• No results found

TUSSENTYDSE FINANSIËLE VERSLAGDOENING Nie 'n vereiste nie, maar daar moet aan

2.4 DIE IMPAK VAN DIE VERBETERINGSPROJEK

Die verbeteringsprojek, soos aangevoer deur die IASB, het nie 'n groot direkte impak op enige van die VK-AARP nie. Dit is wel bekend dat die ASB van die VK beplan om nuwe standaarde vir die VK uit te reik gebaseer op die beginsels van IFVS. Hierdie

voorstel is aan lede van die ASB gemaak en terugvoer is verlang, maar uitsluitsel is nog nie gegee nie (ASB, 2004:1).

Die verbeteringsprojek van die IASB behels dat wysigings of verbeterings aan vyftien bestaande rekeningkundige standaarde aangebring is (Deloitte, 2004b:1). Die doel hiervan was om oorbodighede en alternatiewe rekeningkundige hanterings uit die weg te ruim, beter sinkronisasie tussen verskillende bestaande standaarde te bewerkstellig en ook om enige ander verbeterings aan die standaarde aan te bring wat nodig was (IASB webtuiste, 2004).

Hierdie verbeteringsprojek en die uitwerking van die voorgestelde wysigings wat aanvanklik by wyse van 'n besprekingsdokument, "Exposure Draft of Proposed Improvements to International Accounting Standards" (ED) (IASB, 2002a) gepubliseer is alvorens dit in die bestaande standaarde geïntegreer is, het wel 'n invloed op bostaande inligting gehad. Met betrekking tot voorraad het die ED voorgestel dat weggedoen word met die laaste-in-eerste-uit metode van verantwoording. Hier is IFVS en VK-AARP dus nou, na implementering van die veranderings aan IAS2 – "Inventories" (IASB, 2004:609–629) in ooreenstemming met mekaar (ASB, 2003:1).

IAS8 – "Accounting Policies, Changes in Accounting Estimates and Errors" (IASB, 2004:653–686) is ook aangepas in die opsig dat die onderskeid wat voorheen tussen fundamentele foute en ander wesenlike foute getref is nou verwyder is en dat alle foute gevolglik reggestel moet word deur herstatering van die finansiële state. VK- AARP tref egter hier steeds 'n onderskeid tussen verskillende kategorieë van foute en herstatering word slegs vereis vir die regstelling van fundamentele foute (ASB, 2003:1-2).

Die ASB het in Oktober 2003 'n nuusbrief publiseer waarin hulle die verskille tussen die aangepaste IFVS op daardie stadium vergelyk met die VK-AARP soos dit op daardie tydstip van toepassing was (ASB, 2003:1-3). Hierdie nuusbrief lig spesifieke areas waar IFVS en VK-AARP verskil uit en dit word vervolgens bespreek.

2.4.1 Eiendom, aanleg en toerusting

IAS16 – "Property, Plant and Equipment" (IASB, 2004:819–853) vereis dat indien een bate vir 'n ander verruil word die waarde van die bate wat verkry word, gelyk sal

wees aan die markwaarde van die bate, met die gevolg dat 'n wins/verlies met die afstanddoening van die ander bate erken sal word. In die geval waar dit nie moontlik is om die billike waarde van die bate te bepaal nie of die transaksie het nie voldoende kommersiële substansie nie, word die bate wat verkry is gedra teen die drabedrag van die bate wat prysgegee is. Die kommersiële substansie van 'n transaksie behels dat die transaksie 'n beduidende invloed sal hê op toekomstige kontantvloeie. VK-AARP sluit geen sodanige bepalings in nie (ASB, 2003:2).

Beide IFVS en VK-AARP bepaal dat reswaardes ten opsigte van eiendom, aanleg en toerusting bepaal moet word. IFVS bepaal dat hierdie reswaardes bepaal word aan die hand van huidige pryse. IFVS bepaal ook verder dat sodra die reswaarde gelyk is aan die drabedrag of die drabedrag oorskry, die waardevermindering per jaar verander moet word na nul. VK-AARP aan die ander kant bepaal dat pryse soos op verkrygingsdatum of by die mees onlangse waardasie gebruik word en dat die verhoging in reswaardes oor die algemeen eerder reflekteer word as deel van wins/verlies met die verkoop van die bate as om dit deur middel van veranderings in waardevermindering te hanteer (ASB, 2003:2).

In soverre dit die verantwoording vir hure aangaan bepaal IFVS dat indien 'n eiendom die onderwerp van 'n huurooreenkoms is, die grond en gebou afsonderlik evalueer word en dat die huur van die grond waarskynlik as bedryfshuur klassifiseer word. Die huur van die gebou kan as óf bruikhuur óf bedryfshuur verantwoord word, na gelang van of eiendomsreg aan die einde van die huurtermyn aan die huurder oorgedra word. VK-AARP vereis geen sodanige onderskeid of afsonderlike evaluering van die komponente van die huur nie. Die wyse waarop inkomste uit bruikhure verantwoord word verskil ook in die sin dat IFVS gebruik maak van 'n voorbelaste metode, terwyl VK-AARP 'n nabelaste metode voorskryf. Die openbaarmakingsvereistes van IFVS is ook meer uitgebrei tot die mate wat IFVS vereis dat besonderhede van toekomstige minimum huurbetalings openbaar word vir 'n tydperk van tot vyf jaar na die einde van die verslagdoeningstydperk, terwyl VK- AARP slegs inligting ten opsigte van 'n enkele jaar na die einde van die verslagdoeningstydperk vereis (ASB, 2003:2).

2.4.2 Buitelandse valuta

IAS21 – "The Effects of Changes in Foreign Exchange Rates" (IASB, 2004:1021– 1051) bepaal dat die inkomstestaat van 'n buitelandse filiaal omgereken word teen die gemiddelde wisselkoers vir die tydperk, terwyl VK-AARP toelaat dat die omrekening teen sluitingskoerse gedoen word. Die IFVS bepaal verder dat die klandisiewaarde wat ontstaan by die verkryging van die filiaal, hanteer word as deel van die filiaal se bates en as sulks omgereken word teen sluitingskoers. VK-AARP bevat egter geen riglyne in hierdie verband nie. Verder bepaal IAS21 (IASB, 2004:1021–1051) dat indien daar enige valutaverskille ten opsigte van buitelandse entiteite is wat voorheen as deel van ekwiteit erken is, hierdie valutaverskille in die inkomstestaat erken word gedurende die verslagdoeningstydperk waarbinne die wins/verlies met verkoop van die filiaal erken word. VK-AARP laat glad nie hierdie hantering toe nie (ASB, 2003:2-3).

2.4.3 Verwante party transaksies

IAS24 – "Related Party Disclosures" (IASB, 2004:1061–1076) vereis dat transaksies per tipe transaksie wat tussen verwante partye plaasgevind het openbaar word, alhoewel die name van die verwante partye nie openbaar hoef te word nie. VK-AARP vereis weer die openbaarmaking van die name van die verwante partye en verder word filiale wat 90% of meer beheer word vrygeskeld van die openbaarmaking van besonderhede van transaksies met ander entiteite in die groep, terwyl IFVS geen sodanige vrystelling maak nie (ASB, 2003:3).

2.4.4 Beleggings in geassosieerdes

In terme van IAS28 – "Accounting for Investments in Associates" (IASB, 2004:1119– 1140) sal die beleggermaatskappy net sy proporsionele deel van die verliese van 'n geassosieerde erken indien verpligtinge namens die geassosieerde opgeloop is of betalings namens die geassosieerde gemaak is of gemaak sal word. VK-AARP vereis weer spesifiek dat die totale proporsionele deel van die netto laste van die geassosieerde erken moet word tensy die beleggermaatskappy kan bewys dat hy hom onttrek het as geassosieerde tot hierdie belegging (ASB, 2003:3).

2.4.5 Beleggingseiendom

IAS40 – "Investment Property" (IASB, 2004:2005–2052) laat 'n maatskappy met die keuse of hul beleggingseiendomme teen kosprys min opgehoopte waardever- mindering en waardedalings wil dra of teen billike waarde. Indien hulle die billike waarde model kies, word die veranderinge in billike waarde in die inkomstestaat erken. VK-AARP vereis dat beleggingseiendomme teen ope markwaarde gedra word en dat veranderinge in daardie waarde erken word in die STEWV, behalwe tot die mate wat daar permanente dalings benede die koste van die eiendom is of enige terugskrywings van sodanige dalings in welke geval daardie aanpassings in die wins en verliesrekening erken word (ASB, 2003:3).

2.4.6 Gebeure na balansstaatdatum

Ten opsigte van gebeure wat na die balansstaatdatum plaasvind, bepaal IAS10 – "Events After the Balance Sheet Date" (IASB, 2004:687–700) dat indien 'n dividend na jaareinde verklaar is, daardie dividend nie voorsien mag word in daardie verslagdoeningstydperk nie, maar in die volgende verslagdoeningstydperk. VK- AARP pas die reëls betreffende die tydsberekening van die voorsiening van dividende nie so streng toe nie (ASB, 2003:2) en gevolglik voorsien die VK maatskappye dividende al is dit na jaareinde voorgestel en selfs nog nie verklaar nie.

2.4.7 Hure

SIC15 – "Operating Leases – Incentives" (IASB, 2004:2121–2124) vereis dat aan- sporingsvoordele ten opsigte van bedryfshure deur beide die huurder en die verhuurder oor die huurtydperk erken word as 'n vermindering in onderskeidelik die huuruitgawe en –inkomste. VK-AARP beveel aan dat hierdie voordele oor die kortste van die huurtydperk of die tydperk tot die datum waarvanaf die huurder die normale markverwante huur sal betaal, versprei word (ASB, 2003:2).