• No results found

EVALUASIE VAN 2002 MAATSKAPPY FINANSIËLE STATE TEEN IFVS

4.3 UITKOMS VAN EVALUERING

4.3.1 Eerste groep maatskappye 1 Algemene aanbieding

4.3.1.7 Beëindigde bedrywighede

Drie maatskappye het oënskynlik gedurende die jaar beëindigde bedrywighede gehad. Een van die maatskappye het slegs daarna verwys in die direkteursverslag en geen verdere openbaarmaking is in hierdie verband gedoen nie. Hierdie maatskappy word uitgesluit by enige van die volgende bevindings ten opsigte van beëindigde bedrywighede.

Een maatskappy het nie 'n beskrywing van die beëindigde bedrywigheid aangebied nie en geen van die twee maatskappye het vermeld binne welke sake- of geografiese segment die beëindigde bedrywigheid sou ressorteer nie. Die een maatskappy het nie die aanvangsdatum van die beëindigingsproses openbaar of die tydperk waarbinne die proses na verwagting voltooi sou wees nie. Daardie maatskappy het ook nie die waarde van die wins of verlies toeskryfbaar aan die bedrywigheid en wat ingesluit was by die inkomstestaat, vir die tydperk onder oorsig afsonderlik identifiseer nie en ook nie die waarde van bates en laste toeskryfbaar aan die bedrywigheid soos op daardie balansstaatdatum nie. Net so is die kontantvloei ten opsigte van die beëindigde bedrywigheid nie afsonderlik onderskei volgens kontantvloei uit bedryfs-, beleggings- of finansieringsaktiwiteite nie. Die ander maatskappy se openbaarmaking is dienooreenkomstig gebrekkig en dit is nie moontlik om uit die gegewe inligting te bepaal of die beëindiging ten opsigte van die bedrywigheid binne daardie entiteit, moontlik al die vorige jaar 'n aanvang geneem het en slegs in die jaar onder oorsig afgehandel is nie.

4.3.1.8 Hure

Sestien maatskappye het wel hure en dertien het wel rekeningkundige beleid ten opsigte van hure openbaar. Twee van hierdie maatskappye het hul rekeningkundige beleid ten opsigte van bruikhure ingesluit by hul rekeningkundige beleid ten opsigte van eiendom, aanleg en toerusting en hulle het geen afsonderlike rekeningkundige beleid openbaar ten opsigte van die hantering van bedryfshure nie, hoewel die aantekeninge tot die inkomstestaat wel dui op die bestaan van bedryfshure. Soos by klandisiewaarde en ander ontasbare bates is dit hier ook bevind dat sommige maatskappye steeds 'n rekeningkundige beleid ten opsigte van hure openbaar, hoewel daar niks verder in die finansiële state of aantekeninge tot die finansiële state is wat dui op die bestaan van hure nie.

IAS17.23(a) (IASB, 2002b:17-15) vereis dat die drabedrag van enige bates onder bruikhuur afsonderlik openbaar moet word volgens bateklas. Tien van die maatskappye het wel bruikhure gehad en slegs drie van die maatskappye het hierdie openbaarmaking gedoen. Vyf van die maatskappye het glad nie die openbaarmaking

gedoen nie en drie van die maatskappye het wel die drabedrag van sodanige bates openbaar, maar nie per bateklas nie.

Huurders behoort die totale minimum huurbetalings, ten opsigte van bruikhure, op die balansstaatdatum te openbaar sowel as die huidige waarde daarvan vir elk van die tydperke:

• tot een jaar na die balansstaatdatum;

• meer as een jaar, maar nie langer as vyf jaar na die balansstaatdatum nie; en • meer as vyf jaar na die balansstaatdatum.

Vier maatskappye het nie die minimum huurbetalings en die huidige waarde daarvan vir die tydperk "meer as een jaar maar nie meer as vyf jaar na die balansstaatdatum" openbaar nie en ook nie ten opsigte van die tydperk "meer as vyf jaar na die balansstaatdatum" nie. Sewe maatskappye wat huurders is, het geen besonderhede openbaar van hul beduidende huurooreenkomste nie.

IAS17.39 (IASB, 2002b:17-20) vereis dat 'n rekonsiliasie tussen die minimum huurbetalings op die balansstaatdatum en die huidige waarde van daardie minimum huurbetalings openbaar word. Vyf maatskappye het nie hierdie rekonsiliasie aangebied nie.

Huurders behoort ook die totale minimum huurbetalings ten opsigte van nie- kanselleerbare bedryfshure te openbaar vir elk van die tydperke:

• tot een jaar na die balansstaatdatum;

• meer as een jaar, maar nie langer as vyf jaar na die balansstaatdatum nie; en • meer as vyf jaar na die balansstaatdatum.

Tien van die geselekteerde maatskappye het wel bedryfshure gehad en twee het rekeningkundige beleid openbaar ten opsigte van bedryfshure, maar geen verdere openbaarmaking is ten opsigte van daardie bedryfshure gedoen nie. Van die tien maatskappye het drie nie die vereiste openbaarmaking ten opsigte van toekomstige minimum huurbetalings nagekom nie en een maatskappy het meer as een van die vasgestelde tydperke se minimum huurbetalings saamgroepeer in plaas van om dit afsonderlik te openbaar soos wat vereis word deur IAS17.27 (IASB, 2002b:17-16–

17-17). Nege maatskappye het versuim om besonderhede van hul beduidende bedryfshure te openbaar.

Indien 'n maatskappy 'n verhuurder is in terme van 'n bedryfshuurooreenkoms behoort so 'n verhuurder die minimum toekomstige huurbetalings in terme van nie- kanselleerbare hure te openbaar vir die tydperke:

• tot een jaar na die balansstaatdatum;

• meer as een jaar, maar nie langer as vyf jaar na die balansstaatdatum nie; en • meer as vyf jaar na die balansstaatdatum.

Vier van die geselekteerde maatskappye was verhuurders in terme van sodanige ooreenkomste en slegs een het die vereiste openbaarmaking gedoen. Geeneen van hierdie maatskappye het die vereiste beskrywing van hul mees beduidende huurooreenkomste openbaar nie.

4.3.1.9 Werknemervoordele

Een maatskappy se rekeningkundige beleid dui op die bestaan van beide omskrewevoordeel- en omskrewebydrae-planne. Die rekeningkundige beleid meld ook dat alle bydraes tot beide tipes planne as uitgawe erken is in die jaar wat die bydraes aangegaan is. Hierdie hantering is verkeerd in soverre dit betrekking het op die maatskappy se omskrewevoordeel-planne en is nie in ooreenstemming met die vereistes van IAS19 (IASB, 2002b:19-1–19-135) nie.

Die rekeningkundige beleid ten opsigte van die bestaan van omskrewevoordeel- planne behoort melding te maak van die hantering wat gevolg word ten opsigte van die erkenning van aktuariële winste en -verliese. Vier maatskappye het wel rekeningkundige beleid ten opsigte van die erkenning van omskrewevoordeel-planne openbaar, maar nie melding gemaak van die wyse waarvolgens aktuariële winste en -verliese erken word nie.

Een maatskappy het slegs bydraes tot 'n omskrewebydrae-plan gemaak, maar nie die waarde van daardie bydraes afsonderlik openbaar soos wat vereis word nie. Twee maatskappye het elk net 'n enkele uitgawe lynitem openbaar ten opsigte van koste van omskrewevoordeel- en omskrewebydrae-planne. Die besonderhede van

die omskrewevoordeel-planne is dus nie afsonderlik openbaar soos vereis word deur IAS19 (IASB, 2002b:19-1–19-135) nie.

Dertien maatskappye het wel bydraes gemaak tot omskrewevoordeel-planne. Drie van hulle het glad nie die individuele komponente van die omskrewevoordeel- uitgawe openbaar soos vereis deur IAS19.120(f) (IASB, 2002b:19-60) nie. Slegs drie van die ander maatskappye het die aktuariële wins of -verlies wat ten opsigte van daardie planne gedurende die jaar in die inkomstestaat erken is, afsonderlik openbaar. In totaal het sewe van die maatskappye nie die werklike opbrengs op planbates ten opsigte van hul omskrewevoordeel-planne openbaar nie.

Vyf maatskappye het nie die totale uitgawe ten opsigte van ander langtermynvoordele afsonderlik openbaar nie. Vier maatskappye het nie die koste gekoppel aan beëindigingsvoordele afsonderlik openbaar nie, terwyl een maatskappy dit wel afsonderlik aangetoon het, maar as deel van koste van verkope. Hierdie hantering blyk strydig te wees met die bedoeling van IAS2.31 (IASB, 2002b:2-10) en die uitgawe wat in terme van daardie paragraaf ten opsigte van voorraad erken behoort te word.

Drie maatskappye het glad nie 'n rekonsiliasie gedoen van die bewegings in die netto las of bate vir die jaar nie en een maatskappy het geen van hul belangrikste aktuariële aannames openbaar nie.

Twee maatskappye het ook bydraes gemaak tot multi-werkgewerplanne wat eintlik omskrewevoordeel-planne is, maar wat verantwoord word as omskrewebydrae- planne. Beide maatskappye het die feit vermeld, maar geen van die verdere openbaarmakingsvereistes nagekom nie.