• No results found

Prosessering en analisering van data moet vervolgens geskied (Fouché & Delport, 2005:84). Die resultate moet aan die hand van relevante literatuur geverifieer word en binne die teoretiese raamwerk van die studie geplaas word. Dit is volgens Punch (2005a:195) belangrik dat die analise van data sistematies en gedissiplineerd moet plaasvind en beskryf moet word. Volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:37) is dit belangrik om alreeds voor die aanvang van die studie te besluit hoe data geanaliseer gaan word, aangesien die metode vir data-insameling daarvolgens gekonstrueer moet word. Vir die doeleindes van hierdie studie is daar besluit om data aan die hand van Creswell (2009:185-190) se stappe vir data-analise te verwerk.

Die analisering van kwalitatiewe data behels die vermindering van die volume onverwerkte data, sifting van wat betekenisvol is teenoor wat onbeduidend is en die identifisering van betekenisvolle patrone/kategorieë (Babbie, 2007:378; D'Cruz & Jones, 2004:152-153; De Vos, 2005:333; Neuman, 2000:420).

Kwalitatiewe data-analise is verder volgens Creswell (2009:183), Grinnell et al. (2010:311) en Nieuwenhuis (2007c:99-100) daarop gerig om betekenisvolle en simboliese inhoud van kwalitatiewe data te bestudeer. Dit is dus „n poging om vas te stel hoe deelnemers sin maak van „n spesifieke situasie of fenomeen deur hul persepsies, houdings, begrip, kennis, waardes, emosies en ervaringe te analiseer. Dit word ten beste bereik deur „n proses waar navorsingsbevindinge vanuit gereelde, dominante of betekenisvolle temas inherent aan die onverwerkte data na vore kom.

Creswell (2009:185-190) se stappe vir data-ontleding wat in hierdie studie benut is, word in Figuur 1.1 weergegee.

21

Figuur 1.1 Data-analise in kwalitatiewe navorsing Bron: Aangepas uit Creswell (2009:185-190)

Hierdie figuur stel „n lineêre, hiërargiese benadering voor wat van onder na bo plaasvind. Creswell (2009:185) asook D'Cruz en Jones (2004:136) meld egter dat dit

22

meer interaktief in die praktyk plaasvind waar die verskillende stappe onderling aan mekaar verbind is en nie altyd in die voorgestelde volgorde plaasvind nie. Hierdie verskeie vlakke word in die volgende stappe aan die hand van Creswell (2009:185-190) se uiteensetting verduidelik.

Die eerste stap behels die organisering en voorbereiding van die data vir analise. Dit behels die transkribering van die onderhoude, die tik van veldnotas en die sortering van data in verskillende tipes afhangend van die bronne van inligting wat benut is. Die onderhoude in hierdie studie is getranskribeer vir die doeleindes van data-analisering (Darlington & Scott, 2002:143; Greeff, 2005:299; Nieuwenhuis, 2007b:89; Nieuwenhuis, 2007c:104). Daar is gebruik gemaak van professionele dienste om die onderhoude te transkribeer. Volgens Rubin en Rubin (2005:205) is die nadeel hieraan verbonde dat die persoon wat die transkribering doen nie self by die onderhoud teenwoordig was nie en dat die navorser self weer daardeur moet werk om seker te maak dat geen foute in die transkriberings voorkom nie. Die navorser het deur al die transkripsies gewerk en dit het geblyk dat die transkribering deeglik gedoen is; slegs enkele veranderings is aangebring.

Die transkribering van onderhoude is volgens Nieuwenhuis (2007c:104) nodig om die data te “leer ken”. Goeie analise hang dikwels af van die begrip van die data, wat impliseer dat dit oor en oor deur die navorser gelees moet word. Die navorser het in hierdie studie herhaaldelik deur die data gelees nadat dit getranskribeer is en indrukke aangeteken soos deur die onderhoude beweeg is. Daarna was die data gereed om ooreenkomstig die doel en teoretiese uitgangspunt van die studie verwerk en geïnterpreteer te word.

Die tweede stap behels die deurlees van al die data ten einde „n algemene idee van die inligting te verkry en daaroor na te dink. Dit behels vrae soos: Wat is die algemene strekking van wat die deelnemers gesê het? Wat is die indruk van die algemene diepte, kredietwaardigheid en gebruik van inligting? Die navorser het in hierdie stadium begin om notas of algemene idees oor die data neer te skryf.

23

Die derde stap behels „n gedetailleerde analise deur die benutting van „n koderingsproses. Dit behels dat teksdata wat gedurende data-insameling verkry is, in kategorieë georganiseer word en dit is in spesifieke terme beskryf. Volgens Babbie (2007:384) is die koderingsproses die kern in die proses van data-analise. Punch (2005a:199) sluit hierby aan en meld dat kodering die begin van data-analise is.

Tesch (1990:142-145) bied die volgende riglyne ten opsigte van die koderingsproses:

 Kry „n geheel-indruk. Lees die transkripsies versigtig deur en skryf idees wat na vore kom neer.

 Kies een dokument (byvoorbeeld onderhoud) en gaan daardeur terwyl die vraag gevra word: “Waaroor gaan dit?”. Moenie in hierdie stadium dink aan die inhoud daarvan nie, maar eerder aan die onderliggende betekenis daarvan. Skryf gedagtes hieromtrent neer.

 Herhaal bogenoemde stap met verskeie onderhoude en maak dan „n lys van al die onderwerpe. Plaas soortgelyke onderwerpe bymekaar.

 Gebruik hierdie lys en gaan terug na die data. Ken kodes toe aan verskeie onderwerpe en skryf hierdie kodes in die teks waar van toepassing. Benut hierdie aanvanklike organisering om nuwe kategorieë en temas te identifiseer.  Vind die woorde wat onderwerpe die beste beskryf en gebruik dit as kategorieë.  Maak „n finale besluit oor die afkortings wat vir elke kategorie benut word en

plaas dit alfabeties.

 Organiseer die data wat aan elke kategorie behoort in een plek en voer „n voorlopige analise uit.

 Indien nodig, hierhaal die proses met bestaande data.

Bogenoemde riglyne is in hierdie studie gevolg vir die kodering van data. Verskillende kleure is gebruik om die verskillende onderwerpe in die transkripsies aan te dui, waarna temas, subtemas en kategorieë geïdentifiseer is.

24

Die vierde stap behels dat die koderingsproses gebruik word om kategorieë of temas vir analise te beskryf. Hierdie temas word as die belangrikste bevindings in die studie beskou en verteenwoordig verskeie perspektiewe van individue wat deur diverse aanhalings en spesifieke bewyse ondersteun word. In aansluiting hierby meld Babbie (2007:379) en Davies (2007:194) dat daar in die data gesoek word na patrone wat tipies by verskillende gevalle wat bestudeer word, voorkom.

Stap vyf behels die beskrywing van temas, wat subtemas en spesifieke aanhalings van individue insluit.

Die sesde stap behels „n finale stap in die proses van data-analise en omvat die interpretering van data. Wat is dus die lesse wat in die uitvoering van hierdie studie geleer is? Hierdie interpretasie van data kan verskeie vorme aanneem en is buigbaar om persoonlike en navorsingsgebaseerde betekenisse oor te dra.

Nadat data geanaliseer is, is „n literatuurkontrole gedoen (Creswell, 2009:27; Fouché & Delport, 2005:84) ten einde bestaande literatuur te vergelyk met die temas en kategorieë wat uit die studie ontstaan het.

Vervolgens is dit ook belangrik om aandag te gee aan die betroubaarheid en geldigheid van die ondersoek.

Betroubaarheid en geldigheid

Die betroubaarheid en geldigheid van navorsing is volgens Babbie (2007:313) en Nieuwenhuis (2007b:80) belangrike aspekte sover dit die instrumente vir data- insameling in kwantitatiewe navorsing aangaan. In kwalitatiewe navorsing is die navorser die instrument wat benut word om data in te samel. Wanneer kwalitatiewe navorsers dus melding maak van die betroubaarheid en geldigheid van die navorsing, word daar gewoonlik verwys na navorsing wat geloofwaardig is en vertrou kan word. In die hieropvolgende bespreking sal daar van die terme betroubaarheid en geldigheid gebruik gemaak word.

25

Dit is volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:37) belangrik om te besluit op watter wyse daar verseker gaan word dat die data wat ingesamel word, geldig sal wees. Een wyse wat deur hierdie outeurs beskryf is en ook deur die navorser in hierdie studie benut is, is die benutting van ryk beskrywings van die deelnemers om sodoende eksterne geldigheid te verseker. Hierdie “rich, thick description” kan volgens Creswell (2009:192) bydra tot die geldigheid van die bevindinge in die studie.

Betroubaarheid is volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:38) en Nieuwenhuis (2007c:113-115) van die grootste belang in kwalitatiewe navorsing. Die volgende aspekte is in ag geneem in hierdie studie ten einde die betroubaarheid van die studie te verhoog:

 Die benutting van verskeie databronne: In hierdie studie is slegs maatskaplike werkers betrek by data-insameling. Betroubaarheid is egter verseker deur al die maatskaplike werkers wat aan die insluitingskriteria vir die steekproef voldoen by die studie te betrek.

 Verifiëring van onverwerkte data: Die navorser het gedurende die onderhoude probeer om data te verifieer en haar begrip daarvan met die deelnemer te toets ten einde seker te maak dat die interpretasie wat daaraan geheg word deur die navorser, korrek was.

 Die opskryf van besluite wat geneem word: Die navorser het deurentyd vir eie gebruik notas gemaak oor die navorsingsproses wat gevolg word. Dit is veral van toepassing op die metode wat gevolg is en die analisering van onverwerkte data.

 Betroubaarheid in kodering van data: Die data is deur die navorser self gekodeer en geanaliseer. Daar is nie van „n eksterne kodeerder gebruik gemaak nie.

 Verifiëring en bekragtiging van bevindinge: Die bevindinge van die studie is die belangrikste uitkoms daarvan en die resultate is geverifieer deur die bevindinge van die studie aan al die deelnemers te versprei vir enige kommentaar voordat dit gefinaliseer is. Die deelnemers was dit eens dat die resultate „n ware weergawe is van die inligting wat gedurende onderhoude verskaf is.

26

 Vermyding van bevooroordeling: Daar is deurentyd in hierdie studie en in die verwerking van die data ten doel gestel om bevooroordeling te vermy en so objektief moontlik na die data te kyk en nie enige ongeldige afleidings te maak nie.

 Vermyding van veralgemening: Die doel van kwalitatiewe navorsing is nie om bevindinge te veralgemeen nie. Die resultate van hierdie studie is slegs van toepassing op die spesifieke populasie wat hierby betrek is.

 Keuse van aanhalings: Daar is deurentyd probeer om aanhalings wat in die analisering van data benut word, versigtig te kies en nie buite konteks te gebruik nie. Dit is dus belangrik dat die navorser nie haar eie interpretasie deur die verkeerde benutting van aanhalings in die teks indwing nie.

 Vertroulikheid en anonimiteit: Daar is deurgaans probeer om vertroulikheid te bewerkstellig en die anonimiteit van deelnemers te verseker. Dit is juis om hierdie rede dat die name van die organisasies wat aan die studie deelgeneem het, nie bekend gemaak is nie.

 Beperkinge van die studie: Elke studie het sekere beperkinge. Die navorser stel hierdie beperkinge by 1.7.