• No results found

DIE MANIFESTERING EN IMPLIKASIES VAN BEROEPSTRES VANUIT „N EKOLOGIESE-SISTEEMPERSPEKTIEF

4.3 MANIFESTERING VAN STRES

Die belangrikste aanwyser dat iemand stres ervaar is gewoonlik „n verandering in die wyse waarop opgetree word. Dit kan volgens Williams en Cooper (2002:16-17) „n verandering in voorkoms, gedrag of gewoontes wees. Daar word vervolgens gekyk na die verskeie vlakke van stres wat voorkom asook die menslike funksioneringskurwe wat hiermee verband hou.

4.3.1 Vlakke van stres

Currie (2001:40) berig dat alhoewel dit duidelik is dat stres op verskeie vlakke van intensiteit in „n individu kan voorkom, dit moeilik is om te meet of objektief te bepaal. Die vlak waarop dit manifesteer word bepaal deur die persoonlikheid van die individu en die kapasiteit van die persoon om stres te hanteer wat deur die spesifieke stressor veroorsaak is. In navorsing deur hierdie outeur is daar wel „n poging aangewend om die vlak van stres te bepaal deur die benutting van „n metingskaal wat in Figuur 4.2 uiteengesit word.

113

Min of geen Matig Ekstra Ernstig Baie ernstig

0 1 2 3 4

Figuur 4.2 Stres-metingskaal Bron: Aangepas uit Currie (2001:40)

Die stres-metingskaal wat in Figuur 4.2 uiteengesit word strek oor vyf vlakke. Die laagste vlak behels min of geen stres, terwyl die hoogste vlak beskryf word as baie ernstig. Dit is „n gebruikersvriendelike skaal wat benut kan word om die intensiteit van stres te meet.

4.3.2 Menslike funksioneringskurwe

Currie (2001:41) verwys na „n studie deur dr. Peter Nixon, waar die psigologiese effek van stres ondersoek is; hieruit het die menslike funksioneringskurwe ontstaan. Volgens die menslike funksioneringskurwe verhoog werkverrigtinge indien daar ook plesier is. Daar is egter „n punt waar druk begin toeneem en die werknemer uitgeput raak. Indien die druk voortgaan sal uitputting, gesondheidsprobleme en uiteindelike ineenstorting die resultaat wees. Die presiese punt waarop uitputting voorkom op die kurwe sal van een individu tot „n volgende verskil, maar die algemene beginsel geld vir alle individue.

Die funksioneringskurwe is veral van toepassing in hierdie studie aangesien dit „n verduideliking bied van wat kan gebeur as daar van „n individu verwag word om aanhoudend met noodgevalle om te gaan en dit te hanteer, asook „n voortdurende hoë werklading en baie tyd wat by die werkplek spandeer word. Volgens Currie (2001:42) is dit dikwels ook die geval dat die aard van sommige beroepe en take wat verrig moet word, stresvol is. Dit kan moontlik die geval wees by maatskaplike werkers wat intervensie bied aan seksueel misbruikte kinders.

114 4.4 REAKSIES OP STRES

Die klem van vervolgens op die individualiteit van reaksies op stres en die gepaardgaande liggaamlike reaksies. Die General Adaptation Syndrome, soos ontwikkel deur Selye in 1936, sal ook aandag geniet.

4.4.1 Individuele reaksies op stres

Currie (2001:30), Dillenburger (2004:216), Gibson et al. (2002:107) asook Williams en Cooper (2002:2) berig dat stres relatief is tot die situasie wat ervaar word. Werknemers sal dus stres op verskeie wyses ervaar en ook verskillend daarop reageer. Enige individu mag of mag moontlik nie deur „n spesifieke gebeurtenis of situasie geraak word, afhangend van wanneer dit voorgekom het en wat anders in die individu se lewe op daardie spesifieke tydstip gebeur. Hierdie verskil in persepsies mag dus in „n sosiale of werkverwante gebeurtenis deur een persoon as genotvol en deur „n ander as negatief beleef word. Daar is egter ook stressors wat amper alle persone sal beïnvloed, maar dit beteken nie dat almal op dieselfde wyse daardeur geraak sal word nie. Die reaksies op stres word egter gewoonlik, soos berig deur Schabracq (2003:32), as ontoepaslik of abnormaal gesien. Verder meng dit in met normale funksionering, dra nie die goedkeuring van kollegas nie en veroorsaak irritasie en vermyding deur hulle. Stresreaksies neem egter nie die oorsake van die stres weg nie en gevolglik is dit vir die individu nog moeiliker om op die werk te fokus.

Gibson et al. (2002:107) noem veral drie aspekte wat bepaal hoe „n individu „n situasie sal hanteer, naamlik faktore wat te doen het met die persoon self, die beskikbaarheid van sosiale ondersteuning en die aard van die stressor. Dillenburger (2004;216) meen dat individue se geskiedenis van leerervaringe en die huidige konteks van „n situasie, „n rol speel in hul persepsie van die situasie.

115 4.4.2 Die liggaam se reaksie op stres

Om die menslike reaksies op stres te verstaan, is dit nodig om terug te kyk na die evolusie van die mens. Die vraag na watter faktore gehelp het om te oorleef toe lewensgevaarlike, fisiese gevaar dikwels in die gesig gestaar is, kan gestel word. Die antwoord lê volgens Gibson et al. (2002:105-106) asook Williams en Cooper (2002:11) in die veg-of-vlug reaksie. Tydens hierdie reaksie word „n reeks chemikalieë en hormone in die liggaam vrygestel ten einde die liggaam te mobiliseer tot korttermyn- oorlewing. Hierdie aksie produseer „n wye reeks gevolge, naamlik:

 verhoogde hartklop;  vinnige asemhaling;

 verhoogde bloedtoevoer na die brein;  vergrote pupille;

 droë mond;  sweet; en

 vermindering van bloedtoevoer na minder belangrike organe.

In die hedendaagse lewe is dit volgens Williams en Cooper (2002:12) egter nie altyd so eenvoudig nie. Bedreigings wat ervaar word, is nie meer net geïsoleerde gevalle nie. Wanneer „n bedreiging wat die veg-of-vlug reaksie aktiveer herhalend of oor „n lang tydperk voorkom en die menslike liggaam herhaaldelik hierop moet reageer, verminder die vermoë om telkens aan te pas en stres kom voor. Ten einde die liggaam se reaksie op stres beter te verstaan, sal daar vervolgens op die algemene aanpassing-sindroom gefokus word.

4.4.3 Algemene aanpassing-sindroom (“general adaptation syndrome”)

Gedurende 1936 het dr. Hans Selye die algemene aanpassing-sindroom (“General Adaptation Syndrome”, hierna verwys as GAS) beskryf. Hierdie beskrywing bied „n verklaring van die liggaam se reaksie op stres. Selye het „n duidelike onderskeid getref tussen positiewe stres (eustress) en negatiewe stres (distress). Die fisiologiese

116

reaksies op eustress en distress is bykans dieselfde aangesien stres „n nie-spesifieke respons van die liggaam op „n eis/bedreiging is.

Eustress is geneig om minder skade aan die liggaam te veroorsaak aangesien dit makliker vir „n persoon is om suksesvol daarby aan te pas. Nelson en Simmons (2003:103) verwys in hierdie verband na hoop, sinvolheid en „n positiewe uitwerking as prominente aanduidings van eustress. Hulle verbind dit ook met taakbetrokkenheid, waar die werknemer hom beywer om “… enthusiastically involved in and pleasurably occupied by the demands of the work at hand”, te wees. Dit is, meen Le Fevre et al. (2003:729) „n optimale vlak van stres – dus nie te min of te veel nie.

Hierteenoor verwys distress volgens Le Fevre et al. (2003:729) en McGowan, Gardner en Fletcher (2006:3) na die individu se negatiewe sielkundige reaksie op „n stressor. „n Reeks biologiese reaksies vind plaas wanneer „n stressor teenwoordig is en homeostase word dus versteur. Dieselfde reeks biologiese reaksies kan gesneller word deur verskeie situasies; en vandaar die naam “general adaptation syndrome” (Cherrington, 1995:648).

Le Fevre et al. (2003:730) het die volgende drie beginsels ontwikkel in die bespreking van die terme stres, eustress en distress.

Stres is die reaksie op stressors in die omgewing en is per definisie eustress of distress of „n kombinasie van die twee.

 Behalwe vir die feit dat stressors „n bepaalde hoeveelheid stres veroorsaak, kan dit deur sekere karaktereienskappe geïdentifiseer word, naamlik die tydsberekening van die stressor, die bron van die stressor, die waarneembare beheer oor die stressor en die waarneembare wenslikheid van die stressor.  Of die stressor in eustress of distress ontwikkel, hang van die individu se

interpretasie daarvan af.

Die GAS bestaan uit drie fases, naamlik die alarm-, weerstand- en uitputtingsfase. Tydens die alarmfase word „n stressor geïdentifiseer en terselfdertyd word „n biologiese

117

boodskap vanaf die brein na die pituïtêre klier gestuur wat hormone afskei en die liggaam gereed maak vir fisiese aksie. Volgens Malherbe en Engelbrecht (1992:25) ervaar maatskaplike werkers hierdie tipe stres wanneer hulle betrokke is by gevalle wat hul persoonlike en professionele aandag vereis. Gouws (2006:51) is van mening dat dit hierdie vorm van stres is wat maatskaplike werk opwindend, uitdagend en die moeite werd maak. Die periodieke voorkoms van fase 1 stres verteenwoordig in die meeste gevalle stres wat gedeeltelik tot werksbevrediging en selfagting lei.

Cherrington (1995:648) meld dat wanneer die onmiddellike gevaar verby is, die liggaam probeer om die ekwilibrium te herstel. Die fisiologiese verandering van hierdie fase is dan ook die teenoorgestelde as dié wat kenmerkend van die alarmfase is. Hierdie fase staan bekend as die weerstandfase (fase 2). Malherbe en Engelbrecht (1992:25) meld dat die vroeë tekens van die skadelike uitwerking van stres op „n persoon se sosiale, emosionele en beroepslewe in hierdie fase te voorskyn kom. Hierdie vorm van stres veroorsaak by die maatskaplike werker „n verandering van gesindheid en daar kan „n verandering in werkstyl voorkom.

Fase 3 tree in werking indien die stressor voortdurend voorkom en die liggaam se vermoë om aan te pas, uitput (Cherrington, 1995:648). Gedurende die manifestering van hierdie fase raak innerlike bronne volgens Malherbe en Engelbrecht (1992:25) uitgeput en stresverwante versteurings kan voorkom.

Hierdie bespreking bied „n verklaring van die liggaam se reaksie op stres en ook die wyse waarop die liggaam probeer om ekwilibrium te herstel indien stres ervaar word. Indien beroepstres voorkom, het dit ook bepaalde implikasies vir die individu, die familie/huis en die werksopset. Hierdie implikasies word in die volgende afdeling bespreek.