• No results found

HOOFSTUK 5: SKRIFTUURLIKE PERSPEKTIEF OP DIE MOREEL-ETIESE

6.5 GEESTELIKE OORLOGVOERING (Eksegese van Efésiërs 6:10-20)

6.5.2 Die stryd van die gelowige moet met aanhoudende gebed en smeking gepaard gaan

Renner (2003:117) benadruk die feit dat gebed van kardinale belang is vir die Christen wat ernstig is oor sy geestelike groei. Op sy beurt vestig Hoehner (2008:132) die aandag op Paulus wat verklaar dat gelowiges voortdurend in gebed moet wees om paraat te bly vir die geestelike stryd (6:18-20). Binne hierdie worstelstryd moet daar bo alle dinge gebid word (Mentz, s.a.:75): “Dit is in hulle biddende afhanklikheid van God dat die ander wapens effektief word.” Wanneer die gelowiges biddend voor God staan, erken hulle dat net Hy hulle in die felheid van die stryd staande kan laat bly (Roberts, 1990:179, vgl. Lee, 1984:551-552). Hoehner (2008:132) wys daarop dat gebed nie deel van die wapenrusting is nie omdat Paulus geen melding maak van ‘n spesifieke deel van die wapenrusting wat

verteenwoordigend van gebed is nie. “Bid in die Gees met alle gebed en smeking by elke geleentheid” is vir die gelowige ‘n aanduiding dat hy voortdurend in gebed moet verkeer (1 Thess. 5:17) om voorbereid te wees vir enige vyandige aanvalle. Hierdie voortdurende gebed in die Gees wys op volhardende, intense gebed by elke geleentheid of in tye van krisis. Omdat die gelowige in ‘n geestelike oorlog gewikkel is, moet hy die oorlog deur geestelike middele voer. Dit word duidelik geïllustreer deur Jesus toe Hy met intensiteit (groter inspanning) in die tuin van Gésemané gebid het. Gelowiges moet besef dat hulle as individue en as kerk stry teen die bose en daarom moet hulle teen elke strategie van die duiwel bid. Hoehner maak die volgende opmerking:

“Nuclear wars cannot be won by rifles. Likewise, satanic wars cannot be won by human strength or strategy. In light of this, Paul warned the saints to constantly pray and remain alert” (Hoehner, 2008:132).

Jakes (2008:433) noem dat biddelose gelowiges en kerke kragteloos, ruggraatloos en oneffektief is en dat hierdie biddeloosheid ‘n geopende deur vir die vyand is waardeur hy toegang kan verkry om te steel, slag en verwoes. Wanneer gelowiges en die kerk egter bid soos die Woord ons beveel om te doen, word ons ‘n mag waarmee die duiwel rekening moet hou (vgl. Renner, 2003:920-921).

Die oproep van Paulus tot gebed is drieledig van aard. Eerstens word daar ‘n oproep op gelowiges gedoen tot gebed in die algemeen “as ‘n daad van vertroue wat te alle tye hulle geestelike stryd teen die magte van die bose begelei.” In die tweede plek word die gelowiges aangesê om vir al die gelowiges te bid. Die kinders van God is deur die Heilige Gees onlosmaaklik aan mekaar verbind en daarom het hulle ‘n verantwoordelikheid teenoor mekaar, om vir mekaar te bid. Derdens is daar die versoek van Paulus dat daar vir hom gebid moet word. Hierdie versoek is gekoppel aan sy werk om die evangelie te verkondig. Dit versterk die feit dat dit gebed is wat die geestelike wapenrusting effektief maak. (Roberts, 1990:179-180; vgl. De Klerk, 2001:131-133).

Die noodsaaklikheid van die volle wapenrusting en gebed moet by middel-adolessente ingeskerp word. Wanneer hulle die volle wapenrusting aantrek, sal hulle in staat wees om staande te bly in die stryd wat hulle stry. Die volle wapenrusting kan instrumenteel wees vir middel-adolessente om oorwinnings te behaal, wat net soos enige ander gelowige stryd voer teen die vyand en sy bose magte. Deur kennis te hê van die gevare wat sommige musiek inhou, en kennis oor hoe om die volle wapenrusting effektief te kan gebruik, sal middel- adolessente bemagtig wees om as Christenkrygers die goeie stryd te stry en as oorwinnaars te triomfeer oor die bose se werke. Dit is egter noodsaaklik om middel-adolessente te leer

dat hulle alleen staande sal kan bly in hierdie worstelstryd as hulle in gebed volhard, met hulle volle wapenrusting aan. Middel-adolessente as lidmate van die kerk moet volkome toegerus word. In hierdie toerusting moet die Woord van God as verwysingspunt gebruik word om die noodsaaklikheid van gebed sterk te benadruk. Middel-adolessente moet besef dat die oorwinning van die bose in hierdie geestelike oorlogvoering alleen kan realiseer wanneer hulle as gelowiges die volle wapenrusting van God opneem en in die gebed volhard. Hier volg enkele voorbeelde:

 Ons word aangesê om te waak en te bid dat ons nie in die versoeking kom nie (Matt. 26:41). Middel-adolessente se aandag behoort daarop gevestig te word dat ‘n gebrekkige gebedslewe ‘n geleentheid aan die duiwel bied om toegang tot hulle lewe te verkry. Een van die maniere waarmee die duiwel mense versoek, is deur die boodskappe in verleidelike musiek.

 “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Matt. 7:7-8). Middel-adolessente moet in gebed vir die Here vra om vir hulle antwoorde te gee oor die boodskap in die musiek waarna hulle luister, totdat hulle die antwoord ontvang. Deur gebed moet hulle soek wat die wil van God is, totdat Hy sy wil aan hulle bekend maak.

 “En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo” (Matt. 21:22). Middel-adolessente moet geleer word dat gebed met geloof gepaard moet gaan ten einde van God te ontvang omdat dit sonder geloof onmoontlik is om God te behaag (Heb. 11:6).

 Gelowiges moet gedurig bid “en nie moedeloos word nie” (Luk. 18:1).  “Waak dan en bid altyddeur” (Luk. 21:36).

 “verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed” (Rom. 12:12).

 “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging” (Kol. 4:2).  “Bid sonder ophou” (1 Thess. 5:17).

In Efésiërs hoofstuk 1 word die liefde van God en Sy verlossingswerk beskryf, terwyl Paulus in hoofstuk 2 die gevolg van God se handelinge vir die gelowiges beskryf en hoe die gelowiges vir Christus ervaar. Dit word verder gevoer in hoofstuk 3 wat handel oor die gelowige se intimiteit met God. Hierdie intimiteit met God loop in hoofstuk 4 uit op die noodsaaklikheid van eenheid binne die liggaam van Christus, met hoofstuk 5 wat ‘n aanmoediging is om te breek met die ou mens en in die lig van Christus te wandel. Hoofstuk 6 fokus op hoe die vyand oorwin moet word. Dit is die liefde van God wat dit vir die mens moontlik maak om na God te kan kom, wedergeboorte deelagtig te word en dan deur ‘n

intieme lewenswandel met God te groei tot volwassenheid in Christus. As gevolg van hierdie volwassewording is dit vir die gelowige moontlik om die eenheid te bewaar. Namate die gelowige in sy verhouding met die Here groei, word dit vir hom makliker om nee te sê vir die dinge wat die ou en ongeredde mens gedoen het. Die gevolg is dat die volwasse persoon in staat is om deur die gebruik van die volle wapenrusting en volhardende gebed, oor die bose te triomfeer.

Wanneer daar na die toepassing van die leerstelling en gedrag van die gelowiges/kerk soos voorgeskryf word in Efésiërs 4-6 gekyk word, en die belangrike temas in die brief toegepas word op die bediening van middel-adolessente, kan die volgende riglyne daaruit verkry word:  Deur toerusting uit die Woord moet middel-adolessente geleer word om heiligmaking na te streef op elke lewensterrein, insluitende die soort musiek waarna hulle luister (Ef. 4:23-24).

 Middel-adolessente moet ook onderrig word om in liefde te wandel en om hulleself van onheilige praktyke te weerhou. Dit spreek ook die onderwerp van musiek aan omdat daar sekere lirieke bestaan wat die luisteraars daarvan verlok en aanmoedig om by onheilige praktyke betrokke te raak, wat uitdruklik deur die Woord van God verbied word (Ef. 5:3-6).

 Die gelowige middel-adolessent se lewenswandel moet ook deur sy wandel in die lig gekenmerk word. Dit beteken dat hulle nie op enige terrein deelgenote van die duisternis mag wees nie en dat hulle ook geen “gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis” moet hou nie. Dit beteken dat middel-adolessente die musiek waarna hulle luister, aan die hand van God se Woord moet evalueer omdat daar baie musiek bestaan wat “die onvrugbare werke van die duisternis” bevorder (Ef. 5:7-13).

 Middel-adolessente moet ook toegerus word om in wysheid te wandel. Dit beteken dat hulle die kennis wat hulle deur lering ontvang, in die praktyk sal toepas en uitleef op ‘n wyse wat die Here sal verheerlik. Dit moet ook weerspieël word deur moreel rein te lewe, wat alleen moontlik is wanneer die gelowige homself deur die Heilige Gees laat lei (Ef. 5:15-6:9).

 Middel-adolessente moet ook geleer word om standvastig te wees in die geestelike oorlogvoering. Dit is alleen moontlik wanneer hulle met oorgawe en volkome toewyding aan die Here vashou en die volle wapenrusting van die Here op ‘n daaglikse basis aantrek. Volharding in gebed en bestudering van die Woord van God is uiters noodsaaklik (Ef. 6:10-18). Middel-adolessente moet ook geleer word dat gebed ‘n dialoog tussen God en die mens is. Omdat God net die beste vir elke mens in gedagte het, sal Hy in hierdie dialoog middel-adolessente antwoord oor watter

musiek hulle persoon en hulle lewens tot nadeel strek, wanneer hulle Hom daarna vra.

6.6 GEVOLGTREKKING

Die uitsluitlike doel van die eksegese in hierdie hoofstuk is om vas te stel wat God se Woord aangaande die moreel-etiese toerusting van middel-adolessente leer. Die doel hiermee is om riglyne vir die praktyk neer te lê wat gebruik kan word om die jeug in die AGS te begelei tot verantwoordelike en geestelike volwasse besluitneming.

Met die bestudering van die Efésiërbrief is dit baie duidelik dat dit ‘n uitsonderlike ryk bron is wat nie net aan die mense van daardie besondere tydvak waarin die brief geskryf is, die rykdom van God geopenbaar het nie, maar dat dit vandag steeds oor die inhoud/materiaal beskik wat die kind van God se lewe in totaliteit kan transformeer. Die saligheidsplan van God word uitgespel deur die eniggebore Seun van God wat bereid was om Sy lewe op te offer vir die redding van alle mense omdat hulle vir God so ontsettend kosbaar is. In hulle nuwe verhouding met God wat deur Jesus Christus moontlik gemaak is, lewe die gelowige nie net as ‘n veranderde mens nie, maar deur volkome toewyding in sy verhouding met die Here, is hy in staat om te groei tot volwassenheid in Christus. In sy verhouding met die Here lewe hy nie net met Hom in verhouding nie, maar omdat hy nuutgemaak is en die liefde van God in hom uitgestort is (Rom. 5:5), kan hy ook met sy medemens in vrede en harmonie leef. Soos vroeër gesê kan die hedendaagse pastoor/jeugpastoor die Efésiërsbrief met welslae benut om middel-adolessente moreel-eties toe te rus. Die riglyne wat deurlopend in die bestudering van die Efésiërsbrief getrek is, sal in hoofstuk 7 saam met ander resultate saamgevat word.

HOOFSTUK 7: BEVINDINGE EN AANBEVELINGS - RIGLYNE VIR DIE

TOERUSTING VAN MIDDEL-ADOLESSENTE IN DIE AGS MET BETREKKING

TOT HULLE MOREEL-ETIESE VORMING