• No results found

Patriotisme: die pad, die stad en die vaderland in die Eclogae

5. Annotasie

5.2. Interkulturele vertaalprobleme

5.2.2. Patriotisme: die pad, die stad en die vaderland in die Eclogae

Die stad, soos bespreek in hoofstuk 4, bedreig die pastorale wêreld. Die Afrikaanse vertaling “stad” beskik ook oor die vermoë om dieselfde “koudheid” wat Vergilius aan die stad koppel oor te dra (sien D. J. Opperman se Stad in die mis28) (Van Niekerk, 2009:49). Daar bestaan ʼn tradisie in Suid-Afrikaanse letterkunde waar die platteland die konstante verlange is van dié

28 Met gespanne spier loop ek deur die mis want om my sluip ʼn dier onder wit duisternis;

ek hoor hom knor en in oop mote waggel sy pilare-pote

en sy kantelende rug metaal; op hoeke van die strate blink sy oë bloedbelope,

107 wat moes stad toe trek (Sien In die Hoëveld29, Van den Heever (1961:66), en Woza

Nonjinjikazi30, Vilakazi (1962)).

Die stad het dus alreeds in Suid-Afrikaanse literatuur ʼn element van vervreemding daaraan gekoppel, en van bedreiging Soos Totius skryf oor die “vroeëre boere-paradys” wat verval en verlore raak tot verstedeliking: “Die vroeëre boere-paradys is nou één molshoop, groot en grys (Totius, 1997:117). Nog digters skryf oor die isolasie wat daar in die stad te vinde is (o.a. Eybers en van Wyk Louw). Foneties is “stad” ook bot en dus effektief om die ongevoeligheid van Rome oor te dra. Selde bepaal die konteks dat ʼn beter vertaling eerder “dorp” sal wees. Die dorp, soos die stad, vervul dikwels ʼn bedreigend rol, maar bied ook ʼn spasie waar handel kan plaasvind en skep so ook ʼn meer landelike (pastorale) gevoel. Ek het so besluit om “stad” te gebruik, om die dreigement wat die stad vir die pastorale ruimte bied te behou. Die stad verskyn in beide Eclogae, en dikwels in beklemtoonde posisies (Ecl. 1.19, 24, 34; Ecl. 9.1, 62).

Ecl. 1. 19 Urbem, quam dicunt Romam

Die stad wat hulle Rome noem

Ecl. 1. 24 verum haec tantum alias inter caput extulit urbes quantum lenta solent inter uiburna cupressi.

Maar hierdie een het wragtie haar kop so hoog bo ander stede gelig soos sipresse gewoonlik tussen geharde lantana staan

29 In die Hoëveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo, Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,

Waar ʼn mens nog vry kan asemhaal en aan ʼn God kan glo, Staan my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.

En as ek in die gange van die myn hier sit en droom Van die winde op die Hoëveld, ruim en vry,

Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom, Sawens as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoëveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien, (Die ylblou bring dan ʼn knop in jou keel)

Staan my huisie nog en wag vir my, wag al ʼn jaar of tien, Waar die bokkies op die leigrafstene speel.

Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit, Dan sweef ek na die Hoëveld op die wind

En soek dan in die maanlig al die plekkies uit Waar ek kleiosse gemaak het as ʼn kind.

108

Ecl. 1. 34 pinguis et ingratae premeretur caseus urbi,

en ryk kase vir die

ondankbare stad gepers is

Ecl. 9. 1 te, Moeri, pedes? An, quo via ducit, in urbem?

Waarheen te voet, Moeris? Of is dit waarheen die pad lei, in stad toe?

Ecl. 9. 62 hic haedos depone: tamen veniemus in urbem

Sit die lammers hier neer, ons sal steeds die stad bereik

Die idee van “vaderland” is meer as net ʼn topografiese aanwyser in die Eclogae (Putnam, 1970:23). Vaderland is ongewoon in die pastorale ruimte en sluit ook ʼn reeks konsepte in wat vreemd vir daardie ruimte is, soos administrasie, lojaliteit, wetlikheid, gebondenheid, ensovoorts (Putnam, 1970:23). Die gebruik van patria dra so ook by tot die patos van die Eerste

Ecloga (Ecl. 1.3-4, 67).

In Afrikaans dra “vaderland” ook politiese en emosionele gewig. Die Nasionale Party het “vir volk en vaderland” onder Verwoerd se gesag as ʼn slagspreuk gebruik (Fourie, 2008:69). Daar het ook die dagblad, Die Vaderland, bestaan, ʼn vurige ondersteuner van die Nasionale Party. Daarom kan daar sterk negatiewe konnotasies met “vaderland” in Suid-Afrika wees; tog dui die woord ook op ʼn patriotiese verwantskap (Die Suid-Afrikaanse digter, dramaturg en skrywer Zakes Mda skryf ook We shall sing for the Fatherland in 1979). Daar is ʼn neiging om vandag meer gereeld “moederland” te gebruik. Volgens die WAT dui moederland dikwels op ʼn land wat ander lande gekoloniseer het (WAT, 2008). Met hierdie vertaling is daar dus besluit om “vaderland” ten spyte van die moontlike negatiewe assosiasies te behou.

Ecl. 1. 3-4 nos patriae fines et dulcia linquimus arva:

nos patriam fugimus

Ons verlaat ons vaderland se grense en soet velde. Ons moet vlug van ons

vaderland

Ecl. 1. 67 En umquam patrios longo post tempore finis... videns

Ag sal ek ooit, lank hierna, na my vaderland se grense kyk?

109 Die paaie wat in Ecloga 9 volop is, skaaf ook aan die pastorale wêreld van daardie gedig en verdien ʼn nadere blik. Paaie is ongewoon in die pastorale spasie (Jones, 2011:101), maar verskyn vier keer in hierdie gedig (Ecl. 9.1, 23, 59 & 64). Alhoewel daar verskeie opsies vir

via in Afrikaans bestaan, soos “weg”, “laan” en “straat”, is “pad” eerder in hierdie vertaling

gebruik. Die paaie in hierdie gedig bring die idee van “beskawing” en siviele ontwikkeling na die onopgesmukte plattelandse wêreld waarin Vergilius se karakters funksioneer. Die plofklanke van “pad” dra hierdie “indringer” kwaliteit oor en suggereer voetstappe. Soos blyk uit Amanda Strydom se “Ek loop die pad” word dit ook duidelik dat “pad” figuurlik of simbolies gebruik kan word, soos toegepas met die vertaling in reël 59.

Ecl. 9. 1 quo via ducit waarheen die pad lei

Ecl. 9. 23 brevis est via die pad is kort

Ecl. 9. 59 media est nobis via helfte van ons pad lê nog voor

Ecl. 9. 64 minus via laedit dit maak die pad minder vervelig