• No results found

DIE ONTWIKKELING VAN DIE STIPULATIO ALTERI IN DIE REGSPRAAK VAN SUID-AFRIKA

5.5 McCullogh v Fernwood Estate Ltd

Die volgende belangrike saak waarin die Appèlhof by monde van (nou) hoofregter Innes en waarnemende appèlregter De Villiers oor die stipulatio alteri moes beslis, was McCullogh v Fernwood Estate Ltd.86 Soos uit die onderstaande sal blyk, veroorsaak hierdie saak ewe veel verwarring as die vorige sake. Die saak het gehandel oor ’n koopkontrak tussen McCullogh en ’n ander (Apsey), wat opgetree het namens ’n maatskappy wat nog nie opgerig was nie. Die partye het daaroor ooreengekom dat McCullogh ’n stuk grond aan die maatskappy (wat uiteindelik as Fernwood Estate Ltd opgerig is) sou verkoop. Toe McCullogh die koopprys van Fernwood Estate eis, werp Fernwood Estate Ltd die verweer op dat hulle nie ’n ooreenkoms met McCullogh gesluit het nie, en steun op die volgende Engelse regsreël:

[A] company cannot by adoption or ratification obtain the benefit of a contract purporting to have been made on its behalf before the company came into existence.87

Hoewel dit blyk dat Apsey bloot as Fernwood Estate Ltd se verteenwoordiger wou optree, het die regters gereken dat dit nie hier oor verteenwoordiging gaan nie,

85 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz: 568. 86 1920 AD 204.

maar dat Apsey in sy persoonlike hoedanigheid ten behoewe van die maatskappy as derde opgetree het.88

Hoofregter Innes verwys na Tradesmen’s, Louisa en Hotz, wat ál drie die ooreenkoms ten behoewe van ’n ander bevestig, en erken dat die derde wat reeds aanvaar het ’n reg uit die kontrak self verkry.89 Hy verduidelik ook die aard van die ooreenkoms ten behoewe van ’n derde aan die hand van De Groot se Inleidinge (3.3.38) en De Jure Belli ac Pacis (2.11.18).

Ook waarnemende appèlregter De Villiers gebruik De Groot, Groenewegen, Vinnius en Voet om die reël vir ’n ooreenkoms ten behoewe van ’n derde te staaf (wat volgens De Wet90 na verteenwoordiging verwys, maar wat waarnemende appèlregter De Villiers juis sê nié na verteenwoordiging verwys nie).91 Hy kom egter tot die volgende gevolgtrekking:

We may therefore take our Law as settled, in this respect differing from the English Law, that where two persons have entered into a contract for the benefit of a third, the latter may, before the promise has been revoked, accept it and thus acquire a right of action.92

Dié stelling grond hy op die Hotz-saak.93

5.5.1 Kritiese ontleding van McCullogh v Fernwood Estate Ltd

McCullogh94 is die laaste saak wat in hierdie afdeling bespreek word omdat dit duidelik blyk dat die presedent in hierdie stadium reeds geskep was en daar hierna bloot op die beslissings in vorige sake gesteun is:

The court in each case simply assumed it was dealing with a contract for the benefit of a third party and then proceeded to grapple with the legal consequences of such an agreement.95

McCullogh opper egter steeds ’n paar interessante punte.

Hoofregter Innes begin deur na Tradesmen’s te verwys, maar voeg ’n interessante aanname by, naamlik dat die derde ná aanvaarding van die “stipulasie” sy regte

88 McCullogh v Fernwood Estate: 209, 217.

89 Die reg uit die kontrak en nié uit die aanvaarding nie, is Voet se konstruksie. 90 De Wet 1940: 154.

91 McCullogh v Fernwood Estate: 217. 92 McCullogh v Fernwood Estate: 215.

93 Mutual Life Insurance Co of New York v Hotz: 567. 94 McCullogh v Fernwood Estate: 206.

kan afdwing “upon the contract itself”.96 Hierdie stelling klink dubbelsinnig. Beteken dit dat daar net een kontrak is, soos wat hierbo by Hotz bespreek is, of is dit ’n verwysing na Voet se benadering dat die reg uit die ooreenkoms ontstaan, en nie uit die derde se aanvaarding nie? Regter Innes verwys nie na enige gesag nie, en dus word daar aangeneem dat die stelling nié na Voet se konstruksie verwys nie, maar bloot beteken dat daar net een kontrak is. Die sin lui: “[T]he third, on accepting the stipulation, might enforce his rights by action upon the contract itself.”97 Hoofregter Innes bedoel dus na my mening dat die aanvaarding die derde se regte afdwingbaar maak.

Op grond van hierdie vertolking van die “een kontrak” hierbo, verklaar die regter ook dat daar met die derde se aanvaarding ’n vinculum juris tussen hom en die

promittens tot stand kom. Die vinculum juris beteken vir hom hier om daarop

geregtig te wees om te dagvaar en om gedagvaar te word. Byna ál die vorige sake het oor lewensversekeringspolisse gehandel. McCullogh roer ’n ander vorm van die stipulatio alteri aan, naamlik waar die stipulans ’n voordeel in die vorm van ’n opsie om ’n stuk grond teen ’n sekere bedrag geld te kan koop, vir die derde stipuleer.98 Die aanvaarding van dié aanbod sal die verantwoordelikheid meebring om die bepaalde bedrag te betaal, en sal afdwingbaar wees. Só kom die vinculum

juris tussen die partye tot stand, wat nie net dagvaarding moontlik maak nie, maar

ook die derde ’n vorderingsreg bied indien die promittens nie sy belofte nakom nie. Soos in Hotz, word die vinculum juris dus ook in McCullogh opgehaal.99

De Wet kritiseer (weereens) die gesag wat die regters gebruik omdat die aangehaalde dele van De Groot nie na ’n ooreenkoms ten behoewe van ’n derde verwys nie, maar na verteenwoordiging sonder volmag.100

Dit word dus duidelik dat die sake mekaar begin napraat het, sonder om die ooreenkoms ten behoewe van ’n derde in ’n nuwe lig te probeer ontleed. Hoewel daar wél gepoog is om die grondslag van die stipulatio alteri te lê, is dit nie volgens my suiwer ontleed nie, en het dit dikwels ’n vermenging met verteenwoordiging ingesluit.

96 McCullogh v Fernwood Estate: 206. 97 McCullogh v Fernwood Estate: 206. 98 McCullogh v Fernwood Estate: 206. 99 Vinculum juris word onder 6.4.5 bespreek. 100 De Wet 1940:154.

5.6 Gevolgtrekkings oor die grondslag wat tot dusver vir die stipulatio alteri