• No results found

EVALUASIE VAN 2003 MAATSKAPPY FINANSIËLE STATE TEEN IFVS

6.3.1 Eerste groep maatskappye

6.3.1.26 Aandeelgebaseerde betalings (voorheen bekend as ekwiteits vergoedingsvoordele)

Daar was geen verandering in die mate waartoe die geselekteerde maatskappye rekeningkundige beleid ten opsigte van aandeelgebaseerde betalings openbaar het nie.

Gedurende 2004 is 'n nuwe standaard, IFRS2 (IASB, 2004:127–251), uitgereik ten einde leiding te verskaf in die area van erkenning en meting van aandeelgebaseerde betalings. In terme van IFRS2.IN1 – 2.IN2 (IASB, 2004:131) was daar 'n behoefte aan so 'n rekeningkundige standaard aangesien daar vele maatskappye is wat hul werknemers beloon met aandele in die maatskappy of opsies om sodanige aandele te bekom. Maatskappye reik ook soms aandele of aandele-opsies uit aan verskaffers ter vereffening van verpligtinge. Tot dusver was daar geen rekeningkundige standaard wat die erkenning en meting van sodanige skemas aangespreek het nie. Hierdie nuwe standaard is van toepassing op finansiële tydperke wat op of na 1 Januarie 2005 'n aanvang neem (IASB, 2004:145).

Die geselekteerde maatskappye het dus tot 'n groot mate nie aan die standaard voldoen nie, aangesien dit nog nie op die tydperk onder oorsig van toepassing was nie.

Daar was steeds sestien van die geselekteerde maatskappye wat sodanige aandele- opsieskemas vir hul werknemers administreer het. Die algemene omskrywings van hierdie skemas was nie goed gedoen nie. Slegs vyf maatskappye het 'n breë algemene omskrywing aangebied, vier het besonderhede van die vestigings- voorwaardes van die skemas openbaar, sewe maatskappye het die maksimum termyn van die opsies vermeld, terwyl geen van die maatskappye die metode van vereffening openbaar het nie.

Sommige van die openbaarmakingsvereistes van die standaard, soos vervat in IFRS2.44 – 2.45 (IASB, 2004:142–143) stem ooreen met daardie wat vantevore in terme van IAS19.147 – 19.148 (IASB, 2002b:19-69–19-70) gestel is. Dit is grootliks die situasie rondom die aantal aandele-opsies en 'n rekonsiliasie van die veranderings in daardie aantal vanaf die begin van die jaar tot die einde van die jaar. In hierdie verband het een maatskappy nie aangetoon hoeveel aandele-opsies gedurende die jaar toegestaan is nie, twee het nie vermeld hoeveel aandele-opsies

gedurende die jaar verbeur is nie en ook nie hoeveel opsies verval het nie, terwyl ses maatskappye nie die aantal opsies wat verbeur is en die aantal wat verval het afsonderlik van mekaar openbaar het nie. Vyf maatskappye het nie aangetoon hoeveel opsies op jaareinde uitoefenbaar was nie en twaalf maatskappye het nie die geweegde gemiddelde aandeelprys openbaar op die tydstip wat aandeelopsies uitgeoefen is nie.

Ten opsigte van aandeelopsies wat op die balansstaatdatum uitstaande was, het nege maatskappye nie die strek van moontlike uitoefeningspryse openbaar nie en tien maatskappye het nie die geweegde gemiddelde oorblywende kontraktuele leeftyd van die opsies openbaar nie.

Geen van die verdere openbaarmakingsvereistes van IFRS2 (IASB, 2004:142–143) is enigsins nagekom nie, aangesien die standaard nog nie deur die maatskappye toegepas is nie. Hierdie is dus een van die meer beduidende areas van verandering wat maatskappye sal moet aanspreek ten einde ten volle aan IFVS te voldoen.

6.3.1.27 Staat van erkende winste en verliese en staat van veranderings in ekwiteit

Daar was in 2003 steeds vier maatskappye (2002: vyf) wat meer as een reserwe saamgroepeer het en nie 'n rekonsiliasie van die beweging in die individuele komponente van die reserwes openbaar het nie. Dit is uit die benamings van die reserwes ook nie altyd duidelik presies wat die oorsprong van die reserwes is nie. Drie maatskappye (2002: twee) het wel die aard en doel van elk van hul reserwes openbaar en twee maatskappye (2002: geen) het die beperkings op die toedeling van nie-verdeelbare reserwes of enige ander reserwes openbaar.

Een maatskappy het nie die aantal gemagtigde aandele en die pariwaarde per aandeel binne die finansiële state openbaar nie, maar wel in die direkteursverslag. Hierdie maatskappy het egter daardie besonderhede in die staat van veranderings in ekwiteit openbaar ten opsigte van die 2002 finansiële jaar.

Vier maatskappye (2002: sewe) het geen rekonsiliasies openbaar tussen die aantal uitgereikte aandele aan die begin van die jaar en die aantal uitgereikte aandele aan die einde van die jaar nie.

Vier maatskappye (2002: ses) het nie die aantal aandele wat gereserveer is vir uitreiking onder opsie of die waarde en bepalings van sodanige opsies, openbaar nie.

6.3.1.28 Verwante party transaksies

Twee maatskappye het geen besonderhede aangaande verwante party transaksies openbaar nie. Een ander maatskappy het slegs 'n stelling gemaak dat geen wesenlike verwante party transaksies gedurende die jaar plaasgevind het nie. Hierdie maatskappy het egter besonderhede van direkteursvergoeding openbaar, maar niks ten opsigte van seniorbestuur van die maatskappy nie. Hierdie seniorbestuurslede sou deel vorm van die maatskappy se korps van sleutelpersoneel wat weer beskou word as verwante partye tot die maatskappy.

Een verdere maatskappy het die besonderhede van direkteursvergoeding slegs in totaal openbaar en nie onderskei tussen die verskillende tipes werknemervoordele wat aan direkteure gebied is nie. IAS24.16 (IASB, 2004:1069) vereis dat sodanige detail openbaar word. Ses maatskappye het die besonderhede van direkteursvergoeding slegs in die direkteursverslag openbaar en nie in die finansiële state of die aantekeninge tot die finansiële state nie.

Twee maatskappye (2002: vyf) het nie die aard van verwante party verhoudings openbaar nie, terwyl slegs een maatskappy (2002: twee) nie openbaar het welke tipe transaksie met die verwante partye plaasgevind het nie. Vier maatskappye het nie die waarde van die transaksies openbaar nie en ses maatskappye het nie die waarde van uitstaande saldo’s wat op die balansstaatdatum ten opsigte van verwante party transaksies bestaan, openbaar nie. Sewe maatskappye (2002: ses) het geen aanduiding gegee van die prysbepalingsbeleid wat gevolg is ten opsigte van transaksies met verwante partye nie.

Geen maatskappy het besonderhede openbaar van waardedalingsverliese wat voorsien is teen saldo’s wat op die balansstaatdatum uitstaande was ten opsigte van verwante partye nie en slegs een maatskappy het besonderhede openbaar van die terugskrywing wat gedurende die tydperk onder oorsig plaasgevind het ten opsigte van so 'n afskrywing wat in 'n vorige tydperk gemaak is.

Slegs drie maatskappye het 'n aanduiding gegee van die volume van verwante party transaksies wat gedurende die tydperk onder oorsig plaasgevind het.

6.3.1.29 Kontantvloeistaat

Daar was vier maatskappye (2002: drie) wat nie die beweging in bruikhuur- verpligtinge uitgeskakel het by die beweging in finansieringsaktiwiteite nie en dus ook nie die gepaardgaande bates wat bekom is in terme van die bruikhure uitgehaal het by die totale kontantvloei ten opsigte van verkrygde bates nie. Hierdie maatskappye behoort slegs die bruikhuurpaaiement as kontantvloei ten opsigte van finansieringsaktiwiteite in te sluit.

IAS7.31 (IASB, 2004:640) vereis dat rente en dividende ontvang en betaal, elk afsonderlik openbaar moet word. Een maatskappy (2002: vier) het egter rente ontvang en dividende ontvang saamgegroepeer en een maatskappy (2002: twee) het rente ontvang en rente betaal op 'n netto-grondslag aangebied.

Vir die tydperk onder oorsig het alle maatskappye die komponente van hul kontant en kontantekwivalente openbaar asook 'n rekonsiliasie tussen die bedrag in die balansstaat en die bedrag in die kontantvloeistaat. In die vorige tydperk het een maatskappy in gebreke gebly om hierdie inligting te openbaar.

6.3.1.30 Segmentverslagdoening

Twee entiteite het steeds geen segmentinligting openbaar nie en 'n derde het slegs vermeld dat die maatskappy 'n enkele geografiese en 'n enkele sakesegment het en het geen bykomende inligting openbaar nie. Hierdie posisie is soortgelyk aan 2002 en hierdie maatskappye word uitgesluit by die res van die resultate wat voorts bespreek word.

Agt maatskappye (2002: nege) het steeds geen aanduiding gegee van die produkte of dienste wat as basis van sakesegmentering gebruik is nie.

Nege maatskappye (2002: twaalf) het nie besonderhede van die samestelling van hul geografiese segmente openbaar nie.

Vyf maatskappye (2002: sewe) het aangetoon dat hulle slegs een sakesegment het, maar geen aanduiding is gegee van of daardie segmentering as primêr beskou word nie. Hierdie maatskappye het dan ook geen verdere inligting ten opsigte van sakesegmente openbaar nie. Dit wil voorkom of die maatskappye egter wel sakesegmentering as primêr beskou aangesien inligting ten opsigte van geografiese segmente in verkorte formaat aangebied word, en dus sekondêr blyk te wees. Twee maatskappye het egter totaal geen sekondêre segmentinligting openbaar nie. Verwys ook na 4.3.1.31 vir 'n bespreking van of die aanbieding van segmentinligting vereis word van maatskappye met 'n enkele sake- of geografiese segment en ook die moontlike nut wat die aanbieding van segmentinligting deur daardie maatskappye, vir gebruikers van finansiële state kan inhou.

Drie maatskappye het nie die vereiste onderskeid tussen intern- en ekstern gegenereerde segmentinkomste getref nie. Drie van die ander agt maatskappye het slegs ekstern gegenereerde segmentinkomste openbaar en glad nie intern gegenereerde segmentinkomste nie. Een maatskappy (2002: een) het nie die segmentresultaat openbaar nie, twee (2002: een) het nie segmentbates openbaar nie en drie (2002: een) het nie segmentlaste openbaar nie. Een maatskappy het beleggingsinkomste en finansieringskoste toegedeel per segment as deel van die segmentresultaat. Dit is direk teenstrydig met die riglyne van IAS14.16 (IASB, 2004:790–791) ten opsigte van segmentinkomste, segmentuitgawes en segmentresultaat. Hierdie items behoort uitgesluit te wees van die segmentresultaat. Twee maatskappye (2002: een) het nie die amortisasie van ontasbare bates en waardevermindering afsonderlik per segment openbaar nie.

Daar was in die jaar onder oorsig slegs een maatskappy wat segmentinligting openbaar het en wat beduidende waardedalingsverliese gehad het wat direk teen ekwiteit erken is en hierdie entiteit het nie daardie waardedalingsverlies per segment toegedeel nie.

Daar word vereis dat maatskappye rekonsiliasies openbaar tussen die segmentinkomste en –resultaat soos per die segmentverslag en die inkomste en resultaat per die gekonsolideerde inkomstestaat. Net so behoort segmentbates en – laste ook gerekonsilieer te word na totale bates en laste per die gekonsolideerde balansstaat. Behalwe vir die vyf maatskappye wat glad nie primêre sakesegmentinligting openbaar het nie, omdat daar volgens bestuur net een

sakesegment was, was daar drie maatskappye wat nie die rekonsiliasie van segmentinkomste openbaar het nie. Daar was ook telkens drie maatskappye wat nie die rekonsiliasies van segmentresultaat, segmentbates en segmentlaste openbaar het nie.

Daar was 'n enkele maatskappy waarvan die primêre segmentering geografies was en daardie maatskappy se ligging van bates en ligging van klante het verskil. Die maatskappy het egter nie as bykomende inligting die besonderhede van die verdeling van segmentinkomste volgens ligging van klante openbaar nie.

Drie maatskappye het geen sekondêre segmentinligting openbaar nie. Een ander maatskappy het glad nie segmentinkomste ten opsigte van die sekondêre segmentering openbaar nie. 'n Verdere maatskappy se rekeningkundige beleid maak dit duidelik dat alle geografiese inligting gebaseer is op ligging van bates, terwyl IAS14.71 (IASB, 2004:802) vereis dat segmentinkomste in so 'n geval aangebied moet word volgens ligging van klante.

Slegs een maatskappy het glad nie segmentinkomste volgens ligging van klante openbaar binne die sekondêre segmentverslag nie en vyf maatskappye het wel segmentinkomste, segmentbates en kapitaaluitgawes per geografiese segment openbaar, maar dit was telkens onduidelik of ligging van bates of ligging van klante gebruik is as basis vir die indeling.

Drie maatskappye (2002: een) het die grondslag van prysvasstelling vir transaksies tussen segmente openbaar.

6.3.1.31 Verslagdoening in die geldeenheid van 'n hiperinflasionêre ekonomie

Gedurende die tydperk onder oorsig het een geselekteerde maatskappy wat wel in 2002 'n belegging in 'n filiaal in Zimbabwe gehad het, daardie belegging verkoop. Dit was een van die maatskappye wat geen besonderhede openbaar het ten opsigte van of die filiaal se syfers aangepas is met 'n prysindeks ten einde te kompenseer vir die uitwerking van inflasie nie.

Die posisie van die oorblywende drie maatskappye wat steeds beleggings in filiale het wat in Zimbabwe geïnkorporeer is, het onveranderd gebly.

6.3.1.32 Landbou

Hoewel die maatskappy, wat in 2002 reeds IAS41 (IASB, 2004:2053–2096) nagekom het, se mate van nakoming van die openbaarmakingsvereistes noemenswaardig verbeter het, is die maatskappy se openbaarmaking steeds gebrekkig in sekere opsigte.

Een ander maatskappy het nou ook aangetoon dat hulle IAS41 (IASB, 2004:2053– 2096) sal toepas vanaf hul 2004 finansiële tydperk aangesien dit die eerste tydperk van die maatskappy sal wees wat op of na 1 Januarie 2003 'n aanvang geneem het. Die maatskappy het dus nog nie 'n effektiewe poging aangewend om die vereistes van die standaard na te kom nie en dit is dus een van die areas wat hierdie maatskappy in die eersvolgende finansiële tydperk sal moet aanspreek.

6.3.1.33 Metingsonsekerheid

IAS1.116 (IASB, 2004:584) vereis dat inligting aangaande sleutelaannames oor die toekoms en sleutelbronne van ramingsonsekerhede soos op die balansstaatdatum, wat moontlik kan aanleiding gee tot wesenlike aanpassings aan die drabedrae van bates en laste in die eersvolgende finansiële tydperk, openbaar word. Die aard van die bates en laste behoort omskryf te word en ook die drabedrag van daardie items op die balansstaatdatum. Slegs een maatskappy het enigsins sodanige inligting openbaar, maar dit was binne die bestuursoorsig wat nie deel vorm van die geouditeerde finansiële state nie.