tim. 1:1-15). Die betroubaarheid is gesetel in die betroubaarheid van God self.

Die boodskap van die Bybel is genoegsaam – sonder aanvulling of weglating – om die mens tot saligheid te bring. "Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid, daarin genoegsaam geleer word. Want aangesien die hele wyse van die diens wat God van ons eis, daarin uitvoerig beskrywe is, is dit aan geen mens...geoorloof om anders te leer nie as wat ons alreeds geleer word deur die Heilige Skrifte;” (N.Gb. art. 7, APK-Kerkboek 1993:52, 53; 2 Tim. 3:16, 17).

Die Bybel is noodsaaklik om Christus as Saligmaker en Verlosser aan te dui (Joh. 20:31).

Vanuit bogenoemde kursoriese begronding, kan die volgende konkluderende stellings gemaak word ten opsigte van die Skrifbeskouing met die oog op die samestelling van ‘n Bybels-pastorale mensbeeld:

• Dit is duidelik dat die Bybel "nie ‘n handboek vir die wetenskap of kuns nie, en ook nie ‘n ensiklopedie met allerlei wetenswaardighede" is nie (Heyns 1992:72; Polman s.a.:122). Daarom konkludeer Polman (s.a.:123): "Die Bijbel geeft geen theologie, geen uitgewerkte dogmatiek, geen volledige kerkorde, geen leerboek voor die catechisatie, geen nauwkeurig geformuleerde belydenis". Hierby kan ook gevoeg word: geen uitgewerkte antropologie nie. Hierdie feit word algemeen aanvaar (Heyns 1992:73; 1988:119; Kotze 1971:148; Knouwds 1989:25; Berkouwer 1957:211.)

• Die hele Skrif is Godgeïnspireerd (Potgieter 1990:22). Hierin het die Heilige Gees mense in hulle totale menswees voorberei en gebruik as selfbewuste en selfstandige wesens om, onder leiding van die Heilige Gees, die Godsopenbaring neer te skryf binne die raamwerk van elkeen se eie persoonlikheid en gawes (Heyns 1992:85,6; Bavinck 1932:46).

• Die Skrif bevat alles genoegsaam en volkomelik om die geopenbaarde wil van God te ken, die weg tot saligheid vir die mens aan te dui (as eindbestemming); en die hele wyse van die diens aan God te omskryf (NGb art. 7; Potgieter 1990:24; Heyns 1992:106-108; 1988:32).

• Die Skrif omskryf die lewensgesitueerde praxis van die mens as diens aan God in sy beweeg na sy eindbestemming (Kol. 3:17,23). Dit is vir die mens geskryf en spreek ook oor die mens.

• Hierdie praxis-omskrywing omvat die totale mens in sy karaktertrekke en handelinge terwyl hy telkens as ‘n eenheid optree. Dit rig die mens as ‘n eenheid in sy konkrete bestaan ten opsigte van religieuse verhoudings (o.a. Joh. 3:16), psigologiese trekke (kognitief, affektief en konatief) (o.a. Joh. 14:15; 14:27; 16:20, 22.), en sy liggaamlike bestaan (o.a. Joh. 3:16; 1 Sam. 1:8; Gen. 4:5, 6; 1 Kor. 13:3).

Dit is moontlik (en noodsaaklik) om die karaktertrekke van die mens in sy totale bestaan (Heitink 1979:84) na te gaan in die bestudering van die Bybelse gegewens. Op hierdie Bybelse gegewens is die antropologie gegrond. In die pastor se fasilitering van die lidmaat tot geloofsvolwassewording bly die Woord die “lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps. 119:105).