• No results found

HOOFSTUK 5: SKRIFTUURLIKE PERSPEKTIEF OP DIE MOREEL-ETIESE

6.2 LEEF IN HEILIGHEID (Eksegese van Efésiërs 4:17-4:32)

6.2.1 Beskrywing van die ou persoon (Eksegese van Efésiërs 4:17-4:19)

(Hoehner, 2008:91)

Hoehner (2008:92) wys daarop dat hierdie gedeelte die tweede van die vyf gedeeltes in die Efésiërsbrief is waar Paulus die woord “peripateo” gebruik, wat letterlik vertaal word met “wandel”. Dit verwys na die daaglikse lewenswandel soos beskryf in 5.2.4. In elkeen van hierdie gevalle word “peripateo” saam met “oun” (therefore) gebruik (4:1, 17; 5:1-2, 7-8, 15). Nadat Paulus in die eerste gedeelte (Ef. 4:1-16) op eenheid gefokus het, plaas hy in hierdie gedeelte die klem op instruksies aan gelowiges oor hoe hulle in heiligheid moet wandel (Hoehner, 2008:92). Volgens Mentz (s.a.:43) dui Paulus se woorde “betuig ek dan in die Here”, op die “groot erns waarmee hy daarop aandring” dat die gelowiges nie soos

ongelowiges moet wandel nie. Hierdie pleidooi word “in gemeenskap met die Here” tot die gelowiges gerig. Cohick (2010:115) vestig die aandag daarop dat die wandel van die ongelowiges/heidene in direkte teenstelling met die lewenswandel van die gelowiges staan, en dat daar ‘n sterk kontras is tussen die heidene wat “in die verdwaasdheid van hulle gemoed wandel” en wie se wysheid nutteloos is, teenoor die gelowiges wat van Christus leer en Hom ken. Volgens Hoehner (2008:92) is die verdwaasdheid “mataiotes” die rede dat die ongelowige nie sy doelwitte kan bereik nie. In hierdie geval waar daar na die verdwaasdheid van die gemoed verwys word, spreek dit van ‘n morele gesindheid of ingesteldheid waar die verstand nie sy doel kan bereik in die ontvangs van God se openbaring nie. Gevolglik kan die ongelowige nie behoorlike morele besluite, wat noodsaaklik is vir sy lewe, neem nie (Rom.1:18-32). Die ongelowige kan nie die openbaring van God in sy gemoed ontvang nie, vanweë die geestelike duisternis waarin hy leef. Hulle is van God vervreem vanweë hulle onkunde, wat die gevolg is van die verhardheid van hulle harte. Mentz (s.a.:43-44) meen dat “verduisterd is in die verstand”, ‘n aanduiding is van die innerlike toestand van die ongelowige se lewe en die oorsaak hiervan is gesetel in die feit dat hulle “vervreemd is van die lewe van God”. Die oorsaak van hierdie vervreemding is die onkunde waarin hulle leef “vanweë die verharding van hulle hart” (Ef. 4:18). Die gevolg van ‘n verharde hart is dat alles wat so ‘n mens “dink en wil en doen, sonder liefde is” (Mentz, s.a.:44; vgl. De Klerk, 2001:78-79). Hoehner (2008:92-93) sê dat die verhardheid van die ongelowige se hart, hulle onsensitief vir die stem van God maak en dat die onsensitiwiteit daartoe lei dat hulle onkundig is oor God. Hoehner (2008:92-93) formuleer die gevolge van die onkunde soos volg:

“Their ignorance of God and his will causes their alienation from the life of God, their alienation from God cause them to walk in the futility of the mind. This is in sharp contrast to those who are believers who have been enlightened by God to do his will.” (Hoehner, 2008:92-93).

Die natuurlike uitvloeisel van die ongelowige toestand word in hulle gedrag en optrede weerspieël, en hulle gebrek aan onderskeiding tussen reg en verkeerd, lei tot ongevoeligheid en onverskilligheid teenoor dit wat moreel korrek is (Hoehner, 2008:93). Die heidense leefwyse loop volgens De Klerk (2001:79) uit op selfvernietiging en hulle gedagtes lei tot niks omdat hulle denke oor geen geestelike substansie beskik nie. Volgens Hoehner (2008:93) is die morele apatie, onreinheid en hebsug van die ongelowige, verantwoordelik vir hulle toestand van verdorwenheid en is dit die rede vir hulle selfvernietigende leefwyse. Hulle selfsugtigheid is ook in direkte kontras met die lewe van Christus wat homself as ‘n offer vir die sondes van die wêreld aangebied het (vgl. Cohick, 2010:115).

Dit is die taak van diegene wat deur Christus aangestel is (Ef. 4:11-12) om gelowige middel- adolessente vanuit die Woord van God te leer wat reg en verkeerd is en hoe ‘n lewe lyk wat volgens God se wil geleef word, sodat die middel-adolessent nie onverskillig sal optree nie. As geroepenes van God moet die apostels, profete, evangeliste, herders en leraars ook die middel-adolessente heiliges toerus vir hulle dienswerk. Dit sluit ondermeer in om middel- adolessente oor die skynbare onkunde met betrekking tot die inhoud van sommige musiek bewus te maak van die boodskap van die musiek, en hulle ook te wys op die gevare wat dit vir hulle heiligmaking en hulle lewens inhou. Diegene wat vir die toerusting van die heiliges verantwoordelik is, moet dus middel-adolessente deeglik bewus maak van die onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges deur uit te wys hoe die lewe van die gelowige verskil van die lewe van die ongelowige (soos uitgebeeld in sommige lirieke). Gelowige middel- adolessente moet begelei en toegerus word om uit die Woord ingeligte besluite te neem, sodat hulle hul lewens volgens God se wil kan leef. Die keuses wat hulle as gelowige middel-adolessente neem, moet die boodskap kommunikeer dat hulle nie meer as ongelowiges wandel nie, maar as kinders van die Lig. Mueller (2006:157) benadruk dat wanneer ons gehoorsaam is en “wandel soos kinders van die lig” (Ef. 5:8), ons nie die lig in ons mag verberg nie, maar dat ons ons lig in die duisternis moet laat skyn.

6.2.2 Beskrywing van die wedergebore persoon (Eksegese van Efésiërs 4:20-