• No results found

HOOFSTUK 5: SKRIFTUURLIKE PERSPEKTIEF OP DIE MOREEL-ETIESE

6.2 LEEF IN HEILIGHEID (Eksegese van Efésiërs 4:17-4:32)

6.2.2 Beskrywing van die wedergebore persoon (Eksegese van Efésiërs 4:20-4:32)

In die perikoop beskryf Paulus die posisie (4:20-24) en die leefwyse (4:25-32) van die “nuwe mens”. God verlos nie net die mens nie, maar Hy vereis en stel die verloste in staat om sy nuwe leefwyse in sy leefwêreld uit te leef. Met betrekking tot die posisie van die nuwe mens, wys Paulus die leser op dit wat hulle vantevore geleer het (4:20-21). Die nuwe mens staan nou teenoor die ou losbandige heidense mens (4:17-19). “Teenoor die verduistering en onkunde…staan nou die waarheid wat hulle in Christus leer ken het” (De Klerk, 2001:79). Hoehner (2008:93) wys daarop dat die woord “leer” (manthano) nie na feitelike kennis oor Christus verwys nie, maar eerder na persoonlike kennis van Hom. Die Christengelowige leer nie net van Christus by die aanhoor van die evangelieboodskap nie, maar dit is ‘n voortdurende leerproses terwyl hy die Woord van God bestudeer en bedien word deur diegene van die liggaam wat reeds die gawes ontvang het.

De Klerk (2001:80) vestig die aandag daarop dat daar ‘n sterk kontras is “tussen die egoïstiese leefwyse wat vrye teuels aan gedagtes, drange en dade gee en die nuwe lewe wat gehoorsaam is aan God se wil”. Die rede waarom die sonde afgelê moet word, is omdat hulle reeds nuwe mense is en nie meer soos heidene kan lewe nie (4:22-24). Omdat die gelowiges aan Christus verbind is en reeds “uit die heidense lewe van die dood na die

Christelike lewe van die ewige lewe oorgegaan het”, moet daar op ‘n kontinue basis voortgegaan word om met die ou lewe te breek, om innerlik nuut te word en om ‘n nuwe lewe te lei (vgl. Cohick, 2010:116; Hoehner, 2008:96; Mentz, s.a.:45).

Die onderrig van middel-adolessente moet egter daarop fokus om nie ‘n nuwe stel wette neer te lê waaraan jongmense moet voldoen nie, omdat dit hulle sal ontmoedig om te volhard met die keuse van ‘n nuwe lewe. Die toepassing van dit wat hulle leer, moet ‘n natuurlike uitvloeisel wees van hulle roeping en nuwe identiteit in Christus. Vanuit hierdie nuwe verhouding met Christus en hulle nuwe identiteit in Hom, strewe hulle daarna om die voorskrifte van die Woord na te kom en sodoende heilig te lewe. Die kennis wat hulle opgedoen het deur die onderrig van diegene wat die heiliges moet toerus, sowel as van die geestelike volwasse gemeentelede, moet hulle tot so mate bemagtig dat hulle hul roeping wil uitleef om die kennis wat hulle van Christus bekom het, toe te pas. Die toerusters moet kreatief te werk gaan om die middel-adolessente te begelei om hulle identiteit in Christus hulle eie te maak en hulle te help om hulle Christenskap op ‘n eerbare wyse uit te leef. In hierdie opsig speel dienswerk ‘n belangrike rol.

Hoehner (2008:96) wys daarop dat daar onder geleerdes verskeie interpretasies van 4:22- 24 bestaan, terwyl De Klerk (2001:80) van mening is dat daar op die daaglikse vernuwing na die beeld van God gefokus moet word. Hierdie vernuwing vind in die gees van die mens plaas, “wat gemeenskap met God beoefen”. Die rede waarom hulle as nuwe mense moet lewe, is omdat hulle nuut in Christus herskep is en dit hulle in staat stel om heilig te wees. Deur sy herskepping het die mens die eienskappe van geregtigheid en heiligheid verkry, wat beide eienskappe van God is. Die nuwe mens is nou in ‘n herstelde verhouding met sy Skepper en dit stel hom in staat om binne hierdie verhouding die wil van God te ken en te doen

(

De Klerk, 2001:80). Geregtigheid en heiligheid wys op regte optrede of gedrag voor God en mense (Hoehner, 2008:96-97). Hoehner merk op:

“The new person is characterized by righteousness and holiness based on truth, and the resulting attributes will be manifested in many ways, as seen in 4:25-35” (Hoehner, 2008:97).

Hoehner (2008:97) vestig die aandag daarop dat Paulus die Efésiërs maan om nie soos die heidene te leef, wat alle morele sensiwiteit verloor het en hulle aan onreinheid oorgegee het nie (4:17-19), asook om die ou mens af te lê en hulleself met die nuwe mens te beklee (4:22-25). Hy gee ook praktiese wenke waarop die nuwe mens in Christus van dag tot dag behoort te leef. Daar is vyf spesifieke vermanings vir die gelowiges. Met die uitsondering van een van hierdie vermanings, bestaan elkeen uit drie dele: (1) ‘n negatiewe opdrag, (2) ‘n

positiewe opdrag, en (3) die rede vir die positiewe opdrag. In die tweede vermaning is die eerste twee dele omgeruil.

Die eerste vermaning waarsku teen die leuen en moedig gelowiges aan om die waarheid met mekaar te praat (4:25). Dit behoort ‘n natuurlike uitvloeisel te wees van die nuwe mens se leefwyse wat op geregtigheid en heiligheid gebaseer is (4:24) (Hoehner; 2008:97). De Klerk (2001:83) vestig die aandag daarop dat hierdie gedeelte verhoudinge aanspreek, “daarom omarm die ‘mekaar’ die hele gedeelte”. In 4:25 begin dit met “waarheid onder mekaar” en in 4:32 eindig dit met ‘n dubbele “mekaar”. Sou die boodskap in sekere musiek die luisteraars aanmoedig om leuens te verkondig, moet die gelowige middel-adolessente vanuit hulle verhouding met Christus en hulle nuwe identiteit in Hom, nie aan hierdie boodskap toegee nie.

Die tweede vermaning wys daarop dat gelowiges met tye rede het om “toornig” te word, maar hulle word aangesê om nie in hulle toorn te sondig nie (4:26-27). Wanneer die gelowige kwaad word, moet dit egter nie aanleiding tot sonde gee nie, “such as when it develops into a prolonged irritation, allowing the devil to gain an inroad into the life of the believer” (Hoehner, 2008:97). Paulus beklemtoon dat geen gelowige oornag skuiling aan woede mag bied nie (Hoehner, 2008:97). Hoehner maak die volgende opmerking:

“Prolonged anger gives opportunity to the devil to twist and distort truth, causing anger to mount and possibly resulting in dissension and revenge.” (Hoehner, 2008:97-98).

Toorn op sig self is nie sonde nie, want God word ook toornig, soos gesien by die Vader en by Jesus Christus (Num. 22:22; 2 Sam. 6:7; Joh. 2:15-16). God se toorn is egter iets waarvan Hy altyd in beheer is. In teenstelling hiermee is die mens geneig om deur sy toorn beheer te word. Vandaar die rede dat die gelowige aangesê word om nie in sy toorn te sondig nie. As iemand binne die liggaam te na gekom sou word, mag hyself kwaad word, maar hy mag nie deur daardie toorn verteer word nie. Die gelowige moet daarteen waak om nie die kwaad-wees te vertroetel nie, en hulle mag ook nie ‘n dag in toorn afsluit nie. (Hoehner, 2008:98; vgl. De Klerk, 2001:83; Mentz, s.a.:48).

Die eerste bewys van wedergeboorte is dat daar ‘n radikale verandering in die wedergeborene se lewe waargeneem kan word. Om hierdie rede kon Paulus skryf dat dit nie meer hy is wat lewe nie, maar Christus wat in hom lewe (Gal. 2:22). Die wedergebore persoon lewe dus op so ‘n wyse dat Christus deur sy lewe verheerlik word. Die herstelde verhouding waarin die gelowige met God leef en wat hom in staat stel om die wil van God te ken, stel ook die middel-adolessent in staat om te weet wat die wil van God vir sy totale lewe

behels. Dit geld ook vir die boodskap wat deur die musiek waarna middel-adolessente luister, oorgedra word. In die geval van middel-adolessente wat baie lief is vir hulle musiek, is dit baie waarskynlik dat hulle kwaad kan word wanneer die gevare van die musiek waarna hulle luister, uitgewys word. Dit is juis hier waar die pastor/jeugpastor die middel- adolessente so moet begelei, dat indien hulle kwaad word, die Woord van God as verwysing gebruik sal word dat hulle nie in hulle toorn moet sondig nie. Hulle moet ook die boodskappe van woede, moord en anargie wat in sommige musiek voorkom in die lig van hierdie verse leer afkeur.

Die derde vermaning spreek die gelowige aan om homself nie aan diefstal skuldig te maak nie, maar dat hy moet arbei deur met sy hande te werk, sodat hy in staat kan wees om vir die behoeftige uit sy verdienste te kan gee (4:28). Waar die dief steel vir sy eie gewin, moet die gelowige deur sy handearbeid ‘n inkomste verdien, sodat hy daaruit ook iets kan hê om met behoeftiges te deel. Diefstal is ‘n karaktertrek wat na die ou mens verwys, terwyl handearbeid ‘n heenwyse is na die nuwe mens. Waar die nuwe mens op ‘n eerlike wyse sy verdienste ontvang, moet hy dit tot voordeel van die gemeenskap van gelowiges aanwend (Hoehner, 2008:98). Die gelowige leef dus vanuit die wete dat God vir hom sorg en voorsien in al sy behoeftes. Om hierdie rede vrees hy nie vir enige tekorte nie en daarom wend hy homself nie tot diefstal nie. Die selfgeregtigheid wat in sommige musiek verkondig word en wat aanleiding gee tot ‘n kultuur van “ek vat wat ek nodig het, maak nie saak wat dit aan jou doen nie”, moet deur toerusting teengewerk word by die middel-adolessent.

In die vierde vermaning word daar na taalgebruik verwys (4:29-30). Weer word die negatiewe opdrag eerste gegee waar die gelowige aangesê word om geen vuil taal “sapros” te gebruik nie, maar om eerder woorde wat goed en opbouend is, te spreek. Vers 28 het die fisiese behoeftes van die gelowiges aangespreek, terwyl vers 29 die geestelike behoeftes aanspreek. Vuil en skandelike taal is afbrekend van aard, terwyl goeie woorde opbouend en stigtend is. Deur van goeie woorde gebruik te maak, word die luisteraar dus altyd gestig en opgebou (Hoehner, 2008:98). Mentz (s.a.:49) vestig op sy beurt die aandag daarop dat die gelowige se taalgebruik ‘n duidelike aanduiding sal wees dat hy ‘n nuwe mens geword het. Die gelowige mag nie swygend deur die wêreld gaan nie, en waar daar ‘n behoefte is aan woorde wat stigtend en opbouend is, moet die gelowige deur sy spraak na vore tree. Paulus gaan dan verder deur daarop te wys dat die Heilige Gees, deur wie die gelowiges verseël is tot op die dag van verlossing, deur vuil taal bedroef word (Hoehner, 2008:98; vgl. Cohick, 2010:118; De Klerk, 2001:84; Mentz, s.a.:49).

Dit is noodsaaklik dat die pastor/jeugpastor die middel-adolessente se aandag daarop vestig dat sommige van die kunstenaars na wie se musiek hulle luister, vuil, skandelik en

afbrekend van aard is. Die voortdurende blootstelling aan hierdie soort taalgebruik wat in die lirieke voorkom, kan na alle waarskynlikheid daartoe lei dat die luisteraars daarvan negatief daardeur beïnvloed word. Die moontlikheid dat die luisteraar self hierdie soort taal sal gebruik vanweë die voordurende blootstelling daaraan, kan nie uitgesluit word nie. Wanneer die luisteraar dan self so begin praat, sal dit ook ‘n destruktiewe uitwerking op diegene hê wat deel van daardie bepaalde vriendekring is. Omdat gelowige middel-adolessente vanuit hulle verhouding met Christus leef en hulle deur die Heilige Gees laat lei, behoort hulle vanweë hulle oortuigings en die toerusting wat hulle ontvang het, nie toe te gee aan die versoeking om na sulke musiek te luister nie.

In die vyfde plek word gelowiges gewaarsku teen kwaadwilligheid en ook aangemoedig om mekaar op te bou (4:31-32). Weereens word die negatiewe vermaning eerste gegee (4:31), gevolg deur die positiewe (4:32). Paulus vermaan die gelowige om vyf spesifieke euwels neer te lê, op grond van die ou mens wat afgelê is (4:22): bitterheid “pikria”, woede “thumos”, toorn “orgē”, geskreeu “kraugē” en lastering “blasphēmia”. Die woord “bitterheid” verwys na ‘n spesifieke gesindheid, terwyl “woede” en “toorn” ‘n bepaalde ingesteldheid aanspreek. Die laaste twee woorde, “geskreeu” en “lastering” verwys na spesifieke spraakvorme. Paulus sluit vers 31 af met die allesomvattende frase, “saam met alle boosheid” wat direk teenoor morele voortreflikheid staan. In vers 32 is daar drie positiewe opdragte. Die eerste handel oor “vriendelikheid” wat paslik, aangenaam en goed is. Tweedens word ons daarop gewys om “vol ontferming” te wees. Die saamgestelde naamwoord “eusplanchnos” wat net hier en in 1 Petrus 3:8 gebruik word, kom van die woord “splanchron” wat na die innerlike emosies van liefde, goedgesindheid en toegeneentheid verwys, en waarvan deernis ‘n uitvloeisel is (vgl. 2 Kor. 6:12; 7:15; Fil. 1:8; 2:1; Kol. 3:12; 1 Joh. 3:17). Dit staan teenoor ongevoeligheid, ondeug en emosionaliteit. Laastens is daar die opdrag om mekaar te vergewe. Paulus moedig die gelowiges aan om genade aan mekaar te betoon omdat genade teenoor bitterheid, woede, toorn, geskreeu en lastering staan. As gelowiges moet ons mekaar genadig wees, net soos God ons in Christus genadig is (Hoehner; 2008:99; vgl. De Klerk, 2001:84-85; Mentz, s.a.:49-50).

Pastore/jeugpastore het ook die verantwoordelikheid om middel-adolessente aan te moedig om mekaar op te bou. Daar moet voortdurend en doelbewus aan ‘n gees van opbouende betrokkenheid by mekaar in die gemeente gewerk word. Middel-adolessente moet daarvan bewus gemaak word dat die voortdurende blootstelling aan musiek wat een of ander negatiewe boodskap oordra, waarskynlik daartoe sal lei dat die negatiewe boodskap uitgeleef word. Waar dit die geval is sal dit vir middel-adolessente moeilik wees om mekaar te bemoedig en op te bou. Paulus begelei in hierdie gedeelte die gelowiges om meer en

meer te word wat hulle in Christus is. Hy kontrasteer die vorige lewenswyse met die nuwe lewenswyse en moedig die gelowiges aan om die nuwe lewenswyse meer en meer deel te maak van hulle lewe. Dit vra dat hulle ‘n doelbewuste besluit sal neem om met sekere dinge te breek en dit te vervang met dinge wat positief en opbouend is. Om hierdie oorgang te maak moet hulle gees en gedagtes nuut word.

Adolessente moet dus nie net gewys word op die gevare van musiek nie, maar moet ook deur effektiewe toerusting begelei word om sekere keuses vir die nuwe lewenswyse te maak, om doelbewus te breek met die ou lewenswyse en te streef om met volharding nuut te lewe. Om dit te kan doen, verg dat hulle nuut oor dinge wat hulle lewens raak sal begin dink.

Die gemeente moet dus die middel-adolessente begelei om die kontras raak te sien en ‘n keuse uit te oefen, maar hulle moet ook toegerus word om musiek te beoordeel. Dit impliseer dat toerusters saam met hulle na die musiek sal luister en ook beoordeel of dit bydra tot die nuwe lewenswyse en of dit aftrek na die ou lewenswyse. Middel-adolessente moet dus begelei word om doelbewus die boodskap, “doen wat jy wil of waarvoor jy lus is”, af te wys, en doelbewus kies om hulle aan God se voorskrifte te onderwerp omdat hulle glo dat hulle dan die ware vrede en vreugde van die nuwe lewenswyse in Christus sal ervaar.

6.3 VOORTSETTING VAN DIE VERMANINGS (Eksegese van Efésiërs 5:1-21)