• No results found

Die benaderings van domestikering teenoor vervreemding

3. Vertaling: die teorie en die praktyk

3.3. Die benaderings van domestikering teenoor vervreemding

Venuti bring die terme “domestikering” en “vervreemding” onder die kollig in sy boek The

Translator’s invisibility (1995). Die twee terme kan in tekste deur die geskiedenis in verskeie

51 Schleiermacher, wat oor “einbürgende” en “verfremdende” skryf (soos aangehaal in Venuti, 1995:23). Hierdie terme verwys na die keuse van ʼn vertaler om óf ʼn teks in die styl van die oorspronklike taal te hou, al beperk dit die leesbaarheid en vloei van die vertaling, met verwysings na kultuur- en natuurverskynsels wat vreemd vir die gehoor kan wees (vervreemding), óf na die aanpassing van styl in die vertaalproses om soos die doeltaal te lees, met verandering van terminologie om bekend vir die gehoor te klink (domestikering).

Nida (1964), verkies ʼn gedomestikeerde vertaling. Sy benadering tot domestikering lê gewortel in die idee dat die mensdom, in sy kern, onveranderd is oor grense en deur tyd (Venuti, 1995:22). Nida, en ander soos hy, glo dus dat daar gedeelde menslikheid in tekste lê, wat geen skade kan ly deur aanpassing vir ʼn spesifieke taal- of kultuurgroep nie. Myskja staaf hierdie benadering deur uit te wys dat ʼn gedomestikeerde vertaling dikwels vlot en natuurlik is, en dus ʼn produk skep wat poog om die waardigheid van die bronteks te behou en as ʼn alleenstaande werk dan ook gelykstaande waarde te hê (2013:3).

Daarteenoor argumenteer Venuti sterk vir vervreemding. Venuti (1998, 2008, 2010) glo dat vertalings wat in staat is om “kulturele oorheersing” te weerstaan, in effek rassisme en etniese homogeniteit weerstaan. Venuti voer aan dat domestikering kulturele narsissisme en imperialisme bevorder (Venuti, 2010:78). Hy bou verder op sy argument deur uit te wys dat domestikering dikwels ondersteun word in ekonomiese terme. Redakteurs en uitgewers verkies gedomestikeerde vertalings, aangesien hulle dikwels beter verkoop, en resensente verkies hulle omdat hulle “mooi” en “maklik” lees (Venuti, 1995:16). Dus kan vervreemding ʼn tipe weerstand bied, ʼn rebellie, wat gevolglik ook aan die vertaler ʼn bietjie outoriteit verleen (Venuti, 1995:20).

Vir Venuti, soos reeds genoem, is vertaling ʼn gewelddadige proses wat vereis dat die vertaler moet “verwoes” en “verinneweer” en dan gevolglik ook wat hy verwoes het in ʼn ander taal vervang (Venuti, 2008:14). Deur te vervang, argumenteer Venuti, neem die globale oorheersing van Anglo-Amerikaanse kultuur net toe. Die kulturele waarde van vreemde groepe word in die Engelse stroom verdrink en vertalers behoort nie passief daaroor te voel nie (Venuti, 1995:17). Venuti skryf dat die motivering vir vervreemding lê in die poging om met kulturele en politiese agendas weg te doen. Die punt is daarom om eerder ʼn teorie te ontwikkel, sowel as ʼn praktyk, wat die waardes van die oorheersende doel-taal (Anglo-Amerikaans), weerstaan en sodoende taalkundige sowel as kultuurverskille in die vreemde teks te beklemtoon (1995:23).

52 Venuti maak ʼn geldige punt. Deur van die “vreemde” elemente in ʼn teks te bewaar, behou mens iets van daardie teks se kulturele integriteit. Hy kry ook ondersteuning van Walter Benjamin en Antoine Berman wat ʼn “taalkundig gemerkte” vertaling ondersteun ( The task of

the Translator (1923); L’Epreuve de l’étranger: Culture et traduction dans l’Allemagne romantique (1984)). Venuti se bydrae tot die rol van die vertaler – een wat sigbaar moet wees

– moet glad nie onderskat word nie. Ek wil egter aanvoer dat ʼn middeweg tussen domestikering en vervreemding moontlik is en deur hierdie studie wil ek graag vir hom en Nida verenig: ek wil graag so vertaal dat die integriteit van die Latynse teks bly staan, dat ek ʼn sigbare vertaler sal wees, maar ook ʼn gedomestikeerde vertaling bied. ʼn Vertaling vir ʼn Suid-Afrikaanse gehoor, wat so ontvang sal kan word. Domestikering kan ook bereik wat Venuti graag wil hê: ʼn vertaling wat “kulturele narsissisme” en “imperialisme” weerstaan, veral as die taal waarin daar vertaal word tot ʼn derde-wêreldse land behoort. Wanneer daar in ʼn taal wat deur relatief min mense gepraat word, of waarin min mense skryf, vertaal word, is die behoud van daardie taalgroep se sintaks en uitdrukkingvome juis ʼn teenwerking van Venuti se vrees vir Anglo-Amerikaanse oorheersing. In hierdie tesis word daar in Afrikaans vertaal, ʼn inheemse taal van Suid-Afrika, wat juis Suid-Afrikaanse verskynsels soos die flora na vore bring deur middel van domestikering.

In die artikel Foreignisation and resistance: Venuti and his critics (2013) sit Myskja die kritiek wat teen Venuti geskryf is, uiteen. Kortliks: Tymoczko voer aan dat daar probleme is met Venuti se definisie van “vervreemding” en dat die kriteria dus te vaag is om na te volg (Myskja, 2013:9). Mona Baker vind weer fout met die kloof tussen “vervreemding” en “domestikering”; sy voel dis meer kompleks as wit en swart (Baker, 2010:115). Hier wil ek graag uitwys dat Venuti wel praat van ʼn verskeidenheid van vlakke tussen die twee terme (Venuti, 2008:271), maar dat Baker se argument steeds staan omdat Venuti se definisie vaag is.

Tarek Shamma, in sy artikel, Translation and the Manipulation of Difference (2009), wys die probleem van vervreemding en erotiek uit. Hy gebruik die voorbeeld van die vertaling van Arabiese tekste na Engels en die seksualisering van die Arabiese kultuur. Hy wys dus uit hoe ʼn gedomestikeerde vertaling juis minder rassisties sou wees en die oorspronklike teks met meer waarde sou hanteer het (Shamma, 2009:65). Vervreemding kan dus as meer of minder relevant in party kulture gesien word as in ander (Myskja, 2013:19). Laastens, en vir die doel van my studie die belangrikste, skryf Cronin dat gemarginaliseerde tale besmet kan word deur sintaktiese invloede, sowel as leenwoorde, van ʼn oorheersende taal en gevolglik hulle eie identiteit kan verloor (2010:251).

53 In my vertaling gaan ek daarom domestikering probeer toepas op die teks. My motivering is gekoppel aan ʼn begeerte om ʼn teks te skep wat eg Suid-Afrikaans lees en klink.14 Die poging is nie om mense te oortuig hierdie is ʼn Suid-Afrikaans gebore teks nie, maar eerder om Afrikaanse literatuur te verryk en daarteenoor nuwe lewe in die Latyn te blaas. Ek is ook oortuig dat my vertaling ʼn groter gehoor deur middel van domestikering kan bereik en terselfdertyd my as die vertaler nie wegsteek nie, soos Venuti vrees, maar eerder my aktiewe rol in die verbinding van die Latyn en die Afrikaans duidelik stel. Deur die Latynse poësie in Afrikaans om te sit, kan die verhouding tussen die twee tale en kulture van nader bestudeer word. Die universele, bindende ervarings van die mensdom kan met vars oë aanskou en die verskille waardeer word.

Die invloed van verskeie literêre sisteme en tale op mekaar moet dus glad nie gevrees of onderskat word nie. Ek dink Venuti se teorie is geldig vir Anglo-Amerikaanse vertaal-praktyke, maar vir minderheid-taalgroepe is dit nie noodwendig die geval nie. Deur bewus te wees van die magsverhoudings tussen tale kan ʼn gedomestikeerde vertaling meer verrig in sekere kontekste as in ander. Hierdie post-koloniale bewustheid lewer ʼn belangrike bydrae tot vertaalteorie.