• No results found

EVALUASIE VAN 2002 MAATSKAPPY FINANSIËLE STATE TEEN IFVS

4.3 UITKOMS VAN EVALUERING

4.3.1 Eerste groep maatskappye 1 Algemene aanbieding

4.3.1.22 Finansiële instrumente 1 Algemeen

Drie van die twintig maatskappye het nie rekeningkundige beleid openbaar ten opsigte van die erkenning en meting van elke klas van finansiële bate of –las nie. Een maatskappy se rekeningkundige beleid vermeld dat hul ongenoteerde beleggings gedra word teen laagste van kosprys of netto realiseerbare waarde. 'n Ander se rekeningkundige beleid meld dat alle items gedra word teen kosprys en dat geen aanpassings na billike waarde dus gemaak word nie. Hierdie hanterings is nie in ooreenstemming met die riglyne van IFVS wat vereis dat finansiële bates beskikbaar vir verkoop teen billike waarde gedra moet word nie.

Vyf maatskappye het nie die metingsgrondslag openbaar ten opsigte van hul bates wat teen billike waarde gedra word nie. Geen van die twintig maatskappye het die metodes en belangrike aannames onderliggend aan die bepaling van die billike waardes van hul finansiële bates en/of –laste openbaar nie.

Drie van die twintig maatskappye het nie beleggings nie en vier van die oorblywende sewentien, wat wel beleggings het, het nie in die rekeningkundige beleid vermeld of die wins of verlies wat ontstaan uit aanpassings na billike waarde na wins of verlies

vir die tydperk of na ekwiteit geneem word nie. Een maatskappy het glad nie aanpassings na billike waarde nie, aangesien alle items teen kosprys gedra word. Slegs een van die sewentien maatskappye het vermeld of "gewone manier" aankope van finansiële bates by wyse van verhandelingsdatumrekeningkunde of vereffeningsdatumrekeningkunde te boek gestel is. "Gewone manier"-aankope verwys na 'n aankoop van finansiële instrumente waar die lewering van die bates binne 'n bepaalde tydraamwerk vereis word. In terme van IAS39.31 (IASB, 2002b:39- 29) word hierdie tydraamwerk bepaal deur regulasie of konvensie op die betrokke mark.

Die implementeringsriglyne ten opsigte van IAS39.170 (IASB, 2002b:39 IGC-298) vereis dat alle winste en verliese wat spruit uit billike waarde-aanpassings en wat na wins of verlies vir die tydperk geneem is, volgens oorsprong verdeel moet word in die volgende kategorieë:

• bates beskikbaar vir verkoop; • handelsbates en –laste; en • verskansingsinstrumente.

Geen van die geselekteerde maatskappye het hierdie vereiste nagekom nie. Slegs een maatskappy het wel vermeld hoeveel van die winste en verliese toeskryfbaar was aan bates beskikbaar vir verkoop.

Een maatskappy het glad nie aan die vereistes van IAS32 – "Financial Instruments: Disclosure and Presentation" (IASB, 2002b:32-1–32-51) en IAS39 – "Financial Instruments: Recognition and Measurement" (IASB, 2002b:39-1–39-81) voldoen nie. Dit is die maatskappy waarvan die finansiële state in ooreenstemming met KAARB opgestel is. Die ander negentien geselekteerde maatskappye het almal in 'n mindere of meerdere mate die vereistes van die twee standaarde nagekom.

Geen maatskappy het besonderhede openbaar aangaande die omvang en aard van finansiële instrumente nie. Sodanige besonderhede sou inligting rakende die bepalings en voorwaardes van die instrumente wat die bedrag, tydsberekening en sekerheid van toekomstige kontantvloei sou beïnvloed, insluit.

IAS39.170(g) (IASB, 2002b:39-78) vereis dat die lener van fondse die drabedrag van enige finansiële bates wat aangebied is as sekuriteit vir enige lenings moet openbaar

saam met die belangrikste bepalings en voorwaardes wat betrekking het op die bates wat verpand is. Uit die finansiële state blyk dit dat hierdie vereiste op sewe van die maatskappye van toepassing is. Slegs een maatskappy het egter die drabedrag van die bates openbaar en geen van die maatskappye het enige voorwaardes of bepalings met betrekking tot daardie bates openbaar nie.

Ses maatskappye se finansiële state reflekteer 'n posisie in terme waarvan daardie maatskappye uitleners van fondse is. In so 'n geval vereis IAS39.170(h)(i) (IASB, 2002b:39-78) dat die billike waarde van bates wat as sekuriteit vir sodanige lenings aanvaar is, openbaar moet word. Slegs drie van die maatskappye het daardie openbaarmaking gedoen.

4.3.1.22.2 Rentekoersrisiko

IAS32.56 (IASB, 2002b:32-25) vereis dat elke maatskappy ten opsigte van elke klas van finansiële bate en –las, beide erken en onerken, inligting openbaar aangaande die blootstelling aan rentekoersrisiko. Dit sluit inligting ten opsigte van kontraktuele prysherbepalings of vervaldatums in en ook inligting oor effektiewe rentekoerse. Veertien maatskappye het geen inligting openbaar ten opsigte van hetsy kontraktuele prysherbepalings of vervaldatums nie, terwyl twaalf maatskappye geen inligting ten opsigte van die toepaslike effektiewe rentekoerse openbaar het nie.

Tien maatskappye het geen aanduiding gegee van die mate waartoe finansiële bates en –laste onderhewig is aan 'n vaste rentekoers of 'n wisselende rentekoers nie.

4.3.1.22.3 Kredietrisiko

'n Entiteit behoort sy maksimum kredietrisiko soos op die balansstaatdatum, sonder die inagneming van enige sekuriteit, te openbaar. Slegs drie maatskappye het hierdie vereiste nagekom en agt maatskappye het wel hul beduidende konsentrasies van kredietrisiko openbaar.

Vyftien maatskappye het waarborge ten opsigte van die verpligtinge van 'n ander entiteit verskaf, maar geen van hierdie maatskappye het daardie waarborge in berekening gebring by die bepaling van die maatskappye se maksimum kredietrisiko nie.

Die openbaarmaking ten opsigte van konsentrasie van kredietrisiko sluit die vermelding van die gemeenskaplike kenmerke wat elke konsentrasie identifiseer in en ook die bedrag van die maksimum blootstelling aan kredietrisiko wat geassosieer word met alle erkende en onerkende finansiële bates en –laste.

4.3.1.22.4 Skanse

Vyf maatskappye het glad nie hul beleid ten opsigte van verskansingsrekeningkunde van finansiële instrumente openbaar nie en ses maatskappye het geen beskrywing van die finansiële risiko, bestuursdoelwitte en –beleid, insluitend beleid aangaande verskansing van elke hooftipe voorspelde transaksie, openbaar nie.

Sewe van die geselekteerde maatskappye het wel billike waarde skanse. Een maatskappy het billike waarde skanse, maar op die oog af blyk dit dat daardie skanse rekeningkundig hanteer is as kontantvloeiskanse wat teenstrydig is met die vereistes van IAS39 (IASB, 2002b:39-1–39-81). Twee maatskappye het geen beskrywing van hul billike waarde skanse openbaar nie, twee maatskappye het geen beskrywing van die finansiële instrument wat as verskansingsinstrument identifiseer is, openbaar nie en drie maatskappye het nie die billike waarde van die finansiële instrument wat identifiseer is as verskansingsinstrument openbaar nie.

Dertien maatskappye het kontantvloeiskanse gehad. Agt van die dertien maatskappye het geen beskrywing van die skanse openbaar nie en ook geen beskrywing openbaar van die finansiële instrument wat as verskansingsinstrument identifiseer is nie. Agt maatskappye het nie die billike waarde op die balansstaatdatum van die finansiële instrument openbaar wat as verskansingsinstrument identifiseer is nie. Sewe maatskappye het nie die aard van die risiko’s wat verskans is openbaar nie. Sewe maatskappye het nie die tydperk openbaar waarbinne die verwagte transaksies na verwagting sou plaasvind nie, terwyl elf maatskappye nie die tydperk openbaar het waarbinne hierdie transaksies na verwagting 'n uitwerking op die bepaling van wins of verlies sou hê nie. Vier maatskappye het nie die totale onerkende wins of verlies ten opsigte van verskansingsinstrumente, anders as daardie wat verband hou met skanse van verwagte toekomstige transaksies, openbaar nie.

4.3.1.23 Verpligtinge

Negentien maatskappye het die waarde van verpligtinge openbaar, maar nie spesifiek vermeld ten opsigte waarvan daardie verpligtinge bestaan nie. Een maatskappy het geen besonderhede van verpligtinge openbaar nie. Drie maatskappye het nie besonderhede van verpligtinge ten opsigte van hure openbaar nie.

4.3.1.24 Voorsienings

Agtien maatskappye het wel voorsienings en vier van hierdie maatskappye het geen rekeningkundige beleid vir die verantwoording van voorsienings openbaar nie.

Een maatskappy het rekeningkundige beleid ten opsigte van die hantering van voorsienings openbaar, maar die finansiële state self toon geen teken van die bestaan van enige voorsienings nie.

Twee maatskappye het geen rekonsiliasies openbaar tussen die drabedrag van voorsienings aan die begin van die jaar en die drabedrag aan die einde van die jaar nie.

Nege van die maatskappye het nie die vereiste kort beskrywing van die aard van die verpligting en die verwagte tydsberekening van die uitvloei van ekonomiese voordele openbaar nie en sestien van die maatskappye het nie enige aanduiding van moontlike onsekerhede rakende die bedrag of tydsberekening van daardie uitvloeie openbaar nie. Geen maatskappye het die waarde van enige verwagte verhaling van uitvloeie of die waarde van enige bate wat moontlik ten opsigte van daardie verhaling erken is, openbaar nie.