• No results found

5. Annotasie

5.2. Interkulturele vertaalprobleme

5.2.3. Die gode in die Eclogae

In die antieke wêreld is die woord deus (“god”) wyd gebruik. Lucretius verwys na Epicurus as “ʼn god” en Cicero noem Plato “daardie god van ons” (Lee, 1984:109). In Suid-Afrika is die grootste religieuse groepe monoteïsties. Onder die huidige konstitusionele bedeling van Suid-Afrika word vryheid van geloof (artikel 15) beskerm sowel as die reg om aan kulturele en religieuse praktyke deel te neem (artikel 31) (Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996).

Die diversiteit van die Suid-Afrikaanse bevolking se geloofsoortuigings dra by tot van die uitdagings met die vertaling van die Romeinse mitiese elemente. Die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners identifiseer as deel van die wêreld se drie groot monoteïstiese gelowe: Christen-, Islam- of Joodse geloof (Coertzen, 2008:360). Die enkelvoud “God” met ʼn hoofletter word dus vir verskillende groepe in Suid-Afrika as heilig geag. Ander gebruik die enkelvoud met die kleinletter “god” as ʼn uitroep of skelwoord. In geloofsgroepe wat voorvadergeeste as deel van hul geloofstelsel erken, word daar nie na die geeste as gode verwys nie (Amoah & Bennett, 2008:361-362). Daar bestaan wel geloofsgroepe in Suid-Afrika, soos die Hindoe geloof, wat politeïsties is, en waar die meervoud “gode” gebruik word. Ek wil aanvoer dat, weens die resepsie van klassieke mitologie in hedendaagse boeke, films en selfs

110 rekenaarspeletjies, sekere gode (of die idee van gode) vir meeste mense, ook Suid-Afrikaners, bekend is (Hardwick, 2017:12).

Die eerste verwysing na mitiese teenwoordigheid in die Eclogae verskyn in Ecloga 1, waar Meliboeus die Muse van die bos noem (Ecl. 1.2). Die Muse as die bron van inspirasie speel ʼn kernrol in die skep van pastorale poësie en die belangrikheid van sang in hierdie wêreld. Die Muse verskyn twee maal in die Eclogae (Ecl. 9.33).

Ecl. 1. 1-2 Tityre, tu patulae recubans sub tegmine fagi

silvestrem tenui Musam meditaris avena

Tityrus, jy lê onder die breë blaardak van die njala, besig om die Bosmuse op ʼn dun riet te bedink.

Ecl. 9. 33 Pierides; sunt et mihi carmina

Die Muses het my ook ʼn digter gemaak, en ek het ook liedere

Ek het besluit om in die vertaling Muse onveranderd te hou. Die teenwoordigheid van die “Muse” dra by tot die magiese realisme teenwoordig in die pastorale wêreld. In die eerste voorbeeld het ek besluit om die Muse van die bos, eerder as “Bosmuse” te vertaal. Blackenberg het hier besluit om “Muse van die woud” te gebruik (1975:1) (sien 5.1.1. vir my motivering om eerder “bos” te gebruik). Volgens die WAT verwys die muse na “enigeen van die nege dogters van Zeus en Mnemosune” wat in die antieke wêreld “godinne van die skone kunste en wetenskap was, sowel as ʼn bron van inspirasie.” Verdere betekenisse sluit in “die skeppende krag wat kunstenaars, veral ʼn digter inspireer” en “iets of iemand wat as ʼn bron van inspirasie vir ʼn kunstenaar dien” (WAT, 2008). Die muse dra dus twee betekenisse: die mitologiese karakter sowel as die “inspirasie” wat in die Westerse tradisie al sinoniem met “Muse” geword het. Hierdie vertaling buit hierdie dubbelsinnigheid ook uit, deur op laasgenoemde staat te maak vir lesers wat nie so vertroud met eersgenoemde is nie.

Die woord “god” is ook in vertaling behou. Vir baie van dieselfde redes as met “Muse” is daar aanvaar dat “god” of “gode” die regte stemming behou en terselfdertyd die verrykende kwaliteite wat aan die woorde geheg word.

Ecl. 1. 6-8 O Meliboee, deus nobis haec otia fecit:

namque erit ille mihi semper

O Meliboeus, dit is ʼn god wat my hierdie vrede gegee het- want hy sal ewig ʼn god vir

111

deus; illius aramsaepe tener nostris ab ouilibus imbuet agnus.

my wees; sy altaar sal dikwels met ʼn sagte lam van ons kraal bevlek word.

Ecl. 1. 18 Sed tamen, iste deus qui sit, da, Tityre, nobis.

Ma’ ve’tel my nou, Tityrus, wie is hierdie god van jou?

Ecl. 1. 36-37 Mirabar, quid maesta deos, Amarylli, vocares,

cui pendere sua patereris in arbore poma:

Ek het nogal gewonder, Amaryllis, hoekom jy so hartseer na die gode geroep het, en vir wie jy die appels aan die bome laat bly hang het.

Ecl. 1. 40-41 Neque servitio me exire licebat,

nec tam praesentis alibi cognoscere divos.

Nêrens anders is ek toegelaat om my slawerny te verlaat nie, nêrens anders om die gode, so gretig om te help, te leer ken nie.

Met die derde voorbeeld hierbo, is poma (appels) ook beklemtoon. Die rede hiervoor is dat “appels”, soos duiwe, aan Venus gekoppel is (Boyle, 1976:103). Die belang hiervan word hier onder bespreek. Met die eerste voorbeeld hierbo verskyn daar ook ʼn verwysing na die offer van lammers.

Ecl. 1. 8 saepe tener nostris ab ovilibus imbuet agnus

Sy altaar sal dikwels met ʼn sagte lam bevlek word

Hierdie verwysing hou verband met die Romeinse praktyk van offers aan die Lares (die geeste wat oor die huis en die vuurherd wag gehou het) (Lee, 1984:110). Weer eens hier word die teenwoordigheid van Romeinse kulturele en religieuse praktyke in die Eclogae gesien. Met die vertaling is daar besluit om nie die praktyk te omskryf nie. Diere word in Suid-Afrika ook geslag vir religieuse en kulturele praktyke (Amoah & Bennett, 2008:362). In inheemse Suid-Afrikaanse kulture word bokke en skape dikwels geslag om belangrike lewensgebeurtenisse (soos dope, troues, ens.) te vier, of om te offer aan die voorvaders (Amoah & Bennett,

112 2008:363). In Suid-Afrika, weens die oorheersende teenwoordigheid van die Christendom, is daar ook bekendheid met die idee van Jesus as die “offerlam” en die Ou Testamentiese gebruike van diereoffers aan God. Die deursnit Suid-Afrikaner sal daarom die verwysing na die altaar en die bloed wat dit bevlek verstaan as ʼn religieuse/ kulturele praktyk.

In Ecloga 9 word die noodlot ook implisiet na verwys. Alhoewel Vergilius nie die parcae eksplisiet noem nie, is sy verwysing na fors (geluk, noodlot, kans) ʼn implisiete verwysing na die Romeinse geloof in die noodlot en heilige oorsigtelikheid (Ecl. 9.5). Daar is teen “geluk” besluit oor die positiewe konnotasie wat die woord het. Ek het besluit om eerder “noodlot” te gebruik. “Noodlot” het ʼn duidelike betekenis; volgens die WAT kan die noodlot na “ongelukkige of ongunstige omstandighede waaraan iemand, of iets onderhewig is,” verwys, of na “teenspoed” (WAT, 2008). In isiXhosa bestaan daar ʼn gesegde: “uphawu isegazini” wat vertaal as “dis in die bloed.” Hierdie gesegde dra die idee oor dat dit wat jy is (jou gene, jou bloed) vooraf bepaal is. Wat dit ook demonstreer, is dat die idee van voorafbestemming nie vreemd is vir Suid-Afrikaners nie. Beide isiXhosa en isiZulu het ook woorde vir die noodlot (“uzubumelela” en “ukuhlinzeka”). Hier wil ek weer eens noem dat weens die resepsie van Griekse en Romeinse mitologie in die globale wêreld die idee van “geluk” of “fate” nie vreemd vir die doelkultuur is nie (sien Hardwick, 2017).

Ecl. 9.5 quoniam Fors omnia versat, aangesien die Noodlot alles omverwerp

In dieselfde gedig word daar ook melding gemaak van die Nimfe (Ecl. 9.19). Die Nimfe verwys na “enigeen van verskeie mindere godinne... wat as pragtige jong meisies voorgestel word, wat die see, riviere, bome, berge en bosse bewoon en soms kenmerke daarvan verpersoonlik” (WAT, 2008). “Nimf” het ook nou al ʼn konnotasie aan ʼn vrou met losse sedes (WAT, 2008). Ek glo dat hierdie negatiewe verbintenis vermy word deur die meervoudsvorm. Soos met die Muse, is die Nimfe onveranderd gelaat. Hulle dra so by tot die magiese realisme teenwoordig in die Eclogae en verryk terselfdertyd die doelkultuur.

Ecl. 9. 19 quis caneret nymphas Wie sal van die Nimfe sing?

Julius Caesar, wat voor die publikasie van die Eclogae vermoor is, maak ook sy verskyning, nou as ʼn goddelike entiteit in Ecloga 9 (reël 47). Daar word na hom verwys as ʼn ster (komeet), wat melding maak van die komeet wat na Caesar se dood in 44 v.C. verskyn het (Plin. NH

113 2.93-4). Hierdie komeet is as ʼn teken aanvaar dat Caesar nou ʼn god is (Coleman, 1977:267). Vergilius beklemtoon hierdie natuurverskynsel deur die woord “ster” te herhaal.

Die “nasaat van Dione” verskyn ook in die Caesar-verwysing en roep Venus op. Dione is Venus se ma (Boyle, 1976:135). Hierdeur word die heilige oorsprong van Caesar weer eens beklemtoon. Venus is Aeneas, die “stigter” van Rome, se ma. Deur hom, en sy nasaat Iulus, het Julius Caesar ook heilige bloed. As sy aangenome seun is Octavianus – in alle waarskynlikheid die “god” van Ecl.1. 6 – ook “heilig” deur erfenis (Boyle, 1976:134). Dione is nie so ʼn bekende godin nie. Ek het dus besluit om in my vertaling haar verwantskap aan die baie meer bekende Venus by te voeg. Venus, weens die blote feit dat een van die planete na haar vernoem is, is meer bekend vir ʼn hedendaagse leser. Daar bestaan sterk romantiese en seksuele konnotasies met Venus (dink maar aan die Engels “venereal”)31, sowel as ʼn handelsmerk “Venus” (wat o.a. onderklere verkoop). Nelia Vorster (2003) het ʼn gedig oor Saartjie Baardman, die Khoi vrou wat in Europa as deel van o.a. sirkusse ten toon gestel is, geskryf: Saartjie Baardman: aardse Venus32, wat terselfdertyd die verband tussen klassieke

mitologie en die geskiedenis van Suid-Afrika ten toon stel, en die seksualisering van Venus in antieke en hedendaagse kultuur uitbeeld.

31 http://eportfolios.roehampton.ac.uk/hsa020c132h/2018/06/30/a-modern-look-at-venus-an-icon-of- feminism-and-pop-culture/#:~:text=Mythology%20is%20embedded%20in%20pop,she%20has%20come%20to%20represent 32 Op twintig is roem en rykdom jou beloof

In die witmanswêreld moes jy vind dat jy maar net

halfmens was. In ʼn hok op pleine moes jy gedwee bly staan dat brille en baarde kom hmmm, kom haa oor die kroes van jou hare die grootte van jou boude die volheid van jou lippe terwyl hul kwylend spekuleer oor dit wat verborge is: nóg Pond nóg Frank kon toe jou bene sprei.

114 Deur die verwantskap tussen Dione en Venus duidelik te maak, gee dit vir die hedendaagse leser konteks en bind ook effektief vir Caesar aan die goddelike sfeer.

Ecl. 9. 47 Ecce Dionaei processit Caesaris astrum,

astrum

Kyk! Die ster van Caesar, nasaat van Dione – Venus se ma - het verskyn - die ster

Kortliks moet daar ook melding gemaak word van die gebruik van die woord sacros (Ecl. 1.52). Coleman voer aan dat hierdie fontis sacros nie net die pastorale toneel uitbeeld nie, maar ook iets oordra oor die vroomheid van die karakters in die Eclogae(1977:83). Die “heiligheid” wat aan elke stroompie of fontein gekoppel word in die pastorale landskap, skep ʼn intieme atmosfeer in die Eclogae. In sekere dele van Suid-Afrika (soos die Karoo) is die beskrywing van ʼn waterbron as “heilig” baie gepas weens die ontsaglike droogtes daar beleef die afgelope paar jaar33. So ook, weens die spirituele verband wat mense in Suid-Afrika met die grond ervaar (sien hoofstuk 2) is die beskrywing van die natuur as “heilig” nie vreemd in die doelkultuur nie. Hierdie woord dra by tot die verhewe atmosfeer van die Eclogae oor die algemeen.

Ecl. 1. 51-52 hic, inter flumina nota et fontis sacros, frigus captabis opacum!

Hier, tussen bekende strome en heilige fonteine, sal jy die koel skadu uitsoek