• No results found

EVALUASIE VAN 2002 MAATSKAPPY FINANSIËLE STATE TEEN IFVS

4.3 UITKOMS VAN EVALUERING

4.3.1 Eerste groep maatskappye 1 Algemene aanbieding

4.3.1.10 Lopende en uitgestelde belasting

Slegs vyf van die twintig maatskappye het rekeningkundige beleid ten opsigte van lopende belasting openbaar, terwyl slegs twee nie rekeningkundige beleid ten opsigte van uitgestelde belasting openbaar het nie.

Vier maatskappye het geen numeriese rekonsiliasies ten opsigte van die belastinguitgawe of die gemiddelde effektiewe belastingkoers openbaar nie, alhoewel dit by drie van hierdie maatskappye 'n relevante vereiste was aangesien hul

effektiewe belastingkoers van die toepaslike belastingkoers verskil het. Ten opsigte van die vierde maatskappy is dit onduidelik of die aanbieding van die rekonsiliasie wel 'n vereiste sou wees, aangesien dit nie uit die finansiële state duidelik is of daar inderdaad 'n verskil tussen die effektiewe belastingkoers van die maatskappy en die toepaslike belastingkoers was nie

Vyf maatskappye het nie die beweging in die uitgestelde belastingsaldo ten opsigte van elke tipe tydelike verskil openbaar nie en vier maatskappye het geen tydelike verskille openbaar nie. Hoewel laasgenoemde situasie nie noodwendig verkeerd is nie, is dit onseker of hierdie hantering korrek is aangesien gedetailleerde inligting en interaksie met bestuur ten opsigte van die maatskappy se spesifieke omstandighede nie beskikbaar was vir hierdie studie nie en 'n finale gevolgtrekking dus nie gevorm kan word nie.

Slegs twee maatskappye het afsonderlike openbaarmaking gedoen van die waarde van tydelike verskille toeskryfbaar aan beleggings in filiale, geassosieerdes of gesamentlike ondernemings ten opsigte waarvan uitgestelde belasting nie voorsien is nie.

Dertien maatskappye het gedurende die jaar onder oorsig items direk in ekwiteit erken. Tien maatskappye het nie die lopende- en uitgestelde belasting ten opsigte van hierdie items wat direk teen ekwiteit verantwoord is, afsonderlik openbaar nie. Vier maatskappye het nie uitgestelde belastingbates afsonderlik as deel van nie- bedryfsbates openbaar nie, maar wel as deel van die aantekeninge tot die uitgestelde belastinglaste. Daar is dus 'n verrekening tussen uitgestelde belastingbates en –laste gedoen. Dit is uit die gegewe inligting onduidelik of sodanige verrekenings aanvaarbaar is in die lig van die voorvereistes wat IAS12.71 – 12.76 (IASB, 2002b:12-39–12-40) ten opsigte van verrekening stel.

Nege maatskappye het nie die waarde van uitgestelde belastingbates saam met die aard van die bewyse ter ondersteuning van die erkenning van die bates afsonderlik openbaar nie. Die benutting van sodanige bates hang af van die beskikbaarheid van voldoende toekomstige belasbare inkomste en die omkering van belasbare tydelike verskille en dit wil voorkom of die entiteite in die jaar onder oorsig of die vorige jaar wel verliese gely het in die jurisdiksies ten opsigte waarvan die uitgestelde belastingbates geskep is.

Vier maatskappye het geen uitgestelde belasting voorsien nie. Uitgestelde belasting word normaalweg voorsien op tydelike verskille tussen die drabedrag en die belastingbasis van items wat in die balansstaat verantwoord is. Aangesien die finansiële state nie besonderhede bevat ten opsigte van die belastingbasis van items nie, is dit dus nie moontlik om tot 'n gevolgtrekking te kom of hierdie maatskappye veronderstel was om wel uitgestelde belasting te voorsien, al dan nie.

Elf maatskappye het wel dividende verklaar na die balansstaatdatum, maar voordat die finansiële state goedgekeur is vir uitreiking. Slegs twee van hierdie maatskappye het die belastingimplikasies van sodanige dividende afsonderlik openbaar.

IAS12.82A (IASB, 2002b:12-43) gelees saam met IAS12.52A (IASB, 2002b:12-31) bepaal dat 'n entiteit die inkomstebelastingimplikasies moet openbaar indien die maatskappy onderhewig is aan 'n ander belastingkoers indien die wins vir die jaar of behoue verdienste gedeeltelik of geheel by wyse van 'n dividend verklaar word. Hierdie situasie is wel toepaslik binne 'n Suid-Afrikaanse konteks aangesien sekondêre belasting op maatskappye betaalbaar is teen 'n bykomende 12,5% (Huxham & Haupt, 2004:217) van netto dividende wat verklaar is, terwyl belasting op belasbare inkomste vir die jaar gehef word teen 'n standaard inkomste- belastingkoers van 30% (Huxham & Haupt, 2004:215). Die standaard vereis voorts dat die aard en waarde van die potensiële inkomstebelastingimplikasies gekoppel aan die moontlike betaling van 'n dividend openbaar word tot die mate wat dit bepaalbaar is of indien dit nie die geval is nie, vermelding van die feit dat die implikasies nie prakties bepaalbaar is nie. Geen van die twintig geselekteerde maatskappye het enige van hierdie openbaarmakingsvereistes nagekom nie.

4.3.1.11 Eiendom, aanleg en toerusting

Hoewel dit 'n vereiste is dat die nutsduur van eiendom, aanleg en toerusting of alternatiewelik die waardeverminderingskoers, as deel van die rekeningkundige beleid openbaar behoort te word, het vyf van die twintig maatskappye dit nie gedoen nie. Een maatskappy volg 'n beleid in terme waarvan waardevermindering nie voorsien word nie, maar oordragte direk na 'n nie-verdeelbare reserwe gemaak word. Die maatskappy motiveer hierdie hantering deur aan te voer dat dit die aanvaarde hantering binne die mynbou-industrie in Suid-Afrika is. Sommige van die ander

geselekteerde maatskappye was egter ook myne in Suid-Afrika en daardie maatskappye het nie hierdie beleid gevolg nie. Dit is dus nie duidelik of hierdie hantering aanvaarbaar is al dan nie.

Vyf maatskappye het glad nie die waarde openbaar van eiendom, aanleg en toerusting wat verpand is as sekuriteit vir verpligtinge nie, hoewel daar dertien maatskappye was wat wel sulke items as sekuriteit verpand het.

Die waarde van eiendom, aanleg en toerusting wat onder konstruksie is behoort openbaar te word. Drie maatskappye het egter versuim om sodanige inligting openbaar te maak, alhoewel dit blyk dat sodanige openbaarmaking toepaslik sou wees.

4.3.1.12 Beleggingseiendomme

Vier van die twintig maatskappye het geen rekeningkundige beleid openbaar ten opsigte van beleggingseiendomme nie of die rekeningkundige beleid wat wel openbaar is, was gebrekkig, hoewel die ander aantekeninge tot die finansiële state aangetoon het dat die maatskappy wel beleggingseiendomme het. Een maatskappy het gespesifiseer watter metingsgrondslag gebruik word vir die erkenning van beleggingseiendomme, maar geen verdere rekeningkundige beleid is openbaar nie. 'n Ander maatskappy het weer slegs die grondslag vir onderskeid tussen eienaar- geokkupeerde eiendom en beleggingseiendom omskryf en daarmee saam die belangrikste metodes vir die bepaling van die billike waarde van beleggingseiendom openbaar, sonder om die belangrikste aannames onderliggend aan sodanige waardasies te identifiseer.

Met betrekking tot die balansstaataantekeninge het twee van die maatskappye geen van die openbaarmakingsvereistes van die IFVS nagekom nie, een het dit in 'n beperkte mate nagekom en 'n ander het aangetoon dat beleggingseiendomme gedra word teen kosprys min waardevermindering, maar daar is geen aanduiding in die finansiële state dat daar wel waardevermindering voorsien is nie, aangesien die drabedrag van beleggingseiendomme van jaar tot jaar onveranderd gebly het. Hierdie hantering kan moontlik verkeerd wees, tensy die kosprys gelyk is aan die reswaarde van die eiendom. Die finansiële state sluit egter nie voldoende inligting in

om 'n finale gevolgtrekking te maak ten opsigte van die toepaslikheid van hierdie hantering nie.

Ten opsigte van beleggingseiendomme behoort 'n maatskappy die huurinkomste en ook die bedryfsuitgawes, insluitend herstelwerk en instandhoudingskoste ten opsigte van daardie eiendom wat huurinkomste genereer, asook sodanige items ten opsigte van daardie eiendom wat nie huurinkomste genereer nie, afsonderlik te openbaar. Slegs een maatskappy het al drie hierdie vereistes nagekom, een maatskappy het slegs die huurinkomste afsonderlik openbaar en die ander twee maatskappye het geen van hierdie items afsonderlik openbaar nie. Uit die evaluering van die inkomstestaat en gepaardgaande aantekeninge ten opsigte van elk van die twintig geselekteerde maatskappye het dit ook aan die lig gekom dat daar een ander maatskappy was wat huurinkomste ten bedrae van R10 miljoen ontvang het, maar die oorsprong daarvan is onduidelik aangesien die maatskappy geen besonderhede ten opsigte van beleggingseiendomme openbaar het nie.

4.3.1.13 Klandisiewaarde

Twaalf van die twintig geselekteerde maatskappye het klandisiewaarde. Slegs twee van hierdie maatskappye het in hul rekeningkundige beleid vermeld oor welke tydperk klandisiewaarde geamortiseer word. Tien van hierdie maatskappye het buitelandse filiale en slegs een het die metode vermeld wat gebruik is vir die omrekening van klandisiewaarde wat ontstaan het by die verkryging van die belang in hierdie buitelandse entiteite.

Daar is ook gevind dat talle van die ander maatskappye wel rekeningkundige beleid ten opsigte van klandisiewaarde openbaar het, maar dat die finansiële state self en ander aantekeninge tot die finansiële state geen besonderhede van enige klandisiewaarde openbaar nie. Daar kan moontlik twee redes hiervoor wees. Eerstens is dit moontlik dat 'n maatskappy in vroeër tydperke klandisiewaarde gehad het, nie nou meer klandisiewaarde het nie, maar dit steeds as toepaslik beskou om die rekeningkundige beleid te behou en te openbaar. Tweedens is dit moontlik dat die maatskappy wel klandisiewaarde het, dat die klandisiewaarde reeds ten volle geamortiseer is, en aangesien dit 'n nulwaarde het, uiteindelik nagelaat het om steeds die volle besonderhede van daardie klandisiewaarde te openbaar.

Ten opsigte van die amortisasie van klandisiewaarde het twee maatskappye geen onderskeid getref tussen die amortisasie van klandisiewaarde en die amortisasie van ander ontasbare bates nie, hoewel IFVS vereis dat hierdie bedrae afsonderlik openbaar word.

Hierdie maatskappye het ook in die balansstaataantekening klandisiewaarde en ander ontasbare bates saamgroepeer en verder ook geen onderskeid getref tussen intern-gegenereerde ontasbare bates en verkrygde ontasbare bates nie.