• No results found

3. Vertaling: die teorie en die praktyk

3.5. Die begrip rondom kulturele vertaling

Daar bestaan geen menslike gemeenskap sonder iets wat grens aan kultuur nie (Raffel, 1998:3). Kultuur vorm ʼn basiese bousteen van die menslike bestaan en stel duidelik hoe ʼn spesifieke groep mense lewe. Kultuur word ook oorgedra van geslag tot geslag, en vorm dus deel van ons erfenis (Raffel, 1998:3).

57 Taal is ʼn produk van kultuur. Soos menslike kulture kan ontwikkel en verander, so ook kan tale. Nóg kultuur nóg taal is ʼn stagnante entiteit (Raffel, 1988:3). Elke taal het sy eie kenmerkende eienaardighede en elke taal het sy eie beperkings (Lefevere, 1975:32). Dit is hoekom vertaling as ʼn komplekse onderhandeling tussen twee tale gesien kan word (Munday, 2009:179). Vertaling word ook deur een (of meer) mens uitgevoer, ʼn mens wat moet werk met die mees onvoorspelbare produk van die mensdom: taal (Morini, 2013:28). Tale is dus dinamiese kulturele sisteme waaraan kultuurgroepe ongelooflik baie waarde heg; dit bemagtig individue om met beide hulself en ander te kommunikeer en funksioneer selfs in ons onderbewussyn en ons drome (Raffel, 1988:4).

Die besluite wat deur ʼn vertaler geneem moet word, moet daarom kultureel bewus wees. Van die vertaler se oorweginge kan insluit, maar is nie beperk nie tot: Wat is die “genre” (behoort die bronteks tot ʼn genre wat die doelteks ook aan moet behoort? Is daar ʼn soortgelyke genre in die gekose kultuur?) Wat is die historiese en geografiese afstand tussen die tale? Wat is die register van die teks? Wat is die verhouding tussen die outeur/spreker en die gehoor/aangesprokene? Hoe is die bronteks, enigsins, relevant tot die gekose kultuur? (Morini, 2013:11). Wanneer die tydsverskil of die geografiese afstand tussen die bronteks en die vertaling baie groot is, moet die vertaler gepaste plaasvervangers vir historiese terme vind, of ʼn doelbewuste gedomestikeerde vertaling skep wat die dialoog tussen die tekste ondersteun (Morini, 2013:132).

Hier word Venuti se vrese oor die globale oorheersing van Anglo-Amerikaanse kultuur en die inherente rassisme en imperialisme gekoppel aan domestikering, weer relevant (Venuti, 1995:17). Wolfgang Iser skryf dat die vreemdheid vertaal moet word sonder om dit te versmoor. Die vreemde moet nie net onder ons eie kultuur verdwyn nie, eerder ons kulturele raamwerk vergroot en vervorm (Crăciun, 2019:89). Ek stem met hom saam. Die taal waarin daar vertaal word, kan net baat deur haar horisonne te verbreed en te groei en te vervorm om die “vreemde” te inkorporeer; assimilasie is nie die doelwit nie, hervorming is.

“Ons omring ons met mure, staar na plafonne, verdiep ons in kleinlike verknorsings en vertroosting in die melancholie. Dit terwyl ons van beter behoort te weet. Ons behoort besig te wees om na ander uit te reik, kennis in te samel, onsself te kompliseer en “vervreemding”

na te spoor” (Swart, 2009:4)

Hierdie aanhaling van Swart stel so mooi die konsep van vrees vir verandering, veral weens die heiligheid wat aan taal gekoppel word in die Suid-Afrikaanse konteks. Tog moet ʼn taal bly

58 ontwikkel om lewensvatbaar te wees en ʼn kultuur so divers soos Suid-Afrika s’n akkuraat te verteenwoordig. Aalbers volg ʼn soortgelyke redenasie en voeg by dat binne ʼn bepaalde taal- of kultuurgemeenskap die gesprek rondom identiteit deur dominante beginsels bepaal word (2014:1). Die diskoers in Afrikaans moet daarom daarteen waak om rondom vrees gesentreer te wees15.

Vertaalteorie neem kennis van hierdie kultuurbewustheid eintlik al van die begin van vertaling af. Die belangrikheid van kulturele identiteit en ook kulturele verskille is so opmerklik dat hierdie aspek eintlik nooit totaal deur vertalers afgeskeep is nie (Myskja, 2013:2). Gedurende die 1980’s en 1990’s vind ons wat as die “kulturele wending” in vertaalteorie beskryf word (Munday, 2009:11; Bassnett & Lefevere, 1990:1). In hul versamelwerk Translation, History

and Culture (1990) het Susan Bassnett en André Lefevere die “kulturele wending” ingehuldig

en die fokus in vertaalteorie gevestig op kultuurbewuste en sensitiewe vertalings (Crăciun, 2019:84). Die verskille tussen kulture is immers nie eenvoudig of meganies nie, dit behels veel meer as verskillende woorde en vereis dus begrip en sensitiwiteit (Raffel, 1998:157).

Taal wys volgens Van der Merwe al die tipiese eienskappe van ʼn komplekse sisteem (2016:432). ʼn Sisteem totaal-en-al gewortel in die kultuur, die denkwyse en die siening van die wêreld van ʼn taalgemeenskap, en so ook van die individuele verbruikers (Van der Merwe, 2016:432). Dit is weens hierdie kompleksiteit dat “letterlike, presiese, akkurate” vertalings, soos deur Nobokov (1941) verduidelik, menige gesprekke oor die vertaling van letterkunde besoedel het (Lefevere, 1975:27). Dit is eenvoudig onmoontlik om die letterkundige vorms van een kultuur en een taal in die letterkundige tradisie van ʼn ander presies te herskep (Raffel, 1988:12). Die verskil in klanksisteme, gewortel in taal, is ʼn bestaande feit wat ʼn vertaler in ag moet neem (Raffel, 1988:14).

Literêre vorme kan wel aangepas word oor grense van kultuur en taal. Hulle kan ook hervorm word, in ʼn nuwe konteks pas, maar soos alle ander uitdrukkings van taal en kultuur kan hulle nie net in ʼn ander taal of kultuur neergeplaas word en so funksioneer nie (Raffel, 1988:21). Gewapen met hierdie kennis kan ʼn vertaler te werk gaan, maar onbewus van die letterkundige tradisie of kulturele geskiedenis van die oorspronklike teks of van sy eie taal kan ʼn vertaler nie met die nodige kulturele sensitiwiteit vertaal nie (Raffel, 1988:viii).

15 Afrikaans se geskiedenis hou nou verband met ʼn fokus op “suiwerheid” en ʼn vrees vir onderwerping gekoppel aan die “bedreiging van Engels”

Sien: Moll, J. C. 2018. Universiteit Stellenbosch en die onverkwiklike taalstryd: Vanaf Afrikaanse

59 Ek verwys weer na die voorbeeld van “Spoke” en Ibsen: kulturele begrip vir Noorweë en Suid-Afrika is noodsaaklik vir ʼn verteenwoordigende en effektiewe vertaling. In Indonesies is dit byvoorbeeld grammatikaal onmoontlik om vir iemand te vra of hulle ʼn broer of ʼn suster het. Dit is wel moontlik om te vra of iemand ʼn ouer of jonger broer/suster het (Raffel, 1988:8). Wat kan so ʼn voorbeeld kommunikeer oor die Indonesiese begrip van broer-suster verhoudings, of van hulle konsep oor geslag of rang? ʼn Doeltreffende vertaling eis dus kennis van kultuur, genoegsaam om in vertaling aan die teks reg te laat geskied. Schleiermacher beskryf dit as ʼn tipe eer om kulturele bewustheid te kweek en te ontvang (2000:62). Hy skryf dat mense geroep is om met ons taal, die “juwele” van buitelandse wetenskap en kuns, te weef. Wat hierdeur bereik sal word, is dat ons, met die hulp van taal, in staat sal wees om uit verskillende eeue, die mooi dinge wat aan ons gegee is, te geniet. Schleiermacher beweer ook dat wanneer mense so volmaak as moontlik dit geniet wat nie aan hulle bekend is nie, die ware historiese doel van vertaling bereik word (2000:62). Hy skryf treffend oor die wisselwerking tussen kulture en beklemtoon die belangrikheid van gemeenskaplike kennis vir die mensdom. Ernst-August Gutt (1991/2000) stem met hom saam en argumenteer dat ware kommunikasie in gedeelde ervarings lê (soos aangehaal in Pym, 2010:102).

3.5.1. ʼn Kultuurbewuste vertaling vir Suid-Afrika

Die universele ervaring van menswees dien dus as ʼn beginpunt vir alle vertalings. Vir ʼn kultuurbewuste vertaling in Suid-Afrika is ʼn begrip vir die aard van Suid-Afrikaanse kulturele diversiteit en spanning nodig. Mathews Phosa, Afrikaanse digter en ANC-lid, skryf “Talle tonge het ek/ een tong op ʼn gegewe oomblik/ʼn tong om te sny/ʼn tong om te salf/ ek het talle tonge (“Talle tonge”, deur die oog van ʼn naald, 1996). Sy “talle tonge” verwys nie net na die veeltaligheid van die land nie, maar ook na die veeltallige gebruike van taal. Taal in Suid-Afrika was en bly ʼn kulturele teerpunt.

In hierdie afdeling word hierdie kulturele teerpunt juis bepreek. Ek gaan nie poog om ʼn omvattende geskiedenis van Suid-Afrika uiteen te sit nie, maar eerder die fokus op kwessies van toepassing op hierdie tesis te plaas. Suid-Afrikaanse kultuur is ver van homogeen en ek sal daarom ook nie probeer om ʼn vertaling te skep wat aan elke aspek van Suid-Afrikaanse kultuur gestand doen nie, maar sal deurgaans vir Afrikaansmagtiges vertaal. Die kwessie rondom die Afrikaanse taal, en taal oor die algemeen in Suid-Afrika, is, soos reeds genoem, sensitief en kompleks.

Die reg in Suid-Afrika om in jou eie taal te mag handel, is een wat al van die eerste taalstryd af gewig dra (1875-1899). Hierdie beweging, onder leiding van S. J. du Toit is die eerste tree

60 in die reis tot erkenning vir Afrikaans (Steyn, 2010:3). Die volgende mylpaal is behaal na die Anglo-Boere oorlog (1899-1902). Met die sluiting van die oorlog is die proses begin om eers selfregering in Suid-Afrika in die Transvaal en die Vrystaat te bewerkstellig (1908). Gevolglik is die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gebring (Steyn, 2010:4). Op die aandrang van onder andere pres. Steyn en Hertzog het Nederlands (wat as Hollands genoem is) onder die 1910 grondwet gelyke regte (met Engels) geniet (Steyn, 2010:7). Sonder die erkenning van Hollands, sou die stryd vir erkenning van Afrikaans veel moeiliker gewees het. Onder leiding van D. F. Malan is Afrikaans onder wet 9 van 1925 as amptelike taal van die Unie erken. Onder die 1961 grondwet, sowel as die 1983 grondwet, het die status van Afrikaans onveranderd gebly.

Met die koms van demokrasie in 1994 en die nuwe grondwet, het Afrikaans steeds status as ʼn amptelike taal van Suid-Afrika geniet (artikel 6). Onder artikel 6 is daar 11 amptelike landstale in Suid-Afrika. Die reis na erkenning vir meeste van die tale kan ook as ʼn stryd beskryf word, en hierdie stryd is gemotiveer deur die stryd om identiteit en self-aktualisering in Suid-Afrika. Selfs vandag is daar ʼn beweging van die eerste inwoners van die land, die Khoi- en San-gemeenskappe, om erkenning en bestaansreg vir hulle taal te verkry.16

Dit wat verskillende kulture en tale deel, in Suid-Afrika en globaal, kan van baie nut wees in die proses van effektiewe vertaling. Die domestikering van ʼn vertaling uit ʼn ander agtergrond dra by tot die “eie maak” van nuwe dinge en tot die beskerming van gemarginaliseerde tale (Myskja, 2013:2). Kultuur vorm dus die basis vir uitdrukking, en taal die mondstuk. Gewortel in kultuur skep taal verskeie kanale vir uitdrukking en emosionele aanraking.

Een belangrike vorm van so ʼn kanaal is poësie. Poësie funksioneer as een van die mensdom se mees geliefde, kontroversiële en onpeilbare skeppings.