• No results found

MAATSKAPLIKE WERK AS BEROEP IN DIE KONTEKS VAN „N ORGANISASIE STRUKTUUR

2.4 DIE AARD EN VEREISTES VAN WELSYNSORGANISASIES

Die beroep en praktyk van Maatskaplike Werk het hoofsaaklik ontstaan, gegroei en ontwikkel binne die konteks van „n organisasie-struktuur. Dit is dus belangrik om te begryp wat bedoel word met „n “maatskaplike werk-organisasie”. Mullender en Perrott (2002:75) beskryf „n maatskaplike werk-organisasie soos volg: “... a consciously co-

49

ordinated entity, with relatively identifiable boundary, that functions on a relatively continuous basis to achieve a common goal or goals”. In die Suid-Afrikaanse konteks word daar na hierdie tipe organisasie as „n welsynsorganisasie verwys. Die diensberoepe, soos Maatskaplike Werk en Sielkunde, is volgens Hanson (1995:207) tipies deel van „n formele groep organisasies wat ten doel het om die sosiale, emosionele, fisiese en/of intellektuele welstand van „n deel van die gemeenskap te verbeter.

Soos reeds genoem is Maatskaplike Werk „n beroep wat grotendeels beoefen word binne die grense van „n organisasie (Morales et al., 2010:115) en word die take wat deur die maatskaplike werkers verrig word, gedefinieer deur die aard van die spesifieke organisasie (Hepworth et al., 2006:5). DuBois en Miley (2010:80) onderskei verder ook tussen publieke en private organisasies. Gevolglik sal die kennis wat deur werkers gebruik word om hul werk te verrig, ook in „n mate verskil. Ten spyte hiervan kan daar met reg gesê word dat maatskaplike werk wel „n unieke bydrae kan maak tot die organisasie omdat „n saamgestelde kennisliggaam bestaan wat help om individue en gemeenskappe in hul breë sosiale en politieke kontekste te verstaan.

Alhoewel sommige maatskaplike werkers onafhanklik van organisasies funksioneer, word die meeste maatskaplike werkers deur „n organisasie gekontrakteer om „n spesifieke diens te lewer. Dit is dus in „n professionele kapasiteit, waar daar namens „n organisasie opgetree word, waar maatskaplike werkers hul take verrig en ondersoekende onderhoude voer of assesserings doen. Dit is dus die organisatoriese faktor wat die rolle en take wat deur die maatskaplike werker uitgevoer moet word, bestuur (Compton et al., 2005:104; Oko, 2008:67).

Dit is verder van belang om te begryp dat maatskaplike werk-organisasies daargestel word om spesifieke sosiale dilemmas of probleme aan te spreek en die samelewing verwag dus dat spesifieke rolle en funksies uitgevoer sal word. “Praktyk” is egter nie iets wat net buite die organisasie met kliënte gebeur nie, dit gebeur ook in die organisasie waar daar soms konflik van belange is tussen kollegas, mense wat van die

50

dienste gebruik maak (kliënte) en bestuurders. Die konsep bestuur is dus sentraal in die praktyk van maatskaplike werk (Oko, 2008:68-69).

Vir die doeleindes van hierdie studie is dit belangrik om te besef dat dit die spesifieke pos is, nie die individu nie, wat spesifieke verantwoordelikhede dra in „n organisasie. Dit is uiteraard nodig dat die individu wat aangestel is in hierdie spesifieke pos, wel oor die relevante vaardighede sal beskik (Oko, 2008:71). Volgens Etzioni (1969:3) is organisasies “... social units (of human groupings) deliberately constructed and reconstructed to seek specific goals”. Vir hierdie studie val die fokus spesifiek op organisasies wat ten doel het om intervensie aan seksueel misbruikte kinders te bied.

„n Spesifieke pos in „n organisasie stel ook bepaalde eise aan die werknemer. Dit is volgens Eadie en Lymbery (2002:516) belangrik dat maatskaplike werkers leer hoe om die organisatoriese eise wat aan hulle gestel word, te hanteer ten einde „n vervullende beroepslewe in stand te hou. Uit „n studie deur Earle (2008:32) blyk dit dat hoë gevalleladings, beroepstres en angstigheid, emosionele uitbranding en in sommige gevalle voorvalle van wanpraktyke, nie bevorderlik is vir die beroep nie. Volgens Weinbach (2008:5) kan die interne omgewing van „n welsynsorganisasie wissel van hoogs ondersteunend in die lewering van dienste as die een uiterste, na „n omgewing wat min/geen ondersteuning bied en gevolglik dienslewering negatief beïnvloed, as die ander uiterste. Albei hierdie uiterstes is skaars en die werkomgewing val gewoonlik iewers in die middel van hierdie kontinuum.

Die aard van verskeie welsynsorganisasies bepaal die spesifieke dienste wat deur hierdie organisasies gelewer word. Volgens DuBois en Miley (2010:19-20) en Morales et al. (2010:96-110) word dienste wat deur maatskaplike werkers gelewer word in verskeie velde verdeel, naamlik:

gesinsdienste

kindersbeskermingsdienste gesondheidsorg

51  gerontologiese maatskaplike werk skoolmaatskaplike werk kriminele justisie inligting en verwysing gemeenskapsorganisering  geestesgesondheid  alkohol- en substansie-afhanklikheid  gestremdesorg  mediese en gesondheidsorg.

Volgens die bogenoemde outeurs word „n spesifieke veld soms deur maatskaplike werkers ontwikkel. Selfs indien „n spesialiteitsveld ontwikkel word, is die wye lens van die algemene praktisyn steeds van toepassing en moet probleme binne die groter konteks verstaan en intervensies daarvolgens ontwikkel word met fokus op die implikasies daarvan vir alle sisteme.

Hierdie velde word in die Suid-Afrikaanse konteks ook in die Integrated Service Delivery Model (Department of Social Development, Republic of South Africa, 2006:20, 27) vervat. Die belangrikste dienste wat volgens hierdie dokument gelewer word, word in vyf breë kategorieë verdeel, naamlik bevordering en voorkomingsdienste; rehabilitasiedienste; beskermingsdienste; voortgesette versorgingsdienste; asook geestelike gesondheid en dienste rakende verslawing. Kinders onder die ouderdom van 18 jaar wat mishandel, verwaarloos, wees gelaat of verlate is en ook kinders wat in ander moeilike omstandighede leef is as een van die teikengroepe vir dienslewering geïdentifiseer.

Compton et al. (2005:37) verklaar dat maatskaplike werkers die veranderingsagente is wat deur „n organisasie aangestel word met die doel om saam met ander sisteme te beplan en saam te werk. Daar kan aan die organisasie ook as „n veranderingsagent gedink word. Dit is egter belangrik om te besef dat die organisasie „n groot impak op die maatskaplike werker se professionele gedrag het deur beleid, prosedures, beperkinge en bronne wat gestel word. In aansluiting hiermee sal die aard en fokus van

52

„n spesifieke organisasie bepalend wees in die professionele gedrag (soos hierbo beskryf) van die maatskaplike werker.

In die konteks van hierdie studie is dit belangrik om die aard van kinderbeskermingsdienste te begryp. Daar sal in die volgende afdeling hierop gefokus word deur kinderbeskermingsdienste te omskryf.