• No results found

GEREFORMEERDE PERSPEKTIEF

2.2 Terminologiese verheldering

2.3.5 Die mens as religieuse wese

2.3.5.4 Herskepte wese

Die herskepping van die wanbeeld-mens tot die oorspronklike beeld van God, is reeds in die paradys deur God in werking gestel deur middel van die moederbelofte (Gen. 3:15).

Hierdie herskepping sou nie deur die mens bewerkstellig kon word nie ten spyte van die oorblyfsels van die beeld van God in sy wese. Deur die hele Ou Testament was die volk van God ook nie in staat om by God se verordeninge te hou nie en het daardeur die verbondsverhouding geskend.

Met die koms van die Middelaar, Jesus Christus (1 Tim. 2:5, 6), het ‘n nuwe verbond in werking getree (Jer. 31:31-33; Heb. 8:6-10). Die herskepping van die wanbeeld- mens vind nou plaas "uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie...uit die werke van die wet (kan) geen vlees geregverdig word nie” (Gal. 2:16). Paulus bevestig die onmoontlikheid dat die mens onder die wet homself kan verlos van die sonde.

Net soos by die skepping, is Jesus Christus nou die sleutel tot die sondige mens se herskepping (Heb. 1:3; Ef. 2:6, 7). "Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword" (2 Kor. 5:7).

Die Heilige Gees (Wentsel 1995 (4a):165-168; Wiersinga 1952) begelei die begenadigde sondaar tot die herstel van die beeld van God deur middel van die

heilsweg (weg tot saligheid) en deel hom daarmee geestelike gawes mee (Wentsel

(4a)1996:165-168; Wiersinga 1952). König (1983:i) sien die heilsweg breër as net die individu. Dit sluit vir hom die hele skepping in: "God wil die hele skepping heelmaak." Navorser verkies om by die tradisionele Skriftuurlike standpunt te bly, aangesien die herstel van die beeld van God langs hierdie heilsweg, slegs vir die mens bedoel is. (Rom..8:19 verklaar dat hierdie vernuwing vir die skepping by die "openbaarmaking van die kinders van God" – dit is by die wederkoms – sal plaasvind.) Wiersinga stel dit as volg: "Als de Geest werkt en een mensch bindt aan Jesus Christus, deelt hij allen dezelfde geestelike gaven (wedergeboorte, geloof, bekering, ens.) mede, om het heil, deur Christus verworven, te kunnen genieten" (vgl. Wentsel (4a)1995:164).

Hierdie meedeling van die weldade van God deur die Heilige Gees aan die mens, word die heilsorde (ordo salutis) of heilsweg (via salutis) genoem (Wentsel (4a)1995:163). In die meedeling van hierdie weldade is daar ‘n logiese orde (eerder as 'n kronologiese) en ‘n aanduiding van die verskillende elemente wat die volheid van die genade uitmaak. Saamgevat: "dit gaan om die wyse waarop, en die weg waarlangs, die volle rykdom van Gods heil in Christus deur die Heilige Gees ons deel word" (Heyns 1988:303). Die heilsorde bestaan uit: roeping, wedergeboorte, geloof, regverdigmaking, bekering, heiliging en volharding (Heyns 1988:303-328; Wiersinga s.a.; vgl. Wentsel (4a) 1995:163-170).

Hierdie heilsweg vind sy grond in die ewige raadsbesluite van God (Rom.. 8:29; DL. 1:6). Dit is ook uit louter genade van God se ewige besluit dat sommige mense uitverkies word om wel tot die herstelde beelddraers toe te tree (DL I:7).

Wie het deel aan hierdie heilsweg? Hoewel die hele menslike geslag gesondig het, sal net diegene wat Hy voorbeskik het om as kinders vir Homself aangeneem te word deur Jesus Christus, daarin kan deel (Ef. 1:4-6). Tog sal geen mens kan aanvoer dat God onregverdig is nie. Dié wat nie uitverkies is nie, "laat Hy volgens sy regverdige oordeel

in hul boosheid en hardheid bly" (DL I:6). Omdat die sondige mens nie weet of hy uitverkies is of nie, lê die keuse (hiermee word nie die "vrye wil" bedoel waarteen die DL. oor die algemeen dit het nie) menslikerwys gesproke by hom om gehoorsaam te wees aan die verkondigde boodskap (DL I:3). Ook hierdie keuse staan in die lig van Filippense 1:29: "dit aan julle ter wille van Christus genadiglik gegee is om...in Hom te glo", en Filippense 2:13: "want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae." Wentsel (4a) 1995:164) stel dit as volg: “De erfgenamen kunnen deze erfenis verkrijgen door volhardend maar ook verspelen door lichtzinnig ongeloof.” “Wie geen deel het aan de Verlosser staat ook buiten zijn weldaden" (Wentsel (4a) 1995:165).

Wat is die inhoud van die heilsweg? Romeine 8:30 gee ‘n raamwerk en volgorde aan vir die heilsweg (Janse van Rensburg 1992:36-52; Schreiner 2003:448-455): "en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik". (Sien Wentsel (4a)1996:165-167; Wiersinga 1952:13-15; Heyns 1988:303-328 vir ‘n indeling van die heilsweg).

Toegespits, binne die raamwerk van die mens as beelddraer van God, kan die hele heilsweg gesien word as die roeping van die gelowige om die vertroebelde beeld van God weer in sy lewe te herstel deur die inwerking van die Heilige Gees. Dit is veral in die elemente heiligmaking en volharding dat die voortgaande herstel van die beeld van God in die sondige mens, naamlik die groei na "die volwasse man in Christus" (Ef. 4:13), plaasvind.

God skep self die moontlikheid, en rus die mens toe deur die Heilige Gees, om, as herskepte wese, Hom te verheerlik! Hierin is dit duidelik dat die rol van die pneumatologie in die beeldherstellingsproses (geloofsvolwassewording) geensins in die pastorale proses onderskat of geïgnoreer mag word nie (Rebel 1981).

Die herskepping van die lidmaat in Christus bring mee dat die pastoraat vanuit ‘n gemeenskaplike basis die beeldherstellingsproses in die praktyk kan fasiliteer. Fasilitering en aktiewe geloofsgroei is saam gefokus op die een uitkoms, naamlik, om beklee te word met Christus (Rom. 13:14; Ef. 4:24) as die beeld van God. Vanuit hierdie posisie (herskepping deur die Heilige Gees) is die manifestering van die

mededeelbare eienskappe van God in alle omstandighede moontlik en optimaal bereikbaar. Die herskape lidmaat aanvaar verantwoordelikheid vir die verbondsverhouding waarin hy staan met die gevolglike uitbouing daarvan.

2.3.5.5 Ewigheidswese

Om ewigheidswese te wees beteken dat die mens die liggaamlike dood – die regmatige straf op die sonde – moet transendeer. Hierdie transendering is alleen moontlik deur Christus se opstanding uit die dode en die toerekening daarvan aan gereddes.

Wanneer die sondige mens by die keerpunt van bekering in sy lewe kom en in Christus ‘n nuwe skepsel word, staan die belofte van Jesus Christus voorop: (Joh. 10:28) "Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie". So is daar ook ‘n ewige straf vir diegene wat nie uitverkies is nie: (Gal. 3:10) "Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie." Of die mens herskape is of nie, daar wag vir hom ‘n ewigheid ná hierdie lewe.

Die ewige geluksalige bestaan vir die gelowige word deur Christus se opstanding bewerkstellig en uit genade aan die mens geskenk. Die Heidelbergse Kategismus, vraag 45, vra na die nut van Christus se opstanding. Die antwoord is onder meer: "Ten tweede word ons ook deur sy krag opgewek tot ‘n nuwe lewe. Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ‘n gewisse pand van ons salige opstanding" (APK- Kerkboek 1993:89; 1 Kor. 15:20, 21).

Die ewigheidsdimensie is vir die mens in sy totaliteit bedoel (Heyns 1959:65). Die Heidelberger (antwoord 57) handel oor die opstanding van die vlees en beskryf dit dan as volg:

Dat nie alleen my siel (bedoelende daardie geestelike beginsel van die mens waarvan Pred.12:7 spreek) nà hierdie lewe dadelik tot Christus opgeneem sal word nie (Luk. 16:22; 23:43; Fil. 1:21, 23), maar dat ook hierdie vlees (liggaam - JPB) van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig, en gelykvormig sal word aan die heerlike liggaam van Christus (Job 19:25, 26; 1 Joh. 3:2; Fil. 3 :21).

König (1991:7, 18) noem die mens ‘n “eskatologiese verbondswese”.

Die ewigheidsdimensie van die mens is nie net ‘n tydsgewyse aanwysing van sy bestaan nie. Dit is ook inhoudelik in terme van die heilsdimensie – die komende Ryk van God – te beskrywe. Dit gaan dus om “die eintlike gebeure in hierdie tyd” (Louw 1997:88, 90).

Samevattend: Berkhof (1962) praat van die mens as: De mens onderweg. Daarmee som hy die menslike bestaan op. Geskape om God se beelddraer te wees, het die mens in sy oorspronklike roeping misluk. Deur die ewige raadsbesluit van God en met Sy ondeurgrondelike genade, het Hy die uitverkorene op die heilsweg geplaas wat in die ewige lewe voortgesit word. Die nie-uitverkore mens staan steeds onder die skeppingsdoel, naamlik om God se beelddraer te wees, maar beweeg voort as wanbeeld na sy ewige dood.

As herskepte en nuwe mens in Christus, groei die uitverkorene in die rigting van die volle grootte van die beeld van God, tot ‘n volwasse man/vrou in Christus. Hierin bereik die mens sy skeppingsdoel. Die ewigheidsdemensie bring die lidmaat tot verantwoording van sy rentmeesterskap. Dit is die hoop op die verwagting van ‘n “...gebou...van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Kor. 5:1).

Hierdie antropologiese karaktertrek van die mens kry juis prominensie in die pastoraat wanneer Louw (1997:87-92) die eskatologiese perspektief beklemtoon in sy konvergensiemodel as pastorale alternatief (die vierde weg) vir die dilemma van die pastorale teologie.

Hierdie karaktertrek van die mens as “ewigheidswese” stel ‘n besondere eis aan die pastorale fasilitering van die lidmaat. In teenstelling met die eduktiewe, kerugmatiese en bipolêre pastorale benadering, sluit ‘n eskatologiese benadering komplementêr aan by ‘n proses van geloofsvolwassewording wat eskatologies voltooi word.