• No results found

GEREFORMEERDE PERSPEKTIEF

2.2 Terminologiese verheldering

2.3.6 Die mens as psigologiese wese

2.3.6.4 Keusemakende wese

Die mens is vanaf sy skepping ‘n keusemakende wese (Gen. 3:6). In die psigologie word hierdie psigiese aktiwiteit beskryf as die konatiewe komponent. Plug en ander (1993:83) beskryf konatief as: "‘n Term wat dui op aspekte en funksies wat verband het met doelgerigte en willekeurige gedrag en die impuls om op te tree."

Gedrag kan willekeurig of onwillekeurig (refleksief) wees. Die willekeurige gedrag van ‘n persoon is die uiteindelike resultaat van ‘n wisselwerking tussen sy lewensbeginsels (vir die gelowige is dit sy geloofsverbintenis met God) en sy waarneming van huidige omstandighede. Dit word gekombineer met sy ervarings van die verlede en die verantwoordelike besluit in die huidige omstandighede tot optrede. Onwillekeurige (refleksiewe) gedrag tree na vore wanneer daar instinktief en refleksief gehandel word op ‘n prikkel van buite.

• die lewens- en wêreldbeskouing van die persoon (begrond in sy verhouding met God in Christus);

• die betekenis wat die persoon aan die prikkels en omstandighede gee;

• die keuse wat die persoon maak (in gehoorsaamheid aan Gods Woord), in die lig van die voorafgaande aspekte met die oog op doelgerigte gedrag.

Samevattend kan die invloed van verskeie faktore en die rol van die keusemakende proses as volg weergegee word:

Oorgeërfde Verantwoordelike Wat bepaal potensialiteite

keuse en

besluitneming So lyk ek dat ek is en + vanuit eie lewens- = en wat ek is? omgewingsfaktore en wêreldbeskouing tree ek op

Die handelinge van die mens staan vanuit die Bybels-pastorale mensbeskouing, altyd onder die beskikkende hand van die Drie-enige God. Daarom oorkoepel dit die voorafgaande keusemakende proses.

Die mens is geen slagoffer van ‘n deterministiese bestel van oorgeërfde eienskappe en omgewingsfaktore nie. Hy kan byvoorbeeld nie sê: "Ek is aan drank verslaaf, omdat my pa aan drank verslaaf was" nie, as sou hy nie anders kon as om in sy pa se voetspore te volg nie. Die mens is geen willose pion wat deur mense en omstandighede rondgeskuif word sonder dat hyself daaroor ‘n besluit kan neem nie.

Die mens dra self die verantwoordelikheid van sy dade en keuse van gedrag. Hierdie verantwoordelikheid word genormeer deur die persoon se lewens- en wêreldbeskouing (waarby ingesluit is sy geloofsverhouding teenoor God en sy gehoorsaamheid aan die Heilige Skrif). Kotzé (1992:365) verwys na Bowen se selfdifferensiasie wat nou aansluit by hierdie verantwoordelikheid, naamlik: "Dit behels die vermoë om duidelik gedefinieerde standpunte te hê oor die waardes waaruit ‘n persoon funksioneer, daarvolgens te lewe en verantwoordelikheid te neem vir die eie keuses en lewe, eerder as om ander verantwoordelik te hou hiervoor."

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die inhoud van hierdie lewens- en wêreldbeskouing van kardinale belang is vir die keusemakende optrede. Daarom sal die humanis anders kies as die Gereformeerd-gelowige persoon.

Verskeie voorbeelde van keusemakende gedrag kom in die Skrif voor:

Genesis 3:6 – Eva kies om van die verbode vrugte te eet.

Genesis 4:6-10 – Kain verontagsaam God se waarskuwing en slaan sy broer dood. Josua 24:15 – Josua daag Israel uit om te kies tussen die God van hul vaders en die gode van die Amoriete.

Jesaja 7:15 – Die Seun van die Immanuel-teken sal weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is.

Filippense 1:22 – Paulus weet nie wat om te kies nie: om met sy Here te wees, of om in die lewe arbeid te verrig nie.

Samevattend:

Die voorafgaande beskrywing van ‘n Bybels-pastorale mensbeeld het die mens se skeppingsroeping uitgespel, naamlik om beelddraer van God te wees binne die raamwerk van sy verbondsverhouding met God. Nou lê dit, onder meer, op die weg van die pastor om die lidmaat te fasiliteer op sy weg tot optimale geloofsvolwassenheid.

3 GEVOLGTREKKINGS

Die lidmaat word pastoraal in sy volwassewordingsproses begelei. Nadat die noodsaaklikheid van, en die omskrywing van die Bybels-pastorale mensbeeld bepaal is, kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word:

3.1 Die samestelling van ‘n eie mensbeeld vir hierdie navorsing is noodsaaklik, aangesien die benadering van die lidmaat hoofsaaklik bepaal word deur die uitgangspunte (mensbeskouing) van die betrokke vakdissipline. Dit geld vir sowel die psigologie as die teologie, en spesifiek die pastoraat.

3.2 Die fasilitering van die volwassewording van die totale mens bring mee dat die mensbeskouings van die psigologiese en teologiese dissiplines relevant is.

3.3 Die psigologie se mensbeskouing word hoofsaaklik bepaal deur die humanistiese wysbegeerte, terwyl hierdie studie uitgaan van die Bybels-pastorale mensbeskouing vanuit Gereformeerde perspektief.

3.4 Die Bybels-pastorale omskrywing van die mens sien die mens as geskape, liggaamlike, religieuse en psigologiese wese, terwyl die mens altyd in sy totaliteit optree.

3.5 Die grootste mate van totale kongruensie tussen liggaamlike, religieuse en psigiese karaktertrekke van die mens kan alleen verkry word indien van ‘n gemeenskaplike begronding uitgegaan word. In die Bybels-pastorale mensbeeld is die imago Dei hierdie allesomvattende uitgangspunt.

3.6 Hoewel die psigologie hoofsaaklik van die humanistiese wysbegeerte uitgaan, is daar in wese ‘n beduidende ooreenkoms tussen die psigologie se beskrywing van die menslike determinante faktore en die onderskeie Gereformeerd-teologiese karaktertrekke van die mens.

3.7 Met die omskrywing van die antropologiese gesig op die lidmaat vanuit ‘n Bybels- pastorale oogpunt, is dit nodig vir die pastor om dienooreenkomstig toegerus en geskool te wees om die lidmaat in sy proses van geloofsvolwassewording pastoraal by te staan.

3.8 Omdat die mens primêr as skepsel voor sy Skepper staan, die beeld van God (in Christus) in sy lewe herstel word en hy toesig gegee is oor die aarde met al sy inwoners, beteken dit dat die herstel van die beeld van God (imago Dei) na elke terrein van die lewe moet deurwerk.

HOOFSTUK 3