• No results found

3.1 INLEIDING

Hierdie studie behels 'n sistematiese evaluasie van die mate waartoe twee groepe dubbelgenoteerde maatskappye voldoen aan IFVS. Die proses van die studie en die metodiek van elke fase word in hierdie hoofstuk uiteengesit.

3.2 PROSES VAN DIE STUDIE

3.2.1 Vergelyking tussen rekeningkundige standaarde

'n Vergelykende studie is tussen VK-AARP en IFVS gedoen. Hierdie studie is gedoen met behulp van reeds gepubliseerde dokumentasie en studies soos uitgereik deur twee van die gerespekteerde ouditeursfirmas, by name D&T en PWC. Hierdie publikasies is bestudeer en die aangeleenthede wat deur die onderskeie firmas identifiseer is, is geïntegreer ten einde een enkele dokument daar te stel wat die hoofverskille tussen die twee stelle rekeningkundige standaarde opsom. Dit is ook aangevul met inligting wat die ASB van die VK in Oktober 2003 geïdentifiseer het as die hoofverskille wat op daardie stadium nog bestaan het tussen IFVS en VK-AARP. Hierdie verskille is uiteengesit in Hoofstuk 2 van hierdie studie.

Aanvanklik is beoog om 'n soortgelyke oefening uit te voer ten einde die verskille tussen IFVS en Suid-Afrikaanse SAARP uit te lig, maar in die loop van die studie het die SAIGR alle IFVS aanvaar en gevolglik is Suid-Afrikaanse SAARP nou identies aan IFVS en word dit in wese totaal vervang deur IFVS. Daar bestaan dus geen verskille meer tussen Suid-Afrikaanse SAARP en IFVS nie.

3.2.2 Evaluasie van 2002 finansiële state

Die 2002 jaarverslae van die twee groepe geselekteerde maatskappye is van hul onderskeie oordragsekretarisse of maatskappysekretarisse aangevra.

Die finansiële state van die twee groepe maatskappye is afsonderlik evalueer vir nakoming van IFVS, deur gebruik te maak van 'n universele openbaarmakings-

vraelys as aanduider van nakoming, al dan nie, van IFVS. Die openbaarmakingsvraelys is op IFVS, wat vir die geselekteerde maatskappye van toepassing sou wees in hulle 2002 finansiële jare, gebaseer. Die evaluasie is teen die vereistes van IFVS gedoen aangesien dit die leemtes in 'n maatskappy se verslagdoening op 'n spesifieke tydstip uitlig.

Hierdie vraelys is geformuleer deur gebruik te maak van PWC se IFVS openbaarmakingsvraelys vir 2002 (PWC, 2002b) en is aangevul met bykomende inligting soos verkry uit die IFVS openbaarmakingsvraelys van D&T vir 2002 (D&T, 2002).

Die volledige openbaarmakingsvraelys, met resultate, soos dit gebruik is ten opsigte van die eerste groep maatskappye is vervat in Bylaag D, terwyl die volledige openbaarmakingsvraelys, met resultate, soos dit gebruik is ten opsigte van die tweede groep maatskappye vervat is in Bylaag F. Kommentaar ten opsigte van hierdie gedetailleerde openbaarmakingsvraelyste is vir die twee groepe respektiewe- lik in Bylae E en G vervat.

Hoewel die gebruik van 'n openbaarmakingsvraelys as maatstaf vir die nakoming van rekeningkundige standaarde nie noodwendig alle aangeleenthede rondom die moontlike nie-nakoming van standaarde in die rekeningkundige verantwoordings- proses van transaksies identifiseer nie, is dit steeds as toepaslike maatstaf beskou aangesien die jaarverslag van 'n maatskappy deur onafhanklike gebruikers bestudeer word en daardie gebruikers hul eie gevolgtrekkings kan maak aangaande 'n spesifieke maatskappy se vlak van nakoming van rekeningkundige standaarde. Onafhanklike gebruikers van finansiële state en aandeelhouers van maatskappy gebruik finansiële state as enigste kommunikasiemedium tussen die bestuur van die maatskappy en hulself (Thorell en Whittington, 1994:215).

'n Aanname onderliggend aan die gebruik van die evalueringsvraelys ten opsigte van die nakoming, al dan nie, van IFVS is dat indien 'n maatskappy in geen afdeling van die jaarverslag enige aanduiding gee dat 'n spesifieke aangeleentheid op hul jaarverslag van toepassing is nie, is die aangeleentheid glad nie op die maatskappy van toepassing nie. Die moontlikheid bestaan dus dat alhoewel daar geen aanduiding is in die finansiële state van 'n maatskappy dat 'n spesifieke IFVS op daardie maatskappy van toepassing is nie, dit inderdaad wel op daardie maatskappy

van toepassing kan wees en dat die maatskappy in gebreke gebly het om enige besonderhede te openbaar.

Besonderhede van die evaluasie van die 2002 finansiële state van die geselekteerde maatskappye is vervat in Hoofstuk 4.

3.2.3 Samestelling van vraelys

Na afloop van die evaluering van die geselekteerde maatskappye se 2002 finansiële state vir nakoming van IFVS is 'n vraelys aan die mees toepaslike persoon binne elk van die maatskappye gestuur. Ten einde vas te stel wie die mees toepaslike persoon is om 'n vraelys te voltooi ten opsigte van elke maatskappy se proses van oorskakeling en vordering in daardie proses na IFVS, is met elk van die maatskappye se maatskappy-sekretarisse geskakel.

'n Standaard vraelys is geformuleer wat aan elkeen van die genomineerde persone gestuur is. Hierdie vraelys het ten doel gehad om vas te stel wat elk van die geselekteerde maatskappye, in beide die eerste en die tweede groep, se eie siening is van hul vordering in die proses van oorskakeling na IFVS en ook om vas te stel wat die mees algemene probleme is wat hulle in die proses ervaar of ervaar het (in die geval van maatskappye wat reeds ten volle oorgeskakel het na IFVS).

Die vraelys is geformuleer deur te let op verskeie potensiële probleemareas wat 'n maatskappy moontlik kan ervaar in die proses van oorskakeling en ook na aanleiding van terugvoer wat PWC in 2002 gekry het uit 'n opname wat in Europa gedoen is (PWC, 2002a).

Die vraelys en die statistiese ontleding van die terugvoer wat ontvang is, ten einde moontlike tendense of gemeenskaplike faktore tussen die respondente te identifiseer, is vervat in Bylaag H.

Uitkomste van die vraelys is bespreek in Hoofstuk 5.

3.2.4 Evaluasie van 2003 finansiële state

Hierdie proses is soortgelyk aan die proses van die evaluasie van die 2002 finansiële state van die geselekteerde maatskappye. Die evaluasie is egter gedoen aan die

hand van 'n aangepaste openbaarmakingsvraelys. Hierdie openbaarmakingsvraelys is opgestel aan die hand van PWC se 2004 openbaarmakingsvraelys (PWC, 2004) en neem dus 'n meer futuristiese benadering in dié sin dat die 2003 finansiële state gemeet word aan 'n stel IFVS wat nie noodwendig in 2003 reeds van toepassing was nie, maar wel op die 2004 finansiële jare van toepassing sal wees vir die voorbereiding van daardie jaar se finansiële state. Die doel hiervan is tweeledig. Eerstens word elke maatskappy se vordering in die nakoming van IFVS evalueer en tweedens word moontlike leemtes in elke maatskappy se jaarverslag identifiseer. Hierdie leemtes is hoofsaaklik ten opsigte van IFVS wat nog nie in 2003 van toepassing was nie, maar wat in 2004 vir die geselekteerde maatskappye brandpunte sal wees. Elk van die geselekteerde maatskappye behoort te poog om reeds hierdie leemtes ten volle te vul in hulle 2004 finansiële state ten einde hul mikpunt te haal om teen 2005 verslag te kan doen dat hul finansiële state ten volle in ooreenstemming met IFVS voorberei is, wat die volle nakoming van IFVS reeds in die 2004 finansiële jaar impliseer.

'n Bespreking van die 2003-evaluasie is in Hoofstuk 6 gedoen met die gedetailleerde openbaarmakingsvraelyste ten opsigte van die eerste en tweede groep maatskappye wat in onderskeidelik Bylae I en K vervat is. Kommentaar ten opsigte van hierdie gedetailleerde openbaarmakingsvraelyste is in Bylae J en L onderskeidelik vervat.

3.2.5 Motivering vir nakoming van IFVS

Hierdie deel van die studie, wat in Hoofstuk 7 vervat is, fokus op die aspekte wat 'n maatskappy sal aanspoor en motiveer om wel ten volle teen 2005 aan IFVS te voldoen. Hierdie aangeleenthede is identifiseer deur 'n studie te maak van die voorgestelde afdwingingsliggame wat reeds in werking is of wat in werking gestel sal word ten einde die nakoming van IFVS te verseker en te monitor asook die moontlike gevolge wat die nie-nakoming van IFVS vir 'n maatskappy kan inhou.

3.2.6 Gevolgtrekking

Hierdie deel van die studie, soos uiteengesit in Hoofstuk 8, vat die uitkomste van die studie effektief saam. Deur die evalueringsproses wat gevolg is en die uitkomste

daarvan wat bespreek is in Hoofstuk 4 en Hoofstuk 6 kry maatskappye 'n aanduiding van die mate waartoe hul finansiële state aan IFVS voldoen.

Daar word verder op grond van die uitkomste van die verskillende afdelings van die studie tot 'n gevolgtrekking gekom oor welke van die twee groepe maatskappye met die grootste gemak volledig sal kan oorskakel na IFVS teen 2005.

HOOFSTUK 4