• No results found

1. Pastorale poësie: Vergilius en die Eclogae

2.6. Grond en Suid-Afrika

Suid-Afrika se konflik rondom grond is so oud soos die land self. Die invloed van kolonisasie, oorlog en apartheid het vir Suid-Afrika sedert 1994 ʼn vraagstuk geskep wat kontrasterende belange rondom grond teen mekaar moet opweeg. Enige oplossing moet poog om ʼn uiters diverse samelewing te vrede te stel met die beleid wat aanvaar word ten opsigte van die grondkwessie; ʼn onmoontlike taak. Die Suid-Afrikaanse bevolking bestaan uit verskeie taal- en kultuurgroepe wat na demokrasie saam strewe na ʼn gelyke samelewing. In hierdie tesis word daar nie na die breër probleme van die Suid-Afrikaanse samelewing gekyk nie, maar eerder gefokus op die grondkwessie, wat sedert 2017 toenemende aandag geniet.

Die parallelle tussen Suid-Afrika vandag en Vergilius se pastorale wêreld, is gegrond in die post-1994 realiteit van die Suid Afrikaanse bevolking. Suid-Afrikaners wroeg met hulle verhoudings met mekaar; die bevoorregte burger met die nie-bevoorregte een, ʼn tema wat veral in Ecloga 1 en 9 vorendag kom. So ook wroeg Suid-Afrikaners met hulle idee van identiteit en behoefte aan vrede en sekuriteit (Botman, 2013; Young, 2017:27). ʼn Groot gedeelte van hierdie sekuriteit het met grondbesit te make. So eggo Suid-Afrikaners se komplekse verhouding met hul landskap, fisies sowel as simbolies, dié van Vergilius se karakters in die Eclogae.

42 Suid-Afrikaners kan daarom in die Eclogae ʼn reisgenoot vind. Die feit dat ʼn werk met universele menslike ervarings omgaan, tweeduisend jaar gelede, bied ʼn lafenis vir ʼn eietydse gehoor in die wete dat ons nie die eerstes of die laastes is wat deur hierdie ervarings en emosies werk nie. Een so ʼn ervaring is dié van grondonteiening. Grond in Suid-Afrika, soos globaal ook die geval is, is histories gekoppel aan mag. Om grond te besit, is om oor die vermoë te beskik om selfstandig te wees, sowel as veiligheid en sekuriteit te ervaar. Grond beskik ook oor erfeniswaarde en is dus ook gekoppel aan identiteit (Young, 2017:46). Die storie rondom grond is kompleks en sedert die begin van Suid-Afrika is grond ʼn bron van konflik. In die meer onlangse geskiedenis van die land, is grondonteiening ook ʼn daaglikse gesprekspunt.

In 1913 is grond in Suid-Afrika onder die Swart Grond Wet (27/1913) gereguleer. Volgens hierdie wet is 7.5% van die grond van Suid-Afrika eenkant gesit vir swartmense in Suid-Afrika. Die gevolg was dat enige grond in ʼn sogenaamde “blanke” gebied wat aan ʼn persoon van kleur behoort het, nie meer daardie individu se eiendom kon wees nie. Mense van kleur moes dus óf hulle grond verlaat en probeer om grond in die bepaalde gebiede te vind, óf op hulle eie grond as werkers optree vir blanke boere. Die situasie is in 1936 aangespreek, maar sonder enige werklike verligting; die swart gebiede het nou 10% van Suid-Afrika gevorm. Afdeling 5 van die Swart Administrasie Wet het verder die administrasie rondom swartmense se toegang tot grond gereguleer. Die gevolg daarvan is nou alombekend, swartmense is sonder enige werklike rede van grond ontneem, van hulle eiendom en bestaansreg (Vorster, 2019a:2). Gedurende Apartheid het die Tuislandestelsel in werking getree, waaronder mense van kleur terug na “hulle voorvaderlike grond” gestuur is (Wet 41/1950), maar in werklikheid, teen hulle wil, totaal ontwortel is. Verdere Apartheidwette het die diskriminasie rondom grond verder bevorder, totdat die “Abolition of Racially Based Land Measures Act” (108/1991), in werking getree het, waarin grondonteiening as ʼn herstellende aksie sy basis vind.

Die huidige proses rondom grondonteiening word deur die Grondwet (Grondwet van Suid-Afrika, 1996) (Artikel 25) en die Grondonteiening Wet (63/1975) bepaal. Die beginsels van Grondhervorming in Suid-Afrika rus op ʼn nie-rassige plattelandse ekonomie, demokratiese en regverdige grondtoe-eiening en gebruiksreg oor verskeie rasse, geslag en klas, en volhoubare vervaardiging van voedsel met die oog op voedselsekuriteit in Suid-Afrika (Suid-Afrika, 2011:6). Of hierdie beginsels deurlopend gevolg word, is onseker. Sedert die 54ste Nasionale Konferensie van die ANC in Desember 2017, is die debat rondom grondonteiening sonder vergoeding aan die orde van die dag (Vorster, 2019a:1). Deur die gevolglike parlementêre verhoor en verskeie siviele debatte, is die frustrasies, vrese en ideologieë van verskeie

onder-43 afdelings van die Suid-Afrikaanse samelewing duidelik gemaak (Vorster, 2019b:1). Die tragedie rondom grond in Suid-Afrika is dat die totale kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse politieke en sosio-ekonomiese realiteit in die grondkwessie ten toon gestel word (Vorster, 2019a:1).

Hierdie proses skep vanselfsprekend onrustigheid in die land. Die idee van grondbesit is ʼn tema wat deur die geskiedenis van die mensdom gekoppel word aan mag, stabiliteit en selferkenning. Grond is kosbaar en veral in Suid-Afrika vorm dit deel van die identiteit van burgers. Met die beëindiging van Apartheid het die gehate ras-gegronde beperkings op individuele beweeglikheid tot ʼn einde gekom (Gibson, 2008:700). Gevolglik het die platteland leeggeloop soos burgers stede toe gestroom het met die hoop op ʼn beter lewe (Gibson, 2008:700). Sodoende is die stedelike ruimte tot so ʼn mate oorweldig dat die tekort aan spasie en behuising vele maatskaplike probleme veroorsaak het. Die verskynsel van “land grabs” het so ook ontstaan, waar mense bloot op enige oop stuk grond poog om hulself te vestig. Hawelose mense, grondeienaars en die staat het uiteenlopende behoeftes en Suid-Afrika wankel tussen twee teenstrydige belange: om die regte rondom die privaatbesit van grond te beskerm, aan die een kant, en om die behoeftes van talle mense wat sonder tuiste, en met historiese onreg, saamleef, aan te spreek (Gibson, 2008:700).

Die komplekse en kontrasterende belange maak van grond ʼn vraagstuk wat Gibson as ʼn “tonteldoos” kwessie bestempel (2008:85). Ek stem met hom saam dat die vraagstuk rondom grond hoogs plofbaar is en deurlopend dreig om vlam te vat in die Suid-Afrikaanse politieke milieu (Gibson, 2008:85). Grond se kompleksiteit lê ook in die feit dat grond besit al dan nie aan ekonomiese ongelykheid gekoppel is (Gibson, 2008;703). So ook ervaar Suid-Afrikaners wat Gilomee beskryf as ʼn “verbondenheid met die land” (2003:xiv). Verskillende onder-afdelings van die samelewing verskil vanselfsprekend oor hoe grond in Suid-Afrika benader moet word en watter aspekte van mense se “verbondenheid” aan grond begrip en oorweging verdien (Gibson, 2008:703). Hierdie verskille dui daarop aan dat selfs na twee dekades van demokrasie, identiteitspolitiek in Suid-Afrika steeds saak maak en vraagstukke rondom grond, identiteit en besitreg onveranderd bly (Lambrechts & Viljoen, 2010:136). Die groep waaraan ʼn individu behoort, bepaal hoe hy/sy die grond sien (Gibson, 2008:92). Die verbintenis tussen die groep en die grond word ook as heilig gesien en oortref ander oorwegings in Suid-Afrika (Vorster, 2019b:6).

44 Grond vervul so ook meer as een rol in die Suid-Afrikaanse samelewing. Grond het ekonomiese waarde, skep die grense van sosiale interaksie en dra ook ʼn spirituele erfenis. Menige Suid-Afrikaner dra ʼn spirituele waardering vir die land met hulle saam en ervaar so ook die gevoelens gekoppel aan “tuiste” (Van der Merwe, 2003:11). Besitreg dra ook tot identiteit by (Vorster, 2019:1). As mense grond besit, word daar aan hulle ʼn tipe outonomie gegee, sowel as die ervaring van ʼn gewortelde bestaan en geleenthede vir ontwikkeling. Om aan ʼn ruimte/area te “behoort” dra belang vir enige persoon en in Suid-Afrika; meer spesifiek in die Afrikaanse kultuur, word die idee van eienaarskap egter kompleks (Van der Merwe, 2003:111). Van der Merwe skryf dat “deur die verwikkelende prosesse van postkolonialisme, omdat die Afrikaner by geleentheid gekoloniseer is, maar ook die beoefenaar van kolonialisme en neokolonialisme was [word die konsep van eienaarskap meer kompleks]. Hierdie prosesse is te wyte aan die komplekse prosesse van okkupasie en inbesitneming, asook verskillende vorms van interne kolonisasie” (2003:11). Dit is daarom duidelik dat die post-1994 Suid-Afrika van Afrikaners psigologiese aanpassing vereis (Lambrechts & Viljoen, 2010:136). Suid-Afrikaners sukkel om sin te maak van hulle doel, sowel as om die ruimte waarin hulle behoort, te bepaal in ʼn samelewing te midde van oorgang (Lambrechts & Viljoen, 2010:136).

In die huidige Suid-Afrika beskryf President Ramaphosa die grondkwessie as ʼn las van die geskiedenis. Hy noem dit die “oorspronklike sonde” wat die huidige generasie moet oplos (sien Grootes 2018). Vergilius skep in sy kuns die geleentheid om oor die verband tussen grond en identiteit te besin en die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, te verwerk; ʼn nodige proses ook in Suid-Afrika vandag. Die politieke ontwikkeling rondom grondonteiening in Suid-Afrika vorm daarom veral ʼn belangrike ondertoon vir die vertaling van die Eclogae vir ʼn Suid-Afrikaanse, spesifiek Suid-Afrikaanse, gehoor.

45