• No results found

MEGANISMES TER VERSEKERING VAN DIE NAKOMING VAN IFVS

7.2 POSISIE IN DIE EU

In 1998 het die Kommissie 'n aksieplan gepubliseer waarin die doelwitte en mylpale vir die totstandkoming van 'n enkele Europese mark uiteengesit is (Commission, 1998:1). Hierdie dokument stipuleer vroeg reeds dat konserwatiewe en effektiewe regulasie en oorsigfunksies van kritieke belang is in die sukses van 'n enkele Europese mark. Die dokument dui verder aan dat daar op daardie stadium reeds heelwat swakhede in die regulatoriese opset in die EU geïdentifiseer is en dat dit aangespreek moet word (Commission, 1998:2). Een van die doelwitte wat in hierdie aksieplan gestel word, is dat oorgrensbeleggings gestimuleer moet word deur die beskikbaarheid van deursigtige en vergelykbare finansiële inligting (Commission, 1998:19).

In 1999 is 'n verdere dokument gepubliseer waarin die implementering van die aksieplan, soos in 1998 vasgestel, bespreek word. Ook in hierdie dokument word die behoefte aan vergelykbare en betroubare finansiële inligting as een van die hoekstene van 'n geïntegreerde kapitaalmark uitgewys (Commission, 1999:7). Hierdie dokument prioritiseer dan ook die verskillende aksies wat geneem moet word. Die behoefte aan eenvormige finansiële verslagdoening word geplaas as 'n Prioriteit Een aksie (Commission, 1999:23). Dit behels dat dit 'n aangeleentheid is van die hoogste belang, wat onmiddellike aandag verg en dat dit gesien word as kritiek tot die realisasie van al die voordele van die Euro en, by implikasie, van 'n

enkele Europese mark, terwyl dit terselfdertyd die belange van beleggers beskerm (Commission, 1999:21).

Op 13 Februarie 2001 het die Kommissie 'n memorandum uitgereik wat algemene vrae ten opsigte van Regulasie No. 1606/2002 aangaande die implementering van IFVS beantwoord. Binne hierdie memorandum word vrae rondom die afdwinging van IFVS gevra. In die eerste plek word die belang van duidelike implementeringsriglyne uitgelig (Commission, 2001b:4) en in die tweede plek word die ouditprofessie se rol in die proses van versekering dat maatskappye aan IFVS voldoen, vermeld (Commission, 2001b:4). Derdens word die rol van eksterne evaluering en supervisie vermeld. In hierdie opsig stel die Kommissie dit duidelik dat daar gekyk word na die Forum of European Securities Commissions (FESC) om behulpsaam te wees met die daarstelling van 'n liggaam en middele wat sal omsien na die nakoming van IFVS deur maatskappye (Commission, 2001b:4).

In Kommissaris Bolkestein (2002), wat in beheer was van die Interne mark en Belasting Europlace Internasionale Forum, se toespraak maak hy dit duidelik dat die implementering en afdwinging van IFVS deur die EU as 'n prioriteit gesien moet word. Hy verhef in wese hierdie aangeleentheid tot die hoogste prioriteit deur te sê: "We must above all ensure that International Accounting Standards are implemented and enforced effectively and evenly across jurisdictions."

Hierdie gedagte word bevestig in die agtste vorderingsverslag wat die Kommissie uitgereik het rakende die implementering van die aksieplan. Hierin word dit duidelik gestel dat 'n raamwerk vir die implementering en afdwinging van EU finansiële wetgewing opgestel moet word ten einde te verseker dat die toepassing en afdwinging daarvan op gelyke vlak reg deur die EU plaasvind (Commission, 2003:1). Hierdie dokument bevestig ook die Kommissie se verbintenis tot die oorkoepelende openbare doelwitte van beleggersbeskerming, finansiële stabiliteit en integriteit van markte. Verder word dit gestel dat die realisasie van hierdie doelwitte afhanklik is van die effektiewe implementering en afdwinging van regulasies (Commission, 2003:10). Die European Economic and Social Committee (EESC) spreek egter in 2003 steeds hul kommer uit dat die implementering van die Finansiële Dienste Aksieplan (Commission, 1998) stadig is en dat die nasionale beskerming van finansiële dienste, deur die onderskeie lidlande van die EU, die werking van 'n interne mark kan bemoeilik in opsigte waar die EU nog nie riglyne vasgestel het nie (EESC, 2003:55).

Die Committee of European Securities Regulators (CESR) het in Maart 2003 Standaard Nr. Een ten opsigte van die afdwinging van standaarde van finansiële inligting gepubliseer. Hierin word die belang van 'n doeltreffende kapitaalmark waarin beleggersvertroue gekultiveer word weereens bevestig (CESR, 2003:3). In beginsels drie tot agt van die standaard word vermeld dat afdwingingsmeganismes voorsien behoort te word deur nasionale onafhanklike administratiewe instellings (instellings) (CESR, 2003:5). Beginsels elf tot vyftien voorsien dat hierdie instellings sal funksioneer deur maatskappye se finansiële inligting op 'n grondslag van rotasie en ook risiko te selekteer en dus 'n gekombineerde proses van seleksie sal volg eerder as om suiwer pro-aktief of reaktief hierdie finansiële inligting te evalueer vir nakoming van IFVS (CESR, 2003:7). Daar word ook in die vooruitsig gestel dat die vlak van evaluering van die finansiële inligting van entiteit tot entiteit kan varieer gebaseer op die risiko dat 'n maatskappy moontlik wanvoorstellings binne hul finansiële inligting kon maak (CESR, 2003:7). Dit is ook moontlik dat hierdie instellings beskikbaar sal wees om vooraf aan maatskappye riglyne te verskaf oor die interpretasie en implementering van sekere rekeningkundige hanterings of openbaarmakings- vereistes, maar die oorhoofse doel moet wees dat hierdie instellings onafhanklik bly en nie deel vorm van die standaardstellingsproses nie (CESR, 2003:7). Standaard Nr. Twee stel dit egter baie duidelik dat 'n proses van konsultasie tussen die nasionale instellings moet bestaan ten einde volgehoue standaardisering en harmonisering van standaarde asook die interpretasie van standaarde, te verseker (CESR, 2004:4-5). Dit is ook die ideaal dat indien hierdie instellings areas van onduidelikheid binne IFVS of die implementering van IFVS identifiseer, hierdie instellings met die IASB in gesprek sal tree in 'n poging om duidelikheid oor die aangeleentheid te verkry (CESR, 2004:5).

In die gevalle waar wesenlike areas van nie-nakoming van IFVS deur maatskappye identifiseer word, behoort voldoende aksie geneem te word ten einde te verseker dat die posisie reggestel word en indien nodig behoort die wanvoorstelling in die openbaar reggestel te word. Hierdie aksies behoort daarop gemik te wees om markintegriteit en –vertroue te bevorder (CESR, 2003:9). Beginsel 21 stel verder voor dat die instellings op 'n gereelde grondslag aan die publiek verslag doen oor hul aktiwiteite. Sodanige verslag behoort inligting aangaande beslissings en individuele sake ten opsigte van rekeningkundige- en openbaarmakingsaangeleenthede in te

sluit en het ten doel om die beginsel van harmonisering van rekeningkundige standaarde en die interpretasie daarvan, te ondersteun (CESR, 2003:11).