• No results found

PASTORALE RELEVANSIE VAN VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1 VOLWASSENHEID AS FENOMEEN

1.2 Psigiese volwassenheid

1.2.1 Positiewe selfkonsep

‘n Positiewe selfkonsep is van wesenlike belang vir ‘n volwasse persoon en word deur die meeste teoretici aanvaar as 'n kenmerk van psigiese volwassenheid. ‘n Persoon ontwikkel ‘n goed gedefinieerde selfkonsep wanneer hy homself akkuraat en eerlik kan waarneem om sodoende tot realistiese kennis van homself te kan kom.

n Selfkonsep kan as volg omskryf word (Burns 1979:3; Gerdes et al 1988:87): "Die selfkonsep is ‘n saamgestelde beeld van wat ons dink ons is, wat ons dink ons kan bereik, wat ons dink ander van ons dink en wat ons graag sou wou wees." Gerdes et al (1988:87) omskryf die selfkonsep (selfbeeld) as "’n persoon se siening van sy eie attribute wat in terme van sekere aspekte gekategoriseer kan word". Dan omskryf Gerdes et al die volgende attribute:

§ die fisieke selfkonsep of liggaamlikheid;

§ die intellektuele selfkonsep - waarneming van eie intellektuele vermoëns en talente; § die psigologiese selfkonsep wat verband hou met konstante persoonlikheids-

eienskappe, kenmerkende emosionele toestande en temperamentele kwaliteite; § die geslagtelike selfkonsep - identifikasie met die eie geslag;

§ die ideale self - wat hy die graagste sou wou wees en die bereiking daarvan; § selfagting - evaluering van homself en die gevoel van eiewaarde.

Die selfkonsep ontwikkel geleidelik deur verskillende stadia vanaf die babajare, en word deur terugvoering van betekenisvolle persone in sy lewe teweeggebring.

Beginsels, idees en oortuigings speel ‘n prominente rol in die bepaling van ‘n persoon se gedrag. Enige verandering wat in ‘n persoon se selfkonsep aangebring wil word, impliseer eers verandering van sy vooropgestelde, gevormde idees, verwagtings en aannames.

Selfbegrip en identiteit is vir baie teoretici sinonieme begrippe. Egan en Cowan (1980) definieer identiteit as ‘n stabiele mening van jouself wat gedeel word met betekenisvolle persone en sluit interne (sielkundige) en eksterne (sosiale) komponente in.

Gerdes et al (1988:95) onderskei egter drie aspekte van identiteit, naamlik: § openbare identiteit wat na ‘n mens se posisie (sosiale rol) in die samelewing

verwys;

§ persoonlike identiteit wat na ‘n mens se gevoel van kontinuïteit verwys en impliseer dat die persoon dieselfde bly te midde van wisselende omstandighede;

§ individuele identiteit wat verwys na ‘n mens se gevoel van individualiteit (uniekheid). Gerdes is verder van mening dat die openbare en persoonlike identiteit deur subjektiewe ervaring, die persoon in staat stel om ‘n gevoel van individuele identiteit te ontwikkel en hom as unieke persoon te leer ken. Hieruit vloei selfkennis en selfaanvaarding voort.

1.2.1.1 Selfkennis

Die noodsaaklikheid van die handhawing van ‘n realistiese selfkennis word deur Lindhard (1988:13) as volg beskryf: "Self-knowledge is the root and basis for our maturity, self-esteem and self-reliance." Dreyer (1986:73) omskryf ‘n selfkonsep as die

resultaat van dit wat ek van myself dink op grond van dit wat ek van myself weet.

‘n Positiewe en negatiewe waarde word aan die onderskeie eienskappe toegeken. Verdiepte selfkennis word verkry deur selfontsluiting en die vermoë om terugvoer van ander te ontvang. Verder impliseer ‘n deeglike selfkennis die kennis van die positiewe en negatiewe aspekte van die persoonlikheid. Humor weerspieël juis die vermoë tot selfobjektivering en openbaar ‘n sin vir perspektief.

1.2.1.2 Selfaanvaarding

Selfkennis vra in die psigies volwasse persoon vir die selfaanvaarding van die positiewe en negatiewe eienskappe in die persoon. Selfaanvaarding lei tot ‘n gevoel van eie waarde, selfagting, bekwaamheid en tevredenheid. Hierdie selfaanvaarding omvat die kenmerke wat eie is aan hom as persoon, onder meer sy liggaamsbehoeftes, voorkoms, intellek, waardes, sterktes en swakhede.

1.2.2 Spontaneïteit

‘n Volgende eienskap van psigiese volwassenheid, volgens Roux se navorsing, is spontaneïteit. Dit is ‘n oorkoepelende term vir die volgende eienskappe:

1.2.2.1 Kontak met eie emosies

Om in kontak met jou eie emosies te wees, is ‘n spontane uitvloeisel van die psigiese volwasse persoon se selfkennis en selfaanvaarding. ‘n Persoon is in kontak met sy eie emosies wanneer hy bewustelik beide positiewe en negatiewe emosies akkuraat kan waarneem, etiketteer en ervaar. Rogers (1960) lê klem op ‘n openheid vir ervarings waar alle emosies en houdings sonder verdediging bewustelik as deel van homself en sy wêreld beleef word en deur die selfkonsep geakkommodeer kan word. Wanneer negatiewe of ontstellende emosies nie geïgnoreer of ontken word nie, maar erken word en in die self geïntegreer word, dan vind positiewe groei plaas en bring ‘n groter kongruensie na vore tussen die ware en ideale self.

1.2.2.2 Hier-en-nou-openheid

onmiddellike ervarings ontvanklik sal wees. Hy leef nie uit die verlede (se skuldgevoel) of die toekoms (se angs) nie, maar is oop vir die hier-en-nou-ervarings van die hede.

1.2.2.3 ‘n Demonstrasie van emosies

‘n Verdere kenmerk van die psigies volwasse persoon is sy vermoë om onmiddellik emosies te ervaar en spontaan daarop te reageer. Die afwesigheid van eksterne beheer deur norme en verwagtinge laat hom toe om onmiddellik uitdrukking daaraan te gee. Vanuit voldoende stabiele en emosionele kontrole, is hy sensitief vir ander se emosies en vind onbeheerste uitbarstings nie plaas nie.

1.2.3 ‘n Samebindende lewensbeskouing

‘n Psigies volwasse persoon het sy eie samebindende lewensbeskouing waarin sy eie lewensfilosofie, ideale, waardes en gewete (wat sy lewe rig), opgeneem is. Beginsels, etiek, sedes en godsdienstige oortuigings is ten nouste met sy samebindende lewensbeskouing verweef en lei die persoon in sy besluite ten opsigte van wat reg en verkeerd is. Vir Allport (1961) speel godsdienstige oortuiginge ‘n dominante rol en tree die psigies volwassene volgens geïnternaliseerde oortuigings op.

‘n Lewensbeskouing bring vir die individu die verlede, hede en toekoms met mekaar in verband en dit koppel die individuele ervarings met die universele ervarings van die mensdom en menswees.

Die volgende kenmerke van ‘n samebindende lewensbeskouing word onderskei:

1.2.3.1 Waardes

Joubert (1986:16, 17) verwys na Degenaar se definiëring van waardes as “normatiewe oriëntasies wat ‘n rol speel in die mens se opvattings, optredes, beslissings, oordele en regverdiging". Die doel van waardes is om die persoon bewus te maak van wat wenslik of verkieslik is en gee daarom rigting aan die proses van seleksie van doelwitte en optredes.

Nadat oorgeërfde waardes krities ondersoek, getoets en gesif is, word dit geïnternaliseer. Daar is ‘n noue verband tussen ‘n persoon se godsdienstige oortuigings

en sy waardes. Godsdiens dien as metasisteem waarbinne alle ervaringe sinvol geïntegreer kan word en waaruit gedrag konstruktief gerig kan word.

Vir die doel van hierdie navorsingsprojek word uitgegaan van die Gereformeerde belydenis as waardeoortuiging.

1.2.3.2 Soepelheid

Soepelheid dui op daardie vermoë om ‘n ingesteldheid te verander en gedrag te wysig om sodoende (sonder afwyking van sy geïnternaliseerde waardestelsel) op ‘n toepaslike wyse op veranderende omstandighede te reageer. Hierdie eienskap staan teenoor rigiditeit as onvolwasse gedrag.

1.2.3.3 Outonomiteit

Interne determinante, eerder as die eksterne omgewing, is bepalend vir die volwassene se gedrag en bring mee dat besluite relatief onafhanklik van sy omgewing geneem word. Geen rebelse opstandigheid word egter ervaar nie, maar eerder die toetsing van sosiale, kulturele en etiese kodes om hulle legitimiteit en toepaslikheid te bepaal.

As uitvloeisel van hierdie selfstandige gedragsbesluite aanvaar die psigies volwasse persoon verantwoordelikheid vir sy eie gedrag.

1.2.3.4 Doelgerigtheid

Die samehang tussen ‘n geïnternaliseerde waardestelsel, outonomiteit en ‘n interne lokus van kontrole bring mee dat die psigies volwasse persoon se gedrag doelgerig is. “Waardes, motiewe en behoeftes vind beslag in die individu se gedrag...en doelwitte wat in ooreenstemming met ‘n lewensbeskouing geformuleer word, stimuleer motivering en volharding” (Roux & Weyers 1993b:376).

Die tipe waarde wat in die persoon se gedrag oorheersend is, is medebepalend vir die doelgerigte strewe na ‘n lewensrigting. Doelgerigtheid hang saam met die stel van realistiese doelwitte en die wilskrag, motivering en deursettingsvermoë om die doelwit te bereik.

1.2.4 Altruïsme

Altruïsme word deur Plug et al (1993:19) omskryf as ‘n onselfsugtige besorgdheid oor die behoeftes en belange van ander mense. Dit staan lynreg teenoor egoïsme waar ‘n persoon se gedrag gerig word deur eie behoeftes en belange sonder om die ander se behoeftes in ag te neem. Roux (1993b:377) bevind dat, volgens Botes (1987), altruïsme twee verbandhoudende begrippe insluit, naamlik eksterne probleemgesen-treerdheid en sosiale oriëntasie.

1.2.4.1 Eksterne probleemgesentreerdheid

Eksterne probleemgesentreerdheid verwys na daardie ingesteldheid van die persoon waarin sy eie probleme hom so vasvang (egoïsme) dat hy nie in staat is om sinvol betrokke te raak by probleme buite homself nie. Deist (1982:21) verwoord Frankl as volg ten opsigte van die volwasse persoon: “Dit is sy vermoë om homself te kan transendeer, bo homself te kan uitstyg,...sy vermoë om na iets of iemand anders toe te kan groei,...bó-oor jouself (te) kyk.”

1.2.4.2 Sosiale oriëntasie

Roux en Weyers (1993b:377) verwys na Adler se “gemeinschaftsgefühl” waarin mense ook ingesluit is by die eksterne gerigtheid. Vir Maslow bestaan hierdie sosiale oriëntasie in ‘n gemeenskapsgevoel waaroor volwasse persone beskik en impliseer ‘n opregte belangstelling en deernis vir mense.