• No results found

HOOFSTUK 4: DIE INVLOED VAN MUSIEK OP MIDDEL-ADOLESSENTE: ’N

4.3 DIE INVLOED VAN MUSIEK OP DIE MIDDEL-ADOLESSENT

4.3.1 Hoe tieners hulle lewens en werklikheidsbeskouing vorm

Crabb (1993:27) redeneer dat tieners se lewens- en werklikheidsbeskouing hoofsaaklik op twee kernfaktore berus. Eerstens het dit te doen met kragte binne die individu en tweedens het dit te doen met die kragte binne hulle onmiddellike leefwêreld. Vanaf geboorte, regdeur die groeiproses, is daar die innerlike soeke na aandag. Namate kinders groter word, is daar

4 Vladimir Lenin was die medestigter van die kommunisme en een van die geskiedenis se grootste kenners op die gebiede van ondermyning en revolusie (Holmberg, 2006).

ander faktore wat die bevrediging van hulle begeertes beïnvloed, soos die uiterlike voorkoms van broers en/of susters, pa’s wat alkohol misbruik, moeders wat oorbeskermend is, beter geklede skoolvriende, gemene onderwysers en sportafrigters wat vernederend optree. Smetana (2011:26) voeg by dat die omgewing waarin kinders opgroei, hetsy veilig of onveilig, die ondersteunende of stresvolle werksomgewing van ouers, werklose ouers en die beskikbaarheid of afwesigheid van ouers, vir hulle kinders, ook belangrike faktore is wat ‘n deurslaggewende rol speel in die wyse waarop kinders hulle lewens- en werklikheidsbeskouing vorm. Volgens Breed (2012:6) is elke normale mens voortdurend besig om homself ten opsigte van sy leefwêreld te oriënteer. In hierdie proses van oriëntering bou die persoon oortuigings op oor die wyse waarop die lewe hanteer moet word. Hierdie oortuigings bepaal sy evaluering van gebeure. Reid en Westergaard (2009:24) redeneer dat die besluite wat ‘n mens neem, deur ‘n volledige reeks konsepte, beginsels, ervarings en gedagtes gevorm word.

Volgens Mueller (2006a:55) is dit ‘n mens se wêreldbeeld en dit word soos volg gedefinieer: “...it’s the framework every human being has through which we understand and interpret life.”

Schlebusch (soos aangehaal deur Breed, 2012:56) noem hierdie vermoë van die mens om gebeure te interpreteer, “perception”:

“Perception is a psychological function that enables you to receive, process and interpret information about your environment.”

Volgens Breed (2012:6) kontrasteer Schlebusch hierdie aksie met waarneming (sensation). Breed redeneer dat waarneming die blote registrasie van inligting is deur die sintuie, wat dit aan die brein deurgee. Hierdie inligting word dan deur die brein gedekodeer op grond van ‘n persoon se ervarings, persoonlikheid, behoeftes, geloof, gesindheid, ensovoorts. Die brein organiseer en interpreteer hierdie data om dit bruikbaar te maak, sodat ‘n besluit geneem kan word hoe om daarop te reageer. Indien die persoon op grond van hierdie verwerkte data ‘n bepaalde besluit geneem het wat tot ‘n bepaalde optrede gelei het, en hy kon die situasie suksesvol hanteer, word dit in sy brein vasgelê vir latere gebruik. “Indien hierdie oplossing herhaaldelik suksesvol gebruik word, word dit ‘n al sterkerwordende oortuiging oor die werklikheid. Die mens se werklikheidsbeeld word dus saamgestel uit dit wat hy glo waar is van die wêreld rondom hom, met ander woorde, uit al die oortuigings wat hy vir homself vorm.” (Breed, 2012:6).

Crabb (1993:27-28) redeneer dat die “self” met sy drange, begeertes en drome vir sy eie welsyn, gekonfronteer word deur ‘n wêreld wat vol is van sy eie reëls en vorme van druk wat uitgeoefen word. Hoe adolessente die spanning tussen hulle eie begeertes en die eise van hulle leefwêreld ontlont, hang in ‘n groot mate af van hoe die ouers hul rolle in hulle kinders se lewens vervul. Ouers dra hoofsaaklik een van twee boodskappe oor aan hulle kinders wat hulle lewens- en werklikheidbeskouing vorm: “Ons wil hê jy moet gelukkig wees” of “Ons wil hê jy moet uitmunt”. Alhoewel die meeste ouers begeer dat hulle kinders gelukkig moet wees en ook uitmunt, word een van die twee boodskappe ongelukkig duideliker oorgedra as die ander. Wanneer ouers die kind se geluk beklemtoon en die voordele wat die wêreld bied om geluk te verseker, as die belangrikste bepaling uitlig het sulke kinders ‘n groter geneigdheid om meer waarde aan hulleself, as aan andere te heg. Hulle sien die wêreld as die plek wat ter wille van hulle bestaan. Die bevrediging van sulke kinders se begeertes, word uiteindelik hulle finale waardes. Sulke kinders se hele lewensdoel sentreer dan rondom die gedagte hoe hulle hul leefwêreld doeltreffend kan gebruik om maksimale gemak en vreugde daaruit te put. Wanneer ouers sê: “Ons wil hê jy moet uitmunt”, eskaleer die spanning onmiddelik tussen die “self” en die wêreld. Sommige kinders ontlaai hierdie spanning deur die “self” te “verlaat” en in woede woorde van minagting teen hulle ouers te uiter soos, dat dit nie saak maak wie hulle is en hoe hulle voel nie. (Hierdie gesindheid wys nie op nederigheid nie, maar op minagting vir die kind se eie karakter). Ander kinders word groot met die, “Ons wil hê jy moet uitmunt”-gedagte. Hierdie kinders hanteer die spanning tussen hulle innerlike begeertes en die eise van die eksterne wêreld rondom hulle op ‘n ander manier. Ter wille van selfbehoud, bejeën hulle die reëls en grense met minagting. Hulle openbaar ‘n gesindheid wat sê: “Ek moet my eie belange op die hart dra, omdat ek nie goed genoeg is vir enige iemand nie”.

Backus en Chapian (2000:17-18) noem hierdie benadering “misbelieve”5 (dwaalleer), en sê dat die direkte oorsaak van die lyding wat sommige kinders beleef, toegeskryf kan word aan volgehoue negatiewe denke. “Misbelieves are the direct cause of emotional turmoil, maladaptive behaviour and most so-called ‘mental illness.’ Misbelieve are the cause of the destructive behaviour people persist in engaging in even when they are fully aware that it is harmful to them. Misbelieves generally appear as truth to the person repeating them to himself.”

5 Backus & Chapian (2000:17) describes the word misbelief as the most appropriate label we can think of for some of the ridiculous things we tell ourselves.

Vir die individu wat so redeneer, is daar volgens Backus & Chapian (2000:15), drie dinge wat nodig is om sy/haar lewens- en werklikheidsbeskouing te verander:

 Om hierdie verkeerde denkpatrone te identifiseer.  Om die verkeerde denkpatrone te elimineer.

 Om die verkeerde denkpatrone met waarheid te vervang.

Thurman (1999:109) beskryf waarheid soos volg: “Truth is reality as it really is.” Hy wys daarop dat waarheid hoofsaaklik op drie maniere ontdek kan word. Eerstens word waarheid geleer deur ‘n individu se eie ondervindinge. Tweedens kan waarheid geleer word deur die ondervindinge van ander individue. Derdens is daar sekere waarhede wat verder strek as menslike ervaring. Dit is waarhede wat God op bonatuurlike wyse aan die mens openbaar en wat in geloof aangeneem moet word. Vanuit ‘n Christelike oogpunt word hierdie openbarings as die belangrikste waarhede beskou.

In Spreuke 23:7 lees ons: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy” (1933/1953 vertaling). Hierdie Skrifgedeelte wys op die noodsaaklikheid van regte en positiewe denke. Die Bybel leer uitdruklik dat die mens se gevoelens, geesdrif en gedrag onderhewig is aan, en gekondisioneer word deur die wyse waarop hy/sy dink. Wanneer adolessente besef dat hulle nie ‘n koue en emosielose bestaan voer nie, maar dat hulle geestelike, emosionele en fisiese wesens is, dan verkry hulle ‘n dieper begrip van hulle lewens- en werklikheidsbeskouing. Wanneer die leuens en verkeerde denkpatrone met waarheid vervang word, is dit moontlik dat die adolessent ‘n ryk en vervullende lewensbestaan kan voer (Backus & Chapian, 2000:16). Thurman (1999:110) beklemtoon die noodsaaklikheid van waarheid vir ‘n gesonde lewens- en werklikheidsbeskouing. Die rede waarom kennis van die waarheid so belangrik is, is omdat dit oor die vermoë beskik om vry te maak. Johannes 8:32 verklaar: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (1933/1953 vertaling). Thurman (1999:110) wys verder daarop dat daar sonder waarheid geen sprake van ware vryheid is nie. ‘n Gebrek aan waarheid lei gevolglik tot emosionele probleme, verhoudingsprobleme en geestelike wanorde, wat ‘n negatiewe invloed op die adolessent se lewens- en werklikheidsbeskouing sal hê. Bosman (2007:29; 31) vestig die aandag daarop dat die Skrif “nie net lewens- en wêreldbeskoulik van aard is nie,” maar dat dit ook baie duidelike “lewens- en wêreldbeskoulike merkers” oordra. “Lewens- en wêreldbeskouing is immers nie ‘n neutrale gebeure nie. Dis ‘n aktiwiteit in terme van geloof/ongeloof. Dit beteken dat die waarnemende ‘(on/)geloofsmens’ oor die kreatiewe vermoë beskik om in sy diepste wese oortuigings te kan vorm van die waargenome werklikheid. Sodoende ‘ontstaan en funksioneer uiteindelik ‘n lewens- en wêreldbeskouing.’”