• No results found

Antropologiese grondslae van die postmoderne mens

1 NOODSAAKLIKHEID VIR ‘ n BYBELS-PASTORALE ANTROPOLOGIESE BEGRONDING

1.3 Antropologiese grondslae van die postmoderne mens

Die 21ste eeu word beskryf as ‘n postmoderne era (tyd) waarin die mens onlosmaaklik lewe (Janse van Rensburg 2000a:35; 2002:43). Die mens in hierdie era reageer òf positief òf afwysend teenoor die postmoderne paradigma as lewens- en wêreldbeskouing (Janse van Rensburg 2002:41, 42). Dit bring mee dat daar onderskei moet word tussen die mens in die postmoderne tyd, die postmoderne mens en die mens wat bewustelik/onbewustelik deur die postmoderne idees beïnvloed word. Hierdie onderskeiding word gerugsteun deur die tendens om postmoderne kritiek te lewer terwyl daar op die premoderne wetenskap en kennis gesteun word.

Die lidmaat in die proses van geloofsvolwassewording is bevind hom in hierdie tydsgewrig en word daarom op een of ander manier deur die postmoderne paradigma beïnvloed. In die pastor se terapeutiese benadering van die lidmaat sal die postmoderne era, postmoderne paradigma en die lidmaat se keuse van ‘n lewensbeskouing verreken moet word. Dit is ‘n vraag in hoeverre die lidmaat nog aan die Skriftuurlike antropologie beantwoord. Daarteenoor, hoe werklikheidsgeoriënteerd is die pastor in sy pastorale benadering? (Janse van Rensburg 2002:40)

Daar sal dus kortliks ingegaan moet word op die antropologie van die postmoderne mens weens die feit dat die narratiewe terapie, as pastorale benadering van die Sosiale-Konstruktivisme, in die postmoderne epistemologie ingebed is.

Janse van Rensburg (2002:45-56) se navorsing met die oog op die omskrywing van die postmoderne mens het uitgeloop op ‘n samevatting van die belangrikste kenmerke. Hierdie omskrywing word, met erkenning aan die outeur, as basis vir hierdie antropologiese analise gebruik.

Van hierdie kenmerke kan direk aan die postmoderne paradigma gekoppel word, ander kenmerke is net deur hierdie paradigma beïnvloed, en nog ander kan beskou

word as deel van die postmoderne era in die algemeen. (Janse van Rensburg 2002:55).

1.3.1 Die onsekerheid van die postmoderne mens

Die mens is deur die twee wêreldoorloë ontnugter en onseker gelaat ten opsigte van die moderne wetenskap se onvermoë om ‘n aardse utopie te skep. Dit het die mens laat teruggryp na die filosofiese idees van Nietzsche en Heidegger en daardeur is hy sonder God en sonder waardes gelaat, in plaas van om hom tot God en Sy Woord te wend. Dit het noodwendig ook die Christelike geloof aangeraak.

Hierdie onsekerheid het gestalte gevind in die mens se eie selfbeeld en het gemanifesteer as ‘n verlies van die greep op homself en die lewe.

Die verlies aan singewing en die gepaardgaande gevoel van hopeloosheid, lê klem op die nihilistiese uitsig op alles. “Wat bly in die lewe oor as die mens ten spyte van al sy pogings om die dood te vergeet, gedwing word om met die werklikheid van die dood vrede te maak.?” (Janse van Rensburg 2002:47)

Te midde van die onsekerheid en die hopeloosheid van hierdie era as gevolg van die mens se keuse-antwoord op die teleurstellende modernisme, bly daar nog ‘n hunkering na sekerheid ten opsigte van geloof en toekoms.

1.3.2 Die vitaliteit van die postmoderne mens

Ontdaan van lewensin en met geen vooruitsigte anderkant die dood nie, rig die mens hom op die lewe as homo vitalis. Die lewe moet geniet word. “As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons!” (1 Kor. 15:32; vgl. ook Jes. 22:13).

Hierdie beheptheid met die lewe manifesteer gevolglik polsend op menige terreine: die advertensiewese, die oorverdowenheid en tempo van musiek, die klem in die kunste en media op liggaamlike vitaliteit in al sy fasette, die oordrewe klem op die “ervaring” wat aangewakker word deur orkeste en danse binne die eredienste as geleentheid tot deelname.

1.3.3 Die kritiese postmoderne mens

Die krities-dekonstruktiewe inslag van die postmoderne mens bring mee dat hy niks meer as vanselfsprekend en waar beskou nie. “Heilige en onaantasbare waarhede en tradisies het nie meer die gesag om onkritiese aanvaarding af te dwing nie” (Janse van Rensburg 2002:49).

Op godsdienstige gebied word die grondslae van die Bybelse boodskap bevraagteken. Skrifgebondenheid word afgemaak as fundamentalisme (Nuwe Hervorming Forum 2004). Groter openheid teenoor ander gelowe tree na vore omdat elkeen op sy eie interpretasie van die waarheid geregtig is en dit so aanvaar moet word – daar is ook waarheidselemente in ander gelowe.

In plaas daarvan dat hierdie kritiese houding tot verligting lei, dompel dit die mens in ‘n donkerder gat.

1.3.4 Die postmoderne mens is globalisties-holisties en tog kontekstueel- individualisties

Te midde van wêreldwye kennisname van strominge, tendense en lewenswyses, het globalisering ook ‘n eroderende en transformerende effek. “Dit breek die vaste en hiërargiese strukture van die modernisme af en verskuif die aksent van die subjek se interpretasie van die wêreld na die inter-subjektiewe analise van wêreldge- beure.”(Janse van Rensburg 2002:50). Hierin speel die kommunikasiemedia en die “wêreldwye web” ‘n besonder groot rol.

Die kommunikasiemedia stel die mens bloot aan ander mense se leefstyl, hulle besittings en hul lewens- en wêreldbeskouing. Die praktiese toepassing van die wêreldtendense maak van mense wêreldburgers wat almal na mekaar lyk.

Tog is daar ook ‘n teenpool. “Die obsessie om ‘soos hulle’ te lewe, hou inhoudelik die veronderstelling in dat ek ‘myself wil wees’” (Janse van Rensburg 2002:51). Omdat “ek my eie ding wil doen”, laat die mens hom nie bind deur gesag, kerklike leerstellings, kulturele konvensies of burgerlike eise nie. Die mens het sy eie “regte”. “So word die teenkanting teen ‘n subjektiewe wêreldvisie dialekties deur ‘n individualistiese weelderigheid geneutraliseer” (Janse van Rensburg 2002:51).

1.3.5 Die postmoderne mens is heelbrein-georiënteerd

Die modernisme het hoofsaaklik deduktief-analities klem gelê op die linkerbrein beredenering. Weens die modernistiese inslag in die postmodernisme, bly die gebruik van die linkerbrein nog geldig, maar word die regterbrein ook ingespan. “Die postmodernisme word...ook deur die poststrukturele benadering en die metafories- narratiewe inslag gekenmerk.” (Janse van Rensburg 2002:52).

Hieruit vloei voort dat die postmoderne mens minder aan vaste vorm en struktuur gebind wil wees. ‘n Flexus quo vervang ‘n status quo (Tracy 1994:16). So word leerstelligheid ingeboet en ondergeskik gestel aan belewing.

Vergelyk Janse van Rensburg (1998) vir sy ondersoek na die regterbreinstrategieë vir pastorale terapie.

1.3.6 Die postmoderne mens en die reaktivering van mag

Universele waarheid- en waardesisteme is die setel van mag en word deur politieke sisteme en die gemeenskap gebruik om hierdie strukture in stand te hou. Die enigste vorm van mag wat erken word, is die mag waarmee strukture afgebreek word, aangesien die universele waardesisteme verwerplik is. Hieruit volg vanself dat status en mag nie langer gesag afdwing nie. “Mag behoort aan geen individu of setel in geen struktuur nie” (Janse van Rensburg 2002:54).

Hierdie ingesteldheid werk ook in op godsdienstige en kerklike terrein. Die gesag van die Bybel, kerklike strukture, ampte en prediking in die Naam van God word gerelativeer.

1.3.7 Die postmoderne mens is seksueel-ongebonde

Die postmodernisme het verder ook ‘n uitwerking op die postmoderne mens se beskouing van seksuele oriëntering ten opsigte van homoseksualiteit, feminisme en binne/buite huwelikse verhoudings. Die seksuele ongebondenheid word onder meer weerspieël in die algemeenwordende koerant- en tydskrifadvertensies vir buitehuwelikse seksuele verhoudings, die internet en tonele in films en die gedrukte media. Ongebonde aan enige waardestelsel, gesagsbron of norm, staan die

postmoderne mens se lewenstyl in lyn met sy lewens- en wêreldbeskouing sonder God of Sy Woord.

Wanneer Louw (1980) en Schaeffer (1970) – om net twee bronne te noem – se omskrywing van die mens van hulle tyd onder die loep geneem word, is dit verbasend hoe dit met vandag se tendense ooreenstem. Die intensiteit en omvang is nou net meer uitgebreid.