• No results found

1. Pastorale poësie: Vergilius en die Eclogae

2.2. Digters en hulle verhouding met politiek

ʼn Heersende debat onder navorsers is gesentreer om die vraag of digkuns ooit as propaganda geklassifiseer kan word? Kan digters ooit werklik vir politieke gewin gebruik word, of moet hulle rol eerder dié van waarnemer wees? Williams (1968:75) voer aan, en Putnam (1995:14) stem met hom saam, dat digters interpreteerders van die krisisse in hulle eie samelewings is, soos gesien kan word in baie gedigte wat onder Augustus se bewind geskryf is.

Die politieke invloed gedurende die Laat Republiek, toe Augustus se magspel begin het, is duidelik sigbaar. Die keiser het van verskeie mediums gebruik gemaak as ʼn wyse om sy mag ten toon te stel, hy wou die publiek inlig, die keiser verheerlik en sy heerskappy aansien gee (Manders, 2008:12). Zanker verwys daarna dat “politiese ikonografie” op verskeie monumente gevind kan word, wat tesame met die beelde dikwels tekste ook behels het (2010:1-25). Baie munte het ook in hierdie tyd politiese afbeeldings op gehad (Weeda, 2015:6). Weeda vra of ons kan aanvaar dat propaganda enige rol in die Romeinse politiek van die tweede helfte van die eerste eeu v.C. gespeel het (2015:17). Vandag word daar algemeen aanvaar dat propaganda die vermoë het om publieke opinie te verander, en die krag van polities gelaaide tekste word nie onderskat nie, tog moet mens waak daarteen om eietydse standpunte op antieke onsekerhede af te dwing.

In Vergilius se tyd kan ʼn paar voorbeelde van propagandistiese tekste geïdentifiseer word. Augustus verwys, byvoorbeeld, in die Res Gestae, ʼn outobiografiese werk, na sy eie herbouing en herstel van bedrywighede (19. 1 & 20. 1). Suetonius se Vita Horatii9 sowel as sy Divus

9 Augustus versoek gedigte oor spesifieke temas by Horatius: scripta quidem eius usque adeo probauit […] ut

non modo Seculare carmen componendum iniunxerit sed et Vindelicam victoriam Tiberii Drusique (Vita Horatii,

17-18)

“Hy (Augustus) het Horatius se skryfwerk tot so ʼn mate goedgekeur […] dat hy hom nie net bevel het om die

31

Augustus dui op Augustus se pogings om propaganda in sirkulasie te bring (70-71)10 (Weeda, 2015:17). Party uittreksels in Augustus se sogenaamde outobiografie, tesame met van die werke van ʼn geskiedskrywer, beskryf sy propaganda-strategieë. Later is maar min geskryf oor hierdie strategieë; die meriete van bewerings oor sy benadering tot propaganda is slegs deur hul wydverspreide invloed bepaal (Wyke, 2004:116). ʼn Voorbeeld hiervan is dat daar heelwat anti-Antonius tekste gevind kan word (Weeda, 2015:29).

Of Vergilius se werk by hierdie groep propagandistiese tekste inskakel, is ʼn vraag wat voortdurend opduik. Weeda tref onderskeid tussen propaganda en lofrede; propaganda kan eenvoudig gestel word as werke wat die onderwerp uitbeeld soos hy gesien wil word, lofrede as hoe die skrywer hom sien (2015:19). Ek wil aanvoer dat later werke van Vergilius eerder as lofrede geklassifiseer kan word as propaganda. Met die aankoms van vrede het nuwe intellektuele en artistiese waardes in poësie vorendag gekom; digters het ʼn hoë vlak van betrokkenheid in kontemporêre kwessies gehandhaaf (Weeda, 2015:56). Digters was ook dikwels betrokke in ʼn groep amici wat uit lede van die Romeinse elite en geleerde groepe bestaan het, soos Maecenas sy groep digters, wat Horatius en Vergilius insluit, bymekaargebring het (Weeda, 2015:56). Weeda voer aan dat poësie nie noodwendig die mees effektiewe wyse was waarop politieke boodskappe oorgedra is aan die Romeinse elite nie (2015:56); ek is geneig om met hom saam te stem. Poësie is nie propaganda nie, maar Vergilius, soos meeste digters, het uitdrukking in poësie gevind vir sy eie insigte en emosies.

Vergilius het sy eie kennis en ervarings gebruik om die maatskaplike en politieke situasie wat deur die agteruitgaan van die plattelandse orde veroorsaak is, ten toon te stel (Weeda, 2015:56). Sy kommer oor die verdwyning van boerdery en kleinhoewes in Italië, kom duidelik in die

Eclogae na vore. Deur middel van verwysings word sy kommer oor en empatie vir die swaarkry

van die plattelanders uitgebeeld; terselfdertyd maak Vergilius ook die politieke verantwoordelikheid, wat hy blyk te glo verskillende partye dra, duidelik (Weeda, 2015:57). Martindale gaan so ver as om die Eclogae as “protes teen die kwaad van die stad” te bestempel (1997:118).

10 Suetonius bespreek die sive criminibus sive maledictis (óf beskuldigings (aanklagtes) of lasteringe). Hy haal hier ʼn lasterlike epigram oor Octavianus se mislukkings gedurende die Sisiliaanse verldslag aan: epigramma

vulgatum est: Postquam bis classe victus naves perdidit, Aliquando ut vincat, ludit assidue aleam ([…]).

“ʼn epigram was algemeen: Nadat hy twee maal op die see verslaan is, en sy vloot verloor het, gooi hy (Octavianus) die dobbelsteen, met die hoop om iewers te wen”

32 Die Eclogae lewer myns insiens fel kritiek teenoor Octavianus/Augustus. Weeda beskryf Vergilius se stemming as “bitter” en voer aan dat Vergilius krities staan teenoor die sosiale ontwrigting weens grondonteiening en uitsetting van boere wat in die area hoort (2015:75, 84). Die gevolge van hierdie uitsettings was onder andere die verwoesting van leefwyse en verlies van tradisionele, plaaslike waardes (Weeda, 2015:58). Hierdie bekommernis sluit ook aan by Vergilius se kommer oor die natuur self.

Dominik skryf in Vergil’s Geopolitics (2009) dat die politieke en geografiese faktore in die

Eclogae saam funksioneer (2009:112). Hy voer verder aan dat Vergilius die politieke aspek

spesifiek beklemtoon, wat weer aansluit by die invloed wat politieke faktore op die wêreld van die Eclogae het (Dominik, 2009:112). Hierdie faktore het ʼn effek op die ruimte, en gooi letterlik hulle skadu oor die wêreld waarin die Eclogae afspeel, wat per implikasie die kwesbaarheid van die ruimte duidelik maak (Dominik, 2009:112). Vergilius gebruik skaduwees in sy werk om nie net die kwesbaarheid van die ruimte duidelik te maak nie, maar ook om ʼn atmosfeer van onsekerheid te skep (soos aan die begin van die Eclogae en die einde van die Aeneïs).11 Vergilius, deur al sy werke, dra ʼn kommer vir die skending van die landskap; voorbeelde hiervan is die afkap van die heilige olyfboom in die Aeneïs (12. 766-771), sowel as die feit dat die Georgica eindig met basies dieselfde reël as waarmee die Eclogae begin12, wat die konsekwentheid van sy bewustheid oor die geografiese ruimte ten toon stel (Weeda, 2015:143, 144).

Vergilius kan dus met oortuiging as ʼn politieke digter geklassifiseer word (Dominik, 2009:111). Die teenwoordigheid van politieke kwessies en temas is deurlopend sigbaar in die diskoers van die Eclogae, Georgica en Aeneïs. Daar kan daarom aangevoer word dat sy gedigte ʼn politieke en ideologiese standpunt inneem (Weeda, 2015:143). Vergilius het, soos reeds genoem, uit persoonlike ervaring gedig. Die digter se ervarings rondom die “realiteit” wat hy beleef, is, soos ander mense s’n, in die erfenis van historiese gebeure gewortel (Segal, 2014:271). Mens kan egter aanvaar dat, as hy kies of gedwing voel om uit hierdie gebeure poësie te skep, die gebeure, sowel as die digproses, die digter tot nuwe insigte bring, en wat

11 Ast illi solvuntur frigore membra

vitaque cum gemitu fugit indignata sub umbras (Aen. 12. 951-952)

“Maar so het sy ledemate verslap met die dood

En sy lewe het gevlug, met ʼn kreun, woedend, na die Skadus”

12 Tityre, te patulae cecini sub tegmine fagi. (G. 4. 566) “Tityrus, jy sing onder die wye bedekking van die kremetart”

Tityre, tu patulae recubans sub tegmine fagi (Ecl. 1. 1)

33 dikwels die grense van die historiese gebeurtenis oorskry (Segal, 2014:271). Een so ʼn geval is die Eclogae.

Die Eclogae verwys nie na ʼn algemene politieke bedreiging nie, maar na ʼn spesifieke gebeurtenis: die grondonteiening wat in Vergilius se eie geboorte-area, naby Mantua, plaasgevind het (Eclogae 1, 6, 8 & 10) (Weeda, 2015:83). Vier van die gedigte verwys na die ongeërgdheid van, of die uitbuiting deur, nuwe eienaars van die grond (Eclogae 5, 7, 8 & 9).

Eclogae 2, 3 en 9, verwys na ʼn bedreiging van die persoonlike lewe, 6, 8 en 9 raak weer aan

die verwoesting van plaaslike gemeenskappe en 3 en 8 aan die verdwyning van kardinale waardes. Ecloga 4 getuig weer van ʼn verlange na vrede en die herstel van orde in die platteland (Weeda, 2015:84). Dus is dit duidelik dat die Eclogae as ʼn versamelwerk aan menigte politieke en maatskaplike kwessies raak en deurlopend ʼn politieke bewustheid ten toon stel.

Die Eclogae is ook krities oor die politieke realiteit en beskik dikwels oor ʼn somber stemming. Vergilius dra kritiek op Octavianus se dade in Eclogae 1, 6, 7, 8 en 9 oor (Weeda, 2015:84). Deur hierdie kritiese invalshoek word ʼn beslissende antagonisme wat tussen die pastorale wêreld en die realiteit van die Romeinse sosiale en kreatiewe sfeer heers, duidelik gemaak (Alpers, 1979:225). Hierdie antagonisme getuig ook van ʼn tipe isolasie. Die staat is veelvuldig en divers, die individu, in sy wêreld, is dikwels alleen en die realiteit van die onteinde grondeienaars is een van isolasie en verlatenheid, soos uitgebeeld deur Meliboeus en Moeris in Eclogae 1 en 9 onderskeidelik (Alpers, 1979:84).

Deur die Eclogae maak Vergilius sy standpunt oor politieke omstandighede duidelik; daardie standpunt is een van ʼn digter en nie een van ʼn historikus nie (Segal, 2014:271). Vergilius probeer nie ʼn historiese bron rondom grondonteiening in Rome te skep nie, maar gebruik digkuns om uiting te gee aan sy emosies, insigte en sienings. Die Eclogae maak dit juis duidelik hoe poësie oor die vermoë beskik om met die dilemmas van die menslike ervaring om te gaan en die gewig van historiese gebeure, menslike gebeure, te verwoord (Alpers, 1979:8).

Die Eclogae is daarom nie propagandisties nie, maar eerder die produk van waarneming en verwerking. Vergilius skep in die Eclogae ʼn ruimte waar politiek teenwoordig is, en selfs oop is om geïnterpreteer te word, maar nie noodwendig afgedwing word nie. Digters, en hul kuns, kan beslis politieke boodskappe oordra, maar in die geval van die Eclogae vervul Vergilius eerder die rol van ʼn interpreteerder van sy samelewing.

34