• No results found

HOOFSTUK 5: SKRIFTUURLIKE PERSPEKTIEF OP DIE MOREEL-ETIESE

7.10 RIGLYNE VIR DIE EFFEKTIEWE BEDIENING VAN MIDDEL-ADOLESSENTE MET

7.10.1 Middel-adolessente moet hulle redding verstaan

Middel-adolessente moet deur lering uit die Woord en die kragtige werking van die Heilige Gees, oortuig word dat die liefde van God deur Jesus Christus aan hulle geopenbaar is en dat hulle hulself kan verheug in die hoop van Christus wat hulle tot die ewige lewe geroep het. Dit dien daartoe dat die onsekerheid wat deel is van die middel-adolessent se lewe, teengewerk word en dat groter stabiliteit in hulle lewens gevestig word. As wedergebore kinders van God moet hulle Sy liefde en genade begryp en in liefde daarop reageer. Die doel van hulle redding is juis om in ‘n lewende en intieme verhouding met God te lewe. Hierdie intimiteit met die Here kan alleen toeneem wanneer middel-adolessente volhard in ‘n gebedslewe waaraan daar daagliks kwaliteit tyd spandeer word en waar die bestudering van God se Woord, ook ‘n integrale deel daarvan vorm. Die groot behoefte aan aanvaarding en liefde by middel-adolessente word hierdeur bevredig. Dit maak hulle minder kwesbaar vir die versoeking om aanvaarding en liefde te soek op plekke en maniere wat deur verkeerde musiek gepropageer word.

AGS pastore en ander geestelike volwasse lidmate moet die middel-adolessente in hulle gemeentes deur lering bewus maak van die prys wat vir hulle redding betaal is, van die sekerheid van hulle verlossing in Christus en van die Heilige Gees wat hulle verseël het as die eiendom van God. Hierdie sekerheid vorm die voorvereiste vir die lewe volgens God se riglyne soos in Efésiërs 4-6 beskryf. Hierdie sekerheid gee hulle die vrymoedigheid om selfs wanneer hulle in sonde geval het, of selfs daarin volhard het, weer na God kan terugkeer. Dit maak hulle weerbaar teen die boodskap van wanhoop wat deur baie musiek verkondig word.

Middel-adolessente moet ook bewus gemaak word van die feit dat hulle as kinders van God soos enige ander gelowige tot geestelike volwassenheid geroep is. Dit beteken dat hulle as volwassenes in Christus die regte keuses kan uitoefen ten opsigte van die musiek waarna hulle luister. Om hierdie geestelike volwassenheid te bereik, vra ‘n lewe van volkome en volgehoue toewyding aan God. Die gelowige middel-adolessent moet vanuit sy/haar liefde vir die Here ‘n gedissiplineerde lewe leef ten einde hierdie volwassenheid te bereik, en in sy/haar geestelike volwasse staat ook besluite te neem ten opsigte van die musiek waarna hy/sy luister, sodat Christus daardeur verheerlik sal word. Dit is raadsaam dat AGS pastore/jeugpastore en ander begeleiers van middel-adolessente spesifieke tye tydens hulle gemeentes se jeugbyeenkomste sal inruim waartydens hulle saam met die middel- adolessente die lirieke van sommige van die musiek waarna jongmense graag luister, kan ontleed, en die boodskap wat daardeur oorgedra word, aan die hand van God se Woord kan toets. Sodoende is die middel-adolessente self betrokke by die ontleding van die musiek waarna hulle luister, en kan hulle vanuit die Woord en die oortuiging van die Heilige Gees, hulle eie gevolgtrekkings maak. Die morele ontwikkeling van die middel-adolessent word juis deur hulle sosiale omgewing gestimuleer, waar elkeen van die betrokke partye ‘n bydra tot hulle morele ontwikkeling kan lewer. Wanneer hulle met oortuiging kan sê: “die Heilige Gees en ons het besluit” (Hand. 15:28), sal hulle dan self van die verleidelike musiek in hulle musiekversamelings ontslae raak. Sodoende sal hulle nie voel dat ouers en kerkleiers aan hulle voorskryf waarna hulle mag luister nie. Dit skep ook die vrymoedigheid by middel- adolessente om met hulle lewensvrae, wat dikwels deur die lirieke gestimuleer word, na vore te kom en sodoende op die regte plek antwoorde te kry. Omdat hulle dankbaar teenoor God staan vir hulle redding, sal hulle doelbewus daarna strewe om volgens God se wil te lewe, ook in die musiek waarna hulle luister. Wanneer daar ‘n persoonlike verhouding tussen die middel-adolessent en God is, maak dit hulle weerbaar teen die boodskap in sommige liedere dat godsdiens geen betekenis het nie en dat dit slegs ‘n formalistiese uitgediende tradisie is. AGS pastore/jeugpastore, diegene wat in leierskapsposisies staan en die geestelike volwasse lidmate het ‘n groot verantwoordelikheid om middel-adolessente se aandag daarop

te vestig dat die Here terdeë bewus is van al hulle onsekerhede gedurende die lewensfase van adolessensie. Dit is belangrik dat pastore/jeugpastore, diegene in leierskap en die geestelike volwasse lidmate dit voortdurend sal benadruk dat middel-adolesssente te midde van al hulle onsekerhede, nooit onseker hoef te wees oor God se liefde en genade nie. Om kennis van God te bekom, vra van middel-adolessente om die Woord van God te bestudeer. Deur die kennis wat hulle bekom onder die leiding van die Heilige Gees, sal hulle weet watter soort musiek verleidelik van aard is en deur die krag van die Heilige Gees sal hulle in staat gestel word om nie na die musiek te luister nie.

Deur gebed, die bestudering van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees, sal middel-adolessente in staat gestel word om weldeurdagte en ingeligte besluite te neem met betrekking tot die musiek waarna hulle luister. Omdat adolessensie ‘n tydperk is waarin middel-adolessente ondermeer emosioneel ontwikkel en dit aanvaar kan word dat die musiek waarna hulle luister ‘n invloed op hulle emosies sal uitoefen, kan dit daartoe lei dat sommige besluite op emosie geneem sal word. Die neem van emosionele besluite is nie noodwendig op die waarheid van God se Woord gebaseer nie, daarom moet AGS pastore en begeleiers van middel-adolessente ‘n volhardende gebedslewe saam met die bestudering van die Woord van God, aanmoedig. Sodoende sal die middel-adolessent in staat gestel word om saam met die Heilige Gees besluite te neem.

7.10.2 Middel-adolessente moet geleer word hoe hulle as kinders van God